Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 UIT ONS ARGIEF

“Met meer ywer en liefde in ons hart as ooit tevore”

“Met meer ywer en liefde in ons hart as ooit tevore”

DIT was ’n warm Vrydagoggend in September 1922 en 8 000 mense het die saal bankvas gesit. Die voorsitter het aangekondig dat indien iemand die saal gedurende die toespraak wou verlaat, hulle nie weer in die saal toegelaat sou word nie.

Liedere is in die “Lofdiens” gesing en daarna het Joseph F. Rutherford op die verhoog gaan staan. Die gehoor het hulle asem opgehou. ’n Paar het as gevolg van die hitte op en af geloop. Die spreker het hulle gevra om te gaan sit en te luister. Toe het hy met sy toespraak begin. Het enigiemand die netjies opgerolde doek gesien wat aan die dak vasgemaak was?

Die tema van broer Rutherford se toespraak was “Die koninkryk van die hemele het naby gekom”. Met sy kragtige stem het hy vir ’n uur en ’n half lank bespreek hoe die profete van ouds die komende Koninkryk vreesloos bekendgemaak het. Met die hoogtepunt van sy toespraak het hy gevra: “Glo jy dat die Koning van heerlikheid begin regeer het?” Die gehoor het soos een man geskree: “Ja!”

“Keer dus terug na die veld, o seuns van die allerhoogste God!” het broer Rutherford in ’n baie harde stem gesê. “Kyk, die Koning heers! Julle is sy reklame-agente. Adverteer, adverteer, adverteer dus die Koning en sy koninkryk.”

Op daardie oomblik is die doek afgerol en kon almal die woorde daarop lees: “Adverteer die Koning en Koninkryk.”

“Die gehoor was geweldig aangespoor”, vertel Ray Bopp. Anna Gardner beskryf hoe “die balke gebewe het van die applous”. “Die hele gehoor het soos een man opgestaan”, het Fred Twarosh gesê. Evangelos Scouffas het gesê: “Dit was asof ’n geweldige krag ons uit ons sitplekke gelig het en ons het met trane in ons oë opgestaan.”

Baie wat die byeenkoms bygewoon het, het reeds die goeie nuus van die Koninkryk verkondig. Maar nou was hulle eers die ene vuur en vlam. Ethel Bennecoff vertel dat die Bybelstudente “met meer ywer en liefde in [hulle] hart as ooit tevore” gepreek het. Odessa Tuck, wat op daardie stadium 18 jaar oud was, was na die byeenkoms vasbeslote om te reageer op die aansporing “Wie sal gaan?”. Sy het gesê: “Ek het nie geweet hoe, wat of waar nie. Al wat ek geweet het, was dat ek soos Jesaja wou wees wat gesê het: ‘Hier is ek! Stuur my’” (Jes. 6:8). Ralph Leffler het gesê: “Daardie dag was die begin van die advertensieveldtog om die Koninkryk wyd en syd bekend te maak wat vandag die hele aarde vul.”

Geen wonder dat hierdie byeenkoms in Cedar  Point, Ohio, in 1922 ’n mylpaal in ons teokratiese geskiedenis was nie! George Gangas het gesê: “By daardie byeenkoms het ek besluit om nooit ’n byeenkoms mis te loop nie.” En hy kan ook nie onthou dat hy ooit ’n byeenkoms misgeloop het nie. Julia Wilcox het geskryf: “Ek is altyd so opgewonde wanneer ek iets oor daardie byeenkoms in Cedar Point in 1922 in ons publikasies lees. Ek wil net sê: ‘Dankie Jehovah, dat ek daar kon wees.’”

Heel moontlik het baie van ons ook sulke mooi herinneringe aan ’n byeenkoms wat ons hart geraak het en ons met groter ywer en liefde vir ons groot God en sy Koning gevul het. Wanneer ons hieraan dink, wil ons ook sê: “Dankie Jehovah, dat ek daar kon wees.”