Spring na inhoud

Is Jehovah se Getuies gekant teen inenting?

Is Jehovah se Getuies gekant teen inenting?

 Nee. Jehovah se Getuies is nie gekant teen inenting nie. Ons beskou inenting as ’n persoonlike besluit wat elke Christen self moet maak. Baie Getuies van Jehovah kies om ingeënt te word.

 Ons wil graag goeie mediese sorg hê, en ons is bly dat daar soveel vooruitgang in die mediese wetenskap gemaak is om die risiko van ernstige siektes te verminder. Ons is ook dankbaar vir die toewyding en harde werk van gesondheidswerkers, veral wanneer daar ’n krisis is.

 Jehovah se Getuies werk saam met gesondheidsamptenare. Byvoorbeeld, vandat die COVID-19-pandemie uitgebreek het, het Jehovah se Getuies in honderde tale op hulle webwerf aangehou om mense aan te moedig om plaaslike veiligheidsmaatreëls te volg. Dit het inligting ingesluit soos hoe belangrik dit is om fisiese afstand van mense te behou. Die webwerf het ook beklemtoon dat die vereiste riglyne van regerings gevolg moet wanneer dit kom by samekomste, om in kwarantyn geplaas te word, om jou hande te was en om ’n gesigmasker te dra, sowel as om ander praktiese maatreëls te volg. – Romeine 13:1, 2.

 Die publikasies van Jehovah se Getuies beklemtoon al jare lank die volgende beginsels:

  •   Besluite oor gesondheidsorg is ’n persoonlike saak. – Galasiërs 6:5.

     “[Hierdie tydskrif] beveel nie een soort medisyne of behandeling bo ’n ander aan nie en bied nie mediese advies nie. Sy doel is bloot om die feite te verstrek en dit aan die leser oor te laat om te oordeel en besluite te neem.” – Ontwaak!, 8 Februarie 1987.

     “Die vraag of jy en jou kinders geënt moet word, is iets waaroor jy self moet besluit.” – Ontwaak!, 22 November 1965.

  •   Ons aanvaar mediese behandeling omdat ons lewe as baie kosbaar beskou. – Handelinge 17:28.

     “Getuies maak gebruik van die verskillende vorms van mediese behandeling om hulle met hulle gesondheidsprobleme te help. Hulle het die lewe lief en wil graag alles wat redelik en Skriftuurlik is, doen om dit te verleng.” – Die Wagtoring, 1 Oktober 1975.

     “Jehovah se Getuies aanvaar . . . graag medisyne en mediese behandeling. Hulle wil goeie gesondheid geniet en so lank moontlik lewe. Trouens, party van Jehovah se Getuies is dokters, soos die eerste-eeuse Christen Lukas was. . . . Jehovah se Getuies waardeer beslis die harde werk en toewyding van dié wat mediese sorg voorsien. Hulle is ook dankbaar vir die feit dat hierdie persone welkome verligting van siekte bied.” – Die Wagtoring, 1 Februarie 2011.