Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat sal God se Koninkryk doen?

Wat sal God se Koninkryk doen?

Jesus het sy dissipels geleer om te bid dat die Koninkryk moet kom. Hy het geweet dat die verskriklike dinge wat op die aarde gebeur, nie God se wil is nie en dat God se Koninkryk die enigste regering is wat hierdie probleme kan oplos. Wat sal God se Koninkryk doen?

WAT GOD SE KONINKRYK ALREEDS GEDOEN HET

In die vorige artikel het ons die teken bespreek wat Jesus gegee het. Daardie teken bewys dat God se Koninkryk alreeds in die hemel bestaan met Jesus Christus as Koning.

Volgens die Bybel sou Jesus Satan en sy demone uit die hemel gooi wanneer hy begin regeer. Nou het hulle net ’n invloed op wat op die aarde gebeur, en dit is een van die redes hoekom dinge vanaf 1914 so sleg geword het. – Openbaring 12:7, 9.

Al word toestande op die aarde al hoe slegter, het Jesus as Koning van God se Koninkryk, dinge gedoen om mense regoor die aarde te help. As gevolg van die wêreldwye Bybelonderrigtingswerk wat Jesus voorspel het, leer baie mense Bybelwaarhede en pas hulle dit in hulle lewe toe (Jesaja 2:2-4). Miljoene mense het geleer om hulle gesinslewe te verbeter en om nie toe te laat dat werk of materiële dinge die belangrikste in hulle lewe word nie. Hulle leer hoe om hulle lewe nou te verbeter en word die soort mense oor wie God wil hê sy Koninkryk moet regeer.

WAT SAL GOD SE KONINKRYK VOLGENDE DOEN?

Al regeer Jesus alreeds in die hemel, regeer mense nog steeds op die aarde. Maar God het vir Jesus gesê: “Gaan tussen jou vyande in en onderwerp hulle” (Psalm 110:2). Jesus sal binnekort al sy vyande heeltemal vernietig en verligting bring vir dié wat God gewillig gehoorsaam.

Binnekort sal God se Koninkryk die volgende doen:

  • Dit sal valse godsdienste vernietig. Godsdienste wat leuens oor God vertel het en die lewe vir mense moeilik gemaak het, sal vernietig word. Die Bybel beeld valse godsdiens as ’n prostituut uit. Wanneer dit vernietig word, sal dit baie mense skok. – Openbaring 17:15, 16.

  • Dit sal ’n einde maak aan alle regerings. God se Koninkryk sal ’n einde maak aan alle menseregerings. – Openbaring 19:15, 17, 18.

  • Dit sal slegte mense vernietig. Wat van mense wat weier om op te hou om slegte dinge te doen en wat weier om God te gehoorsaam? “Goddelose mense sal van die aarde af uitgeroei word.” – Spreuke 2:22.

  • Dit sal ’n einde maak aan Satan en die demone. Satan en die demone sal “die nasies nie meer [kan] mislei” nie. – Openbaring 20:3.

Hoe sal al hierdie dinge mense help wat God se Koninkryk aanvaar?

WAT GOD SE KONINKRYK VIR MENSE SAL DOEN

Wanneer Jesus as Koning in die hemel regeer, sal hy kan doen wat geen menseheerser ooit kon nie. Hy sal gehelp word deur 144 000 ander heersers wat uit die mensdom gekies is (Openbaring 5:9, 10; 14:1, 3). Hy sal seker maak dat God se wil hier op die aarde gedoen word. Wat sal God se Koninkryk vir die mense op die aarde doen?

  • Dit sal ’n einde maak aan siekte en die dood. “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie”, en “die dood sal nie meer daar wees nie”. – Jesaja 33:24; Openbaring 21:4.

  • Dit sal ware vrede en veiligheid bring. “Die vrede van jou kinders sal oorvloedig wees”, en “hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en niemand sal hulle bang maak nie”. – Jesaja 54:13; Miga 4:4.

  • Dit sal vir mense werk gee wat hulle geniet. “Dié wat ek uitgekies het, sal die werk van hulle hande ten volle geniet. Hulle sal nie verniet hard werk nie.” – Jesaja 65:22, 23.

  • Dit sal omgewingsprobleme oplos. “Die wildernis en die dorre land sal juig, en die woestyn sal vreugdevol en vol blomme wees.” – Jesaja 35:1.

  • Dit sal mense leer wat hulle moet doen om vir ewig te lewe. “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.” – Johannes 17:3.

God wil hê dat jy hierdie seëninge moet geniet (Jesaja 48:18). Die volgende artikel sal verduidelik wat jy nou al kan doen as jy hierdie wonderlike toekoms wil hê.