Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kartering van die hemele—In die verlede en die hede

Kartering van die hemele—In die verlede en die hede

 Kartering van die hemele—In die verlede en die hede

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NEDERLAND

DIE skouspel van ’n swart, fluweelagtige hemel wat met sterre besaai is, het die mens al dikwels met ontsag vervul, en deur die geskiedenis heen het dit hom beweeg om uiting te gee aan sy bewondering vir die Skepper van sulke skoonheid. ’n Digter het lank gelede uitgeroep: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande” (Psalm 19:2). Maar eertydse waarnemers van die naghemel het meer as net skoonheid gesien.

Beelde in die hemel

Sterrekundiges in vervloë tye het opgemerk dat dit lyk of die sterre almal op ’n ordelike wyse saam beweeg. Hoewel sterre van oos na wes oor die hemelruim beweeg het, het hulle posisie ten opsigte van mekaar nie verander nie. * Met ander woorde, presies dieselfde groepe sterre was elke nag sigbaar. Aangesien die mens ’n mate van orde in daardie tallose ligspikkels wou skep, het hy die sterre gegroepeer. Met ’n bietjie verbeelding het hierdie groepe soos diere, mense of lewelose voorwerpe gelyk. Só het die gebruik ontstaan om vasgestelde groepe sterre as sterrebeelde te beskou.

Party van die sterrebeelde wat ons vandag ken, is aanvanklik in eertydse Babilon beskryf. Dit sluit die 12 sterrebeelde in wat die tekens van die diereriem voorstel. Hulle het ’n belangrike rol gespeel—en speel nog steeds ’n belangrike rol—in sterrewiggelary, die voorspelling van die veronderstelde invloed wat die sterre op menseaangeleenthede het. Om voortekens in die sterre te soek, word egter in die Bybel veroordeel (Deuteronomium 18:10-12). Maar aanbidders van Jehovah God was bewus van die bestaan van sterrestelsels. Die Bybelboek Job praat byvoorbeeld van Jehovah as die een “wat die Asj-sterrebeeld, die  Kesil-sterrebeeld en die Kima-sterrebeeld” gemaak het.—Job 9:9NW.

Die name van baie van die sterrebeelde wat ons vandag ken, kom uit die Griekse mitologie. Name soos Cepheus, Cassiopeia, Andromeda en Hercules kom nog steeds op hedendaagse sterrekaarte voor.

Sterrekaarte van die verlede

Omstreeks 150 G.J. het die Griekse sterrekundige Ptolemeus ’n oorsig uitgegee van die sterrekundige kennis wat in sy tyd beskikbaar was. Hierdie oorsig, met die titel Almagest, bevat ’n lys van 48 sterrebeelde. Kaarte en atlasse van die hemel wat in die eeue ná Ptolemeus gemaak is, het gewoonlik dieselfde 48 sterrebeelde uitgebeeld. Trouens, tot ongeveer die 16de eeu het die aantal sterrebeelde nie verander nie. * Later is 40 ander sterrebeelde bygevoeg. In 1922 het die Internasionale Astronomiese Unie hierdie lys van 88 sterrebeelde goedgekeur.

Buiten sterrebeelde het Ptolemeus se publikasie ook ’n lys van meer as duisend sterre ingesluit, met inligting oor hulle helderheid en hulle ligging in die hemel. Ptolemeus gee nie net die ligging van ’n ster in hemellengte en -breedte aan nie, maar hy voeg verdere besonderhede by. Een ster in die sterrebeeld Ursa Major, oftewel die Groot Beer, word byvoorbeeld beskryf as “die ster by die begin van die stert”, en die ligging van ’n komeet word aangegee as “links van Andromeda se regterknie”. “Elke goeie sterrekundige”, sê een handboek, “moes [dus] sy hemelanatomie ken!”

Maar waarom is die meeste eertydse sterrebeelde in die noordelike hemel geleë? Dit is omdat die gebruik om sekere groepe sterre as sterrebeelde te beskou in die Mediterreense gebied ontstaan het, waar die noordelike hemel sigbaar is, verduidelik ’n uranograaf, oftewel ’n kartograaf van die hemel. Dit was eers later, toe die mens die suidelike hemel begin verken het, dat nuwe sterrebeelde geïdentifiseer is. Party van hierdie nuwer sterrebeelde het name soos Chemiese Oond, Pendulumhorlosie, Mikroskoop en Teleskoop.

“Die Christelike sterrehemel”

In 1627 het die Duitse geleerde Julius Schiller ’n sterreatlas gepubliseer met die titel Coelum Stellatum Christianum (Die Christelike sterrehemel). Hy het gemeen dat dit hoog tyd was dat die hemele van sy heidense name gesuiwer word. Gevolglik het hy begin om die heidense karakters uit die hemel te verwyder en hulle met karakters uit die Bybel te vervang. Die boek The Mapping of the Heavens verduidelik dat hy “die noordelike hemele aan die Nuwe Testament en die suidelike aan die Ou Testament” toegeken het. “Schiller se suidelike halfrond is verander in ’n statige optog van karakters uit die Ou Testament—Job neem die plek van die Indiër en die Pou in, die Perdmens is in Abraham en Isak verander.” In die Noordelike Halfrond “word Cassiopeia Maria Magdalena, Perseus word St. Paulus, terwyl die twaalf  tekens van die diereriem eenvoudig deur die twaalf apostels vervang word”.

Net een klein sterrebeeld het hierdie suiwering oorleef. Dit was Columba (Duif), wat skynbaar die duif voorgestel het wat Noag uit die ark gestuur het om droë land te vind.

Kaarte besig om te verander

Die voorkoms van sterrekaarte het mettertyd verander. In die 17de eeu, ná die uitvinding van die teleskoop, het ’n behoefte ontstaan om kaarte te hê wat die ligging van sterre akkurater aangee. Daarbenewens was daar minder oordadige versierings wat oral op vroeëre kaarte verskyn het en uiteindelik het dit heeltemal verdwyn. Vandag bevat die meeste sterreatlasse net sterre, sterrehope, newels, sterrestelsels en ander voorwerpe wat vir die waarnemer van die naghemel van belang is.

In die middel van die 19de eeu is daar begin om omvattender katalogusse te maak. Een van die baanbrekers op hierdie gebied was die Duitse sterrekundige Friedrich Wilhelm Argelander. Saam met etlike assistente het hy die ontsaglike taak aangepak om die sterre in die noordelike hemel te katalogiseer. Met ’n teleskoop het hulle ongeveer 325 000 sterre opgespoor en elkeen se ligging bepaal en graad van helderheid gemeet. Aangesien die sterrewag waar hulle gewerk het in die Duitse stad Bonn geleë was, het die katalogus bekend geword as die Bonner Durchmusterung (Bonn se katalogus). Dit is in 1863 gepubliseer. Ná Argelander se dood is sy werk deur een van sy assistente voortgesit. Hy het die sterre van die suidelike hemel gekarteer en sy werk gepubliseer as die Südliche Bonner Durchmusterung (Bonn se suidelike katalogus). Die finale katalogus is in 1930 gepubliseer. Dit is in Cordoba, Argentinië, uitgegee. Hierdie katalogusse is vandag nog net so waardevol.

Vandag en môre

Die werk van Argelander en sy opvolgers is gevolg deur selfs beter katalogusse. Maar in onlangser jare, ná die koms van ruimteteleskope, het ongekende kartografieprestasies moontlik geword. Met behulp van die Hubble-ruimteteleskoop het sterrekundiges nou ’n katalogus saamgestel wat ongeveer 15 miljoen sterre bevat!

’n Onlangse ontwikkeling in die kartering van die hemele is die publikasie van twee nuwe katalogusse deur die Europese Ruimteagentskap. Hierdie katalogusse is gebaseer op waarnemings deur die ruimteteleskoop van die Hipparcos-satelliet. Die akkuraatheid van hierdie katalogusse is nog ongeëwenaard. Nuwe gedrukte sterreatlasse is gemaak wat op hierdie katalogusse gebaseer is. Een hiervan is ’n omvattende atlas in drie dele wat die Millennium Star Atlas genoem word.

Hierdie titel herinner lesers van die Bybel moontlik aan die Millennium, oftewel Christus se Duisendjarige Heerskappy van vrede, wat in die Bybel genoem word (Openbaring 20:4). Gedurende daardie tyd sal die mens ongetwyfeld baie meer oor die ontsagwekkende heelal leer, waarvan selfs vandag se grootste sterreatlasse net ’n klein gedeelte kan karteer.

[Voetnote]

^ par. 5 Eertydse volke was nie daarvan bewus dat hierdie skynbare beweging van sterre veroorsaak word deur die draaiing van die aarde om sy eie as nie. Om dieselfde rede lyk dit of die son opkom en ondergaan.

^ par. 9 Hierdie 48 sterrebeelde was in Mesopotamië, die Mediterreense gebied en Europa bekend. Later was hulle ook bekend aan diegene wat na Noord-Amerika en Australië geïmmigreer het. Maar ander volke, soos die Chinese en die Noord-Amerikaanse Indiane, het ’n ander verdeling van die hemel gebruik.

[Prent op bladsy 25]

Apian se sterrekaart, 1540

[Erkenning]

Met toestemming van: The British Library (Maps C.6.d.5.: Apian’s Star Chart)

[Prent op bladsy 26]

Suidelike Halfrond soos dit in die 19de eeu gekarteer is

[Erkenning]

© 1998 Visual Language

[Prent op bladsy 27]

Die sterrebeeld Orion soos dit op ’n hedendaagse sterrekaart verskyn

[Foto-erkenning op bladsy 27]

Agtergrond op bladsye 25-7: Met vergunning van: ROE/Anglo-Australian Observatory, foto deur David Malin