Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer jou kinders om lief te wees vir lees en studie

Leer jou kinders om lief te wees vir lees en studie

Leer jou kinders om lief te wees vir lees en studie

DAAR is min strewes met groter potensiaal om jou kinders se toekoms te vorm as om hulle te leer lees en studeer. En hoeveel vreugde kan hierdie bedrywighede tog verskaf! Party mense se aangenaamste herinneringe aan hulle kinderdae is dié van hulle ouers wat vir hulle lees. Lees op sigself kan aangenaam wees, en so ook die resultate daarvan. Dit geld veral vir knegte van God, aangesien geestelike groei grootliks bevorder word deur Bybelstudie. Een Christenouer het gesê: “Die dinge waaraan ons die grootste waarde heg, het te doen met lees en studeer.”

Goeie studiegewoontes kan jou kinders help om ’n hegter verhouding met God op te bou (Ps. 1:1-3, 6). Al is die vermoë om te lees nie ’n vereiste vir redding nie, verbind die Bybel dit wel met groot geestelike voordele. Byvoorbeeld, Openbaring 1:3 sê: “Gelukkig is hy wat die woorde van hierdie profesie hardop lees en dié wat dit hoor.” Verder word daar duidelik verwys na die waarde van konsentrasie, ’n belangrike element van studie, in die apostel Paulus se geïnspireerde raad aan Timoteus: “Peins oor hierdie dinge; wees verdiep daarin.” Waarom? “Sodat jou vooruitgang . . . duidelik kan wees.”—1 Tim. 4:15.

Maar om bloot te weet hoe om te lees en te studeer, is natuurlik op sigself geen waarborg dat hierdie vermoëns vir ’n persoon van nut sal wees nie. Baie wat hierdie vaardighede het, gebruik dit nie; hulle streef eerder minder belangriker dinge na. Hoe kan ouers hulle kinders dan help om ’n dors na nuttige kennis te hê?

Jou liefde en jou voorbeeld

Kinders leer om studiesessies te geniet wanneer dit in ’n atmosfeer van liefde plaasvind. Owen en Claudia, ’n Christenegpaar, sê van hulle twee kinders: “Hulle het uitgesien na studietyd omdat dit ’n spesiale tyd was—hulle het beskerm en gemaklik gevoel. Hulle het hierdie tye met ’n hartlike atmosfeer verbind.” Selfs wanneer kinders in hulle potensieel moeilike tienerjare ingaan, sal ’n liefdevolle atmosfeer waarin ’n gesin se studieprogram plaasvind, steeds hulle beskouing vorm. Owen en Claudia se kinders is nou pioniers en vind nog steeds baat by die liefde vir lees en studeer wat by hulle ingeskerp is.

Die voorbeeld wat ouers stel, is nog ’n kragtige hulpmiddel. Dit is waarskynliker dat kinders wat hulle ouers dikwels sien lees en studeer, hierdie bedrywighede as ’n normale deel van hulle eie lewe sal beskou. Maar hoe kan jy as ouer so ’n voorbeeld stel as jy dit nie regtig geniet om te lees nie? Dit kan beteken dat jy jou prioriteite of gesindheid teenoor lees moet verander (Rom. 2:21). As lees ’n belangrike deel van jou daaglikse roetine is, sal dit tot jou kinders se hart spreek. Jou ywer—veral om die Bybel te lees, vir vergaderinge voor te berei en die gesinstudie te hou—sal ’n duidelike boodskap uitstuur oor die waarde van sulke bedrywighede.

Jou liefde en voorbeeld speel dus ’n belangrike rol daarin om by jou kinders ’n begeerte te wek om te lees. Maar watter praktiese stappe kan jy doen om hulle aan te moedig?

’n Liefde wat begin met lees

Wat is ’n paar belangrike stappe om jou kinders te help om ’n liefde vir lees op te bou? Stel hulle van kleins af bloot aan boeke. Een Christen- ouer man wie se ouers by hom ’n liefde vir lees ingeskerp het, beveel aan: “Laat jou kinders daaraan gewoond raak om boeke te hanteer. Op dié manier word boeke hulle vriende en ’n deel van hulle lewe.” Bybelpublikasies, soos Leer by die Groot Onderwyser en My boek met Bybelverhale, word dus vir baie kinders kosbare besittings nog lank voordat hulle kan lees. Wanneer jy sulke publikasies saam met jou kinders lees, stel jy hulle nie net bloot aan taal nie, maar ook aan “geestelike aangeleenthede” en “geestelike woorde”.—1 Kor. 2:13.

Lees gereeld hardop. Kom in ’n roetine om elke dag saam met jou kinders te lees. Dit leer hulle om woorde reg uit te spreek en versterk die gewoonte om te lees. Die manier waarop jy lees, is ook belangrik. Wees geesdriftig, en hulle sal ook wees. Om die waarheid te sê, jy sal dalk vind dat jou kinders jou sal vra om dieselfde verhaal oor en oor te lees. Doen dit gerus! Mettertyd sal hulle nuwe onderwerpe wil ondersoek. Maar moet hulle nie dwing om te lees nie. Jesus het die voorbeeld gestel deur sy hoorders net te leer “vir sover hulle kon luister” (Mark. 4:33). As jy jou kinders nie dwing nie, sal hulle gretig uitsien na elke leessessie, en jy sal al hoe nader beweeg aan jou doelwit om ’n liefde vir lees by hulle in te skerp.

Moedig deelname aan, en bespreek wat julle lees. Jy sal bly wees om te sien dat jou jong kinders spoedig baie woorde kan herken en uitspreek, asook die betekenis daarvan kan verstaan. As jy bespreek wat julle lees, kan dit grootliks bydra tot hulle vooruitgang. Gesprekke help kinders “om die woorde te leer wat hulle later moet herken en verstaan wanneer hulle lees”, verduidelik ’n boek oor hoe om kinders te help om goeie lesers te word. “Vir jong kinders wie se ontwikkelende verstande daarna streef om geletterd te word”, voeg dieselfde bron by, “is gesprekke noodsaaklik—hoe betekenisvoller . . . hoe beter.”

Laat jou kinders vir jou lees, en moedig hulle aan om vrae te vra. Jy kan self vrae vra en moontlike antwoorde gee. Op dié manier leer kinders dat boeke ’n bron van inligting is en dat die woorde wat hulle lees, betekenis het. Hierdie benadering is besonder nuttig wanneer julle iets lees wat op God se Woord, die betekenisvolste van alle boeke, gebaseer is.—Heb. 4:12.

Maar moet nooit vergeet dat lees ’n komplekse vaardigheid is nie. Dit verg tyd en oefening om dit te bemeester. a Sorg dus dat jy jou kinders se toenemende liefde vir lees voed deur hulle gereeld te prys. As jy jou kinders prys, sal dit hulle aanspoor om lief te word vir lees.

Die moeite werd en aangenaam

As jy jou kinders leer hoe om te studeer, maak dit lees doelgerig. Studie behels dat ’n mens feite leer en hulle verwantskap met mekaar begryp. Dit vereis die vermoë om inligting te organiseer, te onthou en te gebruik. Wanneer ’n kind geleer het hoe om te studeer en die praktiese waarde daarvan kan sien, word studie die moeite werd sowel as aangenaam.—Pred. 10:10.

Leer kinders die belangrike elemente van studie. Aande vir Gesinsaanbidding, besprekings van die dagteks en soortgelyke geleenthede is uitstekende tye om jou kinders studievaardighede te leer. Om stil te sit en hulle aandag vir kort rukkies op ’n sekere onderwerp te vestig, sal hulle leer om te konsentreer, wat ’n noodsaaklike deel van die leerproses is. Jy kan jou seun ook aanmoedig om jou te vertel hoe die dinge wat hy pas geleer het, verband hou met wat hy reeds weet. Dit leer hom om vergelykings te tref. Of jy kan jou dogter vra om in haar eie woorde op te som wat sy gelees het. Dit sal haar help om die betekenis te begryp en dit te onthou. Hersiening, dit wil sê om hoofgedagtes te herhaal nadat ’n artikel gelees is, is nog ’n geheuehulp wat jy hulle kan leer. Selfs jong kinders kan geleer word om kort aantekeninge te maak gedurende studiesessies of gemeentelike vergaderinge. Wat ’n uitstekende manier is dit tog om hulle konsentrasie aan te help! Hierdie eenvoudige tegnieke hou die leerproses vars en betekenisvol vir jou sowel as jou kinders.

Skep ’n milieu wat studie bevorder. Goeie ventilasie en beligting, tesame met ’n stil en gemaklike omgewing, maak dit makliker om te konsentreer. Ouers se beskouing van studie is natuurlik van groot belang. “Dit is noodsaaklik dat jy gereeld en konsekwent moet wees wanneer jy tyd maak vir lees en studeer”, sê een ma. “Dit help jou kinders om georganiseerd te word. Hulle leer dat sekere dinge teen ’n sekere tyd gedoen moet wees.” Baie ouers verbied eenvoudig ander bedrywighede gedurende studietye. Volgens een kenner help hierdie benadering baie om kinders goeie studiegewoontes te leer.

Beklemtoon die waarde van studie. Laastens, help jou kinders om die praktiese voordele van studie te sien. Om inligting toe te pas, is die ware doel van studie. Een jong broer erken: “As ek nie enige praktiese waarde sien in wat ek studeer nie, sukkel ek regtig om dit te wil studeer. Maar as ek dit persoonlik kan toepas, word dit iets wat ek wil verstaan.” Wanneer jongmense studie as ’n middel tot ’n belangrike doel beskou, sal hulle daarin verdiep raak. Hulle sal begin uitsien na studie, net soos hulle na lees uitgesien het.

Die beste beloning

Dit sou baie boeke vul as ’n lys gemaak moes word van al die voordele wat dit inhou om jou kinders te leer om lief te wees vir lees. Sukses op skool, by die werk en in menseverhoudings sowel as om die wêreld om ons te verstaan en hegter bande van liefde tussen ouer en kind te ontwikkel, is net ’n paar van die voordele, om nie eens te praat van die groot bevrediging wat lees en studeer meebring nie.

Bowenal kan ’n liefde vir studie jou kinders help om geestelikgesind te word. Liefde vir studie is die sleutel waarmee ons hulle verstande en harte kan oopsluit om “die breedte en lengte en hoogte en diepte” van skriftuurlike waarheid te verstaan (Ef. 3:18). Christenouers het natuurlik baie om hulle kinders te leer. Wanneer ouers hulle tyd en aandag aan hulle kinders wy en alles in hulle vermoë doen om hulle ’n goeie begin in die lewe te gee, hoop hulle dat hulle kinders uiteindelik sal kies om aanbidders van Jehovah te word. As jy jou kinders goeie studiegewoontes leer, stel dit hulle in staat om hulle geestelike welsyn te verseker en ’n goeie verhouding met God op te bou. Vra dus gerus Jehovah se seën in gebed terwyl jy daarna streef om jou kinders te leer om lief te wees vir lees en studie.—Spr. 22:6.

[Voetnoot]

a Lees en studeer bied spesiale uitdagings vir kinders met leergestremdhede. Vir ’n bespreking van wat ouers kan doen om hulle te help, sien die Ontwaak! van 22 Februarie 1997, bladsye 3-10.

[Venster/Prente op bladsy 26]

Lees . . . 

• Stel hulle bloot aan boeke

• Lees hardop

• Moedig deelname aan

• Bespreek wat julle lees

• Laat jou kinders vir jou lees

• Moedig jou kinders aan om vrae te vra

Studie . . . 

• Stel ’n goeie voorbeeld as ouer

• Leer jou kinders om . . . 

○ te konsentreer

○ vergelykings te tref

○ op te som

○ te hersien

○ aantekeninge te maak

• Skep ’n milieu wat studie bevorder

• Beklemtoon die waarde van studie