Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ONDERHOUD | FRÉDÉRIC DUMOULIN

‘Ek is oortuig dat ’n Skepper bestaan’

‘Ek is oortuig dat ’n Skepper bestaan’

Frédéric Dumoulin doen al meer as ’n dekade lank farmaseutiese navorsing by die Universiteit van Gent in België. Hy was vroeër ’n ateïs. Maar later het Frédéric oortuig geword dat God lewe geskep het. Ontwaak! het met Frédéric—wat nou een van Jehovah se Getuies is—gesels oor sy werk en sy geloof.

Was godsdiens deel van jou lewe as kind?

Ja. My ma was Rooms-Katoliek. Maar toe ek oor die Kruistogte en die Inkwisisie gelees het, het ek ’n afkeer van godsdiens gekry en wou ek niks meer daarmee te doen hê nie. Ek het ook oor nie-Christelike godsdienste gelees en gesien dat hulle glad nie beter is nie. Toe ek 14 was, het ek geredeneer dat al die verdorwenheid in godsdiens bewys dat God nie bestaan nie. Ek is op skool die evolusieteorie geleer en het dus tot die slotsom gekom dat lewe deur middel van natuurlike prosesse ontstaan het.

Waarom het jy in die wetenskap begin belangstel?

Ek het ’n mikroskoop present gekry toe ek sewe was, en dit het my gunstelingspeelding geword. Ek het dit gebruik om onder andere interessante insekte, soos vlinders, te ondersoek.

Wat het jou in die oorsprong van lewe laat belangstel?

Toe ek 22 was, het ek ’n wetenskaplike ontmoet wat een van Jehovah se Getuies is. Sy het geglo dat God lewe geskep het. Dit was vir my baie vreemd. Ek het gedink dat ek maklik sou kon bewys dat haar geloof in God belaglik is. Maar tot my verbasing het sy sinvolle antwoorde op my vrae gehad. Ek het nuuskierig geword oor mense wat aan God glo.

’n Paar maande later het ek ’n ander Getuie ontmoet wat ’n goeie mediese kennis gehad het. Toe hy aangebied het om vir my te verduidelik wat hy glo, het ek sy aanbod aanvaar omdat ek wou weet waarom mense aan God glo. Ek wou hom reghelp.

Het jy hom oortuig dat hy verkeerd is?

Nee, ek het nie. Ek het teorieë oor die oorsprong van lewe begin  navors. Tot my verbasing het ek uitgevind dat party vooraanstaande wetenskaplikes sê dat selfs die eenvoudigste lewende sel so ingewikkeld is dat dit nie op die aarde kon ontstaan het nie. Party van hulle dink dat hierdie selle hulle oorsprong in die buitenste ruimte gehad het. Baie wetenskaplikes stem nie saam oor hoe lewe begin het nie.

Is daar iets waaroor hulle saamstem?

Vreemd genoeg, baie wetenskaplikes is dit eens dat lewe op die een of ander manier deur middel van natuurlike prosesse uit nielewende materie voortgespruit het. Ek het begin wonder: ‘As hulle nie weet hoe lewe sonder ’n Skepper ontstaan het nie, hoe kan hulle dan so seker wees dat dit so gebeur het?’ Ek het begin ondersoek instel na wat die Bybel oor die oorsprong van lewe sê.

Watter gevolgtrekking het jy oor die Bybel gemaak?

Hoe meer ek omtrent die Bybel geleer het, hoe meer oortuig was ek dat dit waar is. Wetenskaplikes het byvoorbeeld eers onlangs bewyse gevind dat die heelal ’n begin gehad het. Maar die eerste vers van die Bybel, wat ongeveer 3 500 jaar gelede geskryf is, sê: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” * Ek het gevind dat die Bybel altyd akkuraat is wanneer dit na wetenskaplike sake verwys.

Ek het gevind dat die Bybel altyd akkuraat is wanneer dit na wetenskaplike sake verwys

Het jou kennis van die wetenskap dit vir jou moeilik gemaak om aan God te glo?

Nee. Toe ek aan God begin glo het, het ek die wetenskap reeds drie jaar lank aan ’n universiteit gestudeer. En hoe meer ek vandag nog omtrent die ontwerp van lewende dinge leer, hoe meer oortuig word ek dat ’n Skepper bestaan.

Kan jy vir ons ’n voorbeeld gee?

Ja. Ek het die uitwerking bestudeer wat geneesmiddels en gifstowwe op lewende wesens het. ’n Ontwerp wat my beïndruk, is hoe ons brein teen gevaarlike stowwe en teen bakterieë beskerm word. Daar is ’n skans wat ons bloed afgeskei hou van ons breinselle.

Waarom is dit merkwaardig?

Meer as honderd jaar gelede het navorsers opgelet dat stowwe wat in die bloedstroom opgeneem word, elke deel van die liggaam binnegaan—behalwe die brein en die rugmurg. Hierdie feit is vir my verstommend omdat ’n ontsaglike netwerk van klein haarvaatjies bloed na elke sel in die brein neem. Alle breinselle word deur bloed gereinig, gevoed en van suurstof voorsien. Hoe kan daar dan ’n skans wees wat ons bloed afgeskei hou van ons breinselle? Dit was jare lank ’n raaisel.

Hoe werk die skans?

Mikroskopiese bloedvate is nie soos plastiekbuise wat hulle inhoud afgeskei hou van wat buite is nie. Die wande van bloedvate bestaan uit selle. Stowwe en mikrobes kan deur hierdie selle sowel as tussen hulle deur beweeg. Maar die selle waaruit die bloedvate in ons brein bestaan, is anders. Hulle is styf aan mekaar vas. Hierdie selle en die verbindings tussen hulle is verbasend. ’n Groot aantal ingewikkelde meganismes verseker dat party stowwe—soos suurstof, koolstofdioksied en glukose—op ’n beheerde wyse tussen die bloedstroom en die brein beweeg. Maar ander stowwe, proteïene en selle word uitgehou. Die bloed-brein-skans werk dus op ’n molekulêre vlak om fisiese, chemiese en elektriese skanse te voorsien. Ek is oortuig dat hierdie ontwerp eenvoudig nie deur middel van evolusie kon ontstaan het nie.