Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Gladde skeer

’n Gladde skeer

’n Gladde skeer

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

AS ’N man elke dag vyf minute gebruik om te skeer en dit 50 jaar lank daagliks doen, sal hy net meer as 63 dae van sy lewe gebruik het om hare van sy gesig te verwyder! Hoe voel mans oor hierdie daaglikse ritueel?

’n Informele opname wat onlangs gedoen is, het hierdie kommentare oor skeer uitgelok: “Ek hou nie daarvan nie.” “Ek haat dit.” “Een van die lewe se ergernisse.” “Iets wat jy moet vermy as jy kan.” Waarom skeer mans dan as party van hulle so ’n sterk afkeer daaraan het? Kom ons vind ’n bietjie meer uit oor skeer. Miskien sal ons die antwoord vind.

Van gaapskulpe tot weggooibare skeermesse

Kan jy jou indink hoe dit moet wees om met ’n gaapskulp te skeer? ’n Haaitand? Miskien ’n skerp stuk vuursteen? Mense het ongelooflike vindingrykheid getoon in hulle keuse van skeerinstrumente! In antieke Egipte het mans met ’n koperskeermes geskeer wat soos ’n klein bylkop gelyk het. Meer onlangs, in die 18de en 19de eeu, het mense cutthroats (’n ouderwetse skeermes), soos dit later bekend geword het, hoofsaaklik in Sheffield, Engeland, vervaardig. Hierdie skeermesse was dikwels ryklik versier en het ’n hol geslypte staallem gehad wat veilig teruggevou het in die handvatsel wanneer dit nie gebruik is nie. Hierdie toestelle moes baie versigtig hanteer word, en mense het hulle ongetwyfeld dikwels raakgeskeer terwyl hulle geleer het om dit te gebruik. Vir dié wat nie so behendig was nie, moes dit aanvanklik baie traumaties gewees het. Maar die 20ste eeu het verligting gebring.

In 1901 het ’n man in die Verenigde State, King Camp Gillette, ’n veiligheidskeermes met ’n weggooibare lemmetjie gepatenteer. Sy idee was wêreldwyd ’n groot treffer en het uiteindelik tot ’n verskeidenheid ontwerpe gelei, waaronder skeermesse met versilwerde of vergulde handvatsels. Onlangse ontwikkelinge sluit skeermesse in wat heeltemal weggooibaar is, skeermesse met dubbel- of selfs trippellemme en skeermesse met buigsame, beweegbare kopstukke.

Moet ook nie vergeet van elektriese skeermesse nie, wat in 1931 die eerste keer op die mark verskyn het. Hulle het geleidelik al hoe doeltreffender en gewilder geword, maar ’n vlymskerp lemmetjie word steeds verkies deur baie wat ’n werklik gladde skeer wil hê.

Soms in en soms uit die mode

Van die vroegste tye af was baarde soms in en soms uit die mode. Die eertydse Egiptenaars, sê die boek Everyday Life in Ancient Egypt, “was nie bekend vir hulle lyfhare nie en was trots op hulle glad geskeerde voorkoms en het goeie skeermesse gehad wat hulle in netjiese leerkissies gehou het”. Hierdie gewoonte verklaar dalk waarom die Hebreeuse gevangene Josef geskeer het voordat hy voor Farao verskyn het.—Genesis 41:14.

Assiriese mans het besonderse baarde gehad. Hulle was amper behep met hulle baarde en het dit die grootste sorg gegee deur dit oordadig te krul, te vleg en dit in sekere style op te maak.

Die Israelitiese mans se baarde was van middelmatige lengte, en hulle het ’n skeermes gebruik om dit netjies te hou. Wat het God se Wet dus bedoel toe dit Israelitiese mans beveel het om ‘nie hulle sylokke rondom kort af te knip nie’ of ‘nie die rand van hulle baard te vernietig nie’? Dit was nie ’n gebod wat mense verbied het om hulle hare of baard te sny nie. Dit het die Israelitiese mans eerder ontmoedig om die uiterste godsdiensgebruike van die naburige heidense nasies na te volg. *Levitikus 19:27, NW; Jeremia 9:25, 26; 25:23; 49:32.

In die antieke Griekse gemeenskap het almal normaalweg ’n baard gedra, behalwe die adel, wat gewoonlik skoon geskeer was. In Rome het die gewoonte om te skeer blykbaar in die tweede eeu v.G.J. begin, en etlike eeue daarna was dit nog die gewoonte om elke dag te skeer.

Met die val van die Romeinse Ryk het die baard egter weer vir die volgende 1 000 jaar gewild geword tot en met die tweede helfte van die 17de eeu, toe dit weer mode geword het om te skeer. Die skoon geskeerde voorkoms het regdeur die 18de eeu in die mode gebly. Maar toe, teen die middel- tot laat-19de eeu, het die pendulum na die ander kant toe geswaai. Dit is waarom C. T. Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, sowel as ’n mede-Christen, W. E. van Amburgh, op foto’s verskyn met stylvolle, netjiese baarde wat waardig en gepas in hulle tyd was. Maar in die vroeë deel van die 20ste eeu het dit weer gewild geword om te skeer, en in die meeste lande is dit nog die geval.

Is jy een van die miljoene mans wat elke dag met ’n skeermes skeer? Indien wel, wil jy dit seker so pynloos, bloedloos en doeltreffend as moontlik doen. Hiermee in gedagte kan jy gerus na die wenke kyk in die venster “Wenke vir dié wat ’n skeermes gebruik”. Miskien pas jy alreeds van hierdie wenke toe. Hoe dit ook al sy—lekker skeer!

[Voetnoot]

^ par. 12 Sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsye 266 en 1021, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Venster/Prente op bladsy 23]

Wenke vir dié wat ’n skeermes gebruik

Die boek Men’s Hair gee die volgende wenke vir die beste manier om ’n skeermes te gebruik. *

1. Maak die baard sag: Die enigste manier om gesighare werklik sag te maak, is om baie warm water te gebruik. Probeer, indien moontlik, om te skeer nadat jy gestort het, aangesien dit die water meer tyd gee om die baard sag te maak.

2. Aanwending van skeermiddels: Al die verskillende soorte seep, skuim, room en jel doen basies drie dinge. (1) Dit maak die baardhare nat, (2) dit hou hulle regop en (3) dit maak die vel glad sodat die skeermes makliker daaroor kan gly. Kies die produk wat die beste vir jou werk. En het jy al haaropknapper probeer? Dit maak ook hare sag.

3. Gebruik die regte skeermes op die regte manier: Die regte skeermes is ’n skerp skeermes. ’n Stomp skeermes kan jou vel beskadig. Skeer in die rigting waarin die hare groei. Jy sal dalk ’n gladde skeer kry as jy teen die groei van die baardhare skeer, maar dit kan baardhare onder die veloppervlak afsny en veroorsaak dat dit in die omliggende weefsel ingroei en nie uit deur die sweetgaatjies van die vel nie. Volgens party bronne kan nalatige skeergewoontes—by mans en vroue—virusinfeksies veroorsaak wat tot vratte kan lei.

4. Naskeerbeskerming vir jou vel: Wanneer jy skeer, verwyder jy ’n mikroskopiese lagie vel, ­sodat jou vel minder beskermd is. Daarom is dit belangrik om jou gesig met skoon water af te was—eers met warm water en dan met koue water om jou sweetgaatjies toe te maak en vog in te hou. As jy wil, kan jy ’n bevogtigende naskeermiddel aanwend om jou vel te beskerm en te verfris.

[Voetnoot]

^ par. 20 Hierdie artikel bespreek skeer vir mans. In baie lande skeer vroue ook dele van hulle liggaam, en gevolglik sal hulle ook van die punte wat hier genoem word nuttig vind.

[Venster/Prent op bladsy 24]

Wat is baardhare?

Baardhare is hare wat op die gesig groei. Dit is van keratien en verwante proteïene gemaak. Keratien is ’n veselagtige, swaelbevattende proteïen wat deur die liggaam van mense en diere vervaardig word en is die basiese bousteen van hare, naels, vere, hoewe en horings. Van al die hare op die menseliggaam is die baardhare van die sterkste en mees elastiese, en dit is net so moeilik om dit te sny soos om ’n koperdraad van dieselfde dikte te sny. Daar is tot 25 000 hare op die gesig van ’n gemiddelde man, en dit groei teen ’n tempo van ongeveer ’n halfmillimeter elke 24 uur.

[Erkenning]

Mans: A Pictorial Archive from Nineteenth-Century Sources/Dover Publications, Inc.

[Prente op bladsy 24]

Skeer was soms in en soms uit die mode

Egipties

Assiries

Romeins

[Erkennings]

Museo Egizio di Torino

Foto’s geneem met vergunning van British Museum