Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jou rol as ouer

Jou rol as ouer

Jou rol as ouer

“AS JY ’n kind se weetgierigheid stimuleer en hom laat voel dat hy geliefd is, aanvaar word en nuttig is, sal sy brein ontwikkel”, sê Peter Gorski van die Mediese Fakulteit van die Harvard-universiteit. “Ons rol as ouers is nie om die werking van die brein te vervolmaak nie, maar om die ontwikkeling van goed aangepaste, normale mense te bevorder wat vir ander omgee.”

Hoe lonend is dit tog wanneer ouers sien dat hulle kind ’n karaktervaste volwassene word wat ander in ag neem! Sulke resultate sal grootliks afhang van die inisiatief wat jy neem om ’n voorbeeld, ’n metgesel, ’n kommunikeerder en ’n onderrigter te wees. Hoewel alle kinders gebore word met die vermoë om sedelik op te tree, moet ouers sedelike waardes progressief by hulle kinders inskerp terwyl hulle opgroei.

Deur wie word kinders gevorm?

Navorsers het verskillende menings oor wie die grootste invloed op die vorming van kinders uitoefen. Party meen dat kinders hoofsaaklik deur hulle portuurs gevorm word. Drs. T. Berry Brazelton en Stanley Greenspan, deskundiges op die gebied van kinderontwikkeling, glo egter dat ’n ouer se rol nie oorbeklemtoon kan word wanneer dit kom by die vroeë liefdevolle sorg wat ’n kind ontvang nie.

Ondervindinge later in die lewe en die invloed van portuurs dra by tot ’n kind se vroeë ontwikkeling. Dit is belangrik dat kinders met medelye en begrip in die gesin behandel word. Hulle moet ook geleer word om hulle gevoelens op ’n volwasse manier te hanteer. Kinders wat so opgevoed word, is gewoonlik beter toegerus om op ’n tegemoetkomende, medelydende en simpatieke manier met ander saam te werk.

Om ’n kind van kleins af op te voed, is harde werk. As julle suksesvol wil wees—veral as dit julle eerste kind is—is dit verstandig om ander wat meer ervaring het, raad te vra, en dan volgens ’n definitiewe plan te werk te gaan. Deskundiges het al tallose boeke oor kinderontwikkeling geskryf. Baie dikwels stem wat hulle sê, ooreen met die betroubare raad in die Bybel. Wanneer die betroubare beginsels in God se Woord toegepas word, het dit ouers gehelp om hulle kinders met sukses groot te maak. Kyk na die volgende praktiese riglyne.

Betoon oorvloedige liefde

Kinders is soos jong plante wat groei en floreer wanneer hulle gereelde en liefdevolle aandag kry. Water en sonlig voed ’n jong plant en bring gesonde groei en stabiliteit mee. Net so sal ouers wat oorvloedige liefde aan hulle kinders betoon deur wat hulle sê en doen, hulle kinders se verstandelike en emosionele ontwikkeling en stabiliteit bevorder.

Die Bybel sê eenvoudig: “Liefde bou op” (1 Korintiërs 8:1). Ouers wat oorvloedige liefde aan hulle kinders betoon, volg in werklikheid hulle Skepper, Jehovah God, na. Die Bybel sê dat Jesus by sy doop sy Vader hoor sê het dat Hy hom as sy Seun goedkeur en liefhet. Hoe bemoedigend was dit tog, selfs vir Jesus as ’n volwassene!—Lukas 3:22.

Die geneentheid wat jy betoon, die slaaptydstories wat jy lees en selfs die speletjies wat julle speel, is onontbeerlik vir jou kind se ontwikkeling. ‘Alles wat die kind doen’, sê dr. J. Fraser Mustard, ‘dra by tot sy lewenservaring. As ’n kind leer kruip, is die manier waarop jy reageer en hom aanmoedig belangrik.’ Ouerlike liefde en aandag lê ’n vaste grondslag vir jou kind se ontwikkeling, sodat hy ’n verantwoordelike, ryp volwassene kan word.

Metgesel en kommunikeerder

Wanneer jy tyd saam met jou kinders deurbring, smee jy ’n band met hulle. Daarbenewens bevorder dit kommunikasievaardighede. Hierdie hegtheid—hetsy tuis of elders en op enige geskikte tyd—word in die Skrif aangemoedig.—Deuteronomium 6:6, 7; 11:18-21.

Deskundiges op die gebied van kinderontwikkeling stem saam dat die tyd wat ouers saam met hulle kinders deurbring, baie belangriker is as duur speelgoed of enige spesifieke aktiwiteit. Alledaagse aktiwiteite wat nie baie geld verg nie, kan geleenthede bied vir hierdie soort interaksie met jou kinders. Deur byvoorbeeld net saam met hulle na ’n park te gaan om die natuurskoon te geniet, kan ouers die ideale geleentheid bied om betekenisvolle vrae te vra en kommunikasie te bevorder.

Die Skrif sê dat daar “’n tyd [is] om rond te huppel” (Prediker 3:1, 4). Ja, om sorgeloos te speel, is noodsaaklik vir die ontwikkeling van ’n kind se intellektuele, emosionele en sosiale vaardighede. Volgens dr. Mustard is dit nie net voordelig nie, maar onontbeerlik dat kinders speel. Hy sê: “By kinders ontwikkel die bedrading van die brein vir ’n wye verskeidenheid funksies hoofsaaklik deur spelery.” Die speelgoed wat kinders in ongestruktureerde spelery gebruik, kan baie eenvoudig wees, soos ’n leë kartondoos. Veilige, alledaagse huishoudelike artikels is vir babas net so interessant soos hipertegnologiese speelgoed. a

Deskundiges meen dat kinders se verbeelding en kreatiwiteit onderdruk kan word as hulle dag te vol gemaak word met aktiwiteite wat onder leiding van volwassenes plaasvind. Matigheid word aanbeveel. Laat jou kind toe om sy eie wêreldjie te verken en sy eie vindingrykheid te toets. ’n Kind sal dikwels iets vind om hom mee te vermaak. Maar dit is steeds jou verantwoordelikheid om te weet wat jou kind doen en waar hy speel, sodat jy kan seker maak dat hy hom nie seermaak nie.

Maak tyd daarvoor

Onderrigting is ’n onafskeidbare deel van die proses om goed aangepaste kinders groot te maak. Baie ouers sit elke dag tyd opsy om hardop vir hulle kinders te lees. Dit gee hulle die geleentheid om hulle kinders lesse te leer oor aanvaarbare gedrag asook om sedelike waardes by hulle in te skerp wat gegrond is op wat ons Skepper sê. Die Bybel sê dat die getroue onderrigter en sendeling Timoteus “van kleintyd af die heilige geskrifte geken het”.—2 Timoteus 3:15.

As jy vir jou baba lees, kan dit sy sinaptiese verbindings stimuleer. ’n Sleutelfaktor is dat die een wat lees, dit met aandag en liefde moet doen. Linda Siegel, ’n professor in opvoedkunde, gee die volgende waarskuwing in verband met die inhoud van wat gelees word: “Dit moet op ’n vlak wees wat kinders geniet.” Probeer ook om die leessessies gereeld en elke dag op dieselfde tyd te hou. Op dié manier begin die kind daarna uitsien.

Onderrigting sluit dissipline in. Jong kinders kan baat vind by liefdevolle dissipline. “’n Seun is wys waar daar ’n vader se dissipline is”, sê Spreuke 13:1. Maar onthou dat dissipline baie dinge insluit. Dit kan byvoorbeeld die vorm aanneem van mondelinge teregwysing of die ontneming van voorregte of ander vorme van straf. Volgens dr. Brazelton, wat vroeër aangehaal is, behels dissipline dat ’n mens “’n kind leer om gevoelens en onbeheerste gedrag te hanteer. Elke kind is hard op soek na perke. Naas liefde is dissipline die belangrikste ding wat jy jou kind kan gee.”

Hoe kan jy as ouer bepaal of jou dissipline doeltreffend is? Om maar een ding te noem, jou kinders moet verstaan waarom hulle gedissiplineer word. Wanneer jy hulle teregwys, moet jy dit op so ’n manier doen dat jou kinders kan aanvoel dat jy ’n ondersteunende en liefdevolle ouer is.

Pogings wat tot sukses lei

Fred is een vader wat ’n gewoonte daarvan gemaak het om van kleins af net voor slapenstyd vir sy dogter te lees. Na ’n ruk het hy opgemerk dat sy baie van die verhale gememoriseer en woorde en klanke herken het terwyl sy saam in die boek gevolg het. Chris is ’n ander ouer wat altyd vir sy kinders gelees het. Hy het ’n poging aangewend om die leesstof af te wissel. Toe die kinders nog baie jonk was, het hy die prente in boeke soos My boek met Bybelverhale gebruik om vir hulle sedelike en geestelike lesse te leer. b

Ander ouers probeer ’n balans handhaaf tussen lees en ander aktiwiteite, soos om te teken, te verf, musiek te speel, te gaan kamp of as ’n gesin plekke soos die dieretuin te besoek. Hierdie aktiwiteite kan as geleenthede gebruik word om die kind lesse te leer en goeie sedelike waardes en maniere in ’n kind se ontvanklike hart en verstand in te skerp.

Is al hierdie werk en inspanning die moeite werd? Daar is ’n baie groter moontlikheid dat ouers wat hulle bes probeer om die voorgaande praktiese riglyne in ’n vreedsame en veilige milieu te volg, sal sien hoe hulle kinders ’n positiewe gesindheid aankweek. As jy intellektuele en kommunikasievaardighede van kleins af by jou kinders aankweek, sal jy grootliks tot hulle sedelike en geestelike karakter bydra.

Die Bybel het eeue gelede hierdie duidelike verklaring in Spreuke 22:6 gemaak: “Lei ’n seun op volgens die weg vir hom; ook as hy oud word, sal hy nie daarvan afwyk nie.” Ouers speel beslis ’n onontbeerlike rol in die grootmaak van hulle kinders. Betoon oorvloedige liefde aan jou kinders. Bring tyd saam met hulle deur, vertroetel hulle en leer hulle. As jy dit doen, sal dit vir jou en vir hulle geluk bring.—Spreuke 15:20.

[Voetnote]

a Sien die artikel “Tuisgemaakte speelgoed in Afrika”, wat in die Ontwaak! van 22 Maart 1993 verskyn het.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies. Nog ’n boek, Leer by die Groot Onderwyser, wat ook deur Jehovah se Getuies uitgegee word, word met vrug gebruik om jong kinders te leer.

[Venster op bladsy 7]

Speel met jou baba

◼ Babas kan net vir ’n baie kort tydjie konsentreer; speel dus slegs met hulle wanneer dit lyk of hulle dit geniet.

◼ As jy speelgoed gebruik, moet jy seker maak dat dit veilig is en die kind se sinne stimuleer.

◼ Speel speletjies wat dinge laat gebeur. Vir babas is dit groot pret om jou iets oor en oor te laat doen, soos om ’n speelding op te tel wat hulle laat val.

[Erkenning]

Bron: Clinical Reference Systems

[Venster/Prent op bladsy 10]

Wanneer jy vir jou kind lees

◼ Lees duidelik en spreek woorde reg uit. ’n Kind leer ’n taal aan deur na sy ouers te luister terwyl hulle praat.

◼ In die geval van jong kindertjies kan jy na mense en voorwerpe in storieboeke wys en sê wie of wat dit is.

◼ Wanneer die kind ouer is, kan jy boeke kies wat handel oor onderwerpe waarin hy op daardie stadium belangstel.

[Erkenning]

Bron: Pediatrics for Parents

[Prente op bladsy 8, 9]

Geniet aangename ontspanning saam met jou kinders