Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Jongmense vra

Is ek ’n mislukking?

Is ek ’n mislukking?

Ek het minderwaardig gevoel teenoor een van my vriendinne. Sy het alles so maklik reggekry—dit het gelyk of sy nie eers ’n vinger hoef te verroer nie! Dit het my laat wonder wat op aarde met my verkeerd is. Ék is soms my grootste vyand.”—Annette. *

IS JY bang om nuwe uitdagings te aanvaar omdat jy voel dat jy sal misluk? Breek die goed bedoelde opmerkings van mense wat jy respekteer, jou selfvertroue af? Voel jy so mismoedig oor foute van die verlede dat jy nie weer wil probeer nie? Indien wel, hoe kan jy met jou mislukkings vrede maak—hetsy jy werklik misluk het of jy net dink dat jy misluk het?

Jy sal beslis daarby baat vind om die antwoord op daardie laaste vraag te kry, want die een of ander tyd misluk almal met iets (Romeine 3:23). Maar mense wat hulle mislukkings kan verwerk, is veerkragtig. Dit beteken dat hulle hulle foute in perspektief kan bring, kan opstaan en weer probeer. En die kans is groter dat hulle volgende keer suksesvol sal wees! Kom ons kyk nou hoe jy drie uitdagings die hoof kan bied—naamlik vrees vir mislukking, oënskynlike mislukking en werklike mislukking.

VREES VIR MISLUKKING → WAT KAN GEBEUR

Jy verwag die ergste, en daarom probeer jy nie eers nie omdat jy dink dat jou kanse op sukses baie klein is.

Identifiseer die uitdaging. Maak hieronder ’n ✔ langs die taak waarin jy graag wil slaag—maar seker voel dat jy sal misluk as jy dit sou probeer.

  • Om jou geloof voor klasmaats te verdedig

  • Om vir ’n werk aansoek te doen

  • Om voor ’n gehoor te praat

  • Om aan sport deel te neem

  • Om te sing of ’n musiekinstrument te speel

  • Ander ․․․․․

Dink goed daaroor na. Dink oor die taak wat jy hierbo geïdentifiseer het, en oorweeg die moontlike gevolge deur die volgende vrae te beantwoord:

‘Wat wil ek moet gebeur?’

․․․․․

‘Wat is ek bang sal gebeur?’

․․․․․

Skryf nou een rede neer waarom jy die taak moet aanpak, ten spyte van die moontlikheid dat jy sal misluk.

․․․․․

Bybelse voorbeeld. Toe Jehovah God Moses die opdrag gegee het om die nasie Israel te lei, was sy eerste reaksie om te dink aan dinge wat kan verkeerd gaan. “Sê nou almal weier om  na my boodskap te luister?” het hy God gevra. Toe het hy op sy eie tekortkominge begin konsentreer. “Ek was nog nooit ’n goeie spreker nie”, het hy gesê. “Ek kan nooit dink aan wat om te sê nie.” Selfs nadat Jehovah belowe het om hom te help, het Moses gesmeek: “Stuur asseblief iemand anders” (Eksodus 4:1, 10, 13, Contemporary English Version). Moses het uiteindelik sy toewysing aanvaar, en ons weet wat daarna gebeur het. Onder God se leiding het Moses die volk Israel 40 jaar lank gelei.

Wat jy kan doen. Koning Salomo het geskryf: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag” (Prediker 9:10). Moet dus nie toelaat dat vrees vir mislukking jou keer nie; doen eerder jou bes met die taak. Dink aan ’n keer toe jy beter gedoen het as wat jy verwag het. Watter les het jou sukses jou oor jouself geleer? Hoe kan hierdie les jou help om enige vrees vir mislukking wat jy dalk nou ondervind, te bowe te kom?

Wenk: Indien nodig kan jy raad vra by een van jou ouers of ’n volwasse vriend wat jou kan help om jou selfvertroue op te bou. *

OËNSKYNLIKE MISLUKKING → WAT JY DINK GEBEUR HET

Wanneer iemand anders in iets sukses behaal, voel jy dat jy in vergelyking met hom of haar ’n mislukking is.

Identifiseer die uitdaging. Met wie vergelyk jy jouself, en watter prestasie van daardie persoon het jou laat voel dat jy ’n mislukking is?

․․․․․

Dink goed daaroor na. Beteken daardie persoon se sukses werklik dat jy misluk het? Skryf hieronder oor ’n onlangse gebeurtenis, soos ’n toets op skool, waarin jy goed gedoen het, maar iemand anders beter gedoen het.

․․․․․

Skryf nou neer waarom dit die moeite werd was om hierdie taak aan te pak.

․․․․․

Bybelse voorbeeld. Kain het “kwaad geword” toe dit duidelik geword het dat sy broer Abel Jehovah se guns geniet. Jehovah het Kain gewaarsku oor sy jaloesie, maar hy het ook sy vertroue uitgespreek dat Kain suksesvol kan  wees as hy wil. “As jy jou daartoe wend om goed te doen”, het Jehovah vir hom gesê, “sal daar dan nie ’n verheffing wees nie?” *Genesis 4:6, 7.

Wat jy kan doen. Erken die prestasies van ander eerder as om te ‘wedywer’, of ’n mededingende gees te hê—al is dit net in jou gedagtes (Galasiërs 5:26; Romeine 12:15). Erken terselfdertyd jou eie unieke vermoëns sonder om daaroor te spog. Die Bybel sê: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot vreugde hê.”Galasiërs 6:4.

WERKLIKE MISLUKKING → WAT WEL GEBEUR HET

. Jy dink aan ’n vorige mislukking en voel dat dit nie die moeite werd is om weer te probeer nie.

Identifiseer die uitdaging. Watter persoonlike mislukking ontmoedig jou die meeste?

․․․․․

’n Veerkragtige persoon staan weer op nadat hy geval het—met hulp indien nodig

Dink goed daaroor na. Bepaal die mislukking wat jy hierbo neergeskryf het, werklik watter soort persoon jy is? As jy byvoorbeeld voor die een of ander swakheid geswig het, beteken dit regtig dat daar geen hoop vir jou is nie? Of wys dit net dat jy hulp nodig het? As jy val terwyl jy aan ’n sportsoort deelneem, sal jy tog sekerlik ’n helpende hand aanvaar sodat jy verder kan speel. Jy kan dieselfde benadering gebruik wanneer jy ’n persoonlike mislukking verwerk. Skryf hieronder die naam neer van iemand met wie jy jou probleem kan bespreek. *

․․․․․

Bybelse voorbeeld. Die apostel Paulus het soms mismoedig gevoel oor sy swakhede. “Ellendige mens wat ek is”, het hy geskryf (Romeine 7:24). Maar Paulus het klaarblyklik besef dat sy swakhede nie bepaal watter soort persoon hy is nie. Hy het geskryf: “Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop enduit gehardloop, ek het die geloof bewaar.”—2 Timoteus 4:7.

Wat jy kan doen. Pleks van net op jou foute te konsentreer, moet jy ook aan jou goeie punte dink. Dit is wat Jehovah doen. Die Bybel sê: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het [nie].”—Hebreërs 6:10; Psalm 110:3.

Onthou: Niemand is volmaak nie. Die een of ander tyd misluk almal met iets. As jy kan leer om veerkragtig te wees, sal dit vir jou baie nuttig wees wanneer jy ’n volwassene is. Spreuke 24:16 sê: “Die regverdige kan selfs sewe keer val, en hy sal beslis opstaan.” Dit is die soort persoon wat jy kan wees!

^ par. 3 Naam is verander.

^ par. 23 Vir meer inligting, sien die Ontwaak! van Mei 2010, bladsye 26-28.

^ par. 31 Kain het verkies om Jehovah se vermaning te ignoreer. Sy ondergang beklemtoon hoe belangrik dit is dat jy enige gevoelens van jaloesie beheers wat dalk ontstaan weens ’n ander persoon se sukses.—Filippense 2:3.

^ par. 36 ’n Christen wat ’n ernstige oortreding begaan het, sal daarby baat vind om dit met ’n gemeentelike ouer man te bespreek.—Jakobus 5:14, 16.