Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 IS DIT ONTWERP?

Die meganiese ratte van die Issus-blaarspringer

Die meganiese ratte van die Issus-blaarspringer

DAAR word al lank gedink dat meganiese ratte alleenlik die produk van die mens se vindingrykheid is. Hierdie beskouing is verkeerd bewys! Inmekaarpassende ratte is in ’n insek ontdek—die jong Issus-blaarspringer, wat in tuine regoor Europa voorkom. *

’n Jong blaarspringer kan binne net twee duisendstes van ’n sekonde ’n snelheid van 3,9 meter per sekonde bereik. Tydens die sprong word die insek se liggaam aan ’n krag van byna 200 keer dié van swaartekrag onderwerp! Hy kan in ’n oogwink verdwyn. Sulke spronge vereis dat die insek se twee agterbene presies dieselfde hoeveelheid krag op presies dieselfde tyd uitoefen. Hoe doen hy dit?

Dink hieraan: Wetenskaplikes het twee inmekaarpassende ratte ontdek op die punt waar die blaarspringer se twee agterbene aan sy liggaam geheg is. Wanneer die insek spring, verseker hierdie ratte dat albei bene heeltemal gesinchroniseer is. As dit nie die geval was nie, sou die insek ná ’n sprong onbeheerbaar tol!

Mense en groter diere maak staat op hulle senuweestelsel om hulle bene te sinchroniseer wanneer hulle spring. Maar senuwee-impulse sou vir die jong blaarspringer te stadig gewees het. Daarom het hy twee inmekaarpassende ratte. “Ons dink gewoonlik aan ratte as masjienonderdele wat deur mense ontwerp is”, sê die skrywer en navorser Gregory Sutton. Die rede hiervoor is dat “ons nie hard genoeg [op ander plekke] gesoek het nie”, voeg hy by.

Wat dink jy? Het die meganiese ratte van die Issus-blaarspringer deur middel van evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?

^ par. 3 Die ratte val weg tydens die insek se laaste vervelling voordat dit volwasse is.