Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ouer manne, hoe voel julle daaroor om ander op te lei?

Ouer manne, hoe voel julle daaroor om ander op te lei?

“Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd.” —PREDIKER 3:1.

1, 2. Wat het kringopsieners in baie gemeentes opgemerk?

DIE kringopsiener was op die punt om sy vergadering met die ouer manne af te sluit. Hy het na die broers gekyk en diep liefde gevoel vir hierdie hardwerkende manne, van wie party oud genoeg was om sy pa te wees. Maar daar was iets belangriks waaroor hy bekommerd was. Hy het hulle gevra: “Broers, wat het julle gedoen om ander op te lei om meer verantwoordelikheid in die gemeente te aanvaar?” Die broers het geweet dat die kringopsiener hulle gedurende sy vorige besoek aangespoor het om meer tyd daaraan te bestee om ander op te lei. Uiteindelik het een van die ouer manne erken: “Ons het baie min gedoen.” Al die ander ouer manne het saamgestem.

2 As jy ’n ouer man is, sal jy moontlik ’n soortgelyke antwoord gee. Kringopsieners het opgemerk dat baie ouer manne meer tyd daaraan moet bestee om jonger en ouer broers op te lei om te help om na die gemeente om te sien. Maar dit kan baie moeilik wees. Waarom?

3. (a) Hoe toon die Bybel dat dit belangrik is om ander op te lei, en waarom moet ons almal in hierdie opleiding belangstel? (Sien voetnoot.) (b) Waarom kan dit vir party ouer manne moeilik wees om ander op te lei?

3 As ’n ouer man weet jy dat dit belangrik is om tyd daaraan te bestee om broers op te lei. * (Sien voetnoot.) Jy weet dat meer broers nodig is om te help om gemeentes nou sterk te hou en om nuwe gemeentes in die toekoms te ondersteun. (Lees Jesaja 60:22.) Die Bybel sê dat ouer manne “ander [moet] leer”. (Lees 2 Timoteus 2:2.) Maar dit kan moeilik wees om tyd te maak hiervoor. Jy moet na jou gesin omsien sowel as sekulêre werk doen. Jy moet ook na die behoeftes van die gemeente en na ander dringende sake omsien. Kom ons bespreek waarom dit noodsaaklik is om tyd te maak om ander op te lei, al is daar baie werk om te doen.

OPLEIDING IS DRINGEND

4. Waarom stel ouer manne soms die opleiding van broers uit?

4 Waarom kan dit moeilik wees om tyd te maak om broers in die gemeente op te lei? Party dink dalk: ‘Ander gemeentelike sake is dringender en moet onmiddellik aandag kry. Die gemeente sal nie daaronder ly as ek ander nie dadelik oplei nie.’ Is dit waar? Ander sake het miskien jou onmiddellike aandag nodig. Maar as jy die opleiding van broers uitstel, kan dit die gemeente in werklikheid benadeel.

5, 6. Wat kan ons leer uit die voorbeeld van ’n bestuurder en hoe hy sy motor in stand hou? Hoe kan ons dit vergelyk met opleiding in die gemeente?

5 Dink aan ’n voorbeeld. ’n Bestuurder weet dat die instandhouding van sy motor insluit dat hy die olie gereeld moet vervang. Maar hy meen dalk dat dit dringender is om brandstof in te gooi omdat die motor daarsonder sal gaan staan. Hy dink dalk ook dat hy die olie later kan vervang as hy nou te besig is. Die motor sal immers ’n tyd lank nog loop. Maar dit kan gevaarlik wees. As die bestuurder die olie nie vervang wanneer dit nodig is nie, sal dit die motor vroeër of later beskadig. Op die ou end sal hy baie tyd en geld daaraan moet bestee om die motor te herstel. Wat is die les?

6 Ouer manne moet so gou as moontlik na belangrike sake omsien. As hulle dit nie doen nie, sal die gemeente daaronder ly. Soos die bestuurder wat gereeld brandstof moet ingooi, moet ouer manne “seker . . . maak van die belangriker dinge” (Filippense 1:10). Maar party ouer manne raak dalk so besig met belangrike sake dat hulle nie tyd het om ander op te lei nie. Dit sal wees soos om ’n motor se olie nie te vervang nie. As ouer manne uitstel om broers op te lei, sal die gemeente vroeër of later nie genoeg opgeleide broers hê om na alles om te sien nie.

7. Hoe moet ons ouer manne beskou wat tyd maak om ander op te lei?

7 Moet dus nooit dink dat opleiding nie ’n prioriteit is nie. Ouer manne wat in die toekoms van die gemeente belangstel en wat tyd maak om ander op te lei, is wyse knegte en is van groot waarde vir hulle broers en susters. (Lees 1 Petrus 4:10.) Hoe vind die gemeente hierby baat?

TYD WAT WYSLIK GEBRUIK WORD

8. (a) Waarom moet ouer manne ander oplei? (b) Watter dringende verantwoordelikheid het ouer manne wat dien waar daar hulp nodig is? (Sien die venster “ ’n Dringende behoefte”.)

8 Selfs die mees ervare ouer manne moet beskeie wees en besef dat hulle ouer word en dat hulle later nie meer so baie sal kan doen as wat hulle nou doen nie (Miga 6:8). Ouer manne moet ook besef dat “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” dit skielik vir hulle moeilik kan maak om hulle verantwoordelikhede na te kom (Prediker 9:11, 12; Jakobus 4:13, 14). Omdat ouer manne lief is vir Jehovah se volk, werk hulle hard om jonger broers te leer wat hulle oor die jare geleer het.—Lees Psalm 71:17, 18.

9. Weens watter toekomstige gebeurtenis is opleiding noodsaaklik?

9 Ouer manne wat ander oplei, is ook waardevol omdat hulle pogings sal help om die gemeente te versterk. Hierdie opleiding stel meer broers in staat om die gemeente te help om verenig en getrou aan God te bly. Dit is nou, gedurende die laaste dae belangrik, en dit sal gedurende die komende groot verdrukking noodsaaklik wees (Esegiël 38:10-12; Miga 5:5, 6). Ons wil julle, ons dierbare ouer manne, dus aanspoor om gereeld tyd opsy te sit om ander van vandag af op te lei.

10. Wat sal ’n ouer man dalk moet doen om tyd te maak om ander op te lei?

10 Ons weet dat julle reeds baie besig is omdat julle na belangrike gemeentelike sake omsien. Daarom sal julle dalk van die tyd wat julle aan hierdie verantwoordelikhede bestee, opsy moet sit om ander op te lei (Prediker 3:1). As julle dit doen, gebruik julle julle tyd wyslik en sal dit die gemeente in die toekoms tot voordeel strek.

SKEP DIE REGTE OMSTANDIGHEDE

11. (a) Wat is opmerkenswaardig omtrent die wenke oor opleiding wat ouer manne van verskillende lande gegee het? (b) Waarom is dit volgens Spreuke 15:22 belangrik om die wenke van ander ouer manne te bespreek?

11 Ouer manne wat suksesvol is daarin om broers op te lei om meer in die gemeente te doen, is onlangs gevra hoe hulle dit doen. * (Sien voetnoot.) Al die ouer manne het soortgelyke raad gegee, hoewel hulle omstandighede baie verskil. Wat bewys dit? Dat leerlinge “oral in elke gemeente” baat vind by opleiding wat op die Bybel gegrond is (1 Korintiërs 4:17). In hierdie en die volgende artikel sal ons dus party van die wenke bespreek wat hierdie ouer manne gegee het (Spreuke 15:22). Diegene wat ander oplei, sal onderrigters genoem word, en diegene wat opleiding ontvang, sal leerlinge genoem word.

12. Wat moet ’n onderrigter skep, en waarom?

12 ’n Onderrigter moet eerstens die regte omstandighede skep. Waarom is dit belangrik? Net soos ’n tuinier die grond moet voorberei voordat hy saad saai, moet ’n onderrigter ’n leerling se hart voorberei voordat hy hom nuwe vaardighede kan leer. Hoe kan ’n onderrigter dus die regte omstandighede skep vir opleiding? Hy kan die voorbeeld volg van ’n vaardige onderrigter van die verlede, die profeet Samuel.

13-15. (a) Wat het Jehovah vir Samuel gesê om te doen? (b) Hoe het Samuel Saul vir sy nuwe toewysing voorberei? (Sien prent aan begin van artikel.) (c) Waarom is hierdie Bybelverslag oor Samuel nuttig vir ouer manne van vandag?

13 Eendag, meer as 3 000 jaar gelede, het Jehovah vir die bejaarde profeet Samuel gesê: “Môre omstreeks hierdie tyd sal ek ’n man uit die land van Benjamin na jou toe stuur, en jy moet hom as leier oor my volk Israel salf” (1 Samuel 9:15, 16). Samuel het geweet dat hy die nasie Israel nie meer sou lei nie en dat Jehovah wou hê dat hy ’n nuwe leier moet salf. Samuel het dus ’n idee gekry en ’n plan uitgedink om hierdie man vir die nuwe toewysing voor te berei.

14 Die volgende dag het Samuel Saul ontmoet, en Jehovah het vir die profeet gesê: “Hier is die man.” Samuel het dadelik presies gedoen wat hy beplan het. Hy het die regte geleentheid geskep om met Saul te praat. Samuel het Saul en sy dienaar na ’n maaltyd genooi en vir hulle die beste sitplekke gegee en vir Saul die beste van die vleis gegee. Samuel het gesê: “Eet, want hulle het dit tot die vasgestelde tyd vir jou bewaar.” Ná die maaltyd het Samuel vir Saul na sy huis genooi. Op pad daarheen het die twee mans lekker gesels. Toe hulle by Samuel se huis aankom, het hulle na die dak gegaan, en Samuel “het op die dak verder met Saul gepraat” totdat hulle gaan slaap het. Die volgende dag het Samuel Saul gesalf, hom gesoen en hom nog instruksies gegee. Daarna het Saul vertrek, voorbereid vir wat hierna sou gebeur.—1 Samuel 9:17-27; 10:1.

15 Samuel het Saul as leier van ’n nasie gesalf. Dit is natuurlik ’n heel ander saak om ’n broer op te lei om ’n ouer man of ’n bedieningskneg in die gemeente te wees. Maar ouer manne kan talle belangrike lesse leer uit die manier waarop Samuel Saul se hart voorberei het. Kom ons bespreek twee van hierdie lesse.

GEWILLIGE ONDERRIGTERS EN GOEIE VRIENDE

16. (a) Hoe het Samuel gevoel toe Israel vir ’n koning gevra het? (b) Hoe het Samuel gereageer toe Jehovah vir hom sê om Saul te salf?

16 Wees gewillig, moenie huiwer nie. Toe Samuel aanvanklik gehoor het dat die Israeliete ’n mensekoning wil hê, was hy teleurgesteld en het dit vir hom gevoel asof hulle hom verwerp het (1 Samuel 8:4-8). Jehovah moes drie keer vir hom sê om na die volk te luister, want Samuel wou nie vir hulle ’n koning gee nie (1 Samuel 8:7, 9, 22). Ten spyte van hierdie gevoelens was Samuel nie jaloers nie en het hy nie kwaad geword vir die man wat sy plek as leier sou inneem nie. Toe Jehovah vir hom sê om Saul te salf, het Samuel nie gehuiwer nie. Hy het die opdrag gewillig uitgevoer, nie net omdat hy moes nie, maar omdat hy Jehovah liefgehad het.

Onderrigters, julle moet tyd maak in julle besige rooster vir die leerling

17. Hoe volg ouer manne Samuel vandag na, en watter vreugde verskaf dit hulle?

17 Daar is vandag talle ervare ouer manne wat Samuel navolg en ander op ’n liefdevolle manier oplei (1 Petrus 5:2). Hierdie goedhartige ouer manne is gewillig om ander te onderrig en is nie bang om van hulle voorregte in die gemeente met die leerlinge te deel nie. Hulle beskou hierdie broers eerder as kosbare “medewerkers” wat hulle sal help om na die behoeftes van die gemeente om te sien (2 Korintiërs 1:24; Hebreërs 13:16). En dit verskaf hierdie onselfsugtige ouer manne vreugde om te sien hoe die leerlinge hulle vermoëns gebruik om Jehovah se volk te help.—Handelinge 20:35.

18, 19. Hoe kan ’n ouer man die hart van ’n leerling vir opleiding voorberei, en waarom is dit belangrik?

18 Wees ’n vriend, nie net ’n onderrigter nie. Toe Samuel Saul ontmoet het, kon die profeet hom onmiddellik as koning gesalf het deur die olie te neem en dit op sy kop uit te giet. Die nuwe koning sou dan gesalf gewees het, maar hy sou onvoorbereid gewees het om God se volk te lei. Samuel het eerder die tyd geneem om Saul se hart voor te berei vir sy nuwe toewysing. Voordat hy Saul gesalf het, het hulle saam geëet, ’n entjie gaan stap, lank gesels en selfs ’n bietjie gerus. Samuel het vir die regte tyd gewag om die nuwe koning te salf.

Die eerste stap om iemand op te lei, is om sy vriend te word (Sien paragrawe 18, 19)

19 Vandag kan ouer manne Samuel se voorbeeld navolg. Voordat ’n ouer man ’n broer begin oplei, moet hy probeer om met hom vriende te maak. Die stappe wat ’n ouer man doen om ’n hegte verhouding met ’n leerling op te bou, sal afhang van hulle omstandighede en kultuur. Maar ongeag waar jy woon, as jy in jou besige rooster tyd maak vir die leerling, sal hy besef dat hy vir jou belangrik is. (Lees Romeine 12:10.) Leerlinge sal jou liefdevolle sorg en aandag beslis baie waardeer.

20, 21. (a) Hoe sal jy ’n suksesvolle onderrigter beskryf? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

20 ’n Suksesvolle onderrigter hou daarvan om ander op te lei. Maar ’n suksesvolle onderrigter moet ook lief wees vir die persoon wat hy oplei. (Vergelyk Johannes 5:20.) Waarom is dit belangrik? Want as ’n leerling aanvoel dat jy werklik vir hom omgee, sal hy by jou wil leer. Ouer manne, julle moet dus probeer om nie net te onderrig nie, maar om ook ’n goeie vriend te wees.—Spreuke 17:17; Johannes 15:15.

21 Nadat ’n ouer man ’n leerling se hart voorberei het, kan hy hom begin oplei. Watter metodes kan die ouer man gebruik? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.

^ par. 3 Hierdie en die volgende artikel is spesifiek vir ouer manne geskryf. Maar almal moet in hierdie inligting belangstel. Waarom? Dit sal al die broers help besef dat hulle opleiding nodig het om meer in die gemeente te doen. As daar meer opgeleide broers is om in die gemeente te help, sal almal daarby baat vind.

^ par. 11 Hierdie ouer manne woon in Australië, Bangladesj, België, Brasilië, Frankryk, Frans-Guiana, Japan, Korea, Mexiko, Namibië, Nigerië, Réunion, Rusland, Suid-Afrika en die Verenigde State.