Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 16

Vind vreugde deur Jehovah jou beste te gee

Vind vreugde deur Jehovah jou beste te gee

“Laat elkeen sy eie dade ondersoek.” – GAL. 6:4.

LIED 37 Dien Jehovah heelhartig

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Wat gee ons baie vreugde?

 JEHOVAH wil hê dat ons gelukkig moet wees. Ons weet dit omdat vreugde ’n aspek van die vrug van sy heilige gees is (Gal. 5:22). Omdat dit ’n mens gelukkiger maak om te gee as om te ontvang, ondervind ons baie vreugde wanneer ons ons beste in die bediening gee en ons broers en susters op verskillende maniere help. – Hand. 20:35.

2-3. (a) Volgens Galasiërs 6:4, watter twee dinge sal ons help om ons vreugde in Jehovah se diens te behou? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 In Galasiërs 6:4 noem die apostel Paulus twee dinge wat ons sal help om ons vreugde te behou. (Lees.) Eerstens, ons doelwit moet wees om vir Jehovah ons beste te gee. As ons vir hom ons beste gee, moet ons gelukkig wees (Matt. 22:36-38). Tweedens, ons moenie onsself met ander vergelyk nie. Maak nie saak wat ons gesondheid, opleiding of natuurlike vermoëns ons in staat stel om te doen nie, ons moet teenoor Jehovah dankbaar wees vir wat ons in sy diens kan doen, want alles wat ons het, kom van hom af. Maar as ander meer sukses in ’n sekere aspek van die bediening het as ons, moet ons bly wees dat hulle hulle talente gebruik om Jehovah te prys eerder as vir selfsugtige redes. Ons moenie met hulle kompeteer nie. Ons moet eerder by hulle leer.

3 In hierdie artikel sal ons sien wat ons kan help wanneer ons mismoedig voel omdat ons nie alles in ons diens kan doen wat ons graag wil doen nie. Ons sal ook bespreek hoe ons ons talente ten volle in ons diens kan gebruik en wat ons uit die voorbeeld van ander kan leer.

WANNEER ONS BEPERKINGS HET

Wanneer ons dwarsdeur ons lewe ons beste gee, maak ons Jehovah se hart bly (Sien paragraaf 4-6) b

4. Wat kan ons mismoedig maak? Gee ’n voorbeeld.

4 As gevolg van die ouderdom en swak gesondheid kan party van ons nie alles doen wat ons graag in Jehovah se diens wil doen nie, en dit kan ons mismoedig laat voel. Dit is wat met Carol gebeur het. In die verlede het sy die voorreg gehad om te dien waar daar hulp nodig was. Gedurende daardie tyd het sy 35 Bybelstudies gehou en ’n hele paar mense gehelp om tot doop te vorder. Carol het ’n produktiewe bediening gehad! Maar toe het sy baie siek geword en moes sy die meeste van die tyd by die huis bly. Carol sê: “Ek weet dat ek as gevolg van my gesondheid nie so baie soos ander kan doen nie, maar dit laat my voel dat ek nie so getrou soos hulle is nie. Dit is ’n stryd tussen my begeertes en die werklikheid, en dit is vir my baie moeilik.” Carol wil graag alles doen wat sy kan vir Jehovah, en dit is beslis prysenswaardig! Ons God het baie meegevoel, en ons kan seker wees dat hy bly is omdat sy haar beste gee.

5. (a) Wat moet ons onthou wanneer ons nie alles kan doen wat ons graag in Jehovah se diens wil doen nie? (b) Soos ons in die prente sien, hoe het die broer nog altyd sy beste in Jehovah se diens gegee?

5 As jy soms mismoedig voel wanneer jy nie alles kan doen wat jy graag in Jehovah se diens wil doen nie, vra jouself: ‘Wat verwag Jehovah van my?’ Hy vra dat jy jou beste gee – wat dit ook al op die oomblik mag wees. Sê nou ’n suster in haar 80’s voel mismoedig omdat sy nie so baie in die bediening kan doen as toe sy in haar 40’s was nie. Sy dink nie dat haar beste vir Jehovah goed genoeg is nie. Maar is dit waar? Dink hieraan: As sy haar beste gegee het in haar 40’s en nog steeds haar beste gee in haar 80’s, het sy nooit opgehou om haar beste te gee nie. As ons begin voel dat ons diens nie vir Jehovah goed genoeg is nie, moet ons onthou dat Jehovah die een is wat besluit wat goed genoeg is. As ons ons beste gee, sal Jehovah in werklikheid vir ons sê: “Mooi so”! – Vergelyk Matteus 25:20-23.

6. Wat kan ons uit Maria se voorbeeld leer?

6 Ons sal dit makliker vind om vreugdevol te wees wanneer ons fokus op wat ons kan doen en nie op wat ons nie kan doen nie. Kyk na die voorbeeld van ’n suster met die naam Maria. Sy het ’n siekte wat beperk wat sy in die bediening kan doen. Aan die begin het sy depressief en waardeloos gevoel. Maar toe het sy gedink aan ’n suster in die gemeente wat bedlêend is, en Maria het toe besluit om te help. Maria sê: “Ek het reëlings gemaak om saam met haar telefoongetuieniswerk te doen en om saam met haar briewe te skryf. Elke keer nadat ons saamgewerk het, het ek gelukkig en tevrede gevoel wanneer ek by die huis aangekom het omdat ek my suster kon help.” Ons kan ook meer vreugde kry wanneer ons fokus op die dinge wat ons kan doen eerder as op die dinge wat ons nie kan doen nie. Maar sê nou ons kan meer doen? Of sê nou ons is baie goed in ’n sekere aspek van Jehovah se diens?

AS JY ’N GAWE HET – GEBRUIK DIT!

7. Watter raad het die apostel Petrus vir Christene gegee?

7 In sy eerste brief het die apostel Petrus Christene aangemoedig om enige gawes of talente wat hulle het, te gebruik om hulle broers en susters op te bou. Petrus het geskryf: “Gebruik die gawe in die mate waarin elkeen van julle dit ontvang het, om mekaar te dien as goeie bestuurders van God se onverdiende goedheid” (1 Pet. 4:10). Ons moenie huiwer om ons gawes ten volle te gebruik omdat ons bang is dat ander jaloers of mismoedig sal raak nie. As ons nie ons gawes ten volle gebruik nie, sal ons nie vir Jehovah ons beste gee nie.

8. Volgens 1 Korintiërs 4:6, 7, hoekom moet ons nie oor ons gawes spog nie?

8 Ons moet ons gawes ten volle gebruik, maar ons moet versigtig wees om nie daaroor te spog nie. (Lees 1 Korintiërs 4:6, 7.) Byvoorbeeld, jy het dalk baie sukses om Bybelstudies te begin. Gebruik daardie gawe ten volle. Maar dit is belangrik om te onthou dat ons nie oor ons gawes moet spog nie. Sê nou jy het ’n opwindende ondervinding in die bediening gehad en ’n Bybelstudie begin. Wel, dan sal jy seker nie kan wag om jou velddiensgroep daarvan te vertel nie. Maar wanneer jy met die groep begin werk, vertel ’n suster hoe sy ’n tydskrif geplaas het. Sy het ’n tydskrif geplaas, maar jy het ’n Bybelstudie begin. Wat sal jy doen? Jy weet dat jou ondervinding vir die groep aanmoedigend sal wees. Maar jy sal miskien besluit om te wag vir ’n ander gepaste geleentheid om dit te vertel sodat jy nie die vreugde van jou suster wat die tydskrif geplaas het, demp nie. Dit sal die liefdevolle ding wees om te doen. Maar moet asseblief nie ophou om Bybelstudies te begin nie. Jy het ’n gawe – gebruik dit!

9. Hoe moet ons ons gawes gebruik?

9 Ons moet onthou dat enige natuurlike vermoëns wat ons het, gawes van God is. Ons moet daardie gawes gebruik om die gemeente op te bou en nie om die aandag op onsself te vestig nie (Fil. 2:3). Wanneer ons ons energie en vermoëns gebruik om God se wil te doen, sal ons vreugde hê, nie omdat ons iets beter as ander doen nie, maar omdat ons ons gawes gebruik om Jehovah te prys.

10. Hoekom moet ons onsself nie met ander vergelyk nie?

10 As ons nie versigtig is nie, kan ons dalk in die strik trap om ons sterk punte met iemand anders se swak punte te vergelyk. Byvoorbeeld, ’n broer gee dalk uitstekende openbare toesprake. Dit is sy sterk punt. Maar in sy hart sien hy dalk neer op ’n broer wat sukkel om toesprake te gee. Maar daardie broer is dalk baie gasvry. Miskien lei hy sy kinders goed op, of dalk is hy ywerig in die bediening. Ons kan so dankbaar wees dat ons so baie talentvolle broers en susters het wat hulle gawes gebruik om Jehovah te dien en om ander te help!

LEER UIT DIE VOORBEELD VAN ANDER

11. Hoekom moet ons probeer om Jesus se voorbeeld na te volg?

11 Al moet ons onsself nie met ander vergelyk nie, kan ons nog steeds uit die voorbeeld van getroues leer. Ons kan byvoorbeeld uit Jesus se voorbeeld leer. Al was hy volmaak, kan ons leer om sy pragtige eienskappe na te volg (1 Pet. 2:21). Wanneer ons ons bes doen om sy voorbeeld na te volg, word ons beter knegte van Jehovah en beter verkondigers in die bediening.

12-13. Wat kan ons uit koning Dawid se voorbeeld leer?

12 In God se Woord vind ons baie voorbeelde van getroue manne en vroue wat ons kan navolg, al was hulle onvolmaak (Heb. 6:12). Dink aan koning Dawid. Jehovah het gesê dat hy “’n man na [sy] hart” was (Hand. 13:22). Maar Dawid was nie volmaak nie. Hy het eintlik ’n paar ernstige foute gemaak. Maar hy is nog steeds vir ons ’n goeie voorbeeld. Hoekom? Want toe Jehovah hom reggehelp het, het hy nie probeer om verskonings te maak vir wat hy gedoen het nie. Hy het die dissipline eerder aanvaar, en hy was regtig jammer oor wat hy gedoen het, en daarom het Jehovah hom vergewe. – Ps. 51:3, 4, 10-12.

13 Ons kan uit Dawid se voorbeeld leer en onsself vra: ‘Hoe reageer ek wanneer ek raad kry? Erken ek my foute of probeer ek om verskonings te maak vir wat ek gedoen het? Is ek gou om ander te blameer? Probeer ek hard om nie weer dieselfde foute te maak nie?’ En wanneer jy oor ander getroue manne en vroue in die Bybel lees, kan jy jouself soortgelyke vrae vra, soos: ‘Het hulle dieselfde soort uitdagings as ek ondervind? Watter goeie eienskappe het hulle gehad? Hoe kan ek meer soos hierdie lojale kneg van Jehovah wees?’

14. Hoe kan ons uit die voorbeeld van ons broers en susters leer?

14 Ons kan ook uit die voorbeeld van ons broers en susters leer, of hulle nou jonk of oud is. Byvoorbeeld, kan jy aan iemand in jou gemeente dink wat getrou bly ten spyte van baie moeilike omstandighede soos groepsdruk, teenstand van hulle familie of swak gesondheid? Het hy of sy pragtige eienskappe wat jy graag wil navolg? Hulle voorbeeld kan ons help om praktiese maniere te vind om te volhard wanneer ons deur moeilike tye gaan. Ons is so dankbaar dat ons broers en susters met sterk geloof het wat ons kan navolg! – Heb. 13:7; Jak. 1:2, 3.

VIND VREUGDE IN JOU DIENS AAN JEHOVAH

15. Watter raad het die apostel Paulus gegee wat ons kan help om aan te hou om vreugde in ons diens aan Jehovah te vind?

15 Om vrede en eenheid in die gemeente te bevorder, moet elkeen van ons ons beste gee. Dink aan die Christene in die eerste eeu. Hulle het verskillende gawes en toewysings gehad (1 Kor. 12:4, 7-11). Maar hulle het nie met mekaar gekompeteer en verdeeldheid veroorsaak nie. Paulus het hulle eerder aangemoedig “om die liggaam van die Christus op te bou”. Paulus het aan die Efesiërs geskryf: “As elke deel behoorlik funksioneer, dra dit by tot die groei van die liggaam, en so bou die liggaam homself in liefde op” (Ef. 4:1-3, 11, 12, 16). Almal wat dit gedoen het, het vrede en eenheid bevorder – eienskappe wat ons ook vandag in ons gemeentes sien.

16. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen? (Hebreërs 6:10)

16 Wees vasbeslote om jouself nie met ander te vergelyk nie. Leer eerder uit Jesus se voorbeeld en probeer om sy eienskappe na te volg. Leer uit Bybelvoorbeelde en uit die voorbeeld van broers en susters met sterk geloof. Terwyl jy aanhou om jou beste te gee, kan jy seker wees dat Jehovah ‘nie onregverdig is nie’ en dat ‘hy nie van [jou] werk sal vergeet nie’. (Lees Hebreërs 6:10.) Hou aan om vreugde te vind in jou diens aan Jehovah, en wees verseker dat hy alles waardeer wat jy doen om hom gelukkig te maak.

LIED 65 Gaan vooruit!

a Ons almal kan uit die voorbeeld van ander leer. Maar ons moet onsself nie met ander vergelyk nie. Hierdie artikel sal ons help om ons vreugde te behou en om nie trots of mismoedig te word wanneer ons sien wat ander in hulle diens aan Jehovah doen nie.

b BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer wat by Bethel gedien het toe hy jonk was. Ná Bethel het hy getrou en saam met sy vrou gepionier. Nadat hulle kinders gehad het, het hy hulle vir die bediening opgelei. Noudat hy oud is, hou hy aan om sy beste te gee deur briewe te skryf.