Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Georganiseer in ooreenstemming met God se Boek

Georganiseer in ooreenstemming met God se Boek

“Jehovah het die aarde deur wysheid gegrondves. Hy het die hemele deur onderskeidingsvermoë stewig gevestig.”—SPR. 3:19.

LIEDERE: 105, 107

1, 2. (a) Hoe reageer party op die gedagte dat God ’n organisasie het? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

HET God ’n organisasie? “Jy het nie ’n organisasie nodig om jou te rig nie”, sê party dalk. “Jy het net ’n persoonlike verhouding met God nodig.” Is dit die regte beskouing? Wat toon die feite?

2 In hierdie artikel sal ons bewyse bespreek wat toon dat Jehovah, die God van orde, die Groot Organiseerder is. Ons sal ook bespreek hoe ons op die leiding moet reageer wat ons van Jehovah se organisasie ontvang (1 Kor. 14:33, 40). Die leiding wat die Skrif voorsien, het die aardse deel van Jehovah se organisasie in die eerste eeu HJ sowel as in ons dag gehelp om die goeie nuus wêreldwyd te verkondig. Omdat ons by die Bybel bly en die organisasie se riglyne volg, bevorder ons reinheid, vrede en eenheid in die gemeente.

JEHOVAH, DIE GROOT ORGANISEERDER

3. Wat oortuig jou dat Jehovah die Groot Organiseerder is?

3 Die skepping bewys dat God die Groot Organiseerder is. “Jehovah het die aarde deur wysheid gegrondves”, sê die Bybel. “Hy het die hemele deur onderskeidingsvermoë stewig  gevestig” (Spr. 3:19). Ons ken slegs “die rande van [God se] weë”, en net “’n fluistering . . . is omtrent hom gehoor” (Job 26:14). Maar die bietjie wat ons weet omtrent die planete, sterre en sterrestelsels, laat ons besef dat hierdie hemelliggame besonder goed georganiseer is (Ps. 8:3, 4). Sterrestelsels bestaan uit miljoene sterre, wat almal ordelik deur die hemelruim beweeg. Die planete in ons sonnestelsel wentel byvoorbeeld om die son, amper asof hulle verkeerswette gehoorsaam! Die verstommende orde wat ons in die heelal sien, help ons om te besef dat Jehovah ons lof, lojaliteit en aanbidding verdien. Hy het die hemele en aarde beslis met groot vaardigheid gemaak.—Ps. 136:1, 5-9.

4. Waarom is daar baie vrae wat die wetenskap nie kan beantwoord nie?

4 Die wetenskap het al baie omtrent die heelal en ons aardse tuiste te wete gekom en het hierdie kennis gebruik om ons lewe te verbeter. Maar daar is baie vrae wat die wetenskap nie kan beantwoord nie. Sterrekundiges kan byvoorbeeld nie vir ons sê presies hoe die heelal ontstaan het of waarom ons op die planeet Aarde met al sy lewensvorme is nie. Mense oor die algemeen kan ook nie verduidelik waarom ons so ’n sterk begeerte het om vir ewig te lewe nie (Pred. 3:11). Waarom is daar soveel belangrike vrae waarop mense nie antwoorde het nie? Een rede is dat baie wetenskaplikes en ander die evolusieteorie voorstaan en die idee bevorder dat daar nie ’n God is nie. Maar in sy Boek beantwoord Jehovah die vrae waaroor mense wonder.

5. Waarom is ons afhanklik van die natuurwette?

5 Ons is afhanklik van die konstante en betroubare natuurwette wat deur Jehovah ingestel is. Elektrisiëns, loodgieters, ingenieurs, vlieëniers, chirurge—hulle almal maak staat op hierdie wette om hulle werk te doen. Chirurge maak byvoorbeeld staat op die feit dat mense se organe op dieselfde plek in die liggaam is. ’n Chirurg hoef dus nie te soek na ’n pasiënt se hart nie. En ons almal respekteer die natuurwette. As ons die wet van swaartekrag ignoreer, kan ons ons lewe verloor!

DEUR GOD GEORGANISEER

6. Waarom kan ons verwag dat Jehovah se aanbidders georganiseerd sal wees?

6 Die heelal is waarlik ’n bewys van wonderlike organisasie. Ons kan dus sekerlik verwag dat Jehovah wil hê dat sy aanbidders goed georganiseerd moet wees. Daarom het God die Bybel voorsien om ons te lei. As ons ons lewe wil lei sonder die hulp van God se organisasie en Sy standaarde, sal ons ongelukkig wees en sal ons ellendig voel.

7. Wat toon dat die Bybel ’n goed georganiseerde boek is?

7 Die Bybel is nie bloot ’n versameling Joodse en Christelike geskrifte wat nie met mekaar verband hou nie. Dit is eerder ’n goed georganiseerde boek—’n meesterstuk wat deur God geïnspireer is. Die verskillende Bybelboeke hou met mekaar verband. Die Bybel het van Genesis tot Openbaring een hooftema—die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit en die vervulling van sy voorneme vir die aarde deur middel van sy Koninkryk onder Christus, die beloofde “saad”.—Lees Genesis 3:15; Matteus 6:10; Openbaring 11:15.

8. Waarom kan ons sê dat die Israeliete goed georganiseerd was?

8 Eertydse Israel was ’n goeie voorbeeld van ’n goed georganiseerde volk. Byvoorbeeld,  onder die Mosaïese Wet was daar “vroue wat georganiseerde diens by die ingang van die tent van samekoms verrig het” (Eks. 38:8). Wanneer die Israeliete se kamp en die tabernakel verskuif moes word, het dit op ’n ordelike manier plaasgevind. Later het koning Dawid die Leviete en die priesters in afdelings georganiseer (1 Kron. 23:1-6; 24:1-3). Wanneer die Israeliete aan Jehovah gehoorsaam was, is hulle geseën met orde, vrede en eenheid.—Deut. 11:26, 27; 28:1-14.

9. Wat toon dat die eerste-eeuse Christengemeente georganiseerd was?

9 Die eerste-eeuse Christengemeente was georganiseerd en het baat gevind by die leiding van die bestuursliggaam, wat eers net uit die apostels bestaan het (Hand. 6:1-6). Later het nog broers op die bestuursliggaam gedien (Hand. 15:6). Raad en instruksies is ook voorsien deur middel van geïnspireerde briewe wat geskryf is deur lede van die eerste-eeuse bestuursliggaam en manne wat ten nouste met hulle saamgewerk het (1 Tim. 3:1-13; Tit. 1:5-9). Hoe het die gemeentes daarby baat gevind om die leiding van die bestuursliggaam te volg?

10. Wat was die resultaat toe die eerste-eeuse gemeentes die leiding van die bestuursliggaam gevolg het? (Sien prent aan begin van artikel.)

10 Lees Handelinge 16:4, 5Die bestuursliggaam het broers uitgestuur om “die verordeninge waarop die apostels en ouer manne in Jerusalem besluit het”, aan die gemeentes oor te dra. Die gemeentes het die leiding wat voorsien is, gevolg en is “voortdurend standvastig gemaak in die geloof en het . . . van dag tot dag in getal bly toeneem”. Bevat hierdie Bybelverslag ’n les wat ons vandag in God se organisasie kan toepas?

VOLG JY DIE LEIDING WAT VOORSIEN WORD?

11. Hoe moet aangestelde manne reageer op die leiding wat hulle van God se organisasie ontvang?

11 Wat moet lede van Takkomitees of Landskomitees, kringopsieners en gemeentelike ouer manne vandag doen wanneer hulle riglyne van God se organisasie ontvang? Jehovah se Boek sê vir ons almal om gehoorsaam en onderdanig te wees (Deut. 30:16; Heb. 13:7, 17). Daar is geen plek vir ’n kritiese of opstandige gees in God se organisasie nie. So ’n gesindheid kan ’n nadelige uitwerking hê op die liefde, vrede en eenheid van die gemeente. Geen lojale Christen wil ’n oneerbiedige en dislojale gees soos dié van Diotrefes aan die dag lê nie. (Lees 3 Johannes 9, 10.) Ons kan ons gerus afvra: ‘Dra ek by tot die geestelikheid van diegene om my? Is ek gou om die leiding wat God se organisasie voorsien, te aanvaar en daaraan gehoorsaam te wees?’

12. Watter aanpassing is gemaak in die manier waarop ouer manne en bedieningsknegte aangestel word?

12 Dink aan ’n onlangse besluit wat die Bestuursliggaam geneem het. “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 November 2014 het verduidelik dat ’n aanpassing gemaak is in die manier waarop ouer manne en bedieningsknegte aangestel word. Die artikel het gesê dat die eerste-eeuse bestuursliggaam reisende opsieners die gesag gegee het om sulke aanstellings te doen. Op grond van hierdie voorbeeld word ouer manne en bedieningsknegte sedert 1 September 2014 deur kringopsieners aangestel. Die kringopsiener probeer om die broers wat aanbeveel word, beter te leer ken en om saam met hulle velddiens te doen. Hy sal ook kyk hoe die gesin vaar van ’n broer wat aanbeveel word  (1 Tim. 3:4, 5). Die liggaam van ouer manne en die kringopsiener bespreek dan die skriftuurlike vereistes vir bedieningsknegte en ouer manne om vas te stel of ’n broer aan hierdie vereistes voldoen.—1 Tim. 3:1-10, 12, 13; 1 Pet. 5:1-3.

13. Hoe kan ons toon dat ons die leiding van die ouer manne volg?

13 Ons moet die skriftuurlike leiding volg wat ons van die ouer manne ontvang. Hierdie lojale herders in God se organisasie word gerig deur die “gesonde”, of nuttige, onderrigting wat in God se Boek gevind word (1 Tim. 6:3). Neem byvoorbeeld Paulus se raad oor wanordelike persone in die gemeente. Sommige het ‘glad nie gewerk nie, maar het hulle bemoei met wat hulle nie aangaan nie’. Hulle is blykbaar deur die ouer manne vermaan, maar het nie ag geslaan op die raad nie. Hoe moes die gemeente so ’n persoon behandel? Paulus het gesê: “Hou dié een gemerk, hou op om met hom om te gaan.” Maar hy het ook gesê dat so ’n persoon nie as ’n vyand behandel moet word nie (2 Tess. 3:11-15). Vandag sal ouer manne dalk ’n toespraak hou om die gemeente te waarsku as iemand volhou met gedrag wat die gemeente in ’n slegte lig stel, soos om met ’n ongelowige uit te gaan (1 Kor. 7:39). Hoe reageer jy wanneer die ouer manne besluit dat so ’n toespraak gehou moet word? Sal jy ophou om sosiaal met die persoon te verkeer as jy bewus is van die situasie wat in die toespraak beskryf is? Jou liefdevolle besorgdheid en ferm standpunt kan die persoon beweeg om sake reg te stel. [1]

DRA BY TOT REINHEID, VREDE EN EENHEID

14. Hoe kan ons bydra tot die reinheid van die gemeente?

14 Ons kan bydra tot die geestelike reinheid van die gemeente deur die riglyne in God se Woord te volg. Kom ons kyk na wat in eertydse Korinte gebeur het. Paulus het ywerig in daardie stad gepreek, en hy was lief vir die “heiliges” daar (1 Kor. 1:1, 2). Maar dink net hoe ontsteld hy was toe hy gehoor het dat seksuele onsedelikheid in die gemeente geduld word! Paulus het vir die ouer manne gesê om die onsedelike man aan Satan oor te gee—met ander woorde om hom uit die gemeente te sit. Om die gemeente rein te hou, moes die ouer manne die “suurdeeg” verwyder (1 Kor. 5:1, 5-7, 12). Wanneer ons die besluit van die ouer manne ondersteun om ’n onberouvolle oortreder uit te sit, help ons om by te dra tot die reinheid van die gemeente. En dit kan die persoon beweeg om berou te toon en Jehovah se vergifnis te verkry.

15. Hoe kan ons bydra tot die vrede van die gemeente?

15 Daar was nog ’n probleem in Korinte waaraan aandag gegee moes word. Party broers het medegelowiges hof toe geneem. Paulus het hulle gevra: “Waarom laat julle julle nie liewer veronreg nie?” (1 Kor. 6:1-8). Soortgelyke situasies het al vandag ontstaan. Soms is die vrede tussen geestelike broers versteur omdat saketransaksies misluk het en broers geld verloor het of mekaar van bedrog beskuldig het. Party het hulle broers hof toe geneem, maar God se Boek help ons om te sien dat dit beter is om geld te verloor as om God se naam oneer aan te doen of die vrede van die gemeente te versteur. [2] Om ernstige probleme en geskille op te los, moet ons natuurlik Jesus se raad toepas. (Lees Matteus 5:23, 24; 18:15-17.) Wanneer ons dit doen, dra ons by tot die eenheid onder Jehovah se aanbidders.

16. Waarom kan ons verwag dat God se volk verenig sal wees?

 16 Jehovah se Boek toon waarom ons kan verwag dat sy volk verenig sal wees. Die psalmis het gesing: “Kyk! Hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers in eenheid saam woon!” (Ps. 133:1). Toe die Israeliete gehoorsaam was aan Jehovah, was hulle georganiseerd en verenig. God het aangaande sy volk voorspel: “In eenheid sal ek hulle stel, soos skape in die kraal” (Miga 2:12). En Jehovah het deur middel van die profeet Sefanja voorspel: “Ek [sal] volke tot ’n suiwer taal [van skriftuurlike waarheid] laat oorgaan, sodat hulle almal die naam van Jehovah sal aanroep, om hom skouer aan skouer te dien” (Sef. 3:9). Ons is baie dankbaar vir die voorreg om Jehovah in eenheid te aanbid!

Ouer manne probeer geestelike hulp voorsien aan iemand wat ’n misstap begaan het (Sien paragraaf 17)

17. Wat moet die ouer manne doen wanneer iemand in die gemeente ’n ernstige oortreding begaan?

17 Die ouer manne moet so gou as moontlik en op ’n liefdevolle manier na regterlike sake omsien om die gemeente rein en verenig te hou. Paulus het geweet dat God se liefde nie beteken dat Hy sentimenteel is en oortredings ignoreer nie (Spr. 15:3). Daarom het Paulus nie gehuiwer om Eerste Korintiërs, ’n reguit maar liefdevolle brief, te skryf nie. Tweede Korintiërs, wat ’n paar maande later geskryf is, toon dat vordering gemaak is omdat die ouer manne die apostel se riglyne toegepas het. As ’n Christen ’n misstap begaan voordat hy daarvan bewus is, moet bekwame manne hom in ’n gees van sagmoedigheid probeer reghelp.—Gal. 6:1.

18. (a) Hoe het die raad in God se Woord die eerste-eeuse gemeentes gehelp? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

18 Dit is duidelik dat die geïnspireerde raad in God se Boek eerste-eeuse Christene in Korinte en op ander plekke gehelp het om reinheid, vrede en eenheid in hulle gemeente te behou (1 Kor. 1:10; Ef. 4:11-13; 1 Pet. 3:8). Gevolglik kon die broers en susters in daardie tyd baie in die bediening uitrig. Trouens, Paulus kon sê dat die goeie nuus “verkondig is in die hele skepping wat onder die hemel is” (Kol. 1:23). Vandag word God se wonderlike voornemens regoor die aarde bekendgemaak deur Jehovah se verenigde en georganiseerde volk. Die volgende artikel sal verdere bewyse voorsien dat God se volk groot respek vir die Bybel het en vasbeslote is om die Soewereine Heer Jehovah te eer.—Ps. 71:15, 16.

^ [1] (paragraaf 13) Sien Georganiseer om Jehovah se wil te doen, bl. 134-136.

^ [2] (paragraaf 15) Vir inligting oor situasies waarin ’n Christen kan besluit om regstappe teen ’n ander Christen te neem, sien die boek ‘Hou julle in God se liefde’, bl. 223, vtn.