Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jy kán vir ewig lewe

Jy kán vir ewig lewe

Jy kán vir ewig lewe

DIE oorgrote meerderheid van gelowiges in die godsdienste van die wêreld koester die vooruitsig op die een of ander vorm van ewige lewe. Die besonderhede wissel dalk van godsdiens tot godsdiens, maar die hoop is basies dieselfde—om gelukkig te lewe, onder ideale toestande, sonder die bedreiging van die dood. Is dit nie wat jy ook begeer nie? Hoe kan die feit dat sulke oortuigings so algemeen voorkom, verklaar word? En sal die vooruitsig op ewige lewe ooit verwesenlik word?

Die Skrif toon dat die Skepper reg aan die begin, van die tyd af toe hy die eerste mensepaar geskep het, die begeerte na ewige lewe diep in die mens se bewussyn geplant het. “Onbepaalde tyd het [God] in hulle hart gesit”, sê die Bybel.—Prediker 3:11.

Maar om daardie begeerte na ewige lewe te bevredig, moes die eerste mensepaar God se gesag aanvaar om te besluit wat reg en verkeerd is. As hulle dit gedoen het, sou Jehovah hulle waardig geag het om “tot onbepaalde tyd” te lewe in die tuiste wat hy vir hulle voorberei het, die tuin van Eden.—Genesis 2:8; 3:22.

Die ewige lewe word verloor

Die Bybelverslag toon dat God “die boom van die kennis van goed en kwaad” in die tuin geplant het en dat hy Adam en Eva op straf van die dood belet het om die vrug daarvan te eet (Genesis 2:9, 17). As Adam en Eva nie van daardie vrug geëet het nie, sou hulle aan God toon dat hulle sy gesag erken. Aan die ander kant, as hulle wel van die boom geëet het, sou hulle toon dat hulle God se gesag verwerp. Adam en Eva het Jehovah se instruksies verontagsaam en hulle geskaar aan die kant van Satan, ’n geesskepsel wat teen God se gesag in opstand gekom het. Gevolglik het God tereg bepaal dat Adam en Eva nie geskik was om vir ewig te lewe nie.—Genesis 3:1-6.

Wat God aangebied het, was lewe of dood, bestaan of niebestaan. Die gevolg van hulle ongehoorsaamheid was die dood en die algehele einde van hulle bestaan. Dit was nie moontlik vir Adam en Eva of enige van hulle nageslag om aan te hou lewe danksy een of ander toormiddel of ’n onsterflike siel nie. a

Al Adam se nakomelinge het weens sy opstand gely. Die nagevolge word deur die apostel Paulus verduidelik. Hy het geskryf: “Deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde en die dood [het] só tot alle mense deurgedring . . . omdat hulle almal gesondig het.”—Romeine 5:12.

Die ewige lewe word herwin

Die apostel Paulus het die toestand van Adam se nakomelinge toegelig deur dit met dié van ’n eerste-eeuse slaaf te vergelyk. As gevolg van oorgeërfde sonde was dit onvermydelik dat Adam en Eva se kinders as “slawe van die sonde” gebore sou word, bestem om te sterf (Romeine 5:12; 6:16, 17). Wel, dit sóú onvermydelik gewees het as dit nie vir die wetlike voorsiening was wat Jehovah gemaak het om sulke slawe vry te koop nie. Paulus het verduidelik: “Soos dit deur een oortreding [dié van Adam] vir alle soorte mense tot veroordeling gelei het, net so lei dit ook deur een daad van regverdiging vir alle soorte mense tot regverdigverklaring vir die lewe.” Daardie “daad van regverdiging” het daartoe gelei dat Jesus sy eie volmaakte menselewe opgeoffer het as “’n ooreenstemmende losprys vir almal”. Jehovah het die losprys se wetlike krag erken om die mensdom van “veroordeling” te bevry.—Romeine 5:16, 18, 19; 1 Timoteus 2:5, 6.

Dit is waarom wetenskaplikes nooit die sleutel tot eindelose lewe in die mens se genetiese kode sal vind nie. Die sleutel lê elders. Volgens die Bybel is die grondoorsaak van die mens se dood sedelik en wetlik, nie biologies nie. Die middel om ewige lewe te herstel—Jesus se losprysoffer—is eweneens wetlik. Die losprys openbaar ook God se regverdigheid en liefderyke goedhartigheid. Wie sal dan by die losprys baat vind en die ewige lewe ontvang?

Die gawe van onsterflikheid

Jehovah God bestaan “van onbepaalde tyd tot onbepaalde tyd”. Hy is onsterflik (Psalm 90:2). Die eerste persoon aan wie Jehovah die gawe van onsterflikheid gegee het, was Jesus Christus. Die apostel Paulus verduidelik: “Christus, noudat hy uit die dode opgewek is, [sterf] nie meer . . . nie; die dood is nie meer meester oor hom nie” (Romeine 6:9). Paulus stel Jesus teenoor aardse heersers en beskryf hom met reg as die enigste een onder hulle wat onsterflikheid het. Jesus sal “vir ewig bly lewe”. Sy lewe is ‘onvernietigbaar’.—Hebreërs 7:15-17, 23-25; 1 Timoteus 6:15, 16.

Jesus is nie die enigste een wat hierdie gawe ontvang nie. Geesgesalfde Christene wat gekies is om as konings in hemelse heerlikheid te regeer, ontvang dieselfde soort opstanding as Jesus (Romeine 6:5). Die apostel Johannes toon dat hierdie voorreg aan 144 000 persone gegee word (Openbaring 14:1). Hulle ontvang ook onsterflikheid. Aangaande hulle opstanding sê Paulus: “Vlees en bloed [kan] God se koninkryk nie . . . beërf nie . . . Die trompet sal weerklink, en die dooies sal onverderflik opgewek word, en ons sal verander word. Want hierdie verderflike moet hom met onverderflikheid beklee, en hierdie sterflike moet hom met onsterflikheid beklee.” Die dood het geen houvas op dié wat hierdie opstanding ontvang nie.—1 Korintiërs 15:50-53; Openbaring 20:6.

Hierdie goddelike openbaring is inderdaad merkwaardig. Ondanks die feit dat engele geesskepsele is, is nie eers hulle met onsterflikheid geskep nie. Dit blyk uit die feit dat die geesskepsele wat by Satan se opstand aangesluit het, tereggestel sal word (Matteus 25:41). Jesus se medeheersers ontvang daarenteen die gawe van onsterflikheid, wat ’n bewys is van Jehovah se onwrikbare vertroue in hulle getrouheid.

Beteken dit dat net 144 000 persone, ’n relatiewe klein getal in vergelyking met die miljarde mense wat al geleef het, vir ewig sal lewe? Nee. Kom ons kyk waarom ons so kan sê.

Ewige lewe op ’n paradysaarde

Die Bybelboek Openbaring beeld die pragtige toneel uit van ’n ontelbare menigte mense aan wie ewige lewe op ’n paradysaarde gegee word. Saam met hulle is dié wat gesterf het maar wat opgewek is en tot jeugdige gesondheid en krag herstel is (Openbaring 7:9; 20:12, 13; 21:3, 4). Hulle word gelei na “’n rivier van water van die lewe . . . , helder soos kristal, wat uit die troon van God” uitvloei. Al langs die rivieroewers is “bome van die lewe . . . , en die blare van die bome was vir die genesing van die nasies”. Jehovah God se goedhartige uitnodiging is: “Laat enigeen wat dors is, kom; laat enigeen wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”—Openbaring 22:1, 2, 17.

Hierdie bome en water is geen lewenselikser of fontein van jeug, soos dié waarna alchemiste en ontdekkingsreisigers eeue lank gesoek het nie. Dit verteenwoordig eerder God se voorsiening deur Jesus Christus om die mensdom te herstel tot die volmaakte toestand wat oorspronklik bestaan het.

God se voorneme om ewige lewe op aarde aan gehoorsame mense te gee, het nie verander nie. Daardie voorneme sal vervul word, want Jehovah is lojaal. Psalm 37:29 sê: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.” Hierdie belofte spoor ons aan, tesame met dié onder die mensdom aan wie hemelse onsterflikheid gegee word, om te verklaar: “Groot en wonderbaar is u werke, Jehovah God, die Almagtige. Regverdig en waaragtig is u weë, Koning van die ewigheid. Wie sal u nie werklik vrees nie, Jehovah, en u naam nie verheerlik nie, want u alleen is lojaal?”—Openbaring 15:3, 4.

Begeer jy die kosbare gawe van ewige lewe? Indien wel, moet jy jou lojaliteit en gehoorsaamheid aan die “Koning van die ewigheid” bewys. Jy moet leer van Jehovah en van die een deur wie ewige lewe moontlik gemaak word, Jesus Christus. Die gawe van “ewige lewe” sal aan almal gegee word wat gewillig is om God se standaarde van reg en verkeerd te aanvaar.—Johannes 17:3.

[Voetnoot]

a Vir ’n volledige bespreking van die leerstelling van die onsterflikheid van die siel, sien asseblief die brosjure Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster/Prent op bladsy 5]

’n Eeue oue droom

Die Epos van Gilgamesj, ’n Mesopotamiese saga wat glo uit die tweede millennium v.G.J. dateer, beskryf ’n held se soeke na ewige jeug. Eertydse Egiptenare het die dooies gemummifiseer weens die opvatting dat siele, wat as onsterflik beskou is, hulle liggame weer sou kon gebruik. Gevolglik is party Egiptiese grafkelders gevul met alles wat die dooies in die sogenaamde hiernamaals dalk sou nodig kry.

Dit lyk asof die opvatting van fisiese onsterflikheid onder Chinese alchemiste tot ten minste die agtste eeu v.G.J. teruggevoer kan word, en die moontlikheid om dit deur middel van toormiddels te verkry, tot die vierde eeu v.G.J. In die Middeleeue het Europese en Arabiese alchemiste na lewenseliksers gesoek en hulle eie probeer berei. Party van hulle mengsels het arseensoute, kwik en swael bevat. Wie weet hoeveel hulleself vergiftig het deur sulke preparate te drink!

Op een stadium was daar ook wydverspreide legendes van die sogenaamde Fontein van Jeug—’n waterbron wat glo die lewenskrag herstel het van almal wat daarvan drink.

[Venster/Prente op bladsy 7]

Die ewige lewe—Vervelig?

Party maak die beswaar dat die ewige lewe vervelig sal wees, ’n blote verspilling van die ewigheid met sinlose tydverdrywe wat eindeloos herhaal word. Dalk is die ewigheid wat hulle hulle voorstel, ’n eindelose voortsetting van vandag se lewenstyle en toestande, wat vir baie wel vervelig en sinloos lyk. Maar in die Paradys wat God sal herstel, belowe hy dat die mensdom hulle sal “verlustig in die oorvloed van vrede” (Psalm 37:11). So ’n lewe sal die mensdom die geleentheid bied om kennis van Jehovah se skeppingswerke te verkry en om tyd aan enige van, of selfs al die fassinerende vaardighede, studies en beroepe te wy waarvan ons nou maar net kan droom.

Dr. Aubrey de Grey, ’n genetikus aan die Universiteit van Cambridge wat aan navorsing oor die verlenging van lewensduur deelgeneem het, sê: “Mense wat ’n goeie opvoeding het en wat genoeg tyd het om dit te gebruik, raak vandag nooit verveeld nie en kan hulle nie voorstel dat hulle ooit nie nuwe dinge sal hê wat hulle graag wil doen nie.” Net so sê God se geïnspireerde Woord: “Die mensdom [sal] nooit die werk wat die ware God gemaak het, van begin tot einde kan uitvind nie.”—Prediker 3:11.