’n Brief uit Griekeland
Die predikingswerk op Europa se suidelikste eiland
DIE indrukwekkende Levká-gebergte op die eiland Kreta verdwyn in die verte terwyl ons boot na ’n klein plato vaar wat uit die dieptes van die Middellandse See uitrys. Ons groep, wat uit 13 lede bestaan, sien uit na ’n predikingstog na die eiland Gavdos, ’n klein kolletjie op die kaart, wat die posisie van Europa se suidelikste eiland aandui.
Dit lyk of ons ’n rustige reis op hierdie warm somersdag gaan hê. Maar kort voor lank steek die wind op en raak die see baie onstuimig sodat die boot soos ’n kurkprop ronddobber. Ek voel siek en dink aan die Bybelverslag van die apostel Paulus, wat eeue gelede—toe Gavdos as Kauda bekend gestaan het—’n hewige storm in hierdie einste waters deurgemaak het (Handelinge 27:13-17). Ek kan maar net hoop dat ons ongedeerd by Gavdos sal uitkom.
Uiteindelik sien ons ons bestemming, ’n rotsagtige landpunt met kranse wat in die see stort. Die eiland is redelik plat, slegs ongeveer 300 meter hoog en sonder enige hoë pieke. Dennebome en struike oordek die grootste deel van die eiland, wat ongeveer 26 vierkante kilometer beslaan. Op party plekke groei jenewerbome tot aan die kus.
Die eiland het op een stadium sowat 8 000 inwoners gehad. Vandag woon minder as 40 mense op die eiland. Dit lyk of die moderne beskawing nooit Gavdos bereik het nie. Al vaar vrag- en tenkskepe dikwels verby hierdie kus, is daar slegs ’n ongereelde veerbootverbinding tussen die eiland en Kreta, en dit word dikwels weens slegte weer vertraag of gekanselleer.
Ons het na Gavdos gekom om mense iets vreugdevols en bemoedigends te bied—’n vaste hoop op ’n beter toekoms en die vooruitsig op eindelose lewe in volmaakte gesondheid. Terwyl ons boot gereedmaak om vas te meer, is ons gretig om aan wal te gaan om hierdie goeie nuus bekend te maak.
Nadat ons vier en ’n half uur op die onstuimige see deurgebring het, verklap ons bleek gesigte dat die reis na Gavdos allesbehalwe ’n rustige plesiervaart was. Maar toe ons eers ’n uiltjie geknip en ’n koppie koffie gedrink het, voel ons sommer stukke beter. Ná ’n kort hersiening van die Bybelverslag oor die apostel Paulus se reis, sowel as ’n
opregte gebed, is ons gereed om met ons werk te begin.Die plaaslike mense is vriendelik en gasvry. Hulle nooi ons in en bied ons verversings aan. Behalwe dat ons vir hulle van die goeie nuus uit die Bybel vertel, betoon ons ook ons dankbaarheid vir hulle gasvryheid deur praktiese hulp te verleen wanneer nodig. Terwyl ’n lid van ons groep, wat ’n elektrisiën is, met ’n vrou gesels, merk hy ’n gebreekte toestel by haar besigheid op en bied hy aan om dit reg te maak. Die vrou is baie bly hieroor. Sy neem die Bybellektuur wat ons haar aanbied en prys ons en die werk wat ons doen. ’n Ander vrou het haar waardering soos volg uitgespreek: “Julle werk is van God, nie van mense nie, en dit is duidelik, want julle het op hierdie afgeleë eiland kom preek.”
Die mense het blykbaar groot waardering vir die Bybellektuur wat ons saamgebring het. Een man neem Die Wagtoring en Ontwaak! en wil nog lektuur hê om gedurende die wintermaande te lees. ’n Ander man wil nie net van ons lektuur vir homself hê nie, maar vra nog lektuur wat hy in sy winkel kan sit sodat sy klante dit kan lees. Hy gee sy kontakbesonderhede vir ons sodat ons elke maand die tydskrifte vir hom kan pos. Een gesin is baie beïndruk toe ons vir hulle wys dat hulle klein eilandjie in die Bybel genoem word. Hulle het ook ons tydskrifte met graagte geneem.
Hoewel die mense se reaksie baie bemoedigend is, bring die besoek aan Gavdos vir party van ons hartseer herinneringe terug. Naby Sarakíniko-baai staan ’n gebou waar politieke bannelinge vroeër gewoon het. Emmanuel Lionoudakis, een van Jehovah se Getuies, is gedurende die laat 1930’s weens sy predikingswerk hierheen verban. * Die destydse Gavdos is al beskryf as ’n “dorre eiland wat slegs dodelike skerpioene voortbring, [’n plek] waar baie . . . van hongersnood, ontberinge en siekte gesterf het, en dit is al tereg die eiland van die dood genoem”. Lionoudakis het visgevang om te oorleef, maar hy het ook, as die enigste Getuie hier, vir die ander aangehoudenes getuig. Toe sy dogter, skoonseun en kleindogter die plek sien waar hy ongeveer 70 jaar gelede gewoon het, was hulle diep geraak. Sy voorbeeld spoor ons aan om lojaal te bly en altyd bedrywig te wees in die bediening.
Vir die bannelinge was Gavdos allesbehalwe ’n toeristeparadys. Maar vir ons is dit ’n aangename plek, aangesien ons oor die naweek in elke deel van die eiland gepreek en 46 tydskrifte en 9 brosjures by hierdie hartlike mense gelaat het. Hoe sien ons tog daarna uit om ons nuwe vriende weer te sien!
Kort voor lank is dit tyd vir ons om te gaan. Maar weer eens speel die weer nie saam nie, en ons kan nie om 5:00 nm. vertrek soos ons beplan het nie. Ons gaan om middernag aan boord en maak ons gereed vir nog ’n moeilike reis. Uiteindelik vertrek ons om 3:00 vm., en nadat ons vyf uur op die stormagtige see deurgebring het, kom ons by Kreta aan. Ons is pootuit wanneer ons aan wal gaan, maar ons is bly dat ons Jehovah se naam op die eiland Gavdos bekend kon maak (Jesaja 42:12). Almal in die groep stem saam dat dit beslis die moeite werd was. Die ontberinge wat ons moes verduur, sal gou vergete wees, maar ons weet dat hierdie reis onuitwisbaar in ons geheue ingeprent is.
^ par. 11 Vir Emmanuel Lionoudakis se lewensverhaal, sien Die Wagtoring van 1 September 1999, bladsye 25-29.