Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

God se naam word bekendgemaak in Swahili

God se naam word bekendgemaak in Swahili

“Swahili.” Hierdie woord laat baie mense dink aan die graslande van die Serengeti in Afrika waar wilde diere rondswerf. En tog is daar baie meer wat ons kan leer oor Swahili en die mense wat dit praat.

SWAHILI is ’n taal wat tot 100 miljoen mense in ten minste 12 lande in Sentraal- en Oos-Afrika praat. * Dit is die volks- of amptelike taal in verskeie lande, soos Kenia, Tanzanië en Uganda. En in die omliggende lande dien dit as ’n verkeerstaal wat mense van verskillende streke in staat stel om handel te dryf en maklik te kommunikeer.

Swahili het ’n baie belangrike rol daarin gespeel om die mense van Oos-Afrika te verenig. Byvoorbeeld, in Tanzanië alleen praat die mense ten minste 114 verskillende stamtale. Stel jou voor dat jy net 40 tot 80 kilometer van jou huis af mense teëkom wat ’n taal praat wat heeltemal van joune verskil! En in sommige gevalle woon al die mense wat ’n sekere taal praat net in ’n paar klein dorpies. Hoe sal jy met hulle kommunikeer? Dit is nie moeilik om te sien waarom ’n verkeerstaal so voordelig is nie.

Die geskiedenis van Swahili

Swahili word vermoedelik al ten minste sedert die tiende eeu gepraat. Dit het in die 16de eeu ’n geskrewe taal geword. Mense wat Swahili leer praat, kom gou agter dat baie van die woorde Arabies klink. Trouens, ten minste 20 persent van die woorde in Swahili kom van Arabies, terwyl die meeste ander woorde van ander Afrikatale kom. Dit is dus nie verbasend dat Swahili honderde jare lank in Arabiese skrif geskryf is nie.

Vandag word Swahili in Romeinse skrif geskryf. Wat het gebeur? Waarom die verandering? Om die antwoord te vind, moet ons teruggaan na die middel van die 19de eeu toe die eerste Europese sendelinge in Oos-Afrika aangekom het, vasbeslote om die boodskap van die Bybel aan die plaaslike mense te verkondig.

God se Woord bereik Oos-Afrika

In 1499, gedurende Vasco da Gama se epiese seereis om die suidelike punt van Afrika, het Portugese sendelinge Katolisisme na Oos-Afrika gebring toe hulle ’n sendingstasie in Zanzibar gebou het. Maar binne 200 jaar is die Portugese saam met die sogenaamde Christelike godsdiens weens plaaslike teenstand uit die streek gedryf.

Dit sou nog 150 jaar neem voordat God se Woord Oos-Afrika weer bereik. Hierdie keer het ’n Duitse sendeling, Johann Ludwig Krapf, dit soontoe geneem. Toe hy in 1844 in Mombasa, Kenia, aankom, was die mense aan die kus van Oos-Afrika oorheersend Moslem, maar baie van die mense wat in die binneland gewoon het, het aan hulle tradisionele, animistiese godsdiensoortuigings vasgehou. Krapf het geglo dat dit noodsaaklik is dat die Bybel aan almal beskikbaar gestel word.

Krapf het nie gras onder sy voete laat groei nie en het onmiddellik Swahili begin leer. In Junie 1844, kort ná sy aankoms, het hy begin met die moeilike taak om die Bybel te vertaal. Ongelukkig het hy net ’n maand later ’n tragiese verlies gely—sy vrou met wie hy twee jaar lank getroud was, het gesterf, en net ’n paar dae later is sy babadogter ook oorlede. Hy is ongetwyfeld hierdeur bedroef, maar hy het nogtans voortgegaan met die lewensbelangrike taak om die Bybel te vertaal. In 1847 is die eerste drie hoofstukke van die boek Genesis uitgegee, en dit het die eerste gedrukte teks in Swahili geword.

Krapf was die eerste persoon wat Romeinse skrif in plaas van die gewone Arabiese skrif gebruik het om Swahili te skryf. Onder die redes wat hy gegee het vir sy besluit om nie die Arabiese skrif te gebruik nie, was dat “die Arabiese alfabet dit net moeiliker sou maak vir die Europeërs” wat later die taal sou leer en dat “die Romeinse skrif dit vir ‘die plaaslike mense makliker sou maak om Europese tale te leer’”. Party het die Arabiese skrif nog baie jare lank gebruik; dele van die Bybel is daarin uitgegee. Maar die Romeinse skrif het dit wel vir baie makliker gemaak om Swahili te leer. Baie sendelinge en ander wat Swahili probeer leer, is ongetwyfeld baie bly dat hierdie verandering gemaak is.

Benewens die baanbrekerswerk wat Krapf gedoen het om God se Woord in Swahili te vertaal, het hy die grondslag gelê vir latere vertalers. Hy het die eerste Swahili-grammatikaboek, sowel as ’n Swahili-woordeboek, saamgestel.

God se naam in Swahili

In die eerste uitgawe van die eerste drie hoofstukke van Genesis is God se naam bloot as “Almagtige God” weergegee. Maar teen die einde van die 19de eeu het verskeie ander manne in Oos-Afrika aangekom wat die werk voortgesit het om die hele Bybel in Swahili te vertaal. Onder hulle was Johann Rebmann, William Taylor, Harry Binns, Edward Steere, Francis Hodgson en Arthur Madan.

Dit is noemenswaardig dat party van daardie vroeë vertalings God se naam ingesluit het, nie net op ’n paar plekke nie, maar oral in die Hebreeuse Geskrifte! Die vertalers in Zanzibar het God se naam as “Yahuwa” weergegee, terwyl die vertalers in Mombasa dit as “Jehova” vertaal het.

Teen 1895 was die hele Bybel in Swahili beskikbaar. Gedurende die volgende dekades is verskeie ander vertalings beskikbaar gestel, hoewel party daarvan nie ’n wye verspreiding gehad het nie. Tydens die vroeë jare van die 20ste eeu is baie moeite gedoen om Swahili in Oos-Afrika te standaardiseer. Dit het gelei tot die publisering van die Swahili Union Version van die Bybel in 1952, wat die vertaling met die grootste verspreiding geword het. Dit het ook daartoe gelei dat “Yehova” die vertaling van God se naam in Swahili geword het wat die algemeenste aanvaar word.

Maar namate daardie vroeë vertalings uit druk gegaan het, het die goddelike naam ongelukkig ook begin verdwyn. Party van die nuwer vertalings het dit heeltemal verwyder, terwyl dit op net ’n paar plekke in ander vertalings voorkom. Byvoorbeeld, in die Union Version het God se naam slegs 15 keer verskyn, en in sy hersiening van 2006 word daardie naam slegs 11 keer gevind. *

Hoewel daardie vertaling die goddelike naam so te sê heeltemal weglaat, doen dit tog iets noemenswaardigs. In die voorwoord word daar uitdruklik verklaar dat God se naam Jehovah is. Dit het baie nuttig te pas gekom om waarheidsoekers te help om die persoonlike naam van ons hemelse Vader uit hulle eie Bybel te leer.

Maar dit is nie die einde van die storie nie. In 1996 is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Swahili vrygestel. Dit is die eerste Swahili-vertaling wat Jehovah se naam in 237 plekke van Matteus tot Openbaring herstel het. Later, in 2003, is die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Swahili vrygestel. Tot op hede is altesaam sowat 900 000 eksemplare van hierdie Swahili-Bybel gedruk.

God se naam word nie meer deur sekere titels verberg of ’n ondergeskikte plek in die voorwoord gegee nie. Wanneer opregtes van hart die Nuwe Wêreld-vertaling in Swahili oopmaak, kom hulle nader aan Jehovah elke keer wanneer hulle sy naam lees op een van die meer as 7 000 plekke waar dit verskyn.

Hierdie vertaling het ook probeer om eenvoudige, moderne Swahili te gebruik wat vir alle Swahili-sprekendes in Oos-Afrika maklik is om te verstaan. Daarbenewens is baie van die skriftuurlike foute verwyder wat in baie ander vertalings ingesluip het. Gevolglik kan die leser die vertroue hê dat hy of sy “korrekte woorde van waarheid” lees soos dit deur ons Skepper, Jehovah God, geïnspireer is.—Prediker 12:10.

Baie het al hulle waardering uitgespreek vir die Nuwe Wêreld-vertaling in Swahili. Vicent, ’n 21-jarige voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies, het gesê: “Ek was baie bly oor die eenvoudige Swahili in die Nuwe Wêreld-vertaling en oor die feit dat dit Jehovah se naam in die plekke herstel het waar ander dit uitgehaal het.” Frieda, wat drie kinders het, meen dat hierdie vertaling dit vir haar makliker gemaak het om Bybelwaarhede aan mense te verduidelik.

Die werk om God se Woord in Swahili te vertaal, het ’n nederige begin gehad, en vandag, meer as 150 jaar later, gaan daardie werk voort. Jesus het gesê dat hy ‘sy Vader se naam openbaar gemaak het’ (Johannes 17:6). Nou is die meer as 76 000 Swahili-sprekende Getuies van Jehovah in Oos- en Sentraal-Afrika verheug om die Nuwe Wêreld-vertaling te gebruik om Jehovah se naam aan almal bekend te maak.

^ par. 3 Verskillende vorme van Swahili word in hierdie lande gepraat.