Spring na inhoud

’n Plaas wat miljoene voed

’n Plaas wat miljoene voed

Veertig jaar gelede, op 2 Februarie 1973, is nuwe drukperse in Wallkill, New York, VSA, geïnstalleer om die tydskrifte Die Wagtoring en Ontwaak! te druk.

Tien jaar tevore het Jehovah se Getuies ’n plaas daar gekoop om die personeel by hulle hoofkwartier in Brooklyn, New York, van voedsel te voorsien. Maar nou sou daar op dieselfde eiendom ook ’n ander soort voedsel, geestelike voedsel, vervaardig word.—Matteus 24:45-47.

Watchtower Farms, Wallkill, New York, vroeë 1970’s

Philip Wilcox, wat op daardie stadium die opsiener van die drukperse was, sê aangaande die eerste dag dat die perse by Wallkill in werking was: “Dit het ons byna ’n maand geneem om die hoëspoed-rotasieperse te monteer. Nou was die perse gereed, en ons het dit begin toets. Ons het gou ’n paar duisend tydskrifte gehad. Ons het dit teruggestuur na ons drukkery in Brooklyn, waar dit vir gemeentelike bestellings gebruik is. Ons was vasbeslote om nie ’n enkele tydskrif te vermors nie.”

Jehovah se Getuies het hierdie nuwe drukkery opgerig om te help met die werklas van die groot drukfasiliteite wat destyds in Brooklyn was. Teen die vroeë 1970’s het die aanvraag na Bybellektuur gereeld die daaglikse produksievermoë oorskry, en daarom moes die drukkery in Brooklyn nagskof werk net om by te hou met die aanvraag.

Bo: Installering van die eerste M.A.N.-pers by Wallkill, Januarie 1973. Onder: Papier word in die M.A.N.-pers ingevoer

Toe die eerste gebou van die drukkery in Wallkill klaar was, het dit vier drukperse, ’n versendingsafdeling en ’n Koninkryksaal bevat. Maar voordat dit in volle werking was, is daar begin met die konstruksie van ’n tweede, groter gebou, reg langs die eerste een. Die aanvraag na Bybellektuur was so groot dat ses bykomende perse in die tweede gebou geïnstalleer is, selfs voordat die gebou klaar was.

Oor die jare heen het die drukperstegnologie verbeter en het die aanvraag na ons Bybellektuur toegeneem. As gevolg hiervan moes ons etlike kere nuwe toerusting installeer sowel as die Wallkill-drukkery uitbrei. In die 1980’s het hoëspoed-rubberdrukperse die verouderde hoogdrukperse vervang.

Bo: Katerns word vir die Wallkill-boekbindery voorberei, 2005. Onder: Watchtower Farms, Wallkill, New York, 2013

In 2004 is die Brooklyn-drukkery gesluit, en vir die eerste keer is boeke in Wallkill vervaardig. In 2010 is die druk van tydskrifte weer eens noordwaarts verskuif, dié keer na die Kanadese takkantoor van Jehovah se Getuies. Die nuwe drukpers daar kan 200 000 tydskrifte per uur druk.

Vandag is die drukkery in Wallkill ’n hoogs geoutomatiseerde, gesofistikeerde fasiliteit waar sowat 280 gewillige mans en vroue werk. Verlede jaar is meer as 17 miljoen boeke en Bybels daar vervaardig. Benewens die drukkerye in Wallkill, Kanada en Mexiko in Noord-Amerika het Jehovah se Getuies nog 12 drukkerye—in Afrika, Asië, Australië, Europa en Suid-Amerika—wat in die geestelike behoefte van miljoene voorsien.—Matteus 5:3.