Wees gereed!
Wees gereed!
“Julle [moet] gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie.”—MATT. 24:44.
1, 2. (a) Watter gebeure wat in Bybelprofesie voorspel is, kan met ’n tieraanval vergelyk word? (b) Hoe raak die komende aanval jou?
’N BEKENDE dieretemmer het jare lank gehore vermaak met die vreedsame interaksie wat hy met sy afgerigte Bengaalse tiere gehad het. Hy het gesê: “As jy ’n dier se vertroue gewen het, voel dit of jy die pragtigste geskenk in die wêreld ontvang het.” Maar daardie vertroue het op 3 Oktober 2003 tot ’n einde gekom. Een van sy diere, ’n wit tier van 172 kilogram, het hom oënskynlik sonder rede aangeval. Hierdie aanval was heeltemal onverwags, en die afrigter was nie voorbereid nie.
2 Dit is opmerkenswaardig dat die Bybel ’n aanval van ’n “wilde dier” voorspel, en ons moet gereed wees. (Lees Openbaring 17:15-18.) Wie word deur hierdie dier aangeval? In ’n verbasende ommekeer draai die Duiwel se wêreld teen homself. Die skarlakenkleurige wilde dier stel die Verenigde Nasies voor, en “die tien horings” stel al die politieke magte voor. Hulle sal die hoeragtige Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, aanval en haar met geweld vernietig. Wanneer sal dit gebeur? Ons weet nie watter dag en uur dit sal wees nie (Matt. 24:36). Ons weet wel dat dit op ’n uur sal plaasvind wanneer ons dit nie verwag nie en dat die oorblywende tyd voor hierdie aanval kort is (Matt. 24:44; 1 Kor. 7:29). Dit is dus noodsaaklik dat ons geestelik gereed bly sodat Christus, wanneer hierdie aanval plaasvind en hy as Skerpregter kom, ook ons Verlosser sal wees! (Luk. 21:28). Iets wat ons sal help om hierdie toestand van gereedheid te bereik, is om te leer by getroue knegte van God wat gereed was en dus die vervulling van God se beloftes gesien het. Sal ons hierdie werklike ondervindinge ter harte neem?
Wees gereed—soos Noag
3. Watter toestande het dit vir Noag moeilik gemaak om God getrou te dien?
3 Ondanks die verskriklike toestande wat gedurende Noag se leeftyd op die aarde geheers het, was hy gereed om die vervulling van God se belofte te sien. Stel jou voor watter uitdagings Noag die hoof moes bied toe opstandige engele vleeslike liggame aangeneem en met aantreklike vroue saamgeleef het! Hierdie onnatuurlike verbintenisse het bomenslike nakomelinge voortgebring, “sterkes” wat hulle groter krag gebruik het om ander af te knou (Gen. 6:4). Dink aan die geweld wat aangeblaas is terwyl hierdie reuse verwoesting gesaai het oral waar hulle gegaan het. Gevolglik het goddeloosheid hoogty gevier, en mense se denke en gedrag het heeltemal verdorwe geraak. Die Soewereine Heer Jehovah het toe ’n goddelike verordening uitgevaardig wat die begin van die einde vir daardie goddelose wêreld aangedui het.—Lees Genesis 6:3, 5, 11, 12. a
4, 5. In watter opsigte is toestande in ons dag soortgelyk aan dié van Noag se dag?
4 Jesus het voorspel dat die toestande in ons dag soortgelyk sou wees aan dié in Noag se dag (Matt. 24:37). Ons sien byvoorbeeld ook inmenging deur bose geeste (Op. 12:7-9, 12). Hierdie demoonengele het in die dae van Noag vleeslike liggame aangeneem. Hoewel hulle nie nou meer menslike liggame kan aanneem nie, probeer hulle oor jonk sowel as oud beheer uitoefen. Agter die skerms put hierdie seksperverte genot uit die bose en verdorwe dade van diegene wat op die aarde deur hulle verderf kan word.—Ef. 6:11, 12.
5 God se Woord beskryf die Duiwel as “’n mensemoordenaar” en sê dat hy “die vermoë het om die dood te veroorsaak” (Joh. 8:44; Heb. 2:14). Hy is beperk in sy vermoë om die dood direk te veroorsaak. Maar hierdie boosaardige gees bevorder bedrog en misleiding. Hy laat moorddadige gesindhede in die harte en verstande van mense posvat. Byvoorbeeld, 1 uit elke 142 kinders wat in die Verenigde State gebore word, sal ’n moordslagoffer word. Dink jy dat Jehovah nou, wanneer sinlose geweld so algemeen is, minder aandag sal skenk as in Noag se dag? Sal hy versuim om op te tree?
6, 7. Hoe het Noag en sy gesin geloof en godvrugtige vrees geopenbaar?
6 Ná verloop van tyd is Noag in kennis gestel van God se besluit om ’n watervloed op die aarde te bring om alle vlees uit te delg (Gen. 6:13, 17). Jehovah het Noag beveel om ’n ark in die vorm van ’n reusekis te bou. Noag en sy gesin het dit begin bou. Wat het hulle gehelp om gehoorsaam en gereed te wees toe die tyd vir God se oordeel aanbreek?
7 Sterk geloof en godvrugtige vrees het Noag en sy gesin beweeg om te doen wat God beveel het (Gen. 6:22; Heb. 11:7). As gesinshoof het Noag geestelik waaksaam gebly en die verdorwenheid van daardie eertydse wêreld vermy (Gen. 6:9). Hy het geweet dat sy gesin daarteen moet waak om die gewelddadige weë en uittartende gesindheid van die mense om hulle aan te neem. Dit was belangrik dat hulle nie te betrokke raak by die alledaagse aangeleenthede van die lewe nie. God het vir hulle ’n werk gehad om te doen, en dit was noodsaaklik dat die hele gesin dit die middelpunt van hulle lewe maak.—Lees Genesis 6:14, 18.
Noag en sy gesin was gereed
8. Wat toon dat die lede van Noag se gesin godvrugtige toegewydheid beoefen het?
8 Die Bybelverslag vestig die aandag op die gesinshoof Noag, maar Noag se vrou en sy seuns en hulle vrouens was ook aanbidders van Jehovah. Die profeet Esegiël het dit bevestig. Hy het gesê dat Noag se kinders, as Noag in Esegiël se tyd gelewe het, nie op grond van hulle vader se regverdigheid verlos sou word nie. Hulle was oud genoeg om gehoorsaam of ongehoorsaam te wees. Hulle het dus persoonlik bewys gelewer van hulle liefde vir God en sy weë (Eseg. 14:19, 20). Noag se gesin het sy onderrigting aanvaar, het geloof gehad soos hy en het nie toegelaat dat die invloed van ander hulle godgegewe werk belemmer nie.
9. Watter hedendaagse voorbeelde van geloof soos dié van Noag kan ons noem?
9 Hoe aanmoedigend is dit tog vandag om in ons wêreldwye broederskap gesinshoofde te sien wat hulle bes doen om Noag na te volg! Hulle besef dat dit nie genoeg is om hulle gesin van kos, klere, onderdak en ’n opvoeding te voorsien nie. Hulle moet ook na hulle geestelike behoeftes omsien. Sodoende toon hulle dat hulle gereed is vir wat Jehovah binnekort sal doen.
10, 11. (a) Hoe het Noag en sy gesin ongetwyfeld gevoel terwyl hulle in die ark was? (b) Watter vraag kan ons ons gerus afvra?
10 Noag, sy vrou, sy seuns en hulle vrouens het moontlik ongeveer 50 jaar lank aan die ark gebou. Terwyl hulle die ark gebou het, het hulle ongetwyfeld honderde kere in en uit die ark gegaan. Hulle het dit waterdig gemaak, genoeg kos daarin opgeberg en die diere ingebring. Stel jou die toneel voor. Die groot dag breek uiteindelik aan. Op die 17de dag van die tweede maand van die jaar 2370 VHJ gaan hulle in die ark in. Jehovah sluit die deur toe, en dit begin reën. Dit is nie bloot ’n plaaslike oorstroming nie. Die watergewelf, of hemelse oseaan, skeur oop en ’n stortreën sak oor die ark uit (Gen. 7:11, 16). Die mense buite die ark sterf terwyl dié wat binne is, gered word. Hoe het Noag se gesin moontlik gevoel? Hulle was sekerlik innig dankbaar teenoor God. Maar hulle het ongetwyfeld gedink: ‘Hoe bly is ons tog dat ons met die ware God gewandel het en gereed was!’ (Gen. 6:9). Kan jy jou aan die ander kant van Armageddon voorstel, met ’n hart wat oorloop van soortgelyke waardering?
11 Niks kan keer dat die Almagtige sy belofte nakom om ’n einde aan hierdie sataniese stelsel van dinge te maak nie. Vra jou af: ‘Het ek die volle vertroue dat nie een van God se beloftes selfs in die kleinste besonderheid onvervuld sal bly nie en dat dit alles op die vasgestelde tyd vervul sal word?’ Indien wel, moet jy gereed wees deur die vinnig naderende “dag van Jehovah” goed in gedagte te hou.—2 Pet. 3:12.
Moses het waaksaam gebly
12. Wat kon Moses se geestelike sig belemmer het?
12 Kom ons kyk na nog ’n voorbeeld. Vanuit ’n vleeslike oogpunt het dit gelyk asof Moses in ’n besonder bevoorregte posisie in die Egiptiese wêreld was. As die aangenome seun van Farao se dogter is hy waarskynlik hooggeag en het hy die smaaklikste kos, die beste klere en die weelderigste omgewing geniet. Hy het omvattende onderrigting ontvang. (Lees Handelinge 7:20-22.) Hy sou moontlik ’n ontsaglike erfenis ontvang het.
13. Hoe het Moses sy aandag op God se beloftes gerig gehou?
13 Moses se vroeë opleiding deur sy ouers het hom klaarblyklik in staat gestel om te sien hoe dwaas die afgodediens was wat die Egiptenaars beoefen het (Eks. 32:8). Die onderwysstelsel van Egipte en die materiële weelde van die koninklike huis het Moses nie ware aanbidding laat verwerp nie. Hy moes diep nagedink het oor God se beloftes aan sy voorvaders en het ’n innige begeerte gehad om gereed te wees om God se wil te doen. Moses het immers vir die kinders van Israel gesê: “Jehovah, . . . die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.”—Lees Eksodus 3:15-17.
14. Hoe is Moses se geloof en moed op die proef gestel?
14 In teenstelling met al die afgode wat die lewelose gode van Egipte voorgestel het, was Jehovah, die ware God, vir Moses ’n werklike persoon. Hy het gelewe asof hy “die Onsigbare” kon sien. Moses het geloof gehad dat God se volk bevry sal word, maar hy het nie geweet wanneer nie (Heb. 11:24, 25, 27). Sy sterk begeerte om te sien dat die Hebreërs vrygelaat word, is geopenbaar toe hy ’n Israelitiese slaaf wat mishandel is, verdedig het (Eks. 2:11, 12). Maar dit was nie Jehovah se tyd nie, en daarom moes Moses as ’n vlugteling in ’n afgeleë land woon. Dit was ongetwyfeld vir hom moeilik om die gerieflike lewe aan die Egiptiese hof prys te gee vir ’n lewe in die wildernis. Tog was Moses gereed, omdat hy waaksaam gebly het ten opsigte van elke opdrag wat Jehovah hom gegee het. God kon hom dus gebruik om vir sy broers verligting te bring nadat hy 40 jaar in Midian was. Op God se bevel het Moses gehoorsaam na Egipte teruggekeer. Die tyd het aangebreek vir Moses om ’n goddelike opdrag uit te voer en om God se werk op God se manier te doen (Eks. 3:2, 7, 8, 10). Toe Moses, “die sagmoedigste van al die mense”, terug was in Egipte, het hy geloof en moed nodig gehad om voor Farao te verskyn (Num. 12:3). Hy het dit nie net een keer gedoen nie, maar herhaaldelik terwyl die plae die land getref het, en ná elke plaag het hy nie geweet hoeveel keer hy nog voor Farao sou moes verskyn nie.
15. Wat het Moses beweeg om, ondanks terugslae, op die uitkyk te bly na geleenthede om sy hemelse Vader te eer?
15 Gedurende die daaropvolgende 40 jaar, van 1513 VHJ tot 1473 VHJ, het Moses teleurstellings ondervind. Tog was hy op die uitkyk na geleenthede om Jehovah te eer en het hy sy mede-Israeliete heelhartig aangespoor om dit ook te doen (Deut. 31:1-8). Waarom? Omdat hy Jehovah se naam en soewereiniteit liewer gehad het as sy eie naam (Eks. 32:10-13; Num. 14:11-16). Ons moet ook ondanks teleurstellings of terugslae aanhou om God se heerskappy te ondersteun, vol vertroue dat hy op die heel verstandigste, regverdigste en beste manier optree (Jes. 55:8-11; Jer. 10:23). Is dit hoe jy voel?
Bly wakker!
16, 17. Waarom het Markus 13:35-37 groot betekenis vir jou?
16 “Bly op die uitkyk, bly wakker, want julle weet nie wanneer dit die vasgestelde tyd is nie” (Mark. 13:33). Jesus het hierdie waarskuwing gegee toe hy die teken bespreek het wat die voleinding van hierdie goddelose stelsel van dinge sou aandui. Dink aan die slotwoorde van Jesus se belangrike profesie, soos opgeteken deur Markus: “Hou . . . aan waak, want julle weet nie wanneer die heer van die huis kom nie, hetsy laat in die dag of middernag of met hanekraai of vroeg in die oggend; sodat hy, wanneer hy skielik kom, julle nie aan die slaap vind nie. Maar wat ek vir julle sê, sê ek vir almal: Hou aan waak.”—Mark. 13:35-37.
17 Jesus se vermaning is gedagteprikkelend. Hy het na vier verskillende nagwake verwys. Dit was moeilik om gedurende die laaste nagwaak wakker te bly, want dit het van omstreeks drieuur in die oggend tot sonsopkoms geduur. Krygskundiges beskou dit as die gunstigste tyd om die vyand aan te val, aangesien dit die beste geleentheid bied om hulle onverhoeds te oorval. Nou, wanneer die wêreld in geestelike sin vas aan die slaap is, voer ons moontlik ook ons grootste stryd om wakker te bly. Bestaan daar enige twyfel by ons dat ons “wakker” en “op die uitkyk” moet bly ten opsigte van die voorspelde einde en ons verlossing?
18. Watter voorreg van onskatbare waarde het ons as Jehovah se Getuies?
18 Die diereafrigter wat aan die begin genoem is, het die aanval deur die Bengaalse tier oorleef. Maar Bybelprofesieë toon onmiskenbaar dat nie valse godsdiens of die res van hierdie goddelose stelsel aan die naderende einde sal ontkom nie (Op. 18:4-8). Mag al God se knegte, jonk en oud, besef hoe ernstig dit is dat hulle hulle bes doen om, soos Noag en sy gesin, gereed te wees vir Jehovah se dag. Ons lewe in ’n godonterende wêreld waarin leraars van valse godsdiens, sowel as agnostici en ateïste, die spot dryf met die Skepper. Maar ons moet ons nooit in ’n posisie plaas waar ons beïnvloed kan word nie. Laat ons die voorbeelde wat ons bespreek het, ter harte neem en waaksaam bly ten opsigte van geleenthede om Jehovah as “die God van die gode”, ja, “die groot, magtige en vreesinboesemende God”, te verdedig en te eer.—Deut. 10:17.
[Voetnoot]
a Vir inligting oor die “honderd-en-twintig jaar” wat in Genesis 6:3 genoem word, sien Die Wagtoring van 15 Desember 2010, bladsy 30.
Onthou jy?
• Waarom was dit vir Noag nodig om voorkeur te gee aan sy gesin se geestelike behoeftes?
• In watter opsigte is ons tyd baie soos Noag se dag?
• Waarom het Moses, ondanks teleurstellings, sy oë op Jehovah se beloftes gerig gehou?
• Watter Bybelprofesieë beweeg jou om geestelik wakker te bly?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 25]
Noag en sy gesin het hulle aandag op Jehovah se werk gerig gehou
[Prent op bladsy 26]
God se betroubare beloftes het Moses gehelp om waaksaam te bly