Spring na inhoud

Watchtower Farms—Vyf dekades van oeswerk

Watchtower Farms—Vyf dekades van oeswerk

Ongeveer 145 kilometer noord van die stad New York, naby die dorpie Wallkill, New York, lê ’n groep plase wat al jare lank ’n belangrike rol in die wêreldwye Bybelonderrigtingswerk van Jehovah se Getuies speel. Die eerste van hierdie plase wat nou Watchtower Farms genoem word, is 50 jaar gelede, op 2 Januarie 1963, gekoop.

David Walker, een van Jehovah se Getuies wat al sedert die begin by Wallkill dien, vertel waarom die eerste plaas gekoop is: “Die personeel by die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, het toegeneem, en ons moes hulle op ’n koste-effektiewe manier voed. Die ander landbougrond wat Jehovah se Getuies in die noorde van die staat New York gebruik het, was ses tot agt uur van Brooklyn af. Wallkill was net twee uur van Brooklyn af. Dit was dus die ideale plek om in ons behoeftes te voorsien.” Uiteindelik het Jehovah se Getuies hierdie plaas gebruik om vrugte en groente te kweek en om met hoenders, varke en beeste te boer vir vleis en suiwelprodukte. Mettertyd is nog plase bygevoeg.

Binne ’n dekade het die wêreldwye groei van Jehovah se Getuies tot unieke verwikkelinge by Wallkill gelei. Benewens die kweek van letterlike gewasse wat geoes kon word, is daar begin met die vervaardiging van lektuur wat sou help met die figuurlike oeswerk waarvan Jesus gepraat het (Matteus 9:37; Lukas 10:2; Johannes 4:35, 36). Kyk na van die werk wat by Wallkill gedoen word.

Drukwerk: In die middel van die 20ste eeu het die drukkery in Brooklyn, New York, die meeste van ons Bybellektuur vervaardig. Maar toe die aanvraag na lektuur toegeneem het, kon die drukkery in Brooklyn nie meer byhou nie. Gevolglik het Jehovah se Getuies in 1973 ’n bykomende drukkery by Wallkill voltooi. Sedertdien is die geboue waarin die drukwerk gedoen word, etlike kere uitgebrei, die laaste keer in 2004.

Rekenaartegnologie: In 1979 het ’n span van Jehovah se Getuies by Wallkill begin werk aan ’n rekenaarstelsel, wat nou die Veeltalige Elektroniese Setstelsel (MEPS) genoem word. Hierdie stelsel maak dit moontlik om Bybellektuur in meer as 600 tale te publiseer.

Opvoeding: In 1988 het die Wagtoring-Bybelskool Gilead van Brooklyn na Wallkill verskuif, en dit het op 17 Oktober begin funksioneer. Die skool was daar totdat dit in April 1995 na die Wagtoring-onderrigsentrum by Patterson, New York, verskuif is.

Soos in die geval van ander plase het die tegnieke en bedrywighede by Watchtower Farms oor die afgelope vyf dekades verander. ’n Daadwerklike poging word nietemin aangewend om voedselprodukte van goeie gehalte te voorsien aan Jehovah se Getuies wat nou by die Bethelfasiliteite in New York dien.

Jehovah se Getuies bou tans nuwe kantoor-, woon- en ondersteuningsfasiliteite by Wallkill. Hulle knap ook bestaande geboue op. Al hierdie werk sal Watchtower Farms help om steeds te voorsien in die geestelike behoeftes van die toenemende aantal Getuies van Jehovah in hierdie deel van die wêreld.

David Walker, wat vroeër aangehaal is, sê: “Dit verskaf my groot vreugde om te sien hoe die fasiliteite by Wallkill oor die afgelope 50 jaar gegroei het en bygedra het tot ons wêreldwye werk om die Bybel se boodskap aan mense oor te dra!”