Het jy geweet?
Het jy geweet?
Was Jerusalem ooit deur spits pale omring, soos Jesus voorspel het?
In sy profesie aangaande die vernietiging van Jerusalem het Jesus van dié stad gesê: “Dae sal oor jou kom wanneer jou vyande ’n verskansing met spits pale rondom jou sal bou en jou sal omsingel en jou van alle kante in benoudheid sal bring” (Lukas 19:43). Jesus se woorde is in die jaar 70 G.J. bewaarheid toe die Romeine, onder bevel van Titus, ’n beleëringsmuur, of palissade, rondom die stad gebou het. Titus se oogmerk was drievoudig—om te keer dat die Jode vlug, om hulle te beweeg om oor te gee en om die inwoners te laat verhonger sodat hulle hulle sal onderwerp.
Volgens Flavius Josefus, ’n eerste-eeuse geskiedskrywer, het die verskillende legioene en kleiner afdelings van die Romeinse leër, nadat die besluit geneem is om hierdie palissade te bou, met mekaar gewedywer om te sien wie hulle toegewese deel van die beleëringsmuur eerste kon voltooi. ’n Strook van ongeveer 16 kilometer rondom die stad is van bome gestroop, en die palissade, wat omtrent sewe kilometer lank was, is in slegs drie dae voltooi. Josefus sê: “Toe het die Jode geen hoop meer gehad om te ontsnap nie.” Weens hongersnood en bloedige gevegte onder die verskillende gewapende faksies is die stad ongeveer vyf maande later deur die beleëraars ingeneem.
Het koning Hiskia werklik ’n tonnel tot in Jerusalem gebou?
Hiskia was ’n koning van Juda aan die einde van die agtste eeu v.G.J., ’n tyd van konflik met die magtige Assiriese moondheid. Die Bybel sê vir ons dat hy baie gedoen het om Jerusalem te beskerm en die watervoorraad te beveilig. Een van die take wat hy onderneem het, was die konstruksie van ’n 533 meter lange tonnel, of leikanaal, om fonteinwater in die stad in te bring.—2 Konings 20:20; 2 Kronieke 32:1-7, 30.
In die 19de eeu is presies so ’n tonnel ontdek. Dit word Hiskia se tonnel, of die Siloamtonnel, genoem. In die tonnel is ’n inskripsie gevind wat die laaste fases van die uitgrawing van die tonnel beskryf het. Die vorm van die letters van hierdie inskripsie het die meeste geleerdes tot die slotsom laat kom dat dit uit Hiskia se tyd dateer. Maar ’n dekade gelede het party aan die hand gedoen dat die tonnel omtrent 500 jaar later gebou is. In 2003 het ’n span Israeliese wetenskaplikes die resultate van hulle navorsing gepubliseer met die doel om ’n betroubare datum vir die tonnel vas te stel. Tot watter gevolgtrekking het hulle gekom?
Dr. Amos Frumkin van die Hebreeuse Universiteit van Jerusalem sê: “Die koolstof-14-toetse wat ons op organiese materiaal in die pleister van die Siloamtonnel uitgevoer het, en die uraan-torium-datering van stalaktiete wat in die tonnel gevind is, bewys onweerlegbaar dat dit uit Hiskia se era dateer.” ’n Artikel in die wetenskaptydskrif Nature voeg by: “Die drie onafhanklike bewysgronde—radiometriese datering, paleografie en die geskiedenisverslag—dui almal op omstreeks 700 v.C., wat die Siloamtonnel tot nog toe die bes gedateerde Bybelse bouwerk uit die Ystertyd maak.”

