Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kerk en Staat in Bisantium

Kerk en Staat in Bisantium

Kerk en Staat in Bisantium

DIE stigter van die Christelike geloof het baie duidelik getoon dat daar ’n skerp onderskeid moet wees tussen sy volgelinge en die mensdom wat van God vervreemd is. Jesus het vir sy volgelinge gesê: “As julle ’n deel van die wêreld was, sou die wêreld lief wees vir wat syne is. En omdat julle geen deel van die wêreld is nie, maar ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle” (Johannes 15:19). Vir Pilatus, ’n verteenwoordiger van die politieke mag van sy dag, het Jesus gesê: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie.”—Johannes 18:36.

Christene moes daarteen waak dat hulle aandag deur sekulêre dinge afgetrek word, ten einde hulle verantwoordelikheid na te kom om “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” te getuig (Handelinge 1:8). Soos Jesus, het die vroeë Christene nie by die politiek betrokke geraak nie (Johannes 6:15). Dit was opmerklik dat getroue Christene nie openbare poste of administratiewe ampte beklee het nie. Dit het uiteindelik verander.

“Deel van die wêreld”

’n Ruk nadat die laaste van die apostels gesterf het, het godsdiensleiers hulle beskouing oor hulleself en die wêreld gewilliglik begin verander. Hulle het hulle ’n “koninkryk” begin voorstel wat nie net ín die wêreld was nie, maar ook ’n deel daarvan was. ’n Kykie na hoe godsdiens en die politiek verstrengel geraak het in die Bisantynse Ryk—die Oos-Romeinse Ryk, met Bisantium (nou Istanboel) as sy hoofstad—is insiggewend.

In ’n gemeenskap waar godsdiens tradisioneel ’n groot rol gespeel het, het die Bisantynse Kerk, met sy setel in Bisantium, aansienlike mag uitgeoefen. Die kerkgeskiedskrywer Panayotis Christou het eenkeer gesê: “Die Bisantyne het hulle aardse ryk gesien as ’n beeld van die Koninkryk van God.” Die keiserlike owerheid het egter nie altyd daardie beskouing gedeel nie. Gevolglik was die verhouding tussen Kerk en Staat met tye stormagtig. The Oxford Dictionary of Byzantium sê: “Die biskoppe van Konstantinopel [of Bisantium] se gedrag het grootliks van mekaar verskil; daar was onder meer lafhartige gedienstigheid aan ’n magtige heerser . . . , lonende samewerking met die troon . . . en sterk verset teen die keiserlike wil.”

Die patriarg van Konstantinopel, die hoof van die Oostelike Kerk, het ’n baie invloedryke figuur geword. Dit was hy wat die keiser gekroon het, en daar is dus van hom verwag om ’n ywerige verdediger van die Ortodokse Kerk te wees. Die patriarg was ook baie ryk, aangesien hy die ontsaglike bates van die kerk beheer het. Sy mag het net soveel gespruit uit sy gesag oor die tallose monnike as uit sy invloed oor die leke.

Die patriarg was dikwels in ’n posisie waarin hy die keiser kon teëstaan. Hy kon hom dreig met ekskommunikasie—en so in die naam van God sy wil afdwing—of gebruik maak van ander metodes waardeur daar van keisers ontslae geraak kon word.

Namate burgerlike administrasie buite die hoofstad geleidelik afgeneem het, het biskoppe dikwels die magtigste manne in hulle stede geword, met net soveel mag as provinsiale goewerneurs, wat hulle help verkies het. Biskoppe het aandag geskenk aan hofsake en sekulêre aangeleenthede wanneer die kerk ook al betrokke was—en ook soms wanneer dit nie betrokke was nie. ’n Bydraende faktor was die feit dat priesters en monnike, wat almal aan hulle plaaslike biskoppe onderworpe was, by die tienduisende getel het.

Politiek en simonie

Soos hierbo getoon is, het die herdersamp onlosmaaklik met die politiek verstrengel geraak. Daarbenewens het die groot getalle geestelikes en hulle godsdiensbedrywighede noodwendig daartoe gelei dat groot somme geld hierby betrokke was. Die meeste hooggeplaaste geestelikes het in weelde gelewe. Namate die kerk mag en rykdom verkry het, het apostoliese armoede en heiligheid verdwyn. Sommige priesters en biskoppe het vir hulle aanstelling betaal. Simonie was tot by die hoogste range van die hiërargie iets algemeens. Geestelikes wat deur welgestelde drukgroepe ondersteun is, het voor die keiser meegeding om kerklike ampte.

Omkoopgeld is ook gebruik om senior godsdiensleiers te beïnvloed. Toe die keiserin Zoë (c. 978-1050 G.J.) haar man Romanus III laat vermoor het en sy met haar minnaar en die toekomstige keiser Michael IV wou trou, het sy patriarg Aleksius inderhaas na die paleis ontbied. Daar het die patriarg te hore gekom van Romanus se dood en van die patriargale diens wat van hom verwag is. Dat die kerk daardie aand Goeie Vrydag gevier het, het nie sake vir Aleksius vergemaklik nie. Hy het egter die milddadige geskenke wat die keiserin hom aangebied het, aanvaar en aan haar versoek voldoen.

Onderworpe aan die keiser

Gedurende die geskiedenis van die Bisantynse Ryk, het die keiser met tye sy reg de facto gebruik om iemand aan te stel wanneer dit gekom het by die keuse van die patriarg van Konstantinopel. Gedurende sulke tydperke kon niemand teen die keiser se wil patriarg word of lank een bly nie.

Keiser Andronikus II (1260-1332) het dit nodig gevind om die patriarg nege keer te vervang. In die meeste van hierdie gevalle was die oogmerk om die toegeeflikste kandidaat moontlik op die patriargale troon te plaas. Volgens die boek The Byzantines het een patriarg selfs die keiser op skrif belowe “om enigiets te doen wat hy beveel, ongeag hoe onwettig, en om niks te doen wat hom mishaag nie”. Daar was twee gevalle waar keisers hulle wil op die kerk probeer afdwing het deur ’n prins van die koninklike familie as patriarg in te seën. Keiser Romanus I het sy seun Teofilakt, wat maar net 16 jaar oud was, tot die amp van patriarg verhef.

As ’n patriarg hom nie behaag het nie, kon die vors hom dwing om van sy amp afstand te doen of kon hy ’n sinode beveel om hom uit sy amp te ontslaan. Die boek Byzantium sê: “In die loop van die Bisantynse geskiedenis het hoër owerhede en selfs die direkte invloed van die keiser ’n al hoe groter rol in die keuse van biskoppe [begin] speel.”

Met die patriarg aan sy sy, het die keiser ook kerkvergaderinge gelei. Hy het debatte gelei, geloofsartikels geformuleer en met biskoppe sowel as met ketters geargumenteer, vir wie hy die finale argument gehad het—dood aan die folterpaal. Die keiser het ook die geloofsreëls wat in die raadsvergadering aangeneem is, bevestig en in werking gestel. Hy het diegene wat hom teëgestaan het, nie net van lèse-majesté aangekla nie, maar ook daarvan dat hulle vyande van die geloof en van God is. “Daar moet niks in die Kerk gedoen word wat teenstrydig is met die wil en bevele van die Keiser nie”, het ’n sesde-eeuse patriarg gesê. Die biskoppe verbonde aan die hof—vleierige, toegeeflike manne, beïnvloedbaar deur heimlike gunsbewyse en slim onderhandeling—het gewoonlik net so min beswaar gemaak as hulle meerdere.

Byvoorbeeld, toe patriarg Ignatius (c. 799-878 G.J.) geweier het dat hoofminister Bardas kommunie gebruik, het die minister dit nie daar gelaat nie. Bardas het Ignatius onder verdenking gebring van ’n beweerde sameswering en hoogverraad. Die patriarg is in hegtenis geneem en verban. Om Ignatius te vervang, het die minister die verkiesing van Fotius bewerkstellig, ’n leek wat binne ses dae die leer van alle kerkordes geklim het en uiteindelik die posisie van patriarg bereik het. Het Fotius die kwalifikasies vir daardie geestelike amp gehad? Hy is beskryf as ’n man “met ’n verterende ambisie, ongelooflike verwaandheid en onoortreflike politieke vernuf”.

Dogma in die diens van politiek

Ortodoksie en kettery het dikwels politieke teenkanting verberg, en baie keisers is eerder deur politieke faktore beïnvloed as ’n begeerte om nuwe leerstellings in te bring. Oor die algemeen het die keiser hom die reg voorbehou om dogma voor te skryf en die kerk te dwing om aan sy wil onderworpe te wees.

Byvoorbeeld, keiser Heraklius (575-641 G.J.) het hard probeer om ’n skeuring te heel wat ontstaan het oor die natuur van Christus en wat gedreig het om sy kwynende en swak ryk te verdeel. Hy het ’n kompromis probeer aangaan deur ’n nuwe leerstelling bekend as Monoteletisme in te bring. a Toe het Heraklius, om die getrouheid van die suidelike provinsies van sy ryk te verseker, ’n nuwe patriarg uit Aleksandrië gekies, Sirus van Phasis, wat die keiser se leerstelling ondersteun het. Die keiser het Sirus nie net patriarg gemaak nie, maar ook prefek van Egipte, met gesag oor sy plaaslike heersers. Deur ’n mate van vervolging te gebruik om druk uit te oefen, het Sirus daarin geslaag om die goedkeuring van die grootste deel van die Egiptiese kerk te kry.

’n Bitter oes

Hoe kon hierdie verwikkelinge en gebeure die woorde en gees van Jesus se gebed weerspieël waarin hy gesê het dat sy volgelinge “geen deel van die wêreld” sou wees nie?—Johannes 17:14-16.

In die Bisantynse tyd en later het verklaarde Christenleiers se betrokkenheid by politieke en militêre aangeleenthede van die wêreld hulle duur te staan gekom. Wat vertel hierdie kort oorsig van die geskiedenis jou? Het die leiers van die Bisantynse Kerk God en Jesus Christus se guns gewen?—Jakobus 4:4.

Die ware Christelike godsdiens word nie deur sulke ambisieuse godsdiensleiers en hulle politieke minnaars bevorder nie. Hierdie onheilige vermenging van godsdiens en politiek het die suiwer godsdiens wat deur Jesus geleer is, verdraai. Mag ons uit die geskiedenis leer en voortgaan om “geen deel van die wêreld” te wees nie.

[Voetnoot]

a Volgens Monoteletisme het Christus, hoewel hy as God en mens twee nature het, net een wil.

[Venster/Prent op bladsy 10]

‘SOOS ’N GOD WAT DEUR DIE HEMELE STAP’

Die gebeure rondom patriarg Michael Cerularius (c. 1000-1059) is kenmerkend van die rol wat die hoof van die kerk in staatsaangeleenthede kon speel en die ambisies wat daarby betrokke was. Nadat Cerularius die patriargaat verkry het, het hy hoër gemik. Hy is beskryf as verwaand, aanmatigend en onversetlik—“met ’n houding soos dié van ’n god wat deur die hemele stap”.

Uit ’n begeerte na selfbevordering het Cerularius in 1054 die skeuring met die Pous in Rome aangestook, en die keiser verplig om die skeuring te aanvaar. Cerularius was bly oor hierdie oorwinning en het gereël dat Michael VI op die troon geplaas word en hom gehelp om sy mag te verstewig. ’n Jaar later het Cerularius daardie keiser gedwing om sy amp neer te lê en het hy Isak Comnenus (c. 1005-1061) op die troon geplaas.

Die konflik tussen die patriargaat en die ryk het vererger. Cerularius—verseker van openbare steun—het van dreigemente, eise en geweld gebruik gemaak. ’n Geskiedskrywer van dieselfde tyd het gesê: “Hy het die Keiser se ondergang in alledaagse, onverfynde taal voorspel en gesê: ‘Ek het jou verhef, jou idioot; maar ek sal jou breek.’” Isak Comnenus het hom egter in hegtenis laat neem, opgesluit en na Imbros verban.

Sulke voorbeelde toon hoeveel probleme die patriarg van Konstantinopel kon veroorsaak en hoe kragtig hy die keiser kon teëstaan. Die troon het dikwels konfrontasies gehad met sulke manne, geslepe politici, wat in staat was om keiser en leër te trotseer.

[Kaart/Prent op bladsy 9]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Grootste omvang van die Bisantynse Ryk

Ravenna

Rome

MASEDONIË

Konstantinopel

Swart See

Nicea

Efese

Antiogië

Jerusalem

Aleksandrië

Middellandse See

[Erkenning]

Kaart: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prente op bladsy 10, 11]

Comnenus

Romanus III (links)

Michael IV

Keiserin Zoë

Romanus I (links)

[Erkennings]

Comnenus, Romanus III en Michael IV: Courtesy Classical Numismatic Group, Inc.; Keiserin Zoe: Hagia Sophia; Romanus I: Photo courtesy Harlan J. Berk, Ltd.

[Prent op bladsy 12]

Fotius

[Prent op bladsy 12]

Heraklius en seun

[Erkennings]

Heraklius en seun: Photo courtesy Harlan J. Berk, Ltd.; al die ontwerpe, bladsye 8-12: From the book L’Art Byzantin III Ravenne Et Pompose