Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ek is beloon vir my godvrugtige toegewydheid

Ek is beloon vir my godvrugtige toegewydheid

Lewensverhaal

Ek is beloon vir my godvrugtige toegewydheid

SOOS VERTEL DEUR WILLIAM AIHINORIA

Ek het in die middel van die nag wakker geword van my pa se bekende gekreun. Hy het op die grond rondgerol en sy maag vasgehou. Ek, my ma en my ouer suster het om hom gekniel. Toe dit lyk of die pyn bedaar, het hy regop gesit, gesug en gesê: “Net Jehovah se Getuies het vrede op hierdie aarde.” Die opmerking was verwarrend, maar dit het ’n diep indruk op my gemaak omdat ek nooit tevore van Jehovah se Getuies gehoor het nie. Ek het gewonder wat hy bedoel het.

DIT het in 1953 gebeur toe ek ses jaar oud was. Ek was deel van ’n veelwywige huisgesin in Ewossa, ’n landboudorpie in die midde-weste van Nigerië. Ek was die tweede kind, maar die eerste seun in ’n gesin wat later uit my pa se 3 vrouens en 13 kinders bestaan het. Ons het almal in my oupa se kleihuis gewoon, wat ’n grasdak en vier vertrekke gehad het. Die huishouding het ook my ouma en my pa se drie broers, sowel as hulle gesinne, ingesluit.

My lewe as kind was glad nie aangenaam nie. Dit was veral my pa se swak gesondheid wat hiertoe bygedra het. Hy het chroniese maagpyn gehad, ’n toestand wat voortgeduur het tot sy dood baie jare later. Sy onbekende kwaal kon nie genees word deur enige mediese behandeling—met kruie of konvensionele metodes—wat ’n gesin op die platteland in Afrika kon bekostig nie. Ons het baie nagte langs my pa gesit en huil terwyl hy van die pyn op die vloer rondgerol het tot die haan die volgende oggend gekraai het. In sy soeke na ’n geneesmiddel vir sy siekte het hy dikwels saam met my ma gaan reis en my en my broers en susters in my ouma se sorg gelaat.

Ons gesin het ’n bestaan gemaak deur jam, kassawe en kolaneute te verbou en te verkoop. Soms het ons rubberbome getap om ons skamele inkomste aan te vul. Jam was ons stapelvoedsel. Ons het jam in die oggend geëet, jam in die middag fyngestamp en jam weer in die aand geëet. Nou en dan het ons ’n bietjie verskeidenheid gehad wanneer ons geroosterde meelpiesangs geëet het.

Vooroueraanbidding het ’n belangrike rol in ons lewe gespeel. Ons familie het kos geoffer aan stokke waaraan porseleinskulpe vasgemaak is. My pa het ook ’n afgod aanbid om bose geeste en hekse weg te hou.

Toe ek vyf jaar oud was, het ons tydelik van ons dorpie af weggetrek na ’n plaaskamp sowat 11 kilometer daarvandaan. Daar het my pa Guinee-siekte opgedoen, wat sy maagkwaal nog verder vererger het. Hy kon bedags nie werk nie, en snags het sy maagkrampe hom geteister. Ek het sandvlooisiekte, ’n vorm van tifus, opgedoen. Gevolglik het ons van aalmoese van ons uitgebreide familie gelewe. Ons het eerder teruggetrek na ons dorpie Ewossa as om van ellende te sterf. My pa wou hê dat ek, sy oudste seun, eendag nie net ’n bestaansboer moes wees nie. Hy het gemeen dat ’n goeie geleerdheid my in staat sou stel om die gesin se lewenstandaard te verhoog en my broers en susters te help grootmaak.

Blootstelling aan verskillende godsdienste

Terug in ons dorpie kon ek met my skoolopleiding begin. Dit het my blootgestel aan die godsdienste van die Christendom. In die 1950’s was Westerse onderrig nou verbonde aan die godsdiens van die koloniale regering. Aangesien ek in ’n Katolieke laerskool was, het dit beteken dat ek ’n Rooms-Katoliek moes wees.

In 1966, die jaar toe ek 19 geword het, is ek na die Pilgrim Baptist-hoërskool in die dorp Ewohinmi, omtrent 8 kilometer van Ewossa af. Daar het my godsdiensonderrig verander. Omdat ek nou in ’n Protestantse skool was, het die Katolieke priesters my verbied om die mis op Sondae te gebruik.

Terwyl ek by hierdie Baptiste-skool was, is ek vir die eerste keer aan die Bybel blootgestel. Hoewel ek na die Katolieke kerk bly gaan het, het ek elke Sondag ná die Katolieke kerkdiens die Bybel op my eie gelees. Die leringe van Jesus Christus het my geboei en ’n begeerte by my gewek om ’n betekenisvolle lewe van godvrugtige toegewydheid te lei. Hoe meer ek die Bybel gelees het, hoe meer het die huigelary van party godsdiensleiers en die onsedelike lewenswyse van baie leke my gewalg. Wat ek onder diegene gesien het wat gesê het dat hulle Christene is, het grootliks verskil van wat Jesus en sy dissipels geleer en gedoen het.

Daar was veral sekere voorvalle wat my geskok het. Toe ek eenkeer na die kategis se voorraadkamer gegaan het om ’n rosekrans te koop, het ek ’n tooramulet aan die voorraadkamer se deurkosyn sien hang. ’n Ander keer het die hoof van die Baptiste-skool my seksueel probeer molesteer. Ek het agterna uitgevind dat hy ’n homoseksueel was en ook ander gemolesteer het. Ek het oor hierdie dinge nagedink en gewonder: ‘Keur God godsdienste goed waarvan die lede en selfs die leiers nie aanspreeklik gehou word vir growwe sondes nie?’

Ek verander van godsdiens

Ek het nietemin baie gehou van wat ek in die Bybel gelees het en het my voorgeneem om dit aan te hou doen. Dit was toe dat ek begin terugdink het aan my pa se opmerking ongeveer 15 jaar tevore: “Net Jehovah se Getuies het vrede op hierdie aarde.” Maar ek was skrikkerig, want die jong Getuies in my skool is gespot en soms gestraf omdat hulle nie vir oggendgodsdiens by ons wou aansluit nie. En van hulle opvattings het vir my vreemd geklink. Dit was byvoorbeeld moeilik vir my om te glo dat net 144 000 hemel toe gaan (Openbaring 14:3). Omdat ek graag hemel toe wou gaan, het ek gewonder of hierdie getal dan nie al voor my geboorte vol was nie.

Dit was duidelik dat die Getuies se gedrag en gesindheid anders was. Hulle was nie betrokke by die onsedelike en gewelddadige bedrywighede van ander jongmense op skool nie. Vir my was hulle werklik afgeskeie van die wêreld, en ek het in die Bybel gelees dat diegene wat ware aanbidding beoefen, so moet wees.—Johannes 17:14-16; Jakobus 1:27.

Ek het besluit om verdere ondersoek in te stel. In September 1969 het ek die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe in die hande gekry. Die volgende maand het ’n pionier, soos ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies genoem word, ’n studie met my begin. My eerste studie het my geïnspireer, en ek het die Waarheid-boekie op ’n Saterdagaand begin lees en dit teen die volgende middag deurgelees. Ek het my medeskoliere onmiddellik begin vertel van die wonderlike dinge wat ek gelees het. Die leerlinge en onderwysers het gedink dat my nuutgevonde geloof besig was om my tot kranksinnigheid te dryf. Maar ek het geweet dat ek nie besig was om kranksinnig te word nie.—Handelinge 26:24.

Die nuus dat ek ’n nuwe geloof verkondig, het my ouers se ore bereik. Hulle het my gevra om dadelik terug te kom huis toe sodat hulle kon vasstel wat my probleem was. Ek kon niemand om raad vra nie, want al die Getuies het na een van hulle streekbyeenkomste in Ilesha gegaan. Toe ek by die huis kom, het my ma en ander familielede my met vrae en kritiek gebombardeer. Ek het my bes gedoen om die dinge wat ek geleer het met behulp van die Bybel te verdedig.—1 Petrus 3:15.

Nadat my oom tevergeefs probeer bewys het dat Jehovah se Getuies valse leraars is, het hy ’n ander benadering probeer. Hy het ’n beroep op my gedoen: “Onthou dat jy skool toe is om ’n geleerdheid te kry. As jy jou studies los en jou geloof gaan verkondig, sal jy nooit klaar studeer nie. Waarom wag jy nie liewer totdat jy met skool klaarmaak voordat jy by hierdie nuwe godsdiens aansluit nie?” Op daardie tydstip het dit redelik geklink, en daarom het ek opgehou om saam met die Getuies te studeer.

In Desember 1970, onmiddellik nadat ek my skoolloopbaan voltooi het, het ek reguit na die Koninkryksaal gegaan, en sedertdien woon ek die vergaderinge van Jehovah se Getuies by. Op 30 Augustus 1971 is ek gedoop om my toewyding aan God te simboliseer. Dit het nie net my ouers nie, maar ook die hele gemeenskap geskok. Hulle het gesê dat ek hulle teleurgestel het, want ek was die eerste persoon in en om Ewossa wat ’n studiebeurs van die staat ontvang het. Baie het hoë verwagtinge vir my gekoester. Hulle het gehoop dat ek my geleerdheid sou gebruik om die gemeenskap te verbeter.

Gevolge van my verandering

My familie en die oudstes van die gemeenskap het ’n afvaardiging gestuur om my te probeer oorreed om my geloof prys te gee. Hulle pogings het met vloeke gepaardgegaan. “As jy nie hierdie godsdiens los nie”, het hulle gesê, “is jou toekoms gedoem. Jy sal nie werk kry nie. Jy sal nie jou eie huis bou nie. Jy sal nie kan trou en ’n gesin kan grootmaak nie.”

In stryd met hulle negatiewe voorspellings het ek tien maande nadat ek met skool klaargemaak het, werk as ’n onderwyser gekry. In Oktober 1972 het ek met my geliefde vrou, Veronica, getrou. Later het die staat my opgelei as ’n landbouvoorligtingsbeampte. Ek het my eerste motor gekoop en ons huis begin bou. Op 5 November 1973 is ons eerste dogter, Victory, gebore, en in die daaropvolgende jare het ons ook Lydia, Wilfred en Joan gehad. In 1986 is ons laaste kind, Micah, gebore. Al ons kinders is vir ons kosbaar, ’n erfdeel van Jehovah.—Psalm 127:3.

Wanneer ek terugkyk, kan ek sê dat die bose wense van die gemeenskap almal in seëninge verander het. Daarom het ek ons eerste dogter Victory genoem. Die gemeenskap het onlangs aan my geskryf en gesê: “Ons wil asseblief hê dat jy huis toe moet kom en met die ontwikkeling van ons gemeenskap moet help, noudat God jou seën.”

Ons voed ons kinders in God se weë op

Ek en my vrou het besef dat ons nie ons godgegewe verantwoordelikheid om ons kinders op te voed, kon kombineer met die najaging van materiële rykdom nie. Ons het derhalwe geleer om tevrede te wees met ’n eenvoudige lewe. Ons verkies om eerder so te lewe as om die moontlike gevolge te verduur wat ’n ander lewenswyse kan meebring.

Dit is iets algemeens in ons deel van die wêreld om ’n huis met ander gesinne te deel en dieselfde badkamer, kombuis, ensovoorts te gebruik. Gelukkig was dit vir ons moontlik om altyd woonplekke met privaat geriewe te huur in al die dorpe waarheen ek as ’n staatswerker verplaas is. Hierdie soort verblyf was weliswaar duurder, maar dit het voorkom dat ons kinders te veel aan onheilsame invloede blootgestel word. Ek dank Jehovah dat ons oor die jare ons kinders in ’n geestelik gesonde milieu kon grootmaak.

Daarbenewens het my vrou tuis gebly om by ons kinders te wees en na hulle om te sien. Wanneer ek van die werk af kom, probeer ons om as ’n gesin dinge saam te doen. Enigiets wat ons doen, doen ons as ’n span. Dit geld ook vir ons gesinsbybelstudie, voorbereiding vir gemeentelike vergaderinge en die bywoning daarvan, deelname aan die Christelike bediening sowel as sosiale bedrywighede.

Ons het die raad van Deuteronomium 6:6, 7 probeer volg, wat ouers aanspoor om hulle kinders nie net tuis te leer nie, maar by elke geleentheid. Dit het die kinders gehelp om vriende eerder binne die gemeente te soek as daarbuite. Hulle het uit ons voorbeeld geleer om te let op hulle assosiasie, want ek en Veronica bring nie te veel tyd deur in die geselskap van mense wat nie dieselfde oortuigings as ons het nie.—Spreuke 13:20; 1 Korintiërs 15:33.

Ons leiding en onderrigting was natuurlik nie die enigste positiewe invloed in ons kinders se lewe nie. Ons huis het nog altyd oopgestaan vir ywerige Christene, waarvan baie reisende bedienaars van Jehovah se Getuies is. Die tyd wat hierdie ryp Christene saam met ons gesin deurgebring het, het ons kinders die geleentheid gebied om hulle selfopofferende lewenswyse te aanskou en daaruit te leer. Dit het ons onderrigting versterk, en die kinders het Bybelwaarheid hulle eie gemaak.

Beloon vir godvrugtige toegewydheid

Vandag is ek en my vrou, tesame met vier van ons kinders, in die voltydse bediening. Ek het aanvanklik in 1973 met die pionierdiens begin. Deur die jare heen moes ek soms weens ekonomiese omstandighede my voltydse bediening onderbreek. Ek het ook van tyd tot tyd die voorreg gehad om deel te neem aan die onderrigting by die Koninkryksbedieningskool, wat opleiding voorsien aan Christenopsieners van Jehovah se Getuies. Tans geniet ek die voorreg om op ’n Hospitaalskakelkomitee te dien sowel as om die stadsopsiener van Uhonmora te wees.

My eerste twee dogters, Victory en Lydia, is gelukkig getroud met goeie Christen- ouer manne. Hulle en hulle mans dien by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Igieduma, Nigerië. Ons oudste seun, Wilfred, is ’n bedieningskneg, en ons jongste, Micah, dien van tyd tot tyd as ’n hulppionier. In 1997 het Joan haar hoërskoolloopbaan voltooi en met gewone pionierdiens begin.

Van die dinge wat ek die meeste in die lewe geniet, is om ander te help om Jehovah God te dien. Dit het al lede van my uitgebreide familie ingesluit. My pa het probeer om Jehovah te dien, maar die beoefening van veelwywery het hom teruggehou. Van jongs af was ek lief vir mense. Wanneer ek ander sien ly, voel dit of my probleme nie so erg is nie. Ek dink hulle sien my opregte begeerte om hulle te help, en dit maak dit makliker vir hulle om met my te praat.

Een van die mense wat ek gehelp het om ’n kennis van God se voornemens op te doen, is ’n jong man wat bedlêend is. Terwyl hy vir ’n kragvoorsieningsmaatskappy gewerk het, het hy ’n geweldige elektriese skok gekry wat hom van die bolyf af ondertoe verlam het. Hy het tot ’n Bybelstudie ingestem en geleidelik begin reageer op wat hy geleer het. Toe hy op 14 Oktober 1995 in ’n stroom naby ons huis gedoop is, was dit die eerste keer in 15 jaar dat hy van sy bed af verskuif is. Hy het gesê dat dit die gelukkigste dag van sy lewe was. Hy is nou ’n bedieningskneg in die gemeente.

Ek moet sê dat ek geensins spyt is dat ek sowat 30 jaar gelede besluit het om Jehovah saam met sy verenigde, toegewyde volk te dien nie. Onder hulle het ek ware liefde in aksie gesien. Selfs as die hoop op ewige lewe nie deel was van Jehovah se beloning aan sy getroue knegte nie, sou ek nog steeds ’n lewe van godvrugtige toegewydheid wou lei (1 Timoteus 6:6; Hebreërs 11:6). Dit is die weg wat my lewe gevorm en vastigheid gegee het en wat aan my en my gesin vreugde, tevredenheid en geluk verskaf het.

[Prent op bladsy 25]

Saam met my vrou en kinders in 1990

[Prent op bladsy 26]

Saam met my vrou en kinders en twee skoonseuns