Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Hoeveel van die rein diere het Noag in die ark ingeneem—sewe van elke rein dier of sewe paar van elk?

Nadat Noag die ark gebou het, het Jehovah vir hom gesê: “Gaan in die ark in, jy en jou hele huisgesin, want jy, het ek gesien, is regverdig voor my in hierdie geslag. Van al die rein diere moet jy vir jou groepe van sewe neem, die mannetjie en sy wyfie; en van al die diere wat nie rein is nie, net twee, die mannetjie en sy wyfie” (Genesis 7:1, 2). Sommige vertalings, soos die Ou Afrikaanse Bybelvertaling, The New English Bible, The New Jerusalem Bible en Tanakh—The Holy Scriptures, gee die oorspronklike Hebreeus weer met “sewe paar”.

Die uitdrukking “groepe van sewe” is in die oorspronklike taal letterlik “sewe sewe” (Genesis 7:2, voetnoot in NW). Maar in Hebreeus beteken die herhaling van ’n getal nie noodwendig dat die getalle bymekaargetel moet word nie. Byvoorbeeld, 2 Samuel 21:20 beskryf “’n buitengewone groot man” en sê dat hy “ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet” gehad het. In Hebreeus word die getal “ses” herhaal. Maar dit beteken nie dat die reus ses paar vingers (oftewel 12) aan elke hand en ses paar tone aan elke voet gehad het nie. Die herhaling verwys bloot na hoeveel vingers daar aan elke hand en hoeveel tone daar aan elke voet was.

Watter leiding bied die Hebreeuse grammatikareëls oor die herhaling van getalle? Waar William R. Harper se Introductory Hebrew Method and Manual Genesis 7:2, 9 bespreek, sê dit: “Woorde word dikwels herhaal om die distributiewe verband weer te gee.” Gesenius se Hebrew Grammar (Tweede Engelse uitgawe) sê: “Distributiewe getalle word weergegee . . . deur die herhaling van die hoofgetal.” Dit gee as voorbeelde Genesis 7:9, 15 en 2 Samuel 21:20, waar die herhaalde getalle onderskeidelik “twee” en “ses” is.

“Sewe sewe” in Genesis 7:2 beteken dus nie sewe paar, of 14 nie, net soos die herhaling van “twee” in Genesis 7:9, 15 nie twee paar, of vier, beteken nie. Die herhaling van ’n getal in elk van die verse toon bloot hoe hulle ingedeel is—nie dat die getalle bymekaargetel moet word nie. Terwyl rein diere dus in “groepe van sewe” in die ark ingeneem is, is daar van die onrein diere “net twee” ingeneem.

Maar wat dan van die uitdrukking “die mannetjie en sy wyfie” wat op die uitdrukking “groepe van sewe” in Genesis 7:2 volg? Dit het sommige laat dink dat Noag beveel is om van elke rein diersoort sewe paar te neem. Die rein diere is egter nie bewaar uitsluitlik sodat hulle kon voortplant nie. Genesis 8:20 sê vir ons dat Noag, nadat hy uit die ark uitgekom het, begin het “om ’n altaar vir Jehovah te bou en van al die rein diere en van al die rein voëls te neem en brandoffers op die altaar te bring”. Omdat daar ’n sewende dier van elke rein diersoort was, kon Noag dit as offerande gebruik, sodat drie paar oorgebly het om hulle soort op die aarde voort te plant.