Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 26

Hoekom gebeur slegte dinge, en hoekom kry mense swaar?

Hoekom gebeur slegte dinge, en hoekom kry mense swaar?

Wanneer ’n baie slegte ding gebeur, is dit normaal om te vra: “Hoekom het dit gebeur?” Ons is so bly dat die Bybel daardie vraag beantwoord!

1. Hoe het Satan veroorsaak dat slegte dinge in die wêreld begin gebeur?

Satan die Duiwel het teen God gerebelleer. Satan wou oor ander regeer, en daarom het hy die eerste mense, Adam en Eva, beïnvloed om ook teen God te rebelleer. Satan het dit gedoen deur vir Eva ’n leuen te vertel (Genesis 3:1-5). Hy het haar laat dink dat Jehovah iets goeds van haar af weghou. Hy het basies gesê dat mense gelukkiger sou wees as hulle nie aan God gehoorsaam is nie. Satan het die eerste leuen vertel deur vir Eva te sê dat sy nie sou sterf nie. Daarom noem die Bybel Satan “’n leuenaar en die vader van die leuen”. – Johannes 8:44.

2. Wat het Adam en Eva gekies om te doen?

Jehovah was baie vrygewig teenoor Adam en Eva. Hy het gesê dat hulle van elke boom in die tuin van Eden kon eet, behalwe van een (Genesis 2:15-17). Maar hulle het besluit om in elk geval van die vrugte van daardie boom te eet. Eva het “van die vrugte begin neem en dit geëet”. Later het Adam “dit begin eet” (Genesis 3:6). Hulle al twee was ongehoorsaam aan God. Omdat Adam en Eva volmaak was, was dit natuurlik vir hulle om te doen wat reg is. Maar hulle het besluit om ongehoorsaam aan God te wees, en deur dit te doen, het hulle gesondig en God se reg om oor hulle te regeer, verwerp. Daardie besluit het vir hulle baie pyn en swaarkry veroorsaak. – Genesis 3:16-19.

3. Hoe het Adam en Eva se besluit ons geaffekteer?

Toe Adam en Eva gesondig het, het hulle onvolmaak geword, en so het hulle onvolmaaktheid aan hulle kinders en alle ander mense oorgedra. Die Bybel sê die volgende oor Adam: “Sonde het . . . deur een mens in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde, en die dood het so na alle mense versprei.” – Romeine 5:12.

Daar is verskillende redes hoekom ons swaarkry. Soms kry ons swaar as gevolg van slegte besluite wat ons maak. Soms kry ons swaar as gevolg van ander mense se slegte besluite. Soms kry ons swaar omdat ons op die verkeerde plek op die verkeerde tyd is. – Lees Prediker 9:11.

SOEK DIEPER

Kyk hoekom God nie verantwoordelik is vir die feit dat ons swaarkry en vir die slegte dinge wat daar vandag in die wêreld is nie, en kyk hoe hy voel wanneer ons swaarkry.

4. Die een wat verantwoordelik is vir die feit dat ons swaarkry

Baie mense glo dat God in beheer is van die hele wêreld. Is dit waar? Speel die VIDEO.

Lees Jakobus 1:13 en 1 Johannes 5:19, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Is God verantwoordelik vir slegte dinge en vir die feit dat ons swaarkry?

5. Wat het gebeur vandat Satan begin regeer het?

Lees Genesis 3:1-6, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Watter leuen het Satan vertel? – Sien vers 4 en 5.

  • Wat het Satan gesê wat dit laat klink het asof Jehovah iets goeds van mense af weghou?

  • Volgens Satan, het mense Jehovah as hulle Heerser nodig om gelukkig te wees?

Lees Prediker 8:9, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Wat het gebeur gedurende die tyd dat Jehovah nie oor die wêreld regeer het nie?

  1. Adam en Eva was volmaak en het in die Paradys gewoon. Maar hulle het na Satan geluister en teen Jehovah gerebelleer

  2. Nadat Satan en Adam en Eva gerebelleer het, het sonde, swaarkry en die dood regoor die wêreld versprei

  3. Jehovah sal ’n einde maak aan sonde, swaarkry en die dood. Mense sal weer volmaak wees en in die Paradys woon

6. Jehovah gee om wanneer ons swaarkry

Gee God om wanneer ons swaarkry? Kyk wat koning Dawid en die apostel Petrus geskryf het. Lees Psalm 31:7 en 1 Petrus 5:7, en bespreek dan hierdie vraag:

  • Hoe laat dit jou voel om te weet dat Jehovah sien wanneer ons swaarkry en dat hy omgee?

7. God sal ’n einde maak aan alle swaarkry

Lees Jesaja 65:17 en Openbaring 21:3, 4, en bespreek dan hierdie vraag:

• Jehovah sal al die slegte dinge wat mense deurgemaak het, wegneem – dit sal wees asof hierdie dinge nooit gebeur het nie. Hoekom is dit vir jou vertroostend?

Het jy geweet?

Toe Satan die eerste leuen vertel het, het hy teen Jehovah gelaster. Dit wil sê, hy het Jehovah se goeie naam deur die modder gesleep deur te sê dat Jehovah nie ’n regverdige en liefdevolle Heerser is nie. Wanneer Jehovah alle swaarkry in die toekoms wegneem, sal hy sy goeie naam herstel. Met ander woorde, hy sal bewys dat hy regtig die beste Heerser is. Die heiliging van Jehovah se naam is een van die belangrikste dinge in die heelal. – Matteus 6:9, 10.

PARTY MENSE SÊ: “God toets mense deur hulle te laat swaarkry.”

  • Wat sal jy sê?

WAT ONS GELEER HET

Satan die Duiwel en die eerste twee mense is hoofsaaklik verantwoordelik vir al die slegte dinge in die wêreld. Jehovah gee baie om wanneer ons swaarkry, en hy sal alle swaarkry binnekort wegneem – dit sal wees asof dit nooit daar was nie.

Hersiening

  • Watter leuen het Satan die Duiwel vir Eva vertel?

  • Hoe het die feit dat Adam en Eva gerebelleer het, ons almal geaffekteer?

  • Hoe weet ons dat Jehovah omgee wanneer ons swaarkry?

Doelwit

LEER MEER

Leer wat die Bybel se definisie van sonde is.

“Wat is sonde?” (Web-artikel)

Lees meer oor wat Satan die Duiwel in die tuin van Eden beweer het.

“Waarom laat God lyding toe?” (Die Wagtoring, 1 Januarie 2014)

Kyk wat ’n man geleer het oor die swaarkry wat hy rondom hom gesien het.

Ek is nie meer op my eie nie (5:09)