Spring na inhoud

4 JUNIE 2014
WÊRELDNUUS

Getuies hou internasionale byeenkomste

Getuies hou internasionale byeenkomste

NEW YORK—Die eerste van die driedaagse internasionale byeenkomste van Jehovah se Getuies met die tema “Hou aan om eers God se Koninkryk te soek!” sal op Vrydagoggend 6 Junie 2014 by Ford Field in Detroit, Michigan, VSA, gehou word. Dele van hierdie program sal uitgesaai word na ander byeenkomste in Arizona, Florida, Illinois, Kalifornië, Missouri, New Jersey en Noord-Carolina en sal vertaal word in Albanees, Koreaans, Pools en Portugees.

J.R. Brown, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies by hulle wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, sê: “Oor die afgelope drie weke het Getuies in Detroit en die stede wat deur middel van videoverbinding ingeskakel sal wees, mense persoonlik na hierdie merkwaardige geleentheid genooi. In Detroit verwag ons ongeveer 45 000 mense uit verskillende agtergronde, insluitende meer as 2 000 afgevaardigdes uit Australië, Duitsland, Kanada en Taiwan.”

Regdeur die somer sal die Getuies in die Verenigde State 16 internasionale byeenkomste in groot stadions in altesaam tien verskillende state hou. By sekere byeenkomste sal die program in sy geheel of gedeeltelik aangebied word in Albanees, Amerikaanse Gebaretaal, Arabies, Armeens, Chuukees, Frans, Grieks, Haïtiaanse Kreools, Hindi, Iloko, Indonesies, Italiaans, Japannees, Kantonnees, Koreaans, Mandaryns, Marshallees, Persies, Pools, Roemeens, Russies, Samoaans, Spaans, Tagalog, Twi en Viëtnamees. Vanaf Junie 2014 tot in 2015 sal die Getuies internasionale byeenkomste hou in Australië, Duitsland, Ecuador, Engeland, Griekeland, Mexiko, Suid-Korea en Zimbabwe.

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000