Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom uitsetting ’n liefdevolle voorsiening is

Waarom uitsetting ’n liefdevolle voorsiening is

JULIAN onthou hoe hy gevoel het toe die aankondiging gemaak is dat sy seun nie meer een van Jehovah se Getuies is nie. Hy sê: “Dit het gevoel asof my hele wêreld in duie stort. Hy was my oudste kind, en ons was baie na aan mekaar; ons het baie dinge saam gedoen.” Julian verduidelik dat sy seun hom altyd goed gedra het, maar dat hy toe verander het en slegte dinge begin doen het. Julian se vrou was dikwels in trane, en hy het nie geweet hoe om haar te troos nie. Hy sê: “Ons het ons herhaaldelik afgevra of ons op die een of ander manier as ouers misluk het.”

Watter skriftuurlike redes is daar vir uitsetting? En waarom kan ons sê dat uitsetting ’n liefdevolle reëling is, hoewel dit soveel pyn veroorsaak?

WAAROM ’N PERSOON UITGESIT WORD

As ’n gedoopte Getuie van Jehovah ’n ernstige sonde pleeg en nie berou toon nie, sal hy uitgesit word.

Jehovah verwag nie dat ons volmaak moet wees nie, maar hy verwag wel dat sy knegte sy wette gehoorsaam en heilig bly. Jehovah beveel sy knegte byvoorbeeld om ernstige sondes soos seksuele onsedelikheid, afgodediens, diefstal, afpersing, moord en spiritisme te vermy.—1 Korintiërs 6:9, 10; Openbaring 21:8.

Wat Jehovah van ons verwag, is redelik en is ’n beskerming vir ons. Ons almal wil tog onder vreedsame, ordentlike en eerlike mense lewe, en dit is wat ons onder ons geestelike broers en susters vind. Waarom gedra hulle hulle op hierdie wyse? Omdat hulle hulle aan Jehovah toegewy het en belowe het om volgens Bybelstandaarde te lewe.

Maar sê nou ’n gedoopte Christen pleeg ’n ernstige sonde as gevolg van menslike swakheid? Dit het met party van Jehovah se knegte in die verlede gebeur, maar Jehovah het hulle nie verwerp nie. Al het koning Dawid byvoorbeeld egbreuk en moord gepleeg, het die profeet Natan vir Dawid gesê dat Jehovah sy sonde vergewe het.—2 Samuel 12:13.

Waarom het Jehovah Dawid vergewe? Omdat Jehovah kon sien dat Dawid waarlik berouvol is (Psalm 32:1-5). Vandag sal iemand wat gesondig het, ook vergewe word as hy ware berou toon en ophou om te doen wat sleg is (Handelinge 3:19; 26:20). As die ouer manne op ’n regterlike komitee geen bewyse van opregte berou by iemand sien nie, moet hy uitgesit word.

As ’n hegte vriend of iemand in jou gesin uitgesit word, vind jy dit dalk moeilik om hierdie besluit te aanvaar en voel jy dalk dat die dissipline te streng is. Maar Jehovah se Woord toon duidelik dat uitsetting ’n liefdevolle reëling is.

DIE VOORDELE VAN UITSETTING

Jesus het gesê dat “wysheid geregverdig word deur die resultate wat dit oplewer” (Matteus 11:19, voetnoot in NW). Kom ons kyk na drie redes waarom dit ’n wyse besluit is om iemand uit te sit as hy nie berouvol is nie.

Uitsetting verhoed dat Jehovah se naam oneer aangedoen word. Omdat ons Jehovah se naam dra, sal ons gedrag hom tot eer strek of hom oneer aandoen (Jesaja 43:10). Net soos ’n seun se gedrag sy ouers in ’n goeie of slegte lig kan stel, kan die gedrag van Jehovah se knegte Hom in ’n goeie of slegte lig stel. In Esegiël se dag het mense van die nasies die Jode met Jehovah se naam verbind (Esegiël 36:19-23). Vandag verbind mense Jehovah se Getuies ook met Jehovah se naam. As ons Jehovah se wette gehoorsaam, sal dit hom dus tot eer strek.

Die apostel Petrus het Christene vermaan: “As gehoorsame kinders moet julle nie langer gevorm word volgens die begeertes wat julle vroeër in julle onkunde gehad het nie, maar word, in ooreenstemming met die Heilige wat julle geroep het, self ook in julle hele gedrag heilig, want daar staan geskrywe: ‘Julle moet heilig wees, want ek is heilig’” (1 Petrus 1:14-16). As ons byvoorbeeld seksuele onsedelikheid beoefen, sal ons God se naam oneer aandoen. Maar as ons rein gedrag handhaaf, strek dit Jehovah tot eer.

As een van Jehovah se Getuies slegte dinge beoefen, sal diegene wat hom ken, waarskynlik daarvan te wete kom. Wanneer hulle dan hoor dat hy nie meer een van Jehovah se Getuies is nie, sal hulle besef dat Jehovah se volk die Bybel gehoorsaam en die gemeente rein hou. ’n Man het byvoorbeeld ’n vergadering in Switserland bygewoon en gesê dat hy ’n lid van die gemeente wil word. Sy suster is weens onsedelikheid uitgesit, en hy wou by ’n organisasie aansluit wat “nie slegte gedrag duld nie”.

Uitsetting hou die Christengemeente rein. Die apostel Paulus het die Korintiërs gewaarsku teen die gevaar wat dit inhou om ’n onberouvolle sondaar toe te laat om in die gemeente te bly. Hy het die slegte invloed van sulke sondaars vergelyk met suurdeeg wat ’n hele bak deeg laat rys. Paulus het gesê dat “’n bietjie suurdeeg die hele deeg deursuur”. Toe het hy hulle vermaan: “Verwyder die goddelose mens onder julle uit.”—1 Korintiërs 5:6, 11-13.

Hierdie “goddelose mens” het seksuele onsedelikheid onbeskaamd beoefen. Party in sy gemeente het selfs sy slegte gedrag begin verskoon (1 Korintiërs 5:1, 2). Dit was gevaarlik, want ander Christene kon in die versoeking gekom het om die onsedelike lewenswyse te volg wat in Korinte algemeen was. As die gemeente in ons dag ernstige sonde ignoreer, kan party broers of susters Jehovah se standaarde eweneens as onbelangrik begin beskou (Prediker 8:11). Net soos “rotse wat onder die water verborge is”, ’n skip kan laat sink, kan onberouvolle sondaars die geloof van ander in die gemeente vernietig.—Judas 4, 12.

Uitsetting kan die sondaar help besef dat hy verkeerd is. Jesus het ’n illustrasie vertel van ’n jong man wat sy vader se huis verlaat het en sy erfenis verkwis het deur ’n onsedelike lewe te lei. Die jong man het uiteindelik besef dat die lewe buite sy vader se huis doelloos is. Hy het dus tot berou gekom en besluit om na sy gesin terug te keer. Sy vader was baie bly toe hy sien dat sy seun se gesindheid verander het, en hy het hom terugverwelkom (Lukas 15:11-24). Hierdie illustrasie help ons om te verstaan hoe Jehovah voel wanneer iemand berou toon. Hy sê: “Ek skep geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat ’n goddelose hom van sy weg afkeer en bly lewe.”—Esegiël 33:11.

Die Christengemeente is ons geestelike gesin. Iemand wat uitgesit word, is nie meer deel van hierdie gesin nie. Wanneer hy die gevolge van sy slegte gedrag ondervind, sal hy dalk besef dat hy ’n fout gemaak het en dat hy baie gelukkiger was toe hy ’n goeie verhouding met Jehovah en die gemeente gehad het. Dit kan hom aanspoor om na sy geestelike gesin terug te keer.

As ons streng by die uitsettingsreëling bly, betoon ons liefde aan die uitgesette persoon en help ons hom om na die gemeente terug te keer. Dink byvoorbeeld aan twee voetslaners wat op ’n ysige wintersdag in ’n noodsituasie is en vir ’n reddingspan wag. Omdat dit so koud is, sukkel een van die voetslaners om wakker te bly. Maar as hy in die sneeu aan die slaap raak, sal hy doodgaan. Om hom te help om wakker te bly, klap sy vriend hom in die gesig. Al maak dit seer, kan dit sy lewe red. Dawid het ’n soortgelyke gedagte uitgespreek toe hy gesê het: “As die regverdige my sou slaan, sou dit ’n liefderyke goedhartigheid wees” (Psalm 141:5). Hoewel dissipline pynlik is, het Dawid geweet dat dit hom sou help.

Uitsetting voorsien dikwels die dissipline wat ’n persoon nodig het om tot Jehovah terug te keer. Julian se seun, wat aan die begin van hierdie artikel genoem word, het sy lewe verander en het tien jaar nadat hy uitgesit is, na die gemeente teruggekeer. Hy is nou ’n ouer man. Hy erken: “Terwyl ek uitgesit was, het ek besef wat die gevolge van my lewenswyse is. Ek het hierdie soort dissipline nodig gehad.”—Hebreërs 12:7-11.

HOE ONS LIEFDE AAN UITGESETTENES KAN BETOON

Dit is tragies wanneer iemand uitgesit word. Maar dit beteken nie dat hy nooit tot Jehovah kan terugkeer nie. Dit is belangrik dat ons almal saamwerk sodat die dissipline sy doel kan dien. Hoe kan ons dit doen?

Berouvolle persone word gehelp om tot Jehovah terug te keer

Ouer manne probeer altyd om Jehovah se liefde na te volg, veral wanneer hulle vir iemand moet sê dat hy nie meer een van Jehovah se Getuies is nie. Hulle verduidelik op ’n liefdevolle en duidelike wyse wat hy moet doen om tot Jehovah terug te keer en weer deel van die gemeente te wees. As iemand wat uitgesit is, toon dat hy na die gemeente wil terugkeer, sal die ouer manne hom moontlik van tyd tot tyd besoek om hom te herinner aan wat hy moet doen om tot Jehovah terug te keer. *—Sien voetnoot.

Gesinslede toon liefde vir die gemeente en vir die uitgesette persoon as hulle die ouer manne se besluit ondersteun. Julian verduidelik: “Hy was nog steeds my seun, maar weens sy lewenswyse was daar ’n versperring tussen ons.”

Almal in die gemeente toon ware liefde vir die uitgesette persoon deur die dissipline te respekteer wat Jehovah hom deur die ouer manne gegee het. Dit beteken dat hulle nie tyd saam met hom moet deurbring of selfs met hom moet praat nie (1 Korintiërs 5:11; 2 Johannes 10, 11). Die gemeente moet ook meer probeer doen om die uitgesette persoon se gesin te ondersteun en liefde aan hulle te betoon. Dit is ’n baie moeilike tyd vir die gesin. Ons moet hulle nooit laat voel dat hulle ook uit die gemeente gesit is nie.—Romeine 12:13, 15.

Julian sê ten slotte: “Uitsetting is ’n reëling wat ons nodig het—’n reëling wat ons help om volgens Jehovah se standaarde te lewe. Op die lange duur lewer dit goeie resultate op, al veroorsaak dit baie pyn. As ek my seun se slegte gedrag geduld het, sou hy nooit geestelik herstel het nie.”

^ par. 24 Sien Die Wagtoring van 15 April 1991, bladsye 21-23.