Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het God ’n naam?

Het God ’n naam?

Het God ’n naam?

Algemene antwoorde:

▪ “Sy naam is die Here.”

▪ “Hy het nie ’n persoonlike naam nie.”

Wat het Jesus gesê?

▪ “Julle moet dan só bid: ‘Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word’” (Matteus 6:9). Jesus het geglo dat God ’n naam het.

▪ “Ek het u naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee u my liefgehad het, in hulle kan wees en ek in eenheid met hulle” (Johannes 17:26). Jesus het God se naam bekend gemaak.

▪ “Julle sal my hoegenaamd nie sien nie totdat julle sê: ‘Geseënd is hy wat in Jehovah se naam kom’” (Lukas 13:35; Psalm 118:26). Jesus het God se naam gebruik.

GOD self sê vir ons wat sy naam is. In die Bybel sê hy: “Ek is Jehovah, dit is my naam” (Jesaja 42:8, American Standard Version). a Die naam Jehovah is die bekendste Afrikaanse vorm van die Hebreeuse naam wat God homself gegee het. Dit sal jou dalk verbaas om uit te vind dat hierdie unieke Hebreeuse naam duisende kere in die eertydse Bybelmanuskripte verskyn. Trouens, dit kom meer dikwels as enige ander naam in die Bybel voor.

Party beantwoord dalk die vraag “Wat is God se naam?” deur te sê: “Die Here.” Maar in werklikheid is dit net so vaag as om die vraag “Wie het die verkiesing gewen?” te beantwoord deur te sê: “Die kandidaat.” Nie een van die twee voorsien ’n duidelike antwoord nie, aangesien “Here” en “kandidaat” nie name is nie.

Waarom het God sy naam aan ons geopenbaar? Hy het dit gedoen sodat ons hom beter kan leer ken. Ter toeligting: ’n Persoon word dalk Meneer, Dokter, Pa of Oupa genoem, afhangende van die omstandighede. Hierdie titels openbaar iets omtrent hom. Maar die naam van die persoon herinner ons aan alles wat ons van hom weet. Titels soos Here, Almagtige, Vader en Skepper vestig eweneens die aandag op verskillende fasette van God se aktiwiteite. Maar net sy persoonlike naam, Jehovah, herinner ons aan alles wat ons van hom weet. Hoe kan jy God werklik ken as jy nie sy naam ken nie?

Dit is belangrik om daardie naam nie net te ken nie, maar om dit ook te gebruik. Waarom? Omdat die Bybel vir ons sê: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.”—Romeine 10:13; Joël 2:32.

[Voetnoot]

a Vir ’n verduideliking van die betekenis van God se naam, asook waarom party weergawes van die Bybel dit nie bevat nie, sien gerus bladsye 195-197 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 6]

’n Persoon word dalk Meneer, Dokter, Pa of Oupa genoem, afhangende van die omstandighede. Maar sy persoonlike naam herinner ons aan alles wat ons van hom weet