Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

UIT ONS ARGIEF

“Koninkryksverkondigers in Brittanje​—⁠Word wakker!!”

“Koninkryksverkondigers in Brittanje​—⁠Word wakker!!”

DIT was ’n duidelike aansporing: “Koninkryksverkondigers in Brittanje—Word wakker!!” (Informant, * Desember 1937, Londense uitgawe). ’n Onderhofie het bygevoeg: “Geen opvallende vermeerdering in tien jaar nie.” Op die voorblad was ’n diensrapport vir die tien jaar vanaf 1928 tot 1937, en dit het duidelik getoon waarom die aansporing nodig was.

TE VEEL PIONIERS?

Wat het veroorsaak dat velddiensbedrywighede in Brittanje afgeneem het? Die gemeentes was blykbaar “in ’n groef” en het teen dieselfde pas as baie jare tevore gewerk. Ook het die tak besluit dat die gebied net groot genoeg is vir omtrent 200 pioniers, wat in afgesonderde gebiede eerder as saam met die gemeentes gewerk het. Daarom het die tak vir voornemende pioniers gesê dat hulle eerder in ander Europese lande moet gaan dien. Dit is prysenswaardig dat daar wel ’n hele aantal pioniers was wat bereid was om Brittanje te verlaat en na lande soos Frankryk te gaan, al het hulle min of geen kennis van die taal gehad nie.

’N AANSPORING OM MEER TE DOEN

Die artikel in die Informant van 1937 het ’n doelwit vir 1938 gestel: Eenmiljoen uur! As elke verkondiger 15 uur per maand in die bediening sou deurbring, en pioniers 110 uur, kon die doelwit maklik bereik word. Daar is ook voorgestel dat reëlings getref word om sekere dae vyf uur in die bediening deur te bring en dat meer aandag geskenk word aan herbesoeke, veral op weeksaande.

Entoesiastiese pioniers was ywerig in die veldbediening

Die klem wat op die predikingswerk geplaas is, was vir baie ’n groot aansporing. “Hierdie aansporing het van die hoofkwartier gekom, en dit was iets waarop ons lankal gehoop het en wat kort voor lank wonderlike resultate opgelewer het”, vertel Hilda Padgett. * Suster E.F. Wallis het gesê: “Die voorstel om vyf uur per dag te werk was wonderlik! Wat kon ’n mens groter vreugde gee as om heeldag lank in die diens van die Here besig te wees? . . . Ons het miskien moeg by die huis gekom, maar was ons gelukkig? Beslis!” Die jong Stephen Miller het besef dat die werk dringend is en het op die aansporing gereageer. Hy wou dit doen terwyl hy die geleentheid gehad het! Hy het vertel hoe groepe broers op hulle fietse die hele dag in die bediening deurgebring het en op someraande opnames van toesprake gespeel het. Hulle het ywerig aan inligtingsoptogte deelgeneem, waartydens hulle plakkate gedra het. Hulle het ook tydskrifte op straat aangebied.

Die Informant het ook hierdie aansporing gegee: “Ons het 1 000 pioniers nodig.” ’n Nuwe beleid oor gebied het beteken dat pioniers nie meer in afgesonderde gebiede gewerk het nie, maar saam met die gemeentes om die gemeentes te ondersteun en op te bou. “Baie van die broers het besef dat hulle moet pionier”, vertel Joyce Ellis (gebore Barber). “Al was ek toe net 13”, vertel sy, “is dit wat ek wou doen; ek wou pionier.” Sy het haar doelwit in Julie 1940 bereik, toe sy 15 was. Peter, wat later met Joyce getrou het, het die aansporing om ‘wakker te word’ gehoor, en dit het gemaak dat hy “daaraan begin dink het om te pionier”. In Junie 1940, toe hy 17 was, het hy 105 kilometer met sy fiets na Scarborough gery om in sy pioniertoewysing te begin.

Twee nuwe pioniers, Cyril en Kitty Johnson, het soos baie ander ’n selfopofferende gees gehad. Hulle het besluit om hulle huis en van hulle besittings te verkoop om geld te hê vir die voltydse bediening. Cyril het uit sy werk bedank, en hulle was binne ’n maand gereed om te begin pionier. Hy het vertel: “Ons het dit vol vertroue gedoen. Ons het dit met ’n gewillige en gelukkige gees gedoen.”

PIONIERHUISE WORD INGERIG

Toe die aantal pioniers vinnig toegeneem het, het verantwoordelike broers aan praktiese maniere gedink om hierdie groot aantal pioniers te ondersteun. Jim Carr, wat in 1938 as ’n sonekneg (nou bekend as ’n kringopsiener) gedien het, het die voorstel gevolg om pionierhuise in stede in te rig. Groepe pioniers is aangespoor om saam te woon en te werk, en sodoende koste te besnoei. In Sheffield het hulle ’n groot huis gehuur en ’n verantwoordelike broer gevra om daaroor toesig te hou. Die plaaslike gemeente het geld en meubels bygedra. Jim het vertel: “Almal het hulle deel gedoen om ’n sukses daarvan te maak.” Tien hardwerkende pioniers het daar gewoon en hulle het ’n goeie geestelike roetine gehad. “Die [daaglikse] teks is elke oggend by die ontbyttafel bespreek”, en “die pioniers het elke dag na hulle gebied in verskeie dele van die stad gegaan”.

Nuwe pioniers het oral in Brittanje begin dien

Die doelwit van eenmiljoen uur is wel in 1938 bereik omdat verkondigers sowel as pioniers op die aansporing gereageer het. Trouens, verslae toon dat die broers meer gedoen het in alle aspekte van die veldbediening. Gedurende ’n periode van vyf jaar het Brittanje se getal verkondigers amper verdriedubbel. Die groot klem wat op Koninkryksdiens geplaas is, het Jehovah se volk versterk vir die moeilike oorlogsjare wat voorgelê het.

Die getal pioniers in Brittanje is weer besig om toe te neem terwyl God se oorlog van Armageddon al hoe nader kom. Die pioniersyfer het oor die laaste tien jaar nuwe hoogtepunte bereik, en in Oktober 2015 was dit 13 224. Hierdie pioniers weet dat die voltydse diens een van die beste maniere is waarop hulle hulle lewe kan gebruik.

^ par. 3 Dit is later Ons Koninkryksbediening genoem.

^ par. 8 Die Wagtoring van 1 Oktober 1995, bl. 19-24, bevat suster Padgett se lewensverhaal.