Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sal jy ter harte neem wat geskrywe staan?

Sal jy ter harte neem wat geskrywe staan?

“Hierdie dinge . . . is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons op wie die eindes van die stelsels van dinge gekom het.”—1 KOR. 10:11.

LIEDERE: 11, 61

1, 2. Waarom gaan ons die voorbeelde van vier Judese konings bespreek?

GESTEL jy sien dat iemand gly en val terwyl hy in ’n sekere paadjie loop. Sal jy nie versigtig wees wanneer jy in dieselfde paadjie loop nie? As ons nadink oor die foute van ander, kan dit ons help om nie dieselfde foute te maak nie. Dit geld ook vir ons geestelike weg. Ons kan waardevolle lesse leer uit ander se foute, insluitende dié wat in die Bybel opgeteken is.

2 Die vier Judese konings wat ons in die vorige artikel bespreek het, het Jehovah met ’n volkome hart gedien. En tog het hulle ernstige foute gemaak. Wat kan ons uit hulle ondervindinge leer en hoe kan ons ’n soortgelyke weg vermy? Wanneer ons oor hierdie voorbeelde peins, kan dit ons help om baat te vind by die dinge wat tevore geskryf is tot ons onderrigting.—Lees Romeine 15:4.

MENSLIKE WYSHEID KAN TOT RAMPSPOED LEI

3-5. (a) Watter fout het Asa gemaak, al was sy hart volkome teenoor Jehovah? (b) Waarom het Asa op mense vertrou toe Baäsa teen Juda opgetrek het?

3 Kom ons bespreek eerstens die voorbeeld van Asa om te sien hoe God se Woord ons lewe kan beïnvloed. Asa het op Jehovah vertrou toe ’n miljoen Etiopiërs teen Juda opgetrek het. Maar hy het nie op Jehovah vertrou toe Baäsa, die koning van Israel, teen Juda opgetrek het en Rama, ’n stad wat aan Asa se ryk gegrens het, begin versterk het nie (2 Kron. 16:1-3). Asa het hierdie keer op sy eie wysheid staatgemaak en koning Ben-Hadad van Sirië omgekoop om Baäsa aan te val. Het Asa se plan gewerk? Die Bybel sê: “Toe Baäsa daarvan hoor, het hy onmiddellik opgehou om Rama te bou en sy werk gestaak” (2 Kron. 16:5). Met die eerste oogopslag het Asa se plan gewerk!

4 Hoe het Jehovah gevoel oor wat Asa gedoen het? God het sy woordvoerder Hanani gestuur om Asa te bestraf omdat hy nie op Jehovah vertrou het nie. (Lees 2 Kronieke 16:7-9.) “Van nou af”, het Hanani gesê, “sal daar oorloë teen u wees.” Asa het wel by Rama sukses behaal, maar vir die res van sy bewind het hy en sy volk oorloë ondervind.

5 Soos ons in die vorige artikel gesien het, was Asa iemand wat God met ’n volkome hart gedien het (1 Kon. 15:14). God het Asa beskou as iemand wat aan Sy standaarde voldoen. Maar hy moes die gevolge van sy onverstandige weg dra. Wat het daartoe gelei dat Asa op mense—Ben-Hadad en homself—eerder as op Jehovah vertrou het toe hy voor Baäsa te staan gekom het? Het hy gedink dat dit beter sou wees om te onderhandel of van militêre taktiek gebruik te maak eerder as om God se hulp te vra? Het hy so geredeneer omdat hy slegte raad ontvang het?

6. Wat kan ons uit Asa se fout leer? Gee ’n voorbeeld.

6 Sal die verslag van Asa jou beweeg om die manier waarop jy dinge doen, te ondersoek? Wanneer ons voor groot probleme te staan kom, is dit dalk maklik om te sien dat ons op Jehovah moet vertrou. Maar wat doen ons wanneer ons kleiner probleme in ons daaglikse lewe ondervind? Maak ons staat op menslike wysheid en probeer ons die probleme op ons eie manier oplos? Of vertrou ons op Jehovah deur die Bybel te raadpleeg en die beginsels daarin te probeer toepas? Byvoorbeeld, jy ondervind dalk teenstand van jou familie omdat jy vergaderinge of byeenkomste bywoon. Jy vra Jehovah om jou te help om te onderskei wat die beste manier is om die situasie te hanteer. Of jy het dalk jou werk verloor en sukkel om ’n ander werk te kry. Sal jy bereid wees om vir ’n moontlike werkgewer te sê dat jy gereeld op weeksaande vergaderinge gaan bywoon? Wat die probleem ook al mag wees, dit sal goed wees as ons luister na die raad van die Psalmis wat sê: “Laat jou weg aan Jehovah oor en verlaat jou op hom, en hy sal optree.”—Ps. 37:5.

WAT KAN DIE GEVOLGE VAN SLEGTE ASSOSIASIE WEES?

7, 8. Watter foute het Josafat gemaak, en met watter gevolg? (Sien prent aan begin van artikel.)

7 Wat van Asa se seun Josafat? Hy het baie goeie eienskappe gehad. Toe Josafat op God vertrou het, het hy baie goeie dinge gedoen. Maar hy het ook onwyse besluite geneem. Byvoorbeeld, hy het sy seun laat trou met die dogter van die goddelose koning Agab van die noordelike koninkryk. Ten spyte van die profeet Migaja se waarskuwing het Josafat saam met Agab teen die Siriërs gaan veg. In die geveg het Josafat amper sy lewe verloor (2 Kron. 18:1-32). Toe hy na Jerusalem teruggekeer het, het die profeet Jehu hom gevra: “Moet daar aan die goddelose hulp verleen word, en moet u lief wees vir dié wat Jehovah haat?”—Lees 2 Kronieke 19:1-3.

8 Het Josafat uit hierdie ondervinding geleer? Al het hy nog steeds probeer om Jehovah te behaag, lyk dit nie of hy geleer het uit hierdie ondervinding met Agab en uit Jehu se waarskuwing nie. Josafat het nog ’n onwyse vennootskap aangegaan. Dit was met ’n vyand van God, die goddelose koning Ahasia, die seun van Agab. Josafat en Ahasia het saam skepe gebou. Maar die skepe het vergaan en kon nie gebruik word vir die doel waarvoor hulle gebou is nie.—2 Kron. 20:35-37.

9. Wat kan gebeur as ons slegte assosiasie kies?

9 Wanneer ons die verslag van Josafat lees, moet dit ons beweeg om ons eie lewe te ondersoek. Hoe so? Josafat was basies ’n goeie koning. Hy het gedoen wat reg was en hy het “Jehovah met sy hele hart gesoek” (2 Kron. 22:9). Maar hy was nie immuun teen die gevolge van slegte assosiasie nie. Dink aan die geïnspireerde spreekwoord: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan” (Spr. 13:20). Ons wil belangstellendes help om Jehovah te leer ken. Maar Josafat se onnodige assosiasie met Agab het hom amper sy lewe gekos. Net so hou dit gevare in as ons onnodig assosieer met mense wat Jehovah nie dien nie.

10. (a) Watter les kan ons uit die ondervinding van Josafat leer as ons wil trou? (b) Wat moet ons in verband met slegte assosiasie onthou?

10 Watter praktiese les kan ons uit die ondervinding van Josafat leer? ’n Christen begin dalk romantiese gevoelens ontwikkel vir iemand wat nie lief is vir Jehovah nie. Hy dink dalk dat hy nie ’n geskikte maat onder ware Christene sal vind nie. Of ’n Christen se ongelowige familie oefen dalk druk op hom uit om te trou ‘voordat dit te laat is’. Party voel dalk soos een suster wat gesê het: “Ons is geskep met ’n behoefte aan liefde en om ’n maat te hê.” Wat moet ’n Christen doen as hy nie ’n geskikte maat kry nie? Dit kan hom help as hy oor die verslag van Josafat peins. Hy het gewoonlik op God vertrou vir leiding (2 Kron. 18:4-6). Maar wat het gebeur toe Josafat geassosieer het met Agab, wat glad nie lief was vir Jehovah nie? Josafat moes in gedagte gehou het dat Jehovah se oë soek na dié wie se hart volkome teenoor hom is. Vandag “deurloop [God se oë] die hele aarde”, en hy is gereed “om sy krag te toon” ten behoewe van ons (2 Kron. 16:9). Hy verstaan ons situasie en is lief vir ons. Het jy geloof dat God jou behoefte aan liefde en ’n maat sal bevredig? Wees verseker dat hy dit wel sal doen!

Wees versigtig om nie betrokke te raak by iemand wat Jehovah nie dien nie (Sien paragraaf 10)

MOENIE TOELAAT DAT JOU HART HOOGMOEDIG WORD NIE

11, 12. (a) Hoe het Hiskia getoon wat in sy hart is? (b) Waarom het God Hiskia vergewe?

11 Die les wat ons by Hiskia kan leer, behels die hart. By een geleentheid het die Een wat harte ondersoek, Hiskia gehelp om te sien wat werklik in sy hart is. (Lees 2 Kronieke 32:31.) Toe Hiskia baie siek geword het, het God hom ’n teken gegee dat hy sal herstel—’n skaduwee wat terugbeweeg. Die prinse van Babilon het blykbaar boodskappers gestuur om meer uit te vind oor hierdie teken (2 Kon. 20:8-13; 2 Kron. 32:24). Toe Jehovah Hiskia “verlaat” het, het hy getoon wat in sy hart was en die Babiloniërs “sy hele skathuis gewys”. Hierdie onwyse daad het ‘alles wat in [Hiskia se] hart was’, blootgelê.

12 Die Bybel sê nie vir ons wat veroorsaak het dat Hiskia se hart hoogmoedig geword het nie. Was dit dalk sy oorwinning oor die Assiriërs of die feit dat God hom wonderbaarlik genees het? Kon dit as gevolg van sy “baie groot hoeveelheid rykdom en heerlikheid” gewees het? Hoe dit ook al sy, Hiskia was hoogmoedig, en daarom het hy “niks teruggedoen vir die weldaad wat aan hom bewys is nie”. Hoe hartseer tog! Hoewel hy Jehovah kon vra om te onthou dat hy Hom met ’n volkome hart gedien het, het Hiskia Jehovah ’n ruk lank nie behaag nie. Maar later het Hiskia “hom verneder” en God het hom en sy volk vergewe.—2 Kron. 32:25-27; Ps. 138:6.

13, 14. (a) In watter situasie kan Jehovah ons die geleentheid gee om te toon wat werklik in ons hart is? (b) Hoe kan ons reageer wanneer ander ons prys?

13 Wat kan ons uit die verslag van Hiskia leer? Onthou dat Hiskia hoogmoedig geword het kort nadat Jehovah hom die oorwinning oor Sanherib gegee het en hom van sy dodelike siekte genees het. Sê nou ons het iets prysenswaardigs gedoen. Jehovah sal ons dalk ook die geleentheid gee om te toon wat werklik in ons hart is. Byvoorbeeld, ’n broer het dalk hard gewerk om ’n toespraak voor te berei en om dit voor ’n groot gehoor te hou. Hoe sal hy reageer as baie hom prys?

14 Wanneer ons geprys word, is dit goed om die volgende woorde van Jesus toe te pas: “So ook moet julle, wanneer julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê: ‘Ons is nikswerd slawe. Wat ons gedoen het, is wat ons behoort te gedoen het’” (Luk. 17:10). Ons kan weer eens uit Hiskia se voorbeeld leer. ’n Hoogmoedige gesindheid het aan die lig gekom toe hy “niks teruggedoen [het] vir die weldaad wat aan hom bewys is nie”. As ons nadink oor hoe baie Jehovah vir ons gedoen het, sal dit ons help om ’n gesindheid wat Jehovah haat, te vermy. Ons kan waardering uitspreek vir wat Jehovah vir ons doen. Hy het die Heilige Skrif sowel as die heilige gees voorsien wat sy volk help.

WEES VERSIGTIG WANNEER JY BESLUITE NEEM

15, 16. Waarom het Josia God se beskerming en sy lewe verloor?

15 Ten slotte, wat kan ons leer uit wat met koning Josia gebeur het? Kyk na wat tot sy nederlaag en dood gelei het. (Lees 2 Kronieke 35:20-22.) Josia het gaan veg teen koning Nego van Egipte, terwyl daardie koning vir Josia gesê het dat hy nie ’n geskil met hom het nie. Die Bybel sê dat Nego se woorde “uit die mond van God” was. Waarom het Josia dan gaan veg? Die Bybel sê nie.

16 Maar hoe sou Josia weet dat Nego se woorde van Jehovah af gekom het? Wel, hy kon vir Jeremia, een van die getroue profete, gevra het (2 Kron. 35:23, 25). Maar daar is niks in die verslag wat aandui dat hy dit gedoen het nie. En Nego was op pad na Karkemis om “teen ’n ander huis” te gaan veg, nie teen Jerusalem nie. Boonop was God se naam nie betrokke nie, want Nego het nie Jehovah of sy volk getart nie. Josia het dus slegte oordeel aan die dag gelê toe hy teen Nego gaan veg het. Is daar ’n les hierin wat ons kan toepas? Wanneer ons voor ’n probleem te staan kom, sal dit goed wees as ons dink aan wat Jehovah sou wou hê ons moet doen.

17. Hoe kan ons voorkom dat ons dieselfde fout as Josia maak?

17 As ’n probleem opduik, moet ons Bybelbeginsels in ag neem en dit toepas. In sommige gevalle sal ons die ouer manne vir raad wil vra. Ons het dalk nagedink oor wat ons reeds oor die saak weet en selfs in ons publikasies navorsing gedoen. Daar is dalk ander Bybelbeginsels wat ons kan oorweeg, en ’n ouer man kan dit onder ons aandag bring. ’n Suster weet byvoorbeeld dat sy die verantwoordelikheid het om die goeie nuus te verkondig (Hand. 4:20). Sê nou sy beplan om op ’n spesifieke dag in velddiens uit te gaan, maar haar ongelowige man wil hê sy moet by die huis bly. Hy sê dat hulle in die laaste tyd min tyd saam spandeer het en hy wil graag hê hulle moet iets saam doen. Sy dink dalk aan Bybeltekste soos dié wat sê dat ons aan God gehoorsaam moet wees en dissipels moet maak (Matt. 28:19, 20; Hand. 5:29). Maar sy moet ook daaraan dink dat ’n vrou onderdanig en redelik moet wees (Ef. 5:22-24; Fil. 4:5). Is haar man heeltemal gekant daarteen dat sy in velddiens uitgaan of vra hy haar net om hierdie een dag iets anders te doen? Ons het balans nodig terwyl ons probeer om God se wil te doen en ’n goeie gewete te behou.

BEHOU ’N VOLKOME HART EN WEES VREUGDEVOL

18. Hoe kan ons baat vind by die verslae van die vier konings wat in hierdie artikel bespreek is?

18 Omdat ons onvolmaak is, kan ons ook soms geneig wees om die foute te maak wat hierdie vier konings gemaak het. Ons kan (1) onwetend op menslike wysheid staatmaak, (2) betrokke raak by slegte assosiasie, (3) hoogmoedig word of (4) besluite neem sonder om eers te dink aan wat God se wil is. Dit is beslis baie liefdevol van Jehovah om die goeie in ons te sien soos wat hy dit in hierdie vier konings gesien het! Jehovah sien ook hoe lief ons vir hom is en hoe graag ons hom wil dien. Daarom het hy vir ons voorbeelde gegee om ons te waarsku om nie dieselfde foute te maak nie. Laat ons nadink oor hierdie Bybelverslae en dankbaar wees dat Jehovah dit vir ons gegee het!