Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Trappe na die hemel

Trappe na die hemel

Trappe na die hemel

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE FILIPPYNE

DIT is na bewering tien keer langer as die Groot Chinese Muur. Party sê dat die afsonderlike dele 20 000 kilometer ver sou strek—of halfpad om die aarde—as hulle langs mekaar geplaas sou word! Party noem dit selfs die agtste wonder van die wêreld. Nietemin het baie mense nog nooit van hierdie ontsagwekkende gesig in die Filippyne gehoor nie. Wat is dit? Die trappe na die hemel, die rysterrasse van die Cordillera Central. Die terrasse, wat weggesteek is in die berge van Luzon, is ’n verbasende vertoning van prag en vindingrykheid.

Waarom is dit gebou? Die berge van die Cordilleras is so steil dat hulle normaalweg nie vir boerdery gebruik kon word nie. Die helling van sommige hange is meer as 50 persent. Maar dit het nie eertydse boere gekeer nie. Op ’n hoogte van 1 200 meter of meer het hulle duisende terrasse in die hange van die grasbedekte berge uitgekap. Soms is 25, 30 of meer bokant mekaar gebou, soos trappe wat na die hemel lei. En elke terras is ’n bewerkte rysland met grondwalle wat deur klipmure gestut word. Die meeste is met rys beplant en volg die kontoer van die berge; sommige hange is konkaaf, ander is konveks.

Landbouterrasse is natuurlik nie uniek aan die Filippyne nie. Landerye wat in terrasse aangelê is, kom ook in ander lande voor, veral in Suidoos-Asië, Suid-Amerika en sommige dele van Afrika. Maar die rysterrasse in die Filippyne is in baie opsigte uniek. Mario Movillon, van die Internasionale Rysnavorsingsinstituut, het vir Ontwaak! gesê: “Die Filippynse rysterrasse is baie groter as terrasse in ander lande. Dit beslaan ’n groot deel van die berge van die Cordillera.” Baie van hierdie terrasse is in die provinsie Ifugao. ’n Mens kan nie anders as om beïndruk te wees met die enorme hoeveelheid terrasse nie. Dit verleen ’n gestruktureerde skoonheid aan die natuurlike vorm van die berge.

’n Wonder van die wêreld?

Is dit ’n oordrywing om dit die agtste wonder van die wêreld te noem? Wel, dink hieraan: Dit is moontlik die grootste enkele landbouprojek in die mensegeskiedenis. In Desember 1995 het die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur besluit om die rysterrasse van Ifugao by hulle Wêrelderfenislys in te sluit. Gevolglik word die terrasse nou saam met ander plekke van groot geskiedkundige en kulturele waarde geklassifiseer, soos die Taj Mahal in Indië, die Galapagos-eilande van Ecuador, die Groot Chinese Muur en die Angkor Wat van Kambodja. Maar anders as ander eertydse konstruksieprojekte, soos die piramides van Egipte, is die terrasse blykbaar deur die gemeenskap gebou—nie deur slawearbeid nie. Dit is ook nie ’n verlate terrein nie, maar dit word nog steeds deur die mense van Ifugao bewerk.

As jy die terrasse besoek, kan jy self sien hoe asemrowend mooi dit is. Jy sal sien hoe mense die terrasse bewerk, wat wissel van ’n paar vierkante meter tot 10 000 vierkante meter in grootte. Party werkers steek al singende gate in die grond met stokke sodat water in die grond kan insypel. Ander plant rys, plant saailinge uit of samel hulle oes in. As jy daar besoek aflê wanneer die nuwe rys opkom, vorm die terrasse ’n pragtige mosaïek van verskillende skakerings van groen.

Nat ryssoorte kan nie sonder groot hoeveelhede water groei nie. ’n Ingewikkelde watervoorsieningstelsel is dus aangelê. Water word uit bergstrome na die terrasse gelei deur ’n ingewikkelde stelsel kanale en bamboespype. ’n Bestendige stroom water word met behulp van swaartekrag van die een terras na die volgende versprei. Die terrasse is allesbehalwe ’n dooie monument, maar waarlik ’n lewende wonder!

Wie het dit gebou?

Dit spreek vanself dat hierdie duisende terrasse nie oornag, of selfs in ’n paar jaar, gebou kon word nie. Onthou, hierdie bouwerk is sonder enige moderne gereedskap of masjinerie gedoen. Vermoedelik het werk aan die terrasse dus ten minste ’n hele paar honderd jaar gelede begin.

Sommige argeoloë meen selfs dat die werk reeds 2 000 jaar gelede begin is. Volgens antropoloë het die bouers uit noordelike Indochina of uit Indonesië getrek en hulle in Luzon gevestig, en hulle kultuur van nat rysverbouing op terrasse met hulle saamgebring. Nadat die terrasse gebou is, is nuwe vlakke geleidelik bygevoeg.

Hoe om dit te geniet

Laat ons nou op ’n denkbeeldige toer van die terrasse gaan. Eerstens neem ons ’n bus met lugversorging van Manila na die dorp Banaue, in Ifugao. Die reis duur ongeveer nege uur. Nou het ons ’n paar opsies. Ons kan die verskillende besienswaardighede te voet besoek of ons kan ’n driewiel (’n motorfiets met ’n syspan) of ’n jeepney gebruik. En as ons kans sien daarvoor, kan ons met een van die voetpaadjies langs loop wat na die bergagtige gebiede lei wat net te voet bereik kan word. Van hierdie paadjies af het ons van die asemrowendste uitsigte oor die terrasse en kry ’n mens ’n beter idee van die uitgestrektheid van hierdie mensgemaakte wonder.

Ons besluit om met ’n jeepney na die dorp Batad te ry. Dit neem ons meer as ’n uur om 12 kilometer op die slegte bergpad af te lê. Van hier af loop ons met ’n voetpad langs. Op pad boontoe sien ons verskillende plante wat op die berg groei, en uiteindelik bereik ons ’n rant tussen twee hoër punte. (Daar is ’n korter roete, maar dit is baie steil en word nie aanbeveel vir diegene wat nie gewoond is om veeleisende terrein uit te klim nie.) Van die rant af loop ons stadig op ’n smal voetpaadjie af na Batad.

Nadat ons ’n paar uur lank geloop en die vars berglug geniet het, bereik ons uiteindelik ons bestemming. Hier is die terrasse ’n fees vir die oog. Aangesien Batad teen ’n konkawe berghang geleë is, is die terrasse in die vorm van ’n enorme amfiteater. Dit vorm ’n interessante patroon, een vlak bo die ander, soos trappe wat na die hemel lei. Terwyl ons die dorp nader, sien ons outydse Ifugao-huise, wat oor die dorp versprei is soos reusesampioene wat met gras bedek is.

Die mense is vriendelik en groet ons wanneer ons by hulle verbyloop waar hulle op die terrasse werk. Jy sal dalk verbaas wees as jy sien hoe die plaaslike mense met die grootste gemak op die kante van die terrasse se klipmure loop en dit as ’n voetpad gebruik om van een plek na die ander te loop. Ander klim van die een vlak na die volgende met die sekerheid van ’n bergbok terwyl hulle goed geplaasde klippe as trappies gebruik. Wanneer ’n mens nader staan, sien jy dat hulle kaalvoet is. En reg rondom hulle is hierdie asemrowende uitsig oor die bergterrasse—’n seldsame voorbeeld van die mens se bouwerk wat by die omgewing inpas en dit komplementeer.

Klink dit interessant? Dan moet jy, as jy die Filippyne besoek, beslis nie die geleentheid laat verbygaan om na die trappe wat na die hemel lei te gaan kyk nie, ’n lewende wonder wat jy nie gou sal vergeet nie.

[Venster/Prent op bladsy 18]

Red die terrasse

Ten spyte van die feit dat die terrasse tans so mooi is, word hulle voortbestaan bedreig. Baie van die jonger geslag bergbewoners wil nie rysboere wees nie en soek werk in ander gebiede. Dit kan lei tot ’n tekort aan bekwame boere om die terrasse in stand te hou.

Aurora Ammayao, ’n inwoner van Ifugao wat ’n medewerker van die Internasionale Rysnavorsingsinstituut is, het Ontwaak! van ’n ander gevaar vertel: “Die terrasse moet altyd nat gehou word, maar nou is daar ’n watertekort as gevolg van ontbossing.” As die stroomgebied opdroog, sal dit die einde van die terrasse beteken.

Natuurrampe veroorsaak ook soms probleme. In 1990 het ’n aardbewing verskeie dele van die terrasse vernietig toe hele berghange neergestort het.

Daar word egter maatreëls getref om te keer dat die terrasse verdwyn. In 1996 is ’n presidensiële bevel uitgevaardig om die Kommissie vir die Ifugao-terrasse op die been te bring. Hulle taak? Die instandhouding van die terrasse, wat die nodige waterstelsel en die gebied se kultuur insluit, sowel as die herstel van enige beskadigde dele.

Die feit dat die terrasse by die Wêrelderfenislys van die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur (UNESCO) ingesluit is, verbind die Filippynse regering verder daartoe om die gebied te bewaar. En volgens Jean Tuason, adjunk- uitvoerende bestuurder van UNESCO se kantoor in Manila, “sal UNESCO dalk ook tegniese en finansiële hulp verleen vir die beskerming en bewaring van die rysterrasse”.

[Kaart op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Cordillera Central

[Volbladillustrasie op bladsy 17]