Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 VOORBLADONDERWERP

Jou selle—Lewende biblioteke!

Jou selle—Lewende biblioteke!

IN 1953 het die molekulêre bioloë James Watson en Francis Crick ’n ontdekking gepubliseer wat ’n keerpunt was in hoe ons lewe volgens die wetenskap verstaan. Hulle het ontdek dat die DNS se struktuur ’n dubbele heliks is. * Hierdie draadagtige molekules—wat meestal in die kern van selle gevind word—bevat gekodeerde, of “geskrewe”, inligting. Dit wil sê dat selle as ’t ware lewende biblioteke is. Hierdie verbasende ontdekking het ’n nuwe era in biologie ingelui! Maar watter doel dien die “skrif” in selle? En nog interessanter: Hoe het dit daar gekom?

 WAAROM SELLE INLIGTING NODIG HET

Het jy al ooit gewonder hoe ’n saadjie ’n boom word of hoe ’n bevrugte eiersel ’n mens word? Het jy al gewonder hoe jy jou karaktertrekke oorgeërf het? Die antwoorde op hierdie vrae hou verband met die inligting wat in DNS gevind word.

Byna alle selle bevat DNS, ’n komplekse molekule wat soos ’n lang, gedraaide touleer lyk. Die menslike genoom, oftewel ons volledige stel DNS, bestaan uit ongeveer driemiljard chemiese sporte, of “trappe”. Wetenskaplikes noem hierdie trappe basispare omdat elke trap uit twee chemiese stowwe bestaan, waarvan daar altesaam vier is. Die eerste letter van elkeen van hierdie stowwe word as die afkorting daarvoor gebruik, naamlik A, G, S en T—’n eenvoudige “alfabet” met vier letters. * In 1957 het Crick aangevoer dat dit die lineêre volgorde van die chemiese trappe is wat die gekodeerde instruksies vorm. In die 1960’s het wetenskaplikes ’n beter begrip van hierdie kode begin kry.

Inligting, hetsy in die vorm van prente, klanke of woorde, kan op baie maniere geberg en verwerk word. Rekenaars doen dit byvoorbeeld digitaal. Maar lewende selle berg en verwerk inligting chemies, en DNS is die vernaamste chemiese samestelling wat hiervoor gebruik word. DNS word oorgedra wanneer selle verdeel en organismes voortplant—vermoëns wat as kenmerkende eienskappe van lewe beskou word.

Hoe gebruik selle inligting? Dink aan DNS as ’n versameling resepte, waarvan die prosesse stap vir stap uitgevoer moet word en elke stap noukeurig en presies uiteengesit word. Die eindresultaat is egter nie ’n koek of ’n tert nie, maar ’n pampoen of ’n koei.  In lewende selle vind die prosesse natuurlik heeltemal outomaties plaas, en dit maak die hele proses nog komplekser en meer gesofistikeerd.

Die inligting in ’n bakteriesel sou ’n boek met 1 000 bladsye vul

Genetiese inligting word geberg totdat dit nodig is, moontlik om selle wat siek of oud is met gesonde, nuwe selle te vervang of om karaktertrekke aan nakomelinge oor te dra. Hoeveel inligting bevat DNS? Kyk na een van die kleinste organismes, bakterieë. Die Duitse wetenskaplike Bernd-Olaf Küppers het gesê: “As ’n mens die molekulêre teks wat die samestelling van ’n bakteriesel beskryf, in menslike taal sou omskakel, sou dit ’n boek met duisend bladsye vul.” Dit is om goeie rede dat die chemieprofessor David Deamer geskryf het: “Die kompleksiteit van selfs die eenvoudigste vorm van lewe is ontsagwekkend.” Hoe vergelyk dit met die menslike genoom? “[Dit] sou ’n biblioteek met duisende boeke vul”, sê Küppers.

“SO GESKRYF DAT ONS DIT KAN VERSTAAN”

Om die skrif in DNS as “molekulêre genetiese taal” te beskryf, is nie “bloot ’n metafoor” nie, sê Küppers. “Soos menslike taal”, sê hy, “het molekulêre genetiese taal ook reëls oor sinsbou.” Eenvoudig gestel, DNS het “grammatika”, of ’n stel reëls, wat streng reguleer hoe die instruksies daarin saamgestel en uitgevoer word.

Die “woorde” en “sinne” in DNS vorm die verskeie “resepte” waarvolgens proteïene en ander stowwe, die boustene van die verskillende soorte selle in die menseliggaam, vervaardig word. Die “resep” bevat byvoorbeeld die instruksies vir die vervaardiging van beenselle, spierselle, senuweeselle of velselle. “Die DNS-draad is inligting, ’n boodskap wat geskryf is in ’n chemiese kode, een chemikalie vir elke letter”, het die evolusionis Matt Ridley geskryf. “Dit is amper te goed om te glo, maar die kode is so geskryf dat ons dit kan verstaan.”

Die Bybelskrywer Dawid het in gebed aan God gesê: “U oë het selfs my embrio gesien, en in u boek was al die dele daarvan opgeskrywe” (Psalm 139:16). Dawid het natuurlik poëtiese taal gebruik. Maar in beginsel was hy in die kol, wat kenmerkend is van die Bybelskrywers. Hulle is nie in die minste deur die verbeeldingryke volksverhale of  die mitologie van ander eertydse volke beïnvloed nie.—2 Samuel 23:1, 2; 2 Timoteus 3:16.

Hoe word karaktertrekke van ouers aan ’n kind oorgedra?

HOE HET DIE SKRIF DAAR GEKOM?

Wanneer wetenskaplikes een raaisel verduidelik, lei dit dikwels tot nog ’n raaisel. Dit was ook die geval toe DNS ontdek is. Toe daar uitgevind is dat DNS gekodeerde inligting bevat, het denkende mense gevra: ‘Hoe het die inligting daar gekom?’ Niemand het natuurlik gesien toe die eerste DNS-molekule gevorm is nie, en daarom moet ons ons eie gevolgtrekkings maak. Maar ons hoef nie hieroor te spekuleer nie. Kyk na die volgende voorbeelde.

  • In 1999 is fragmente van baie ou erdewerk waarop daar ongewone merke, of simbole, is, in Pakistan gevind. Hierdie simbole is nog steeds nie ontsyfer nie. Nogtans word daar aangeneem dat dit deur mense gemaak is.

  • ’n Paar jaar nadat Watson en Crick die struktuur van DNS ontdek het, het twee fisikusse gedink dat dit ’n goeie idee sou wees om na gekodeerde radioseine uit die ruimte te soek. So het die hedendaagse soektog na buiteaardse intelligensie begin.

Wat is die punt? Mense neem aan dat inligting die gevolg is van intelligensie, hetsy daardie inligting in die vorm van simbole op klei of seine uit die ruimte is. Hulle hoef nie te sien hoe die inligting geskep word om tot hierdie gevolgtrekking te kom nie. Maar toe die mees gesofistikeerde kode wat aan die mens bekend is—die chemiese kode van lewe—ontdek is, het baie hierdie logiese redenasie opsygestoot en gesê dat DNS die produk van onintelligente prosesse is. Is dit redelik? Is dit konsekwent? Is dit wetenskaplik? ’n Aantal gerespekteerde wetenskaplikes sê nee. Dit sluit dokter Gene Hwang en professor Yan-Der Hsuuw in. * Kyk na wat hulle gesê het.

Dokter Gene Hwang bestudeer die wiskundige grondslag van genetika. Hy het voorheen in evolusie geglo, maar sy navorsing het sy beskouing verander. Hy het vir Ontwaak! gesê dat die studie van genetika hom insig gegee het in die ontwerp en werking van lewende dinge. Hy sê verder: “Hierdie insig het my met ontsag vir die Skepper se wysheid vervul.”

Professor Yan-Der Hsuuw is die direkteur van embrionavorsing by Taiwan se Nasionale Pingtung-universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Hy het ook voorheen in evolusie geglo—totdat sy navorsing hom tot ’n ander gevolgtrekking laat kom het. Hy het aangaande die verdeling en spesialisering van selle gesê: “Die regte selle moet in die regte volgorde en op die regte plekke vervaardig word. Hulle groepeer eers saam om weefsel  te vorm wat daarna organe of ledemate vorm. Watter ingenieur kan daarvan droom om instruksies vir so ’n proses te skryf? Tog word die instruksies vir die ontwikkeling van ’n embrio uitstekend in DNS uiteengesit. Wanneer ek dink aan hoe wonderlik dit alles is, oortuig dit my dat lewe deur God ontwerp is.”

Gene Hwang (links) en Yan-Der Hsuuw

MAAK DIT SAAK?

Geregtigheid vereis dat die antwoord ja moet wees! As God lewe geskep het, verdien God die eer daarvoor, nie evolusie nie (Openbaring 4:11). En as ’n alwyse Skepper ons geskep het, is ons hier vir ’n rede. Dit sou nie die geval gewees het as lewe die gevolg van onintelligente prosesse was nie. *

Ja, denkende mense smag na bevredigende antwoorde. “Die mens se soeke na die doel van die lewe is sy grootste motivering”, het Viktor Frankl, ’n voormalige professor in Neurologie en Psigiatrie, gesê. Anders gestel, ons het ’n geestelike behoefte wat ons graag wil bevredig—’n behoefte wat net sin maak as ons deur God geskep is. En as ons wel deur God geskep is, het hy dit dan vir ons moontlik gemaak om ons geestelike behoefte te bevredig?

Jesus Christus het daardie vraag beantwoord en gesê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah [of, God] se mond kom” (Matteus 4:4). Jehovah se woorde, wat in die Bybel opgeteken is, het die geestelike behoefte van miljoene bevredig. Dit gee hulle ’n sinvolle lewe en ’n hoop vir die toekoms (1 Tessalonisense 2:13). Mag die Bybel dit ook vir jou doen. Hierdie unieke boek verdien op die minste dat jy dit ondersoek.

^ par. 3 Watson en Crick het voortgebou op die werk van ander wat vroeër navorsing gedoen het oor DNS, wat staan vir deoksiribonukleïensuur.—Sien die venster “ DNS—Belangrike datums.”

^ par. 6 Die letters staan vir adenien, guanien, sitosien en timien.

^ par. 18 ’n Hele paar onderhoude met gerespekteerde wetenskaplikes kan gevind word op ons webwerf, jw.org/af. Gaan na PUBLIKASIES > AANLYN BIBLIOTEEK, en tik “onderhoud wetenskaplike” in die soekvenster in.

^ par. 22 Die kwessie van die skepping teenoor evolusie word breedvoeriger bespreek in die brosjure Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe en Is lewe geskep?, beskikbaar op www.jw.org/af.