Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Mylpale in die produksie van Bybels in Afrikatale

Mylpale in die produksie van Bybels in Afrikatale

Mylpale in die produksie van Bybels in Afrikatale

OPREGTE Bybellesers van Europa en Noord-Amerika het lank reeds besef dat mense van Afrika God se Woord in hulle eie taal moet kan lees. Met hierdie edele doel in gedagte het baie na Afrika gekom om Afrikatale te leer. Party het ’n geskrewe vorm vir tale ontwikkel en woordeboeke saamgestel. Daarna het hulle die Bybel in baie van die Afrikatale begin vertaal. Dit was geen maklike taak nie. “’n Man moes dalk jare lank soek voordat hy die regte woord vir selfs die eenvoudigste en mees basiese Christelike begrip gevind het”, verduidelik The Cambridge History of the Bible.

In 1857 het die Tswanas die eerste volk geword wat ’n volledige Bybelvertaling in een van Afrika se voorheen ongeskrewe tale gehad het. a Dit is in dele gedruk en gebind, nie as een boek nie. Met verloop van tyd het Bybelvertalings in ander Afrikatale verskyn. Baie van hierdie vroeë vertalings in Afrikatale het God se naam, Jehovah, bevat, in die Hebreeuse Geskrifte, of “Ou Testament”, sowel as in die Christelike Griekse Geskrifte, of “Nuwe Testament”. Maar hersiene uitgawes en nuwe vertalings is gepubliseer deur persone wat nie die heilige naam van die Outeur van die Bybel, Jehovah, gerespekteer het nie. Hulle het eerder die bygelowige Joodse tradisie gevolg waarvolgens die goddelike naam deur titels, soos God of Here, vervang is. Vir liefhebbers van God in Afrika het daar dus ’n behoefte ontstaan aan ’n Bybelvertaling wat die goddelike naam herstel.

Sedert die 1980’s het die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies daadwerklike pogings aangewend om die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in ’n aantal vername Afrikatale te vertaal. Gevolglik kan honderdduisende liefhebbers van die Bybel in Afrika vandag die Nuwe Wêreld-vertaling in hulle moedertaal lees. Tot dusver is die Nuwe Wêreld-vertaling, in sy geheel of gedeeltelik, beskikbaar in 17 Afrikatale.

Lesers van hierdie Bybels in Afrikatale is verheug om ’n vertaling te hê wat God se glorieryke naam, Jehovah, gebruik. Toe Jesus byvoorbeeld in die sinagoge in Nasaret opgestaan het, het hy sy opdrag aangekondig deur ’n deel van die boekrol van Jesaja te lees, waar sy Vader se naam voorkom (Jesaja 61:1, 2). Volgens Lukas se Evangelie soos weergegee in die Nuwe Wêreld-vertaling, het Jesus gelees: “Jehovah se gees is op my, want hy het my gesalf om goeie nuus aan die armes bekend te maak, hy het my uitgestuur om ’n vrylating aan die gevangenes te verkondig en ’n herstel van gesig aan die blindes, om die verbryseldes in vryheid weg te stuur, om Jehovah se aanneemlike jaar te verkondig.”—Lukas 4:18, 19.

In Augustus 2005 is nog ’n mylpaal in die produksie van Bybels in Afrikatale bereik. Gedurende daardie maand is meer as 76- 000 eksemplare van die Nuwe Wêreld-vertaling in tale wat in Afrika gepraat word, in die Suid-Afrikaanse takkantoor van Jehovah se Getuies gedruk en gebind. Hierdie getal het 30 000 Bybels in Shona ingesluit. Dié uitgawe is by die “Godvrugtige gehoorsaamheid”-streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies in Zimbabwe vrygestel.

Gedurende daardie onvergeetlike maand was besoekers aan die Suid-Afrikaanse takkantoor verheug om te sien hoe nuwe Bybels in Afrikatale geproduseer word. “Ek was baie bly en opgewonde oor die voorreg om ’n aandeel te hê aan die produksie van die Nuwe Wêreld-vertaling in Shona en ander Afrikatale”, het Nhlanhla gesê, ’n lid van die Bethelgesin wat in die boekbindery werk. Hy som inderdaad die gevoelens van die hele Suid-Afrikaanse Bethelgesin op.

Nuwe Bybels sal die mense in Afrika nou gouer bereik en meer ekonomies wees as toe dit oorsee geproduseer en daarvandaan verskeep is. Nog belangriker, mense in Afrika het nou geredelike toegang tot ’n juiste vertaling wat die heilige naam van die grootse Outeur van die Bybel, Jehovah God, gebruik.

[Voetnoot]

a Teen 1835 was die Bybel al in Malgassies van Madagaskar vertaal, en teen 1840 in Amharies van Etiopië. Hierdie tale het ’n geskrewe vorm gehad lank voordat die Bybel daarin vertaal is.

[Prent op bladsy 12]

Die goddelike naam in ’n Tswana-Bybel wat in 1840 gepubliseer is

[Erkenning]

Harold Strange Library of African Studies

[Prent op bladsy 13]

Besoekers uit Swaziland kyk hoe nuwe Bybels by die Suid-Afrikaanse takkantoor geproduseer word