Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vaders—Waarom hulle verdwyn

Vaders—Waarom hulle verdwyn

 Vaders—Waarom hulle verdwyn

“Ek kan nie onthou dat my ma en pa baklei of rusie gemaak het nie. Al wat ek weet, is dat my pa daar was, en toe—skielik!—was hy nie meer daar nie. Tot vandag toe weet ek nie waar my pa is nie. Ek gee glad nie vir hom om nie.”—Bruce.

“Ek was die enigste kind by die skool wat nie twee ouers gehad het en nie in ’n huis gewoon het nie . . . Ek het altyd gevoel dat ek baie anders is as al die ander kinders van my ouderdom.”—Patricia.

DIE krisis van vaderlose gesinne is ’n gevolg van die industriële revolusie. Namate werksgeleenthede in fabrieke mans van hulle huise begin weglok het, het die vader se invloed in die gesin begin afneem; moeders het ’n groter rol in die grootmaak van die kinders begin speel. * Die meeste vaders het nietemin by hulle gesin gebly. Gedurende die middel-1960’s het die egskeidingsyfer in die Verenigde State skerp begin styg. Godsdienstige, ekonomiese en maatskaplike weerstand teen egskeiding het begin verbrokkel. Egpare het in rekordgetalle begin skei omdat selfverklaarde kenners, wat beweer het dat egskeiding nie alleen onskadelik vir kinders is nie, maar eintlik goed vir hulle kan wees, hulle aangespoor het om te skei. Die boek Divided Families—What Happens to Children When Parents Part, deur Frank F. Furstenberg jr. en Andrew J. Cherlin, sê: “In België, Frankryk en Switserland het die [egskeiding]syfer [sedert die 1960’s] verdubbel, terwyl dit in Kanada, Engeland en Nederland verdriedubbel het.”

Hoewel kinders gewoonlik ná ’n egskeiding by hulle moeder woon, wil die meeste vaders nog steeds ’n verhouding met die kinders hê. Gesamentlike toesig is ’n gewilde oplossing. Maar die meeste geskeide vaders het verbasend min kontak met hulle kinders. Een opname het getoon dat net 1 uit 6 kinders hulle geskeide vader elke week sien. Amper die helfte van die kinders het hulle vader ’n hele jaar laas gesien!

 Die tekortkominge van gesamentlike toesig

Geskeide egpare wat toesig deel, moet buitengewone samewerking en vertroue aan die dag lê—eienskappe waaraan daar gewoonlik ’n tekort is. Die navorsers Furstenberg en Cherlin stel dit so: “’n Vername rede waarom vaders ophou om hulle kinders te sien, is omdat hulle niks met hulle vorige vrou te doen wil hê nie. En baie vrouens voel dieselfde oor hulle gewese man.”

Baie geskeide vaders sien weliswaar hulle kinders gereeld. Maar omdat hulle nie meer van dag tot dag by die lewe van hulle kinders betrokke is nie, is dit moeilik vir party om soos ’n vader op te tree wanneer hulle wel by hulle kinders is. Baie neem die rol van ’n speelmaat aan en gebruik feitlik al die tyd wat hulle saam is vir ontspanning of inkopies. Die 14-jarige Ari beskryf die naweke wat hy by sy vader deurbring so: “Daar is nie ’n vaste roetine nie. Ek kan kom en gaan soos ek wil en doen net wat ek wil. En my pa koop altyd vir my geskenke.”—How It Feels When Parents Divorce, deur Jill Krementz.

’n Liefdevolle vader behoort te ‘weet hoe om goeie gawes aan sy kinders te gee’ (Matteus 7:11). Maar geskenke is nie ’n plaasvervanger vir die nodige leiding en dissipline nie (Spreuke 3:12; 13:1). Wanneer ’n mens die rol van ’n ouer vir dié van ’n speelmaat of besoeker verruil, sal die vader-kind-verhouding noodwendig agteruitgaan. Een studie het tot hierdie gevolgtrekking gekom: “Egskeiding kan tot ’n permanente breuk in die vader-kind-verhouding lei.”—Journal of Marriage and the Family, Mei 1994.

Party mans voel seergemaak en kwaad omdat hulle van hulle kinders se lewe afgesny is—of miskien gee hulle net nie meer om nie—en verbreek dan alle bande met hulle gesin en gee hulle gesin nie die nodige geldelike ondersteuning nie (1 Timoteus 5:8). * “Ek kan aan niks dink omtrent my pa waarvan ek hou nie”, sê een verbitterde tienerseun. “Hy is geen deel van ons lewe nie en gee ons niks nie, en dit maak my woedend.”

Ongetroude ouers

Die rekordgetalle buite-egtelike geboortes was die grootste oorsaak van die toename in die aantal vaderlose kinders. “Omtrent ’n derde van alle kindergeboortes in die [Verenigde State] is nou buite die huwelik”, sê die boek Fatherless America. Van die ongeveer 500 000 babas wat elke jaar vir diegene tussen die ouderdomme van 15 en 19 gebore word, is 78 persent vir ongetroude tieners. Tienerswangerskappe is egter wêreldwyd ’n probleem. En programme wat leer hoe om swangerskappe te voorkom of onthouding aanmoedig, het min gedoen om die seksuele gedrag van tieners te verander.

Die boek Teenage Fathers, deur Bryan E. Robinson, verduidelik: “Omdat die samelewing ’n liberaler gesindheid teenoor seks en voorhuwelikse swangerskap het, is buite-egtelike swangerskappe nie meer so ’n skande en vernedering soos in die 1960’s nie. . . . Die jeug van vandag word ook voortdurend deur middel  van reklame, musiek, rolprente en televisie met seksualiteit gebombardeer. Die Amerikaanse media sê vir adolessente dat seks romanties, opwindend en stimulerend is sonder om ooit vir hulle die werklike gevolge van spontane en onverantwoordelike seksuele gedrag te wys.”

Dit lyk of baie jongmense salig onbewus van die gevolge van ongeoorloofde seks is. Let op party van die kommentare wat die outeur Robinson gehoor het: “‘Sy het nie soos die soort gelyk [wat swanger sou word] nie’; ‘Ons het net een keer per week seks gehad’ of ‘Ek het nie gedink ’n mens kan die eerste keer swanger word nie.’” Party jong mans weet natuurlik alte goed dat seks tot swangerskap kan lei. Die boek Young Unwed Fathers sê: “Vir baie seuns [wat in die middestad woon,] is seks ’n belangrike simbool van hulle sosiale status; seksuele oorwinnings word punte op jou kerfstok. Baie van die meisies bied seks aan as ’n geskenk in ruil vir die aandag van ’n jong man.” In party van hierdie gebiede kan seuns wat nog nie ’n meisie swanger gemaak het nie selfs bespot word omdat hulle nog “maagde” is!

Die situasie is selfs ernstiger wanneer ’n mens kyk na die resultate van ’n studie wat in 1993 onder moeders van skoolgaande leeftyd in Kalifornië gedoen is. Volgens die studie het twee derdes van die meisies swanger geword by mans wat ouer as 20 is en nie by tienderjarige seunsvriende nie! Trouens, party studies toon dat talle ongetroude tienderjarige moeders slagoffers van verkragting—of selfs kindermishandeling—is. Sulke wydverspreide uitbuiting toon hoe siek en verdorwe die hedendaagse samelewing geword het.—2 Timoteus 3:13.

Waarom jong mans wegloop

Tienderjarige seuns wat meisies swanger maak, aanvaar selde die langtermynverantwoordelikheid vir hulle kinders. Een seun wie se meisie swanger geword het, het gesê: “Ek het net vir haar gesê: ‘Sien jou weer.’” Maar soos ’n artikel in Family Life Educator toon, “spreek die meeste jong vaders ’n sterk begeerte uit om ’n hegte verhouding met hulle kinders te hê”. Volgens een studie van jong ongetroude vaders het 70 persent van hulle hulle kind een keer per week besoek. “Maar”, waarsku die artikel, “namate die kinders ouer word, neem die aantal besoeke af.”

Een 17-jarige vader het die redes hiervoor opgesom en gesê: “As ek net geweet het hoe moeilik dit gaan wees, sou ek nooit toegelaat het dat dit gebeur nie.” Min jongmense het die emosionele volwassenheid of die ondervinding om aan die eise van ouerskap te voldoen. Baie het ook nie die opvoeding of die werksvaardighede wat nodig is om ’n bestaan te maak nie. Pleks van die vernedering van mislukking te verduur, keer talle jong mans eenvoudig hulle rug op hulle kinders. “My lewe is ’n groot gemors”, erken een jong vader. ’n Ander sê: “Ek kan skaars na myself omsien; ek weet nie wat ek sou doen as ek ook nog na [my seun] moes omsien nie.”

Suur druiwe

In Bybeltye het die Jode ’n gesegde gehad: “Die ouers het die suur druiwe geëet, maar die kinders het die suur smaak gekry” (Esegiël 18:2, Today’s English Version). God het vir die Jode gesê dat dit nie so hoef te wees nie, dat ’n mens nie die foute van die verlede in die toekoms hoef te herhaal nie (Esegiël 18:3). Nogtans lyk dit vandag of miljoene kinders die bitterheid van hulle ouers se “suur druiwe” proe—hulle betaal die prys vir hulle ouers se onvolwassenheid, onverantwoordelikheid en mislukte huwelike. Die navorsing lewer eenvoudig oorweldigende bewyse dat kinders wat sonder ’n vader grootword aan talle fisiese en emosionele gevare blootgestel word. (Sien die venster op bladsy 7.) Wat veral kommerwekkend is, is die feit dat die nalatenskap van ’n vaderlose huis dikwels van een geslag na die volgende oorgedra word—’n voortdurende kringloop van pyn en ellende.

Is vaderlose gesinne tot mislukking gedoem? Hoegenaamd nie. Trouens, die goeie nuus is dat die kringloop van vaderlose gesinne wel verbreek kan word. Ons volgende artikel sal bespreek hoe dit gedoen kan word.

[Voetnote]

^ par. 4 Interessant genoeg, voor industrialisasie was handleidings vir die grootmaak van kinders in die Verenigde State gewoonlik aan vaders gerig, en nie aan moeders nie.

^ par. 10 Volgens die navorsers Sara McLanahan en Gary Sandefur “het ongeveer 40 persent van die kinders [in die Verenigde State] wat teoreties gesproke geregtig is op onderhoud nie ’n [hofbevel] vir onderhoud nie, en ’n kwart van diegene wat wel onderhoud toegeken is, ontvang niks. Minder as ’n derde van die kinders ontvang die volle bedrag wat hulle verskuldig is.”

 [Venster/Prent op bladsy 7]

DIE GEVARE VIR KINDERS WAT SONDER ’N VADER GROOTWORD

Om sonder ’n vader groot te word, hou ernstige gevare vir kinders in. Hoewel die volgende inligting vir party pynlik sal wees, is kennis van die gevare die eerste stap om die skade te voorkom of ten minste te beperk. Onthou ook dat statistiese studies op groepe van toepassing is en nie op individue nie. Baie kinders word in vaderlose huise groot sonder om enige van hierdie probleme te ondervind. Soos ons laaste artikel sal toon, kan die ouers se hulp en die toepassing van Bybelbeginsels baie help om hierdie moontlike probleme te verminder. Kyk nou na van die gevare waarvoor ’n vaderlose kind te staan kan kom.

Groter gevaar van seksuele molestering

Navorsing toon duidelik dat vaderloosheid die gevaar vergroot dat kinders seksueel gemolesteer sal word. Een studie het getoon dat van 52 000 gevalle van kindermolestering “72 persent van die kinders in ’n huis sonder een of albei biologiese ouers grootgeword het”. Die boek Fatherless America sê: “Die toenemende gevaar van kindermolestering in ons samelewing spruit hoofsaaklik uit die groeiende afwesigheid van getroude vaders en die groeiende teenwoordigheid van stiefvaders, mansvriende en ander mans wat nie familie is nie of vir ’n kort tyd saam met die gesin woon.”

Groter gevaar van vroeë seksuele gedrag

Omdat daar moontlik minder ouerlike toesig in ’n enkelouergesin is, het jongmense dikwels meer geleenthede om hulle aan onsedelike gedrag skuldig te maak. Minder ouerlike opleiding is dalk ook ’n faktor. “Vir meisies wat nie ’n vader in hulle lewe het nie, is die moontlikheid om swanger te word twee en ’n half keer groter as dié van ander meisies”, sê die Amerikaanse Departement van Gesondheid en Menslike Dienste.

Armoede

In ’n studie van swart tienermeisies in Suid-Afrika is die gevolgtrekking gemaak dat armoede ’n algemene gevolg van buite-egtelike ouerskap is. “In ongeveer 50% van die gevalle”, sê die studie se samestellers, “sal die tiener waarskynlik nie teruggaan skool toe nie.” Baie ongetroude moeders word uiteindelik prostitute en raak betrokke by die dwelmbedryf. Die situasie is dalk nie veel beter in Westerse lande nie. In die Verenigde State “het 10 persent van die kinders in gesinne met twee ouers [in 1995] in armoede geleef, teenoor 50 persent van die huishoudings waarin daar net ’n moeder is”.—America’s Children: Key National Indicators of Well-Being 1997.

Verwaarlosing

Omdat enkelouers gedwing word om vir hulleself te sorg, word party van hulle deur hulle verantwoordelikhede oorweldig en kan hulle nie genoeg tyd saam met hulle kinders deurbring nie. Een geskeide persoon onthou: “Ek het bedags gewerk en saans klas geloop—ek het myself uitgeput. Ek het beslis die kinders verwaarloos.”

Emosionele skade

In stryd met die bewering van sommige kenners dat kinders hulle ewewig maklik herwin ná ’n egskeiding, het navorsers, soos dr. Judith Wallerstein, gevind dat ’n egskeiding blywende emosionele letsels agterlaat. “Meer as ’n derde van die jong mans en vroue tussen die ouderdomme van negentien en nege-en-twintig het tien jaar ná hulle ouers se egskeiding min of geen ambisie nie. Hulle dryf doelloos deur die lewe . . . en voel hulpeloos” (Second Chances, deur dr. Judith Wallerstein en Sandra Blakeslee). ’n Lae selfbeeld, depressie, misdadige gedrag en volgehoue woede is waargeneem onder baie kinders van geskeide ouers.

Die boek The Single-Parent Family sê: “Tallose studies toon dat seuns wat sonder ’n sterk manlike figuur in hulle lewe grootword onseker is oor hulle geslagsidentiteit, ’n lae selfbeeld het en dit later in hulle lewe moeilik vind om intieme verhoudings aan te knoop. Die probleme wat meisies ontwikkel as hulle sonder manlike rolmodelle grootword, is gewoonlik nie waarneembaar tot adolessensie of later nie, en sluit in dat hulle dit moeilik vind om suksesvolle verhoudings met mans/vroue te hê wanneer hulle volwasse is.”