Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

God gee werklik om—Hoe ons dit weet

God gee werklik om—Hoe ons dit weet

 God gee werklik om—Hoe ons dit weet

DIT is ’n ou maar belangrike vraag, een waaroor mense al duisende jare lank wonder: Waarom is daar soveel lyding as God ons liefhet? Jy stem seker saam dat ’n mens nie wil hê dat ’n geliefde moet ly nie, en as hy of sy in die moeilikheid is, sal jy hom of haar probeer help. Daarom meen baie dat God beslis nie vir ons omgee nie, aangesien daar soveel lyding in die wêreld is. Dit is dus belangrik dat ons eers kyk na die bewyse dat God ons werklik liefhet, dat God omgee.

Die skepping getuig van God se liefde

Jehovah God is “die Een wat die hemel en die aarde en die see en alles wat in hulle is, gemaak het” (Handelinge 4:24). Wanneer ons peins oor Jehovah se skeppingswerke, kan ons nie anders as om tot die slotsom te kom dat hy vir ons omgee nie. Dink byvoorbeeld aan die dinge wat jou genot en vreugde verskaf. Hou jy van lekker kos? Jehovah kon net een kossoort voorsien het om ons aan die lewe te hou. Maar hy het ’n eindelose verskeidenheid kossoorte geskep om ons smaak te streel. Jehovah het eweneens  die aarde met ’n pragtige verskeidenheid bome, blomme en landskappe versier om ons lewe aangenaam en interessant te maak.

Dink ook aan die manier waarop ons gemaak is. Ons sin vir humor asook ons vermoë om musiek te geniet en prag te waardeer, is nie nodig om lewe te onderhou nie—dit is alles gawes van God wat ons lewe verryk. En dink aan jou verhouding met ander. Wie geniet nie hartlike assosiasie met goeie vriende of die omhelsing van iemand vir wie ons baie lief is nie? Trouens, die vermoë om lief te hê, is op sigself ’n gawe van ’n God wat liefhet! Aangesien God mense geskep het met die vermoë om lief te hê, moet hierdie eienskap deel van God se persoonlikheid wees.

Die Bybel verseker ons van God se liefde

Die Bybel sê vir ons dat God liefde is (1 Johannes 4:8). Sy liefde word nie net gesien in die skepping nie, maar blyk ook duidelik uit sy Woord, die Bybel. Die Bybel gee byvoorbeeld riglyne wat tot goeie gesondheid bydra, matigheid in alles bevorder en teen dronkenskap en vraatsug waarsku.—1 Korintiërs 6:9, 10.

Die Bybel gee ook wyse raad oor menseverhoudings en spoor ons aan om mekaar lief te hê en ander met respek, waardigheid en goedhartigheid te behandel (Matteus 7:12). Dit veroordeel gebruike en gesindhede wat lyding veroorsaak—gierigheid, skinderpraatjies, jaloesie, egbreuk en moord. As almal probeer om volgens die uitstekende raad in die Skrif te lewe, sal daar beslis baie minder lyding regoor die wêreld wees.

Maar die grootste bewys van God se liefde is dat hy sy Seun, Jesus, as ’n losprys vir die mensdom gegee het. Johannes 3:16 sê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.” Jehovah het dus reeds reëlings getref om ’n permanente einde aan die dood en elke vorm van lyding te maak.—1 Johannes 3:8.

Daar is ongetwyfeld oorvloedige bewyse dat Jehovah ons liefhet. Dit is dus logies dat hy geen behae daarin skep om ons te sien ly nie. Hy sal optree om ’n einde aan lyding te maak. Ons hoef nie te bespiegel oor die saak nie—die Bybel sê vir ons presies hoe God lyding uit die weg sal ruim.

[Prent op bladsy 4]

Die vermoë om lief te hê, is ’n gawe van ’n God wat liefhet