Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Wat was die sensus wat daartoe gelei het dat Jesus in Betlehem gebore is?

Toe keiser Augustus beveel het dat ’n sensus regoor die Romeinse Ryk gehou word, sê die Evangelie van Lukas, het “al die mense . . . op reis gegaan om geregistreer te word, elkeen na sy eie stad” (Lukas 2:1-3). Die stad van Josef, Jesus se pleegvader, was Betlehem, en die reis wat Josef en Maria onderneem het om die bevel te gehoorsaam, het daartoe gelei dat Jesus in Betlehem gebore is. Hierdie registrasies het gehelp met belastinginvordering en die opkommandering vir krygsdiens.

Toe die Romeine Egipte in 30 VHJ verower het, was die sensus reeds ’n beproefde kenmerk van die Egiptiese burokrasie. Geleerdes meen dat die Romeine die Egiptiese sensusstelsel aangeneem het en soortgelyke prosedures in die res van hulle ryk ingestel het.

’n Bewys van een van hierdie registrasies is ’n verordening van die Romeinse goewerneur van Egipte in 104 HJ. ’n Afskrif van hierdie verordening, wat nou in die Britse Biblioteek bewaar word, lui: “Gaius Vibius Maximus, prefek van Egipte (sê): Aangesien dit tyd geword het vir die huis-tot-huis-sensus, is dit nodig om almal aan te spoor wat om watter rede ook al buite hulle streke bly, om na hulle eie huise terug te keer sodat hulle die gewone reëling van die sensus kan gehoorsaam en ook nougeset aandag kan skenk aan die bewerking van hulle landerye.”

Waarom het Josef dit oorweeg om vir Maria ’n skeibrief te gee as hulle net verloof was?

Volgens Matteus se Evangelie het Josef uitgevind dat Maria swanger was terwyl sy “aan Josef in die huwelik beloof was”, maar voordat hulle getrou het. Omdat Josef nie geweet het dat Maria “deur heilige gees” swanger geword het nie, het hy waarskynlik gedink dat sy aan hom ontrou was, en daarom was hy van plan om van haar te skei.—Matteus 1:18-20.

Onder die Jode is verloofde paartjies reeds as getroud beskou. Maar die twee het nie as man en vrou begin saamwoon totdat die huweliksformaliteite afgehandel is nie. Die verlowing was so bindend dat, indien die huwelik nie plaasgevind het nie—omdat die bruidegom van plan verander het of omdat daar ’n ander dwingende rede was—die jong vrou nie vry was om met iemand anders te trou totdat sy ’n skeibrief ontvang het nie. As ’n verloofde vrou se man voor hulle troue gesterf het, is sy as ’n weduwee beskou. As sy daarenteen gedurende haar verlowing hoerery gepleeg het, is sy as ’n egbreekster beskou en ter dood veroordeel.—Deuteronomium 22:23, 24.

Josef het klaarblyklik gedink aan die gevolge as Maria in die openbaar tot skande gemaak sou word. Hoewel hy verplig gevoel het om die saak onder die aandag van die gepaste owerheid te bring, wou hy haar beskerm en ’n skandaal vermy. Hy het dus besluit om in die geheim van haar te skei. As ’n enkelmoeder ’n skeibrief gehad het, sou dit immers aandui dat sy al getroud was.

[Prent op bladsy 16]

Sensusverordening deur die Romeinse goewerneur van Egipte, 104 HJ

[Erkenning]

© The British Library Board, all rights reserved (P.904)