Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Nou ken ek die God wat ek aanbid

Nou ken ek die God wat ek aanbid

’n Pinksterevangelis wat na bewering die krag om te genees gehad het, het ons besoek. Toe hy aan my raak, het ek my bewussyn verloor, “neergevel in die gees”. Toe ek my bewussyn herwin, het dit gelyk of ek gekry het wat ek wou hê—die krag om te genees. Wat het tot hierdie ondervinding aanleiding gegee, en watter uitwerking het dit op my lewe gehad? Voordat ek verder gaan, laat ek meer oor my agtergrond vertel.

EK IS op 10 Desember 1968 in Ilocos Norte, Filippyne, gebore as die sewende van tien kinders. Soos die meeste Filippyne is ons as Katolieke grootgemaak. Ek het in 1986 met hoërskool klaargemaak, en ek wou graag ’n verpleegster word. Hierdie droom is egter nie bewaarheid nie omdat ek ernstig siek geword het. Trouens, ek het gedink ek gaan sterf. Uit desperaatheid het ek God om hulp gesmeek en vir hom gesê dat ek hom lewenslank sal dien as ek gesond word.

Nadat ek gesond geword het, het ek my belofte aan God onthou. Ek het dus in Junie 1991 by ’n Pinkster-Bybelskool ingeskryf. Deel van die skoolopleiding het glo ingesluit dat studente “die heilige gees as vrye gawe ontvang”. Ek wou die krag hê om te genees. Die skool het geleer dat dit verkry kon word deur te vas en te bid. Omdat ek die indruk wou skep dat ek ’n “gawe” het, het ek eenkeer een van my klasmaats tydens ’n gebedsessie afgeluister terwyl sy hardop in ’n hoek gebid het. Toe sy amper klaar was, het ek gou teruggegaan na waar ek gekniel het. Later het ek vir haar presies gesê waarvoor sy in haar gebed gevra het, en sy het geglo dat ek die “vrye gawe” ontvang het!

Terwyl ek my studies by die skool voortgesit het, het ek baie vrae gehad. Byvoorbeeld, Matteus 6:9 praat van die “Vader” en sy “naam”. Ek het vrae gevra soos “Wie is die Vader waarvan Jesus praat?” en “Wie se naam moet geheilig word?” My dosente se antwoorde was dikwels baie vaag en onbevredigend. Hulle het oor die Drie-eenheid gepraat en gesê dat dit ’n verborgenheid is. Ek het dit baie verwarrend gevind. Nogtans het ek voortgegaan met my opleiding om ’n pastoor te word.

My kontak met Jehovah se Getuies

By die Bybelskool is ons geleer dat Jehovah se Getuies die heel ergste vorm van valse godsdiens bevorder. Hulle is ook die antichris genoem. Ek het ’n groot afkeer van hierdie godsdiens ontwikkel.

Gedurende my tweede jaar in die skool het ek tydens die vakansie huis toe gegaan om by my ouers te kuier. Een van my ouer susters, Carmen, het gehoor dat ek by die huis is en het ook kom kuier. Sy was toe al ’n gedoopte, voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies. Toe sy probeer om my oor God te leer, het ek woedend gesê: “Ek ken reeds die God wat ek dien!” Nadat ek haar luidkeels beledig het, het ek haar weggestoot en haar nie weer die geleentheid gegee om met my te praat nie.

Nadat ek na die Bybelskool teruggekeer het, het Carmen vir my ’n eksemplaar van die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo? gestuur. * Ek het dit dadelik opgefrommel en in die vuur gegooi. Ek was nog steeds kwaad vir haar.

Vooruitgang as ’n pastoor

Terwyl ek my studies by die Bybelskool voortgesit het, was ek in staat om ’n paar bekeerlinge te maak. Ek was veral trots toe my ma en broer by my in die Pinksterkerk aangesluit het.

In Maart 1994 het ek aan die Pinkster-Bybelskool gegradueer. Soos aan die begin genoem is, was daar ’n besoekende evangelis by daardie geleentheid. Almal wat gegradueer het, wou by hom wees, want ons het geglo dat hy die gawe het om te genees. Ons het op die verhoog by hom aangesluit terwyl ons saam met hom op die maat van ’n orkes op en af gespring en hande geklap het. Daarna het elkeen waaraan hy geraak het, op die vloer geval, “neergevel in die gees”. * Toe hy aan my raak, het ek ook neergeval en my bewussyn verloor. Toe ek my bewussyn herwin, was ek bang, maar ek was terselfdertyd ook bly omdat ek aangevoel het dat ek nou die krag om te genees gehad het.

Kort daarna het ek hierdie krag gebruik om ’n ernstige siek kind te genees wat ’n hoë koors gehad het. Terwyl ek gebid het, het die kind dadelik begin sweet en die koors het verdwyn. Uiteindelik het ek gevoel dat ek my belofte aan God kon nakom. Maar eienaardig genoeg het ek ’n leemte in my lewe gevoel. Diep binne-in my het ek geglo dat daar net een God is, maar ek het nie regtig geweet wie hy is nie. En ek het knaende twyfelgedagtes gehad oor baie van die leerstellings van die kerk.

Ek het hierdie krag gebruik om ’n ernstige siek kind te genees wat ’n hoë koors gehad het

Dinge wat my denkwyse verander het

Ná hierdie gebeure het ek selfs meer vyandiggesind teenoor Jehovah se Getuies geword. Wanneer ek ook al publikasies van die Getuies gevind het, het ek dit verbrand. Toe het iets onverwags gebeur. Ek was geskok om uit te vind dat my ma nie meer aan ons kerk wou behoort nie. Carmen het die Bybel met haar studeer! Ek was bloedig kwaad vir my suster.

Kort daarna het ek ’n Ontwaak! by my ma se huis gevind. Gewoonlik sou ek dit verbrand het. Maar omdat ek nuuskierig was oor wat sy lees, het ek daardeur geblaai. Ek het ’n artikel daarin gesien oor iemand wat vas geglo het aan wat die kerk leer. Toe hy egter die publikasies van die Getuies saam met die Bybel begin lees het, het dit hom oortuig dat die leringe van die Drie-eenheid, die helse vuur en die onsterflikheid van die siel onskriftuurlik is. Dit het my hart geraak. Dit was die einste dinge wat ek wou verstaan. Van toe af het ek uitgesien na die tyd wanneer ek Bybelwaarheid sou verstaan.

Nadat ek nog ’n lewensverhaal in die Ontwaak! gelees het oor ’n alkohol- en dwelmverslaafde wat groot veranderinge ten goede aangebring het omdat hy die Bybel studeer het, het ek meer van die Getuies se publikasies begin lees. Ek het ’n eksemplaar van die brosjure Die Goddelike naam wat vir ewig sal bestaan gevind. * Terwyl ek dit gelees het, het ek geleer dat God se naam Jehovah is. Dit het my baie gelukkig gemaak om die waarheid oor die enigste ware God te leer!—Deuteronomium 4:39; Jeremia 10:10.

Dit het my so bly gemaak om die waarheid oor die enigste ware God te leer!

Ek het voortgegaan om in die geheim te lees en het baie ander Bybelwaarhede geleer. Ek is byvoorbeeld by die Pinksterskool geleer dat Jesus God is, maar ek het uit die Bybel geleer dat hy “die Seun van die lewende God” is.—Matteus 16:15, 16.

My gesindheid verander

Toe ek Carmen weer sien, was sy verbaas toe ek haar vra vir ’n persoonlike eksemplaar van die brosjure Die Goddelike naam wat vir ewig sal bestaan en ander lektuur. Ek het baie jare aan die Bybelskool gestudeer, maar ek is nie die waarheid daar geleer nie; ek is verblind. My hart het oorgeloop van vreugde as gevolg van die waarhede wat ek uit die Bybel geleer het. Ek het gesien hoe Jesus se woorde in my geval bewaarheid is: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Hierdie waarhede het my lewe begin verander.

Hierdie waarhede het my lewe begin verander

Ek het ’n ruk lank gedink dat ek Jehovah God in die geheim kan aanbid en kan voortgaan om ’n pastoor te wees. Ek het gou besef dat ek baie van die leerstellings van die kerk nie meer kon verkondig nie. Ek was nogtans bang. Wat sou van my bron van inkomste word as ek as pastoor bedank? Wat ’n verleentheid vir die kerk as een van sy pastore een van Jehovah se Getuies sou word! Ek het dus voortgegaan om ’n pastoor te wees, maar ek het die kerk se valse leerstellings vermy.

Toe ek weer my suster Carmen sien, het sy voorgestel dat ek ’n vergadering van Jehovah se Getuies bywoon. Omdat ek soms na ons moederkerk in Laoagstad gegaan het, het ek in die geheim na die Koninkryksaal van die Getuies gesoek. Ek is voorgestel aan ’n voltydse bedienaar in daardie gemeente, Alma Preciosa Villarin, wat ook “Precious” genoem is. Hoewel ek nog steeds negatiewe gevoelens teenoor die Getuies gehad het, het ek nogtans haar aanbod aanvaar om my die Bybel te leer.

My suster was baie geduldig toe sy Bybelwaarhede aan my meegedeel het. Ek het nou dieselfde geduldige gesindheid in Precious gesien. Sy het my regtig baie gehelp om die Bybel te verstaan, al het ek geïrriteerd geword, met haar probeer stry en soms my stem verhef terwyl ek aangedring het op party van die dinge wat ek voorheen geleer is. Die persoonlike belangstelling, nederigheid en sagmoedigheid wat Precious en ander Getuies geopenbaar het, het my hart geraak. Dit het die begeerte by my gewek om Jehovah te aanbid.

In Julie 1995 het ek besef dat daar geen alternatief is nie; ek sou as pastoor moes bedank. Waarom? Openbaring 18:4 praat simbolies van valse godsdiens en sê: “Gaan uit haar uit, my volk, as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie, en as julle geen deel van haar plae wil ontvang nie.” Wat van my bron van inkomste? Hebreërs 13:5 het my geleer dat as ons God se wil doen, hy die volgende belowe: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.”

Hoewel my pa en broer my hewig teëgestaan het, het ek twee weke voor my doop as ’n Getuie die moed bymekaargeskraap om huis toe te gaan en al die voorwerpe wat ek as ’n pastoor gebruik het, te verbrand. Nadat ek dit gedoen het, het ek besef dat ek enige spesiale vermoë wat ek voorheen gehad het, verloor het. In die verlede, wanneer ek geslaap het, het dit altyd gevoel asof iets die hele tyd op my druk. Daardie gevoel was ook weg. Ek het ook nooit weer die skaduwees gesien wat ek altyd by my kamervenster opgemerk het nie. My studie van die Bybel het my geleer dat enige sogenaamde gawe wat mense vandag het, soos die krag om te genees, nie van God kom nie, maar van bose geeste. Ek is so bly dat ek losgebreek het van hulle invloed, net soos die diensmeisie gedoen het wat Paulus van “’n waarsêende demoon” bevry het.—Handelinge 16:16-18.

Wat ’n vreugde was dit tog om aan my ma se sy te wees toe ons ons in September 1996 vir doop as Jehovah se Getuies aangebied het! Ná my doop het ek as ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies begin dien, ’n voorreg wat ek al baie jare lank geniet.

Ek is nou getroud. Saam werk ek en my man, Silver, baie hard om ons dogter in die weg van Bybelwaarheid op te lei. Party van my broers en susters het Jehovah saam met ons begin dien. Hoewel ek spyt is dat ek baie jare lank God nie werklik geken het nie, is ek baie bly dat ek nou die God ken wat ek aanbid.

^ par. 10 Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

^ par. 13 “Neergevel in die gees” verwys na ’n verskynsel in party godsdienste waartydens die “gees” glo met soveel krag oor gelowiges kom dat hulle op die grond neerval.

^ par. 18 Uitgegee deur Jehovah se Getuies.