Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Jou gesindheid maak ’n verskil!

Jou gesindheid maak ’n verskil!

Wat dink jy het die grootste uitwerking op jou geluk?

  • jou omstandighede

  • jou gene

  • jou gesindheid

PARTY sou “omstandighede” kies. Hulle sê dalk: “Ek sou gelukkig gewees het . . .

  • “as ek maar net meer geld gehad het”

  • “as ek maar net gelukkig getroud was”

  • “as ek maar net gesonder was”

Maar in werklikheid het geluk dikwels meer te doen met jou gesindheid as met jou omstandighede of jou gene. En dit is goeie nuus. Waarom? Want anders as jou omstandighede of jou gene—waaraan jy min of niks kan doen nie—kan jy iets aan jou gesindheid doen.

“’N GOEIE GENEESMIDDEL”

’n Bybelspreuk sê: “’n Vrolike mens is ’n gesonde mens, ’n neerslagtige mens raak uitgeput” (Spreuke 17:22, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Met ander woorde, jou gesindheid maak ’n verskil! Dit kan bepaal of jy ’n doelwit bereik of tou opgooi en of ’n tragedie die beste of die slegste in jou na vore bring.

Party mense stem dalk nie hiermee saam nie. Hulle sê dalk:

  • ‘Hoekom moet ek maak asof alles goed gaan?’

  • ‘Positiewe denke gaan nie my situasie verander nie.’

  • ‘Ek sal eerder realisties wees as om in ’n droomwêreld te leef.’

Hierdie besware klink dalk geldig. Maar dit is voordelig om ’n positiewe uitkyk te verkry. Kyk byvoorbeeld na die volgende situasies.

Alex en Brian werk albei hard aan verskillende projekte. Nadat hulle bestuurder hulle werk nagegaan het, wys hy vir elkeen van hulle watter foute hulle gemaak het.

  • Alex: “Ek het hierdie projek met my hele hart en siel aangepak en dit nog steeds nie reggekry nie! Ek sal hierdie werk nooit kan doen nie. Dit maak nie saak hoe hard ek werk nie, dis nooit goed genoeg nie. Ek weet nie eers hoekom ek probeer nie.”

  • Brian: “My bestuurder het sekere aspekte van my werk geprys, maar ek het ’n paar foute gemaak. Ek het waardevolle lesse geleer wat my in die toekoms sal help.”

WAT DINK JY?

  • Watter een van die twee sal oor ses maande die beter werker wees—Alex of Brian?

  • As jy ’n werkgewer was, watter een sou jy eerder in diens neem of in diens hou?

  • Wanneer jy teleurgesteld voel oor iets, soos watter een van die twee mans reageer jy?

Andrea en Brittney voel soms eensaam. Elkeen van hulle hanteer hierdie situasie anders.

  • Andrea dink meestal net aan haarself. Sy weier om enigiets vir ander te doen tensy hulle eers vir haar iets doen. Haar redenasie is: ‘Hoekom moet ek my tyd mors met mense wat niks vir my doen nie?’

  • Brittney probeer hard om goedhartig te wees teenoor mense en dinge vir hulle te doen, of hulle dit nou waardeer of nie. Sy lewe volgens die Gulde Reël—om ander te behandel soos sy behandel wil word (Lukas 6:31). Om goed te doen aan ander is vir Brittney alreeds ’n beloning.

WAT DINK JY?

  • Watter een van hierdie twee vroue sou jy as ’n vriendin wou hê?

  • Watter een het ’n beter kans om goeie vriendskappe te hê?

  • Is jy meer geneig om soos Andrea of soos Brittney op te tree wanneer jy soms eensaam voel?

Jy ken seker mense wat soos Brian en Brittney is. Dalk voel jy selfs dat jy soos hulle is. As dit die geval is, kan jy ongetwyfeld sien dat jou gesindheid wel ’n verskil in jou lewe kan maak. Maar sê nou jy is meer soos Alex of Andrea? Kyk na drie maniere waarop die Bybel jou kan help om ’n positiewer gesindheid te hê.

1 VERMY NEGATIEWE DENKE

DIE BYBEL SÊ: “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees.”Spreuke 24:10.

WAT DIT BETEKEN: Negatiewe denke sal jou beroof van die krag wat jy nodig het om jou situasie te verbeter of die hoof te bied.

VOORBEELD: Juliza se kinderjare was allesbehalwe gelukkig. Haar pa was ’n alkoholis en haar gesin was arm. Hulle het baie rondgetrek. Juliza was aanvanklik negatief oor haar lot in die lewe. Maar dit het verander. Wat het haar gehelp? “Selfs voordat my ouers hulle probleme opgelos het,” sê Juliza, “het die Bybel my gehelp om my uitkyk te verbeter. Die Bybel help my nou nog om nie in negatiewe denke vasgevang te word nie. As mense nou dinge doen of sê waarvan ek nie hou nie, probeer ek om te verstaan waarom hulle so optree.”

Soos Juliza geleer het, bevat die Bybel uitstekende raad. Die raad daarin kan jou help om negatiewe omstandighede die hoof te bied. Byvoorbeeld, Efesiërs 4:23 sê: “[Word] vernuwe . . . in die krag wat julle verstand aandryf.”

Soos ons in hierdie vers sien, kan jy jou uitkyk verander. Jou denke kan “vernuwe” word. Maar dit is ’n aanhoudende proses. Dit is waarom die vers in die oorspronklike taal die gedagte oordra dat ons moet aanhou om vernuwe te word.

2 KONSENTREER OP DIE POSITIEWE

DIE BYBEL SÊ: “Al die dae van die geteisterde is sleg; maar wie vrolik van hart is, het voortdurend ’n feesmaal.”Spreuke 15:15.

WAT DIT BETEKEN: As jy ’n negatiewe beskouing van alles het, sal jy ‘geteister’ voel en sal elke dag “sleg”, of somber, lyk. Maar as jy op positiewe dinge konsentreer, sal jy “vrolik van hart” wees en selfs oorloop van vreugde. Die keuse is joune.

VOORBEELD: Yanko het verskeie operasies gehad om ’n breingewas te verwyder, en dit het sy beweeglikheid en sy spraak aangetas. Omdat Yanko gevoel het dat hy nie meer sy doelwitte kan bereik nie, was hy jare lank baie mismoedig. Toe het hy verander. Hoe? “Eerder as om op my beperkings te fokus,” sê hy, “het ek geleer om aan opbouende dinge te dink.”

Een manier waarop Yanko dit doen, is deur die Bybel te lees. “Dit hou my gedagtes positief”, sê hy. “Ek het nie heeltemal van my langtermyndoelwitte vergeet nie, maar ek fokus op die kleiner doelwitte wat ek nou kan bereik. Wanneer negatiewe gedagtes by my opkom, dink ek aan al die redes wat ek het om gelukkig te wees.”

Soos Yanko, kan jy negatiewe gedagtes weerstaan en dit met positiewe gedagtes vervang. As jy negatiewe omstandighede moet verduur—miskien ’n gesondheidsprobleem, soos in Yanko se geval—kan jy jou afvra: ‘Is die situasie regtig hopeloos? Is dit werklik ’n doodloopstraat of is dit dalk net ’n tydelike probleem?’ Leer om negatiewe gedagtes onder beheer te hou deur op iets opbouends te konsentreer.

3 DOEN DINGE VIR ANDER

DIE BYBEL SÊ: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”Handelinge 20:35.

WAT DIT BETEKEN: As ’n mens onselfsugtig is en dinge vir ander doen, laat dit jou baie goed voel oor jouself. Waarom? Want ons is geskep om nie net na ons eie behoeftes om te sien nie (Filippense 2:3, 4; 1 Johannes 4:11). Die vreugde wat ons ervaar wanneer ons dinge vir ander doen, kan ons baie help om negatiewe omstandighede in die lewe die hoof te bied.

VOORBEELD: Josué het spina bifida, ’n ernstige gebrek in die ruggraat. Hy verduur dikwels verskriklike pyn. Maar omdat hy ander help, geniet Josué ’n produktiewe lewe. “Eerder as om te sê: ‘Ek kan dit nie doen nie’, dink ek aan praktiese maniere waarop ek mense kan help. Ek vind maniere om dinge vir ander te doen, en dit maak my waarlik gelukkig”, sê Josué.

WAT JY KAN DOEN

Soek na geleenthede om selfopofferend te wees. Byvoorbeeld, kan jy vir een van jou bure wat siek is, ’n bord kos maak? Weet jy van bejaardes wat hulp nodig het met takies by die huis?

Sien om na jou gesindheid soos jy na ’n tuin sou omsien. Verwyder die giftige onkruid van negatiewe denke. Kweek ’n positiewe denkwyse aan en doen dinge wat positiewe emosies in jou sal laat groei. Dit sal ’n goeie uitwerking op jou emosies hê en sal jou lewe verryk. En jy sal sien dat jou gesindheid wel ’n verskil maak!

Net soos party mense leer om nee te sê vir sekere soorte kos wat sleg is vir hulle gesondheid, kan jy leer om nee te sê vir negatiewe gesindhede