Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leuens—Is dit ooit geregverdig?

Leuens—Is dit ooit geregverdig?

 Die Bybel se beskouing

Leuens—Is dit ooit geregverdig?

“AS JY DIE WAARHEID ’N BIETJIE VERDRAAI, SPAAR DIT JOU SOMS BAIE VERDUIDELIKING.”

HIERDIE opmerking toon hoe baie mense oor leuens voel. Hulle redeneer dat leuens nie verkeerd is as dit niemand skade berokken nie. ’n Redenasie soos hierdie het selfs ’n akademiese naam—situasie-etiek, wat daarop neerkom dat die sogenaamde wet van liefde die enigste wet is wat jy moet gehoorsaam. Met ander woorde, verduidelik die skryfster Diane Komp, “as jou beweegrede reg is, en jou hart is reg, (dan is die) feit dat jy gelieg het . . . nie so belangrik nie”.

Hierdie beskouing is algemeen in die wêreld van vandag. Skandale waarby leuens deur vooraanstaande politici en ander wêreldleiers betrokke was, het die gemeenskap geskud. Baie mense wat deur hierdie klimaat beïnvloed is, dink nie meer dat dit belangrik is om altyd die waarheid te vertel nie. Op sommige gebiede het leuens selfs amptelike beleid geword. “Ek word betaal om te lieg. Ek wen verkoopskompetisies en kry wonderlike jaarlikse evaluasies as ek lieg. . . . Dit vorm blykbaar oral die kern van opleiding in kleinhandelverkope”, sê ’n verkoopsdame. Baie meen dat dit nie werklik verkeerd is om sogenaamde noodleuens te vertel nie. Is dit waar? Is daar geleenthede wanneer dit vir Christene geregverdig is om ’n leuen te vertel?

Die Bybel se verhewe standaard

Die Bybel veroordeel alle soorte leuens ronduit. “[God] sal die leuensprekers laat omkom”, sê die psalmis. (Psalm 5:7; sien Openbaring 22:15.) In Spreuke 6:16-19 noem die Bybel sewe dinge wat Jehovah haat. Dit is opvallend dat “’n leuenagtige tong” en “een wat as valse getuie leuens uitstrooi” ingesluit is op hierdie lys. Waarom? Omdat Jehovah die skade haat wat deur onwaarhede veroorsaak word. Dit is een rede waarom Jesus gesê het dat Satan ’n leuenaar en ’n mensemoordenaar is. Sy leuens het die mens in ellende en die dood gedompel.—Genesis 3:4, 5; Johannes 8:44; Romeine 5:12.

Presies hoe ernstig Jehovah leuens beskou, word beklemtoon deur wat met Ananias en Saffira gebeur het. Hierdie twee het doelbewus vir die apostels ’n leuen vertel omdat hulle blykbaar wou voorgee dat hulle vrygewiger is as wat hulle werklik was. Hulle het dit  doelbewus en met voorbedagte rade gedoen. Die apostel Petrus het dus gesê: “[Julle] het nie teenoor mense oneerlik opgetree nie, maar teenoor God.” Om hierdie rede het God hulle albei gedood.—Handelinge 5:1-10.

Jare later het die apostel Paulus Christene gemaan: “Moenie vir mekaar lieg nie” (Kolossense 3:9). Hierdie vermaning is veral in die Christengemeente baie belangrik. Jesus het gesê dat beginselvaste liefde die kenmerk van sy ware volgelinge sou wees (Johannes 13:34, 35). Sulke ongeveinsde liefde kan slegs groei en gedy in ’n omgewing waar daar algehele eerlikheid en vertroue is. Dit is moeilik om iemand lief te hê as ons nie kan seker wees dat hy altyd vir ons die waarheid sal vertel nie.

Hoewel alle leuens afkeurenswaardig is, is sommige leuens ernstiger as ander. Byvoorbeeld, iemand vertel dalk ’n leuen omdat hy verleë of bang is. ’n Ander maak dalk op goddelose wyse ’n gewoonte daarvan om leuens te vertel met die doel om iemand anders skade te berokken of hom te na te kom. Weens sy kwaadwillige beweegrede is so ’n moedswillige leuenaar ’n gevaar vir ander en sal hy uit die gemeente gesit word as hy nie berou toon nie. Aangesien nie alle leuens die gevolg van kwaadwilligheid is nie, moet ’n mens versigtig wees om nie sommer te veroordeel nie, maar seker wees dat jy van al die faktore weet wat betrokke was wanneer iemand ’n leuen vertel het. Beweegredes en versagtende omstandighede moet in ag geneem word.—Jakobus 2:13.

“Versigtig soos slange”

Om eerlik te wees, beteken natuurlik nie dat ons verplig is om alle inligting te gee aan enigeen wat ons daarvoor vra nie. “Moenie wat heilig is vir die honde gee nie, en moet ook nie julle pêrels voor die varke gooi nie, dat hulle . . . nooit . . . omdraai en julle verskeur nie”, het Jesus in Matteus 7:6 gewaarsku. Mense met kwade bedoelings het byvoorbeeld geen reg om sekere dinge te weet nie. Christene besef dat hulle in ’n vyandige wêreld lewe. Gevolglik het Jesus sy dissipels aangeraai om “versigtig soos slange” te wees terwyl hulle “onskuldig soos duiwe” bly (Matteus 10:16; Johannes 15:19). Jesus het nie altyd al die feite onthul nie, veral nie wanneer die volle waarheid vir hom of sy dissipels onnodige probleme kon veroorsaak nie. Nogtans het hy selfs op sulke tye nie leuens vertel nie. Hy het eerder verkies om niks te sê nie of om die gesprek in ’n ander rigting te stuur.—Matteus 15:1-6; 21:23-27; Johannes 7:3-10.

Getroue manne en vroue in die Bybel, soos Abraham, Isak, Ragab en Dawid, was eweneens oordeelkundig en versigtig wanneer hulle met potensiële vyande te doen gehad het (Genesis 20:11-13; 26:9; Josua 2:1-6; 1 Samuel 21:10-14). Die Bybel klassifiseer sulke manne en vroue as getroue aanbidders wie se lewe deur gehoorsaamheid gekenmerk is. Dit maak hulle navolgenswaardig.—Romeine 15:4; Hebreërs 11:8-10, 20, 31-39.

Daar kan tye wees wanneer ’n leuen dalk na ’n maklike uitweg lyk. Maar Christene van vandag tree verstandig op deur Jesus se lewenswandel na te volg en na hulle Bybelopgeleide gewete te luister wanneer hulle voor besonder moeilike situasies te staan kom.—Hebreërs 5:14.

Die Bybel moedig ons aan om betroubaar en eerlik te wees. Dit is verkeerd om leuens te vertel, en ons moet die volgende Bybelraad volg: ‘Spreek die waarheid, elkeen van julle met sy naaste’ (Efesiërs 4:25). Deur dit te doen, sal ons ’n skoon gewete behou, vrede en liefde in die gemeente bevorder en voortgaan om “die God van waarheid” te eer.—Psalm 31:5, NW; Hebreërs 13:18.

[Prent op bladsy 20]

Ananias en Saffira het hulle lewe verloor omdat hulle ’n leuen vertel het