Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 UIT ONS ARGIEF

“Wanneer is ons volgende byeenkoms?”

“Wanneer is ons volgende byeenkoms?”

DIT is November 1932 in Mexikostad. Slegs ’n week tevore is die eerste verkeersligte geïnstalleer in hierdie besige stad met meer as een miljoen inwoners. Maar die verkeersligte was nou ou nuus. Die stad se verslaggewers het nou op hierdie week se nuus gefokus. Hulle wag op die stasie, gereed met hulle kameras, vir ’n spesiale gas—Joseph F. Rutherford, wat toe die president van die Wagtoringgenootskap was. Die Getuies is ook daar om broer Rutherford hartlik te verwelkom. Hy het gekom om hulle drie dae lange nasionale streekbyeenkoms by te woon.

The Golden Age het gesê: “Hierdie byeenkoms sal ongetwyfeld in die geskiedenis uitstaan as ’n uitsonderlike gebeurtenis wat die vordering van die Waarheid in die republiek van Mexiko betref.” Maar waarom was hierdie byeenkoms, wat slegs deur 150 mense bygewoon is, so merkwaardig?

Voor hierdie byeenkoms was daar baie min mense in Mexiko wat die Koninkryksboodskap aanvaar het. Sedert 1919 is klein byeenkomste gehou, maar die aantal gemeentes het eintlik verminder in die jare daarna. Dit het gelyk of dinge verbeter toe ’n takkantoor in Mexikostad in 1929 oopgemaak het. Maar daar was ’n paar struikelblokke. Toe daar vir die broers gesê is dat hulle nie besigheid mag doen terwyl hulle preek nie, het een kolporteur kwaad geword, bedank en toe sy eie Bybelstudiegroep begin. Intussen het die takopsiener betrokke geraak by onskriftuurlike gedrag en moes hy vervang word. Lojale Getuies in Mexiko het ’n geestelike hupstoot nodig gehad.

Broer Rutherford het tydens sy besoek hierdie getroue broers en susters baie aangemoedig. Hy het twee hartroerende byeenkomstoesprake en vyf kragtige lesings oor die radio gehou. Dit was die eerste keer dat radiostasies in Mexiko die goeie nuus regoor die land uitgesaai het. Ná die byeenkoms het die nuwe takopsiener die werk georganiseer. Die Getuies het ywerig met die werk voortgegaan, en Jehovah het hulle geseën.

’n Streekbyeenkoms in Mexikostad, 1941

Die jaar daarna was daar nie een nie, maar twee byeenkomste in die land gehou, een in die hawestad Veracruz en een in Mexikostad. Die broers het hard in die veld gewerk en meer mense het in die waarheid gekom. In 1931 was daar 82 verkondigers. Tien jaar later was daar tien keer soveel verkondigers! In 1941 het omtrent 1 000 verkondigers die Teokratiese Byeenkoms in Mexikostad bygewoon.

“MENSE VAAR DIE STRATE IN”

In 1943 het die Getuies advertensieborde gedra om die “Vrye Nasie” se Teokratiese Byeenkoms te adverteer wat in 12 stede in Mexiko gehou is. *  Twee plakkate is oor die skouers aan mekaar vasgemaak, een voor en een agter. Hierdie metode was sedert 1936 deur die Getuies gebruik.

’n Uitknipsel uit ’n tydskrif van 1944 wys hoe broers advertensieborde in Mexikostad dra

Die tydskrif La Nación het geskryf oor die sukses van hierdie metode: “Die eerste dag [van die byeenkoms] is [die Getuies] gevra om nog mense te nooi. Die volgende dag was die plek te klein vir al die mense.” Die Katolieke Kerk was nie beïndruk met die sukses wat die Getuies met hierdie metode gehad het nie en het ’n kampanje teen die Getuies begin. Ten spyte van teenstand het vreeslose broers en susters aangehou om in die strate te adverteer. La Nación het ook geskryf: “Die hele stad het hulle gesien . . . mans—en vrouens—wat in lopende advertensieborde verander is”. Die artikel het ’n foto van broers op die strate van Mexikostad gehad met die byskrif: “Mense vaar die strate in.”

“DIE BEDDENS WAS SAGTER EN WARMER AS DIE SEMENTVLOER”

In daardie jare moes die meeste van die Getuies groot opofferings maak om die paar streekbyeenkomste in Mexiko by te woon. Baie wat die byeenkomste bygewoon het, het van afgesonderde dorpies in die platteland af gekom waar daar geen treine of paaie was nie. Een gemeente het geskryf: “Daar kom nie ’n trein naby hierdie plek nie.” Die broers moes dae lank loop of op donkies ry om by ’n trein te kom wat hulle na die byeenkomsstad toe sou neem.

Die meeste Getuies was arm en kon skaars bekostig om by die byeenkoms uit te kom. Baie Getuies het die broers genooi om by hulle te kom bly. Ander het in Koninkryksale geslaap. By een geleentheid het 90 broers by die takkantoor gebly en elkeen het op 20 bokse vol boeke geslaap. Die Jaarboek het gesê dat die broers dankbaar was, want “die beddens was sagter en warmer as die sementvloer”.

Ten spyte van al die opofferings wat die Getuies gemaak het, was hulle baie dankbaar dat hulle by hulle broers en susters kon wees. Daar is vandag omtrent een miljoen Getuies in Mexiko en hulle is nog net so dankbaar. * ’n Verslag in die Jaarboek vir 1949 het gesê dat die broers nie hulle ywer in Jehovah se diens verloor het nie, al het hulle baie opofferings gemaak. Hulle kon nie ophou praat oor die byeenkomste wat hulle bygewoon het nie en die vraag wat hulle oor en oor gevra het, was: “Wanneer is ons volgende byeenkoms?” Dit is hoe ons nog steeds vandag voel.—Uit ons argief in Sentraal-Amerika.

^ par. 9 Volgens ons Jaarboek vir 1944 het hierdie byeenkoms “mense in Mexiko bewus gemaak van Jehovah se Getuies”.

^ par. 14 In 2016 het 2 262 646 die Gedenkmaal in Mexiko bygewoon.