Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Joachim Barrande se “koninklike geskenk”

Joachim Barrande se “koninklike geskenk”

 Joachim Barrande se “koninklike geskenk”

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE TSJEGGIESE REPUBLIEK

“DIT is meer as ’n koninklike geskenk, dit is die indrukwekkendste eerbetoon nog aan die Tsjeggiese volk!” Dit is hoe ’n joernalis die erflating beskryf het wat die Tsjeggiese Nasionale Museum van Joachim Barrande, die beroemde 19de-eeuse paleontoloog, ontvang het. Barrande se “koninklike geskenk” aan die Tsjeggiese volk het bestaan uit ’n belangrike versameling van meer as 1 200 kratte vol fossiele, wat hy oor dekades versamel, bestudeer en geklassifiseer het. Hoewel jy miskien nie liries sal raak oor ’n versameling ou fossiele nie, is Barrande se geskenk vir paleontoloë baie waardevoller as ’n kosbare skat!

’n Paleontoloog is ’n wetenskaplike wat lewe in vroeëre geologiese tydperke deur middel van fossieloorblyfsels bestudeer. Paleontologie is ’n betreklik nuwe wetenskap. Gedurende die Middeleeue is fossiele as “natuurfratse” afgemaak, of mense het gedink dat dit oorblyfsels van drake was. Maar teen die 18de eeu het mense in die hoër stande daarin begin belangstel om fossiele te versamel. Wetenskaplikes in baie lande het ook begin belangstel in die studie van fossiele. Joachim Barrande was een van hulle. Wat weet ons omtrent Barrande, en wat was sy bydrae tot paleontologie? Aangesien hy ’n tydgenoot van Charles Darwin was, hoe het Barrande Darwin se evolusieteorie beskou?

Barrande verander van beroep

Joachim Barrande is in 1799 in Saugues, ’n klein dorpie in suidelike Frankryk, gebore. Hy  het ingenieurswese in Parys gestudeer en in die bou van paaie en brûe gespesialiseer. Hy het terselfdertyd kursusse in die natuurwetenskappe gevolg. Dit het gou duidelik geword dat hy ’n aanleg vir daardie vakgebied gehad het. Nadat hy gegradueer het, het Barrande as ’n ingenieur begin werk, maar toe hy die aandag van die Franse koningsgesin getrek het, is hy genooi om die kleinseun van koning Karel X privaat les te gee. Die onderwerp—natuurwetenskap. As gevolg van ’n revolusie in Frankryk is die koningsgesin in 1830 verban, en hulle het uiteindelik na Boheme gegaan. Barrande het daar by hulle aangesluit. Dit was in Praag, die hoofstad van Boheme, waar Barrande weer as ingenieur begin werk het.

As ’n deskundige wat die bou van paaie en brûe betref, is die taak aan Barrande opgedra om die landelike gebied rondom Praag op te meet vir ’n voorgenome spoorlyn vir spoorwaens wat deur perde getrek sou word. Terwyl hy sy werk gedoen het, het Barrande opgemerk dat daar volop fossiele in die gebied is. Hy het nader ondersoek ingestel en was verbaas om merkwaardige ooreenkomste tussen die aardlae van Boheme en die aardlae van Brittanje te ontdek. Barrande se liefde vir die natuurwetenskappe is opnuut aangewakker, en hy het uiteindelik opgehou om as ingenieur te werk en het die volgende 44 jaar van sy lewe aan die studie van paleontologie en geologie gewy.

Barrande se klaskamer was die fossielryke platteland van Sentraal-Boheme. Elke dag was daar nuwe ontdekkings van uitsonderlike prag en verskeidenheid. Teen 1846 was hy gereed om die eerste bevindings van sy navorsing te publiseer. In hierdie werk het hy nuwe trilobietspesies, wat vroeër op die seebodem gelewe het, beskryf en geklassifiseer.

Barrande het voortgegaan om fossiele te versamel en te bestudeer. Toe, in 1852, het hy die eerste deel van ’n monografie, oftewel verhandeling, met die titel The Silurian System of Central Bohemia gepubliseer. * Deel I het oor die trilobiete gehandel. Dit is gevolg deur dele oor skaaldiere, kraakbeenvisse, koppotiges, mosselagtiges en ander gefossileerde organismes. Gedurende sy leeftyd het hy 22 dele gepubliseer waarin hy meer as 3 500 spesies in besonderhede beskryf het. Die werk is een van die grootste monografieë op die gebied van paleontologie.

Noukeurig en gedissiplineerd

Barrande se metodes het hom van ander navorsers onderskei. Hy het sy werk as ’n natuurondersoeker met die dissipline van ’n ingenieur benader. As ’n ontwerper het hy nie onakkurate  berekeninge of tekeninge geduld nie. As ’n paleontoloog het hy daarna gestreef om ’n uiters hoë vlak van presisie in sy tekeninge te bereik, en hy het baie moeite gedoen om te verseker dat hulle tot in die fynste besonderhede akkuraat was. Hy het self verbeteringe aangebring op baie van die tekeninge wat in sy monografie ingesluit is, al is die oorspronklike tekeninge deur ’n professionele kunstenaar geteken.

Barrande se noukeurigheid was egter nie tot sy tekeninge beperk nie. Nadat elke deel van sy monografie geset is, het hy self die teks nagesien. As hy nie tevrede was nie, het hy die onbevredigende dele teruggestuur om weer geset te word. Dit was Barrande se doelwit om te verseker dat elke werk wat hy gepubliseer het so akkuraat moontlik was. Hy het uitstekend daarin geslaag. Vandag, byna 150 jaar later, gebruik navorsers nog steeds die Silurian System as ’n naslaanwerk.

Wat van evolusie?

Toe Charles Darwin se boek The Origin of Species in 1859 gepubliseer is, het baie wetenskaplikes met die stroom saamgegaan. Maar nie Barrande nie. Van die begin af het hy die evolusieteorie verwerp omdat hy niks in die fossielverslag gesien het wat hom daarvan oortuig het dat die teorie waar was nie. Barrande het gesê dat die doel van sy werk was om “vas te stel wat die werklikheid is en nie om verbygaande teorieë op te stel nie”. (Ons kursiveer.) Trouens, op die titelblad van elke deel van die Silurian System het hy die volgende leuse geskryf: “C’est ce que j’ai vu” (Dit is wat ek gesien het).

Barrande het wel opgemerk dat die liggame van baie diere in verskillende stadiums van ontwikkeling was. Maar hy het tot die regte gevolgtrekking gekom, naamlik dat hulle van dieselfde spesie was, maar van verskillende ouderdomme. Hy het geen getuienis gesien dat een soort dier tot ’n ander soort ontwikkel het nie. Die boek A Petrified World sê die volgende ter opsomming van Barrande se filosofie: “Barrande se hele werk is . . . op feite gebaseer, en dit is die beste kenmerk daarvan. Op hierdie stadium van basiese navorsing is daar geen plek vir spekulasie of gissing nie en ook nie vir algemene teorieë nie.”

’n Nederige man gee ’n “koninklike geskenk”

Ten spyte van die feit dat hy so suksesvol was, het Barrande nooit in die strik van trots of oneerlikheid getrap nie. Alhoewel hy op sy gemak was by die intellektuele van Europa en verskeie tale gepraat het, het hy hom altyd soos ’n gewone mens gedra. Hy het Tsjeggies geleer sodat hy nader aan die mense kon wees. Dit het hom gehelp in sy werk, aangesien hy kon kommunikeer met die steengroefwerkers wat hom gehelp het om nuwe fossiele vir sy versameling te vind.

Barrande was ’n godsdienstige man, en wat hy in die natuur gevind het, het sy geloof in God versterk. Hy het fossiele “medaljons van die eerste skeppingswerke” genoem. Daarbenewens het hy in die inleiding tot sy werk verwys na die emosies wat hom beweeg het om aan te hou studeer: “Dit is ’n gevoel van bewondering, bevrediging en erkenning wat die persoon oorweldig wat ’n deel van die Skepper se werke ontdek of daaroor nadink.”

Joachim Barrande is in 1883 oorlede en het wetenskaplike materiaal van onskatbare waarde agtergelaat. Die noukeurigheid waarmee hy sy werk benader het, word deur wetenskaplikes regoor die wêreld waardeer. Weens sy realistiese, feitelike benadering is Joachim Barrande se sorgvuldig gedokumenteerde ontdekkings vandag nog vir navorsers van nut. Uit ’n wetenskaplike oogpunt het die joernalis nie oordryf toe hy gesê het dat Barrande se erflating “meer as ’n koninklike geskenk” was nie.

[Voetnoot]

^ par. 9 “Silurian”, in Afrikaans Siluries, is die geologiese term vir wat volgens mening een van die oudste periodes van ons planeet is.

[Prente op bladsy 12, 13]

Barrande se tekeninge van trilobiete, 1852

[Erkenning]

Sketse: S laskavým svolením Národní knihovny v Praze

[Foto-erkenning op bladsy 12]

Portret: Z knihy Vývoj české přírodovědy, 1931