Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kyk! Die lig is wonderbaar!

Kyk! Die lig is wonderbaar!

Kyk! Die lig is wonderbaar!

AS JY al ooit jou pad in die duisternis moes vind, weet jy hoe frustrerend dit kan wees. Watter verligting bring lig tog! Dalk was jy ook al in ’n situasie wat met duisternis vergelyk kan word. Dit was moontlik toe jy nie ’n oplossing vir ’n probleem kon sien nie. Toe het jy geleidelik lig begin sien—daar was ’n oplossing. Om uit sulke duisternis in die lig te kom, is ’n wonderlike ondervinding.

In die eerste eeu was mense oor die algemeen in geestelike duisternis. Die apostel Petrus het vir diegene wat hulle vorige opvattings agtergelaat en die Christelike godsdiens aangeneem het, geskryf: “[God het] julle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep” (1 Petrus 2:9). Die verandering was vir hulle soos om uit algehele duisternis in helder lig te kom. Dit kan ook vergelyk word met iemand wat alleen en sonder hoop is en dan deel word van ’n familie met ’n veilige toekoms.—Efesiërs 2:1, 12.

‘Jy het die liefde wat jy eers gehad het, verlaat’

Die vroeë Christene het “die waarheid” gevind—die ware Christelike geloof (Johannes 18:37). Hulle het die wonderbare lig van waarheid gesien en van geestelike duisternis oorgegaan na helder lig. Maar die aanvanklike geesdrif en ywer van sommige Christene het mettertyd afgekoel. Teen die einde van die eerste eeu het daar byvoorbeeld ’n ernstige probleem in die gemeente in Efese ontstaan. Die verrese Jesus Christus het die probleem geïdentifiseer en gesê: “Ek [het] dít teen jou, dat jy die liefde wat jy eers gehad het, verlaat het. Onthou dan waarvan jy geval het, en toon berou en doen die dade van vroeër” (Openbaring 2:4, 5). Christene in Efese moes hulle liefde vir God en vir die waarheid opnuut aanwakker.

Wat van ons? Ons het ook die vreugde gesmaak om die lig te sien, om die wonderlike waarheid van God se Woord te leer ken. Ons het die waarheid liefgekry. Maar moeilikhede wat eie is aan die mensdom, kan ons liefde vir die waarheid laat verflou. Boonop ervaar ons moontlik die probleme wat met “die laaste dae” gepaardgaan. Ons lewe in ’n wêreld wat gekenmerk word deur “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”—’n wêreld vol mense wat “liefhebbers van hulleself [is], liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal” (2 Timoteus 3:1, 2). Hulle invloed kan ons ywer laat afneem en ons liefde vir Jehovah laat verkoel.

As ons die liefde wat ons eers gehad het, verloor het, moet ons ‘onthou waarvan ons geval het en berou toon’. Ons moet terugkeer na ons geestelike toestand van vroeër. Verder moet ons nie toelaat dat ons waardering vir die waarheid afneem nie. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons almal ’n positiewe en blymoedige uitkyk behou en ons liefde vir God en sy waarheid lewend hou!

‘Die waarheid wat ons vrymaak’

Die lig van skriftuurlike waarheid is wonderbaar omdat die Bybel belangrike vrae beantwoord waaroor die mensdom al duisende jare wonder. Van hierdie vrae is: Waarom is ons hier? Wat is die doel van die lewe? Waarom bestaan boosheid? Is daar lewe ná die dood? Jehovah het ons verlig met wonderlike leerstellige waarhede. Moet ons nie opreg dankbaar wees nie? Mag ons nooit die dinge wat ons geleer het, as vanselfsprekend aanneem nie!

Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Jesus se losprysoffer het vryheid van sonde en die dood moontlik gemaak. Maar hierdie kosbare waarhede het ons ook vrygemaak van die onkunde en onsekerhede van ’n wêreld wat in duisternis gehul is. As ons met waardering peins oor wat ons geleer het, sal dit ons help om ons liefde vir Jehovah en vir sy Woord te versterk.

Die apostel Paulus het vir Christene in Tessalonika geskryf: “Toe julle God se woord ontvang het, wat julle by ons gehoor het, het julle dit nie as die woord van mense aangeneem nie maar, soos dit waarlik is, as die woord van God, wat ook in julle, die gelowiges, aan die werk is” (1 Tessalonisense 2:13). Die Tessalonisense het ‘die woord van God’ gehoor en dit ‘met vreugde aangeneem’. Hulle was nie meer “in die duisternis” nie. Hulle het eerder “kinders van die lig” geword (1 Tessalonisense 1:4-7; 5:4, 5). Daardie Christene het geleer dat Jehovah die Skepper is en dat hy almagtig, wys, liefdevol en barmhartig is. Soos ander volgelinge van Christus het hulle ook geleer dat Jehovah deur die losprysoffer van sy Seun, Jesus Christus, voorsiening gemaak het om hulle sondes uit te wis.—Handelinge 3:19-21.

Hoewel die Tessalonisense nie alles omtrent die waarheid geweet het nie, het hulle geweet waar om na kennis te soek. Die geïnspireerde Skrif kan die mens van God “volkome bevoeg [maak], ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Timoteus 3:16, 17). Die Christene in Tessalonika kon voortgaan om te studeer en keer op keer ervaar dat die lig van God waarlik wonderbaar is. Hulle het rede gehad om te alle tye bly te wees (1 Tessalonisense 5:16). En ons het ook.

’n Lig vir ons pad

Die psalmis het ’n rede gemeld waarom die lig wonderbaar is en gesing: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Psalm 119:105). Die goddelike leiding wat ons uit God se Woord ontvang, kan ons help om ’n vaste koers te bepaal en ’n sinvolle lewe te geniet. Ons hoef nie soos ’n boot te wees wat rigtingloos ronddryf nie. As ons die waarheid ken en toepas, keer dit dat ons “rondgeslinger word soos deur golwe en hiernatoe en daarnatoe gevoer word deur elke wind van lering”.—Efesiërs 4:14.

“Moenie julle vertroue in edeles stel nie, ook nie in die mensekind, aan wie geen redding behoort nie”, sê die Bybel. Dit sê ook: “Gelukkig is hy wat die God van Jakob as sy hulp het, wie se hoop op Jehovah sy God is” (Psalm 146:3, 5). As ons ons vertroue in Jehovah stel, help dit ons ook om vrees en besorgdheid te oorkom. Die apostel Paulus het geskryf: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:6, 7). As ons deur die lig van God se Woord gelei word, strek dit ons waarlik tot voordeel.

Skyn as ligte in die wêreld

Nog ’n rede waarom die lig van God se Woord wonderbaar is, is dat dit deelname aan die mees verhewe toewysing wat vir die mens beskikbaar is, moontlik maak. Jesus het sy volgelinge beveel: “Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. En kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge.” Hy het die bevel ingelei deur te sê: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee.”—Matteus 28:18-20.

Dink net deur wie ware Christene bygestaan word in die werk om die goeie nuus te verkondig en Bybelwaarhede te leer aan mense van al die nasies. Jesus het sy volgelinge belowe dat hy met hulle sal wees. Ja, hy help en ondersteun hulle in hulle bediening terwyl hulle op hierdie manier, asook deur middel van ander “goeie werke”, ‘hulle lig laat skyn’ (Matteus 5:14-16). Engele is ook by hierdie evangelisasiewerk betrokke (Openbaring 14:6). En wat van Jehovah God? Die apostel Paulus het geskryf: “Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God het dit deurentyd laat groei.” Wat ’n voorreg is dit tog om onder “God se medewerkers” te wees!—1 Korintiërs 3:6, 9.

Dink ook aan hoe ons pogings in hierdie godgegewe werk geseën word. Niks kan vergelyk word met die voorreg wat God ons gegee het om “as ligte in die wêreld [te] skyn” nie. Deur die lig van God se Woord in ons woorde en dade te weerspieël, kan ons aan opregtes van hart ware hulp voorsien (Filippense 2:15). En ons kan ons verbly terwyl ons ywerig preek en onderrig, ‘want God is nie onregverdig sodat hy ons werk sal vergeet en die liefde wat ons vir sy naam getoon het nie’.—Hebreërs 6:10.

‘Koop oogsalf om in jou oë te smeer’

In ’n boodskap aan die eerste-eeuse gemeente in Laodisea het Jesus gesê: “[Koop by my] oogsalf om in jou oë te smeer, sodat jy kan sien. Almal vir wie ek geneentheid het, wys ek tereg en dissiplineer ek” (Openbaring 3:18, 19). Die onfeilbare geneesmiddel vir geestelike blindheid is “oogsalf”—die leringe en dissipline van Jesus. As ons ’n geestelik gesonde uitkyk wil behou, moet ons sy raad aanvaar en ons daaraan onderwerp, asook aan die riglyne wat dwarsdeur die Bybel gevind word. Ons moet ook ’n geestesgesindheid soos dié van Christus aanneem en sy voorbeeld navolg (Filippense 2:5; 1 Petrus 2:21). Die oogsalf is nie gratis nie. Jesus het gesê: ‘Koop dit by my.’ Die koste sluit ons tyd en inspanning in.

Wanneer ons ’n donker plek verlaat en ’n verligte kamer binnekom, neem dit dalk ’n rukkie vir ons oë om daaraan gewoond te raak. Dit neem eweneens tyd om God se Woord te bestudeer en om die lig van die waarheid te sien. Dit neem tyd om te peins oor wat ons leer en na te dink oor hoe kosbaar die waarheid is. Die koste is egter nie te groot nie. Waarom nie? Want die lig is wonderbaar!

[Prent op bladsy 14]

‘Koop by my oogsalf om in jou oë te smeer, sodat jy kan sien’