Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | VREDE IN DIE GESIN

Hoe om op te hou stry

Hoe om op te hou stry

SÊ NOU julle gesin is in ’n bose kringloop van stryery vasgevang. Dalk stry julle nou meer en is die argumente hewiger. Julle weet miskien nie eers hoe dit begin het nie. Maar julle is lief vir mekaar en wil mekaar nie seermaak nie.

Hou in gedagte: Dit beteken nie noodwendig dat julle gesin verbrokkel omdat julle verskillende menings oor iets het nie. Dit is nie die feit dat julle oor iets verskil nie, maar hoe julle dit hanteer, wat bepaal hoe vreedsaam of hoe vyandig die atmosfeer in die huis sal wees. Kyk na ’n paar stappe wat julle kan help om op te hou stry.

1. HOU OP OM TERUG TE KAP.

Twee is nodig om te stry, maar wanneer een begin luister en ophou praat, kan ’n kwaai stryery begin bedaar. Daarom moet jy die versoeking weerstaan om terug te kap wanneer iets gesê word wat jou kwaad maak. Behou jou selfrespek en waardigheid deur selfbeheersing te hê. Onthou, vrede in die gesin is belangriker as om argumente te wen.

“Waar daar geen hout is nie, gaan die vuur dood, en waar daar geen lasteraar is nie, bedaar die twis.”Spreuke 26:20.

2. ERKEN HOE JOU GESINSLEDE VOEL.

Om aandagtig en met empatie te luister sonder om vooraf te oordeel of die ander persoon in die rede te val, kan baie help om woede te blus en vrede te herstel. Moenie aanneem dat die ander persoon slegte beweegredes het nie; erken eerder sy gevoelens. Moenie dink dat die persoon jou opsetlik wou seermaak as dit miskien net onvolmaaktheid is nie. Wanneer iemand iets sê wat jou seermaak, is dit dalk omdat hulle nie gedink het nie of omdat hulle hart vol pyn is en nie omdat hulle gemeen of wraaksugtig is nie.

“Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid.”Kolossense 3:12.

3. GEE JOUSELF TYD OM AF TE KOEL.

As jy voel dat jy jou humeur gaan verloor, sal dit dalk verstandig wees om jou vriendelik te verskoon en weg te stap sodat jy ’n rukkie kan neem om af te koel. Miskien kan jy na ’n ander vertrek gaan of gaan stap totdat jy kalmer voel. Dit beteken nie dat jy nie jou samewerking wil gee of dat jy afsydig is nie—dit is ook nie stilstuipe, wanneer iemand weier om te kommunikeer, nie. Dit is eerder ’n goeie tyd om God te vra vir geduld, insig en begrip.

“Gaan dus weg voordat die rusie uitgebreek het.”Spreuke 17:14.

4. DINK MOOI NA OOR WAT JY MOET SÊ EN HOE JY DIT MOET SÊ.

Dit sal dinge nie beter maak as jy jou kop breek om ’n snedige, snydende antwoord te vind nie. Probeer eerder om iets te sê wat jou geliefde sal troos as hy seergemaak voel. En eerder as om vir die persoon te sê hoe jy dink hy moet voel, kan jy hom nederig vra hoe hy voel en dankie sê vir enige hulp of insig wat dit jou gee.

“Daar is een wat onnadenkend praat soos met swaardsteke, maar die tong van die wyses is genesing.”Spreuke 12:18.

5. MOENIE HARDER BEGIN PRAAT NIE EN HOU JOU STEMTOON VRIENDELIK.

Wanneer een gesinslid ongeduldig is, kan dit maklik ’n ander gesinslid kwaad maak. Moenie sarkasties of beledigend wees of harder begin praat nie, al voel jy baie te na gekom. Vermy beskuldigings wat die persoon kan seermaak, soos “Jy gee nie vir my om nie” of “Jy luister nooit nie.” Sê eerder kalm vir jou maat hoe sy of haar gedrag jou geraak het (“Dit maak my baie seer wanneer jy . . . ”). Enige vorm van geweld, soos om iemand te stoot, te klap of te skop, kan nooit verskoon word nie. Dit is ook die geval met skelname, verkleinerende opmerkings of dreigemente.

“Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word, saam met alle slegtheid.”Efesiërs 4:31.

6. WEES GOU OM VERSKONING TE VRA EN VERDUIDELIK WAT JY SAL DOEN OM DIE SITUASIE REG TE STEL.

Moenie toelaat dat negatiewe emosies maak dat jy jou hoofdoel—om vrede te maak—uit die oog verloor nie. Onthou, wanneer twee mense stry, is daar nie wenners nie. Maar as julle vrede maak, wen julle albei. Neem dus verantwoordelikheid vir enigiets wat jy dalk gedoen het wat tot die stryery bygedra het. Selfs al is jy seker dat jy niks verkeerds gedoen het nie, kan jy nog steeds om verskoning vra omdat jy geïrriteerd geraak het, vir die manier waarop jy gereageer het of omdat jy onwetend tot die probleem bygedra het. Vreedsame verhoudings is belangriker as trots en om te wen. En as iemand jou om verskoning vra, moet jy gou wees om te vergewe.

“Gaan verneder jou en bestorm jou medemens met dringende versoeke.”Spreuke 6:3.

Wat kan jy ná die argument doen om vrede in die gesin te bevorder? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.