Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Swart Dood—Plaag van Middeleeuse Europa

Die Swart Dood—Plaag van Middeleeuse Europa

 Die Swart Dood—Plaag van Middeleeuse Europa

Deur Ontwaak!-medewerker in Frankryk

Dit was die jaar 1347. Die plaag het alreeds die Verre-Ooste geteister. Nou het dit Europa se oostelike grense bereik.

DIE Mongole het Kaffa, die versterkte Genuese handelspos in die Krim, wat nou Feodosia genoem word, beleër. Omdat hulle self deur die raaiselagtige siekte uitgedun is, het die Mongole hulle aanval gestaak. Maar voordat hulle teruggetrek het, het hulle ’n dodelike laaste skoot geskiet. Hulle het enorme katapulte gebruik en die lyke van plaagslagoffers wat nog warm was oor die stadsmure geslinger. Toe ’n paar van die Genuese verdedigers later aan boord van hulle galeie gegaan het om weg te kom van die plaaggeteisterde dorp, het hulle die siekte versprei na elke hawe wat hulle besoek het.

Binne enkele maande het mense deur die hele Europa aan die plaag gesterf. Dit het vinnig na Noord-Afrika, Italië, Spanje, Engeland, Frankryk, Oostenryk, Hongarye, Switserland, Duitsland, Skandinawië en die Baltiese lande versprei. In net meer as twee jaar het meer as ’n kwart van Europa se bevolking, sowat 25 miljoen mense, slagoffers geword van wat al beskryf is as “die ergste demografiese katastrofe wat die mens nog beleef het”—die Swart Dood. *

Onheil aan die broei

Die tragedie van die Swart Dood het meer as die siekte self behels. Verskeie faktore het daartoe bygedra dat hierdie ramp vererger is, waarvan godsdiensywer een was. Die leerstelling van die vaevuur is een voorbeeld. “Teen die einde van die 13de eeu was die lering van die vaevuur oral”, sê die Franse geskiedskrywer Jacques le Goff. Vroeg in die 14de eeu het Dante sy invloedryke werk Die Goddelike Komedie, met sy eksplisiete beskrywings van die hel en vaevuur, uitgegee. ’n Godsdienstige klimaat het sodoende ontstaan waarin mense geneig was om die plaag met verbasende onverskilligheid en gelatenheid te aanvaar, en hulle het dit as Goddelike straf beskou. Soos ons sal sien, het so ’n pessimistiese denkwyse in werklikheid die verspreiding van die siekte aangehelp. “Niks kon ’n beter omgewing voorsien het waarin ’n plaag kon versprei nie”, sê die boek The Black Death, deur Philip Ziegler.

Dan was daar ook die probleem van herhaalde misoeste in Europa. Gevolglik was die vasteland se vinnig groeiende bevolking ondervoed—en baie vatbaar vir siekte.

Die plaag versprei

Volgens pous Klemens VI se persoonlike dokter, Guy de Chauliac, het twee soorte plae  Europa geteister: longpes en builepes. Hy het hierdie siektes in detail beskryf: “Die eerste het twee maande geduur, en [pasiënte] het voortdurend koors gehad en bloed gespuug, en hieraan het hulle binne drie dae gesterf. Die tweede het die res van die epidemie geduur, ook met voortdurende koors, maar met absesse en karbonkels op die uitwendige dele, hoofsaaklik in die armholtes en lies. Hieraan het ’n mens binne vyf dae gesterf.” Dokters was magteloos teen die plaag.

Baie mense het paniekbevange gevlug—en duisende besmette persone agtergelaat. Trouens, onder die eerstes wat gevlug het, was ryk adellikes en professionele persone. Hoewel sommige geestelikes ook gevlug het, het talle godsdiensordes in hulle kloosters weggekruip en gehoop dat hulle nie aangesteek sal word nie.

Te midde van hierdie paniek het die Pous 1350 as ’n Heilige Jaar uitgeroep. Pelgrims wat na Rome gereis het, sou direkte toegang tot die paradys verkry sonder dat hulle deur die vaevuur hoef te gaan! Honderdduisende pelgrims het aan die oproep gehoor gegee—en die plaag versprei so ver as wat hulle gereis het.

Vergeefse pogings

Pogings om die Swart Dood te bestry, was tevergeefs omdat niemand werklik geweet het hoe dit oorgedra is nie. Die meeste mense het besef dat kontak met ’n lyer—of selfs met sy klere—gevaarlik was. Party was selfs bang wanneer slagoffers na hulle gekyk het! Maar die inwoners van Florence, Italië, het hulle katte en honde vir die plaag blameer. Hulle het hierdie diere geslag, min wetende dat hulle daardeur die vrye loop gegee het aan ’n dier wat in werklikheid tot die verspreiding van die siekte bygedra het—die rot.

Namate die sterftesyfer toegeneem het, het sommige hulle tot God gewend vir hulp. Mans en vroue het alles wat hulle besit het vir die kerk gegee in die hoop dat God hulle teen die siekte sou beskerm—of hulle ten minste met lewe in die hemel sou beloon as hulle sou doodgaan. Dit het ontsaglike rykdom in die kerk se koffers geplaas. Gelukbringers, beelde van Christus en gebedsrieme was ook gewilde teenmiddels. Ander het hulle tot bygelowigheid, toorkuns en pseudogeneeskunde gewend vir geneesmiddels. Parfuums, asyn en spesiale drankies het na bewering die siekte afgeweer. Bloedlating was ’n ander gewilde raat. Die bekende mediese fakulteit van die Universiteit van Parys het die plaag selfs aan die stand van sommige planete toegeskryf! Maar valse verduidelikings en “geneesmiddels” het niks gedoen om die verspreiding van hierdie dodelike plaag te stuit nie.

Blywende gevolge

Binne vyf jaar het dit gelyk of die Swart Dood hom uiteindelik uitgewoed het. Maar voor die einde van die eeu het dit ten minste nog vier keer uitgebreek. Die nadraai van die Swart Dood is dus al met dié van die Eerste Wêreldoorlog vergelyk. “Feitlik alle hedendaagse geskiedkundiges stem saam dat die koms van die endemiese plaag verreikende gevolge vir die ekonomie sowel as die gemeenskap ná 1348 gehad het”, sê die boek The Black Death in England, wat in 1996 uitgegee is. Die plaag het ’n groot deel van die bevolking uitgewis, en eeue het verbygegaan voordat sommige gebiede herstel het. Omdat daar minder werkers was, was arbeid natuurlik nou duurder. Grondeienaars wat voorheen ryk was, het bankrot geraak, en die feodale stelsel—’n kenmerk van die Middeleeue—het in duie gestort.

Die plaag het dus aanleiding gegee tot politieke, godsdiens- en maatskaplike verandering. Voor die plaag het die meeste opgevoede mense in Engeland Frans gepraat. Maar die dood van talle Franse onderwysers het daartoe bygedra  dat meer mense in Brittanje Engels as Frans begin praat het. Veranderinge het ook op godsdiensgebied plaasgevind. Soos die Franse geskiedskrywer Jacqueline Brossollet sê, “het die Kerk te dikwels oningeligte, onverskillige persone gewerf” weens die tekort aan kandidate vir die priesteramp. Brossollet voer aan dat “die verval van [kerk]sentrums van geleerdheid en geloof een van die oorsake van die Hervorming was”.

Die Swart Dood het ongetwyfeld sy merk op die kunste gelaat, met die dood wat ’n algemene tema in kunswerke geword het. Die beroemde dodedansgenre, wat gewoonlik geraamtes en lyke voorgestel het, het ’n gewilde simbool vir die mag van die dood geword. Weens onsekerheid oor die toekoms het baie oorlewendes van die plaag alle selfbeheersing oorboord gegooi. Gevolglik het sedes ’n skokkende laagtepunt bereik. Wat die kerk betref, weens sy onvermoë om die Swart Dood te voorkom, “het die Middeleeuse mense gemeen dat hulle Kerk hulle in die steek gelaat het” (The Black Death). Sommige geskiedskrywers sê ook dat die maatskaplike veranderinge wat op die hakke van die Swart Dood gevolg het individualisme en ’n ondernemingsgees aangewakker het, en gelei het tot  groter maatskaplike en ekonomiese veranderlikheid—die voorlopers van kapitalisme.

Die Swart Dood het ook regerings aangespoor om stelsels vir sanitêre beheer tot stand te bring. Nadat die plaag hom uitgewoed het, het Venesië maatreëls getref om die stad se strate skoon te maak. Koning Jan II van Frankryk, wat die Goeie genoem is, het eweneens beveel dat die strate skoongemaak moet word as ’n maatreël om te keer dat ’n epidemie uitbreek. Die koning het hierdie stap geneem nadat hy van ’n eertydse Griekse dokter gehoor het wat Atene van ’n plaag gered het deur die strate skoon te maak en te was. Baie Middeleeuse strate, wat oop riole was, is uiteindelik skoongemaak.

Iets van die verlede?

Die Franse bakterioloog Alexandre Yersin het egter eers in 1894 die basil geïsoleer wat vir die Swart Dood verantwoordelik is. Dit is na hom vernoem en die naam Yersinia pestis gegee. Vier jaar later het ’n ander Fransman, Paul-Louis Simond, ontdek watter rol die vlooi (wat op knaagdiere voorkom) in die oordrag van die siekte speel. ’n Entstof is kort daarna ontwikkel wat slegs beperkte sukses gehad het.

Is die plaag iets van die verlede? Nouliks. In die winter van 1910 het sowat 50 000 mense in Mantsjoerye aan die plaag gesterf. En elke jaar registreer die Wêreldgesondheidsorganisasie duisende nuwe gevalle—en dit word al hoe meer. Nuwe vorme van die siekte is ook ontdek—vorme wat teen behandeling bestand is. Ja, tensy daar aan basiese standaarde van higiëne voldoen word, sal die plaag ’n bedreiging vir die mens bly. Die boek Pourquoi la peste? Le rat, la puce et le bubon (Waarom die plaag? Die rot, die vlooi en die kliergeswel), wat deur Jacqueline Brossollet en Henri Mollaret geredigeer is, kom dus tot hierdie gevolgtrekking: “Die plaag is allesbehalwe ’n siekte van ou Europa in die Middeleeue, . . . ongelukkig is die plaag dalk ’n siekte van die toekoms.”

[Voetnoot]

^ par. 5 Mense wat toe geleef het, het dit die groot pes of die epidemie genoem.

[Lokteks op bladsy 23]

Mans en vroue het alles wat hulle besit het vir die kerk gegee in die hoop dat God hulle teen die siekte sou beskerm

[Venster/Prent op bladsy 24]

Die sekte van die Geselbroeders

Party het die plaag as ’n straf van God beskou en het probeer om God se woede te stil deur selftoegediende lyfstraf, of geseling. Die Geselbroeders, ’n beweging wat na bewering tot 800 000 lede gehad het, was gedurende die Swart Dood op sy gewildste. Die sekte se reëls het lede verbied om met vroue te praat, om te was of skoon klere aan te trek. Openbare geseling is twee maal per dag gedoen.

“Geseling was een van die min uitlaatkleppe vir ’n vreesbevange bevolking”, sê die boek Medieval Heresy. Die Geselbroeders het die kerk se hiërargie ook openlik veroordeel en die kerk se winsgewende gebruik om kwytskelding toe te staan sterk teëgestaan. Dit is dus geen wonder dat die Pous die sekte in 1349 veroordeel het nie. Die beweging het egter op die ou end vanself verdwyn nadat die Swart Dood verby was.

[Prent]

Die Geselbroeders wou God paai

[Erkenning]

© Bibliothèque Royale de Belgique, Bruxelles

[Prent op bladsy 25]

Die plaag in Marseille, Frankryk

[Erkenning]

© Cliché Bibliothèque Nationale de France, Paris

[Prent op bladsy 25]

Alexandre Yersin het die basil geïsoleer wat die plaag veroorsaak

[Erkenning]

Culver Pictures