10 OKTOBER 2024
ERITREA

Baie Getuies van Jehovah word onregverdig in Eritrea gearresteer

Vyf-en-tagtig-jarige suster onder die 23 mense wat gearresteer is

Baie Getuies van Jehovah word onregverdig in Eritrea gearresteer

Op 27 September 2024 het die owerhede in Eritrea ’n huis deursoek waar ’n vreedsame vergadering van Jehovah se Getuies gehou is. Die polisie het 24 mense gearresteer: 6 broers, 16 susters en 2 minderjarige kinders. Drie dae later het die owerhede teruggekom en die 85-jarige suster wat in die huis bly, gearresteer. Die 2 minderjarige kinders is later vrygelaat, maar die 23 volwassenes is na die Mai Serwa-tronk oorgeplaas.

Daar is nou 63 Getuies van Jehovah in Eritrea wat in die tronk is vir hulle geloof. Dit sluit 10 broers en susters in wat ouer as 70 jaar is. Nie een van hierdie broers en susters, insluitende dié wat nou onlangs gearresteer is, is al ooit aangekla van of skuldig bevind aan ’n misdaad nie.

Jehovah se Getuies in Eritrea word al baie jare lank vervolg. Ongeveer 30 jaar gelede, op 25 Oktober 1994, het die president van Eritrea die burgerskap van Jehovah se Getuies wat daar gebore is, weggeneem. Ons broers en susters het veral van toe af intense vervolging en onregverdige tronkstrawwe verduur.

Ons is baie hartseer en ontsteld oor hierdie vervolging. Terwyl ons biddend “dink aan dié wat in die tronk” in Eritrea is, is ons oortuig dat Jehovah sal aanhou om hulle vertroosting, volharding en krag te gee. – Hebreërs 13:3.