Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 3

Jesus se trane – Wat kan ons daaruit leer?

Jesus se trane – Wat kan ons daaruit leer?

“Jesus het gehuil.” – JOH. 11:35.

LIED 17 ‘Ek wil, ja’

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-3. Watter dinge veroorsaak soms dat Jehovah se knegte huil?

 WANNEER laas het jy gehuil? Soms huil ons omdat ons gelukkig is. Maar die meeste van die tyd huil ons omdat ons baie hartseer is. Byvoorbeeld, ons huil dalk wanneer ons ’n geliefde in die dood verloor. Lorilei, ’n suster in die Verenigde State, het geskryf: “Nadat ek my dogter verloor het, was die pyn soms so erg dat dit gevoel het asof niks my kan vertroos nie. In daardie oomblikke het ek gewonder of my gebroke en verpletterde hart kon aanhou klop.” *

2 Maar daar is ook ander dinge wat ons kan laat huil. Hiromi, ’n pionier in Japan, erken: “Partykeer voel ek mismoedig omdat die mense in die bediening nie belangstel nie. Soms bid ek met trane in my oë dat Jehovah my moet help om iemand te vind wat op soek is na die waarheid.”

3 Het jy al soos Lorilei en Hiromi gevoel? Baie van ons het al (1 Pet. 5:9). Ons wil Jehovah “met blydskap” dien, maar miskien dien ons hom met trane omdat ons hartseer of mismoedig is of omdat ons ’n probleem ondervind wat ons lojaliteit aan God toets (Ps. 6:6; 100:2). Wat kan ons help wanneer sulke gevoelens vir ons te veel raak?

4. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

4 Ons kan uit Jesus se voorbeeld leer. Soms het hy ook gehuil omdat hy intense emosies ondervind het (Joh. 11:35; Luk. 19:41; 22:44; Heb. 5:7). Kom ons kyk na daardie gevalle en na die lesse wat ons daaruit kan leer. Ons gaan ook bespreek wat ons kan doen wanneer ons probleme ondervind wat ons laat huil.

TRANE VIR SY VRIENDE

Ondersteun dié wat treur, net soos Jesus gedoen het (Sien paragraaf 5-9) *

5. Wat leer ons oor Jesus in Johannes 11:32-36?

5 In die winter van 32 HJ het Jesus se goeie vriend Lasarus siek geword en gesterf (Joh. 11:3, 14). Lasarus het twee susters gehad, Maria en Marta, en Jesus was baie lief vir hierdie familie. Maria en Marta was verpletterd toe hulle geliefde broer gesterf het. Ná Lasarus se dood het Jesus na Betanië gereis, die dorpie waar Maria en Marta gebly het. Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy uitgehardloop om hom te gaan ontmoet. Stel jou die hartseer in haar stem voor toe sy gesê het: “Here, as u hier was, sou my broer nie gesterf het nie” (Joh. 11:21). Kort daarna, toe Jesus Maria en ander sien huil, het hy ook gehuil. – Lees Johannes 11:32-36.

6. Hoekom het Jesus by daardie geleentheid gehuil?

6 Hoekom het Jesus by daardie geleentheid gehuil? Insight on the Scriptures sê: “Die dood van sy vriend Lasarus en die hartseer van Lasarus se susters het veroorsaak dat Jesus ‘kreun en huil.’” * Jesus het dalk gedink aan die pyn wat sy geliefde vriend Lasarus ondervind het toe hy siek was. Hy het moontlik ook gedink aan hoe Lasarus gevoel het toe hy besef dat hy besig is om dood te gaan. Jesus het natuurlik ook gehuil omdat hy gesien het hoeveel pyn Lasarus se dood vir Maria en Marta veroorsaak. As jy ’n goeie vriend of familielid in die dood verloor het, het jy seker ook al so gevoel. Kyk na drie lesse wat jy uit hierdie verslag kan leer.

7. Wat leer Jesus se trane ons oor Jehovah?

7 Jehovah verstaan hoe jy voel. Jesus is die “presiese weergawe” van sy Vader (Heb. 1:3). Toe Jesus gehuil het, het hy gewys hoe sy Vader voel wanneer ons ’n geliefde in die dood verloor (Joh. 14:9). As jy ’n geliefde in die dood verloor het, kan jy seker wees dat Jehovah nie net jou pyn sien nie, maar dat hy ook daardie pyn saam met jou voel. Hy wil jou gebroke hart genees. – Ps. 34:18; 147:3.

8. Hoekom kan ons seker wees dat Jesus ons geliefdes sal opwek?

8 Jesus wil jou geliefdes opwek. Kort nadat Jesus gehuil het, het hy Marta verseker: “Jou broer sal opstaan.” En Marta het Jesus geglo (Joh. 11:23-27). As ’n getroue aanbidder van Jehovah het Marta natuurlik geweet dat die profete Elia en Elisa mense in die verlede opgewek het (1 Kon. 17:17-24; 2 Kon. 4:32-37). En sy het heel moontlik ook geweet dat Jesus self mense al opgewek het (Luk. 7:11-15; 8:41, 42, 49-56). Jy kan ook heeltemal seker wees dat jy jou geliefdes wat jy in die dood verloor het, weer sal sien. So wat leer ons uit die feit dat Jesus gehuil het toe hy sy vriende vertroos het wat getreur het? Ons leer dat hy die dooies bitter graag wil opwek!

9. Hoe kan ons mense ondersteun wat treur, net soos Jesus gedoen het? Gee ’n voorbeeld.

9 Jy kan mense ondersteun wat treur. Jesus het nie net saam met Marta en Maria gehuil nie. Hy het ook na hulle geluister en hulle vertroos. Ons kan dieselfde doen vir dié wat treur. Dan, ’n ouerman wat in Australië bly, sê: “Nadat ek my vrou in die dood verloor het, het ek ondersteuning nodig gehad. Daar was baie broers en hulle vrouens wat dag en nag bereid was om na my te luister. Hulle het my toegelaat om te treur, en hulle het nie skaam geraak toe ek gehuil het nie. Hulle het my ook op praktiese maniere gehelp. Hulle het my kar gewas, vir my inkopies gedoen en vir my gekook toe ek gevoel het dat ek nie self hierdie dinge kon doen nie. Hulle het ook gereeld saam met my gebid. Hulle het gewys dat hulle ware vriende is en dat hulle regtig ‘broers is gedurende moeilike tye’”. – Spr. 17:17.

TRANE VIR MENSE IN DIE BEDIENING

10. Verduidelik wat in Lukas 19:36-40 gebeur het.

10 Op 9 Nisan 33 HJ het Jesus na Jerusalem gegaan. Soos hy nader aan die stad gekom het, het baie mense bymekaargekom en hulle bo-klere op die pad uitgesprei om hom as hulle Koning te verwelkom. Dit was beslis ’n vreugdevolle geleentheid. (Lees Lukas 19:36-40.) Daarom het sy dissipels dalk nie verwag wat volgende gebeur het nie. “Toe [Jesus] naby kom, het hy na die stad gekyk en daaroor gehuil.” Met trane in sy oë het Jesus die verskriklike dinge voorspel wat met die mense van Jerusalem sou gebeur. – Luk. 19:41-44.

11. Hoekom het Jesus oor die mense van Jerusalem gehuil?

11 Al het die mense van Jerusalem Jesus verwelkom, was hy baie hartseer omdat hy geweet het dat die meeste van hulle nie die Koninkryksboodskap sou aanvaar nie. En daarom sou Jerusalem vernietig word, en enige Jode wat die vernietiging van die stad oorleef het, sou as gevangenes weggeneem word (Luk. 21:20-24). Ongelukkig het die meeste mense Jesus verwerp, net soos hy verwag het. Hoe reageer die meeste mense in jou gebied op die Koninkryksboodskap? As min mense positief reageer wanneer jy vir hulle die waarheid probeer leer, wat kan jy uit Jesus se trane leer? Kom ons kyk na nog drie lesse.

12. Wat kan ons uit Jesus se trane vir ander oor Jehovah leer?

12 Jehovah gee om vir mense. Jesus se trane herinner ons aan hoe baie Jehovah vir mense omgee. “Hy . . . wil [nie] hê dat enigiemand vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal berou moet toon” (2 Pet. 3:9). Vandag wys ons dat ons mense in die bediening liefhet deur aan te hou om hulle harte met die goeie nuus te probeer bereik. – Matt. 22:39.

Wees aanpasbaar in die bediening, net soos Jesus (Sien paragraaf 13-14) *

13-14. Hoe het Jesus gewys dat hy meegevoel vir mense het, en hoe kan ons hierdie eienskap aanleer?

13 Jesus het hard gewerk in die bediening. Jesus het gewys dat hy ander liefhet deur elke geleentheid te gebruik om hulle te leer (Luk. 19:47, 48). Wat het hom gemotiveer om dit te doen? Jesus het meegevoel vir hulle gehad. Soms wou so baie mense na Jesus luister dat hy en sy dissipels “nie eers iets kon eet nie” (Mark. 3:20). En toe ’n man eenkeer met Jesus in die nag wou praat, was Jesus bereid om hom in die nag te leer (Joh. 3:1, 2). Die meeste mense wat na Jesus geluister het, het nie sy dissipels geword nie. Maar hy het vir almal ’n deeglike getuienis gegee. Vandag wil ons vir almal ’n geleentheid gee om die goeie nuus te hoor (Hand. 10:42). Om dit te doen, sal ons miskien aanpassings moet maak wanneer dit by ons bediening kom.

14 Wees bereid om aanpassings te maak. As ons nie op verskillende tye velddiens doen nie, sal ons miskien nie die mense vind wat graag oor die goeie nuus wil leer nie. ’n Pionier met die naam Matilda sê: “Ek en my man probeer om op verskillende tye velddiens te doen. Vroeg in die oggend doen ons besigheidsgebied. In die middel van die dag, wanneer baie mense op straat is, gebruik ons lektuurtrollies. Later in die dag doen ons huis-tot-huis-werk omdat ons dan meer mense by die huis kry.” In plaas daarvan om velddiens te doen wanneer dit ons pas, moet ons bereid wees om velddiens te doen wanneer ons die meeste mense in die hande kan kry. As ons dit doen, sal ons Jehovah se hart bly maak.

TRANE VIR SY VADER SE NAAM

Smeek Jehovah om jou te help wanneer jy angstig is, net soos Jesus gedoen het (Sien paragraaf 15-17) *

15. Volgens Lukas 22:39-44, wat het op die laaste aand voor Jesus se dood gebeur?

15 Op 14 Nisan 33 HJ het Jesus laat in die nag na die tuin van Getsemane gegaan. Daar het hy sy hart voor Jehovah uitgestort. (Lees Lukas 22:39-44.) Gedurende daardie moeilike ure het Jesus “met sterk uitroepe en trane smeekgebede . . . gedoen” (Heb. 5:7). Waarvoor het Jesus toe gebid? Hy het gebid vir krag om lojaal aan Jehovah te bly en om Sy wil te doen. Jehovah het gehoor hoe angstig sy Seun was, en hy het ’n engel gestuur om hom te versterk.

16. Hoekom was Jesus angstig terwyl hy in die tuin van Getsemane gebid het?

16 Jesus het heel moontlik in die tuin van Getsemane gehuil omdat hy angstig was dat mense hom sou beskou as iemand wat nie respek vir God se naam het nie. Hy het ook gedink aan die massiewe verantwoordelikheid wat hy gehad het om sy Vader se naam te regverdig. As jy deur ’n moeilike tyd gaan wat jou lojaliteit aan Jehovah toets, wat kan jy uit Jesus se trane leer? Kom ons kyk na nog drie lesse.

17. Hoekom het Jehovah na Jesus se gebede geluister?

17 Jehovah luister na jou smeekgebede. Jehovah het na Jesus se opregte gebede geluister. Hoekom? Want wat vir Jesus die belangrikste was, was om lojaal aan sy Vader te bly en om Sy naam te regverdig. As ons lojaliteit aan Jehovah en die regverdiging van sy naam vir ons die belangrikste is, sal hy ons help wanneer ons vir hulp vra. – Ps. 145:18, 19.

18. Hoekom kan ons sê dat Jesus vir ons ’n goeie vriend is wat verstaan hoe ons voel?

18 Jesus verstaan hoe ons voel. Wanneer ons angstig is, is ons baie bly om ’n vriend te hê wat verstaan hoe ons voel, veral een wat al dieselfde soort probleme ondervind het as ons. Jesus is vir ons so ’n vriend. Hy weet hoe dit voel om swak te wees en om hulp nodig te hê. Hy weet hoe dit is om ’n mens te wees. En hy sal sorg dat ons “op die regte tyd” die ondersteuning kry wat ons nodig het (Heb. 4:15, 16). Net soos Jesus die hulp van ’n engel in die tuin van Getsemane aanvaar het, moet ons bereid wees om die hulp te aanvaar wat Jehovah voorsien. Jehovah kan byvoorbeeld hierdie hulp voorsien in die vorm van ’n publikasie, ’n video, ’n toespraak of ’n aanmoedigende besoek van ’n ouerman of ’n ander broer of suster.

19. Hoe kan jy krag kry wanneer jy deur ’n moeilike tyd gaan wat jou lojaliteit aan God toets? Gee ’n voorbeeld.

19 Jehovah sal jou “die vrede van God” gee. Hoe sal Jehovah ons versterk? Wanneer ons bid, sal ons “die vrede van God [ontvang], wat alle denke oortref” (Fil. 4:6, 7). Die vrede wat Jehovah gee, help ons om kalm te wees en om helder te dink. Kyk na die voorbeeld van ’n suster met die naam Luz. Sy sê: “Ek sukkel met gevoelens van eensaamheid. As gevolg van daardie gevoelens voel ek soms asof Jehovah my nie liefhet nie. Maar wanneer dit gebeur, sê ek onmiddellik vir Jehovah hoe ek voel. Gebed help my om my gevoelens onder beheer te kry.” Soos Luz se ondervinding vir ons wys, kan gebed ons help om vrede te vind.

20. Watter lesse het ons uit Jesus se trane geleer?

20 Watter vertroostende en praktiese lesse het ons uit Jesus se trane geleer? Dit herinner ons dat ons ons vriende wat treur, moet ondersteun en dat ons moet vertrou dat Jehovah en Jesus ons sal ondersteun wanneer ons ’n geliefde in die dood verloor. Jehovah God en Jesus Christus se meegevoel vir ander motiveer ons om met meegevoel vir ander te preek en hulle te leer. En dit is vir ons vertroostend om te weet dat Jehovah en sy geliefde Seun verstaan hoe ons voel, dat hulle met ons swakhede simpatiseer en dat hulle ons wil help om te volhard. Mag ons aanhou om toe te pas wat ons geleer het totdat Jehovah sy wonderlike belofte vervul om “elke traan van [ons] oë” af te vee! – Op. 21:4.

LIED 120 Volg Christus se sagmoedigheid na

^ Soms was Jesus se gevoelens so intens dat hy nie sy trane kon keer nie. In hierdie artikel gaan ons kyk na drie geleenthede waar Jesus gehuil het en na die lesse wat ons daaruit kan leer.

^ Party name is verander.

^ Sien Insight on the Scriptures, Volume 2, bl. 69.

^ BESKRYWING VAN PRENT: Meegevoel het Jesus beweeg om Maria en Marta te vertroos. Ons kan dieselfde doen vir mense wat geliefdes in die dood verloor het.

^ BESKRYWING VAN PRENT: Jesus was bereid om Nikodemus in die nag te leer. Ons moet die Bybel met mense studeer op ’n tyd wat hulle pas.

^ BESKRYWING VAN PRENT: Jesus het gebid vir die krag om lojaal aan Jehovah te bly. Ons moet dieselfde doen wanneer ons deur ’n moeilike tyd gaan.