Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Leer jou kinders

Hoekom Jesus nie haastig was nie

Hoekom Jesus nie haastig was nie

JESUS het gehoor dat sy goeie vriend Lasarus baie siek is. ’n Boodskapper wat deur Maria en Marta, Lasarus se susters, gestuur is, het Jesus die nuus vertel. Die boodskapper kom van Betanië af, waar Lasarus en sy susters woon. Die susters glo dat Jesus hulle broer gesond kan maak, al woon hulle ver van hom af aan die anderkant van die Jordaanrivier. Hulle weet dat hy mense al voorheen van ver af gesond gemaak het.—Matteus 8:5-13; Johannes 11:1-3.

Toe die boodskapper by Jesus kom en vir hom die hartseer nuus vertel, het Jesus niks gedoen nie. Die Bybel sê: “Hy [het] tog nog twee dae op die plek gebly waar hy was” (Johannes 11:6). Weet jy hoekom Jesus nie gou maak om Lasarus te gaan help nie?— * Kom ons praat hieroor.

Jesus weet dat Lasarus weens sy siekte doodgegaan het. Daarom sê hy vir sy apostels: “Laat ons weer na Judea gaan.” Maar hulle sê: “Onlangs nog wou die Judeërs u stenig, en gaan u weer daarheen?” Jesus verduidelik: “Lasarus, ons vriend, het gaan rus, maar ek reis daarheen om hom uit die slaap wakker te maak.”

“Here, as hy gaan rus het”, antwoord die dissipels, “sal hy gesond word.” Nou verduidelik Jesus: “Lasarus het gesterf.” Dan sê hy iets wat hulle sekerlik verbaas het: “Om julle onthalwe is ek bly dat ek nie daar was nie . . . Maar laat ons na hom toe gaan.”

Tomas sê dan moedig: ‘Laat ons gaan, sodat ons saam met Jesus kan sterf.’ Tomas weet dat Jesus se vyande hom weer sal probeer doodmaak en dat die apostels ook doodgemaak kan word. Maar hulle almal gaan in elk geval. Ná omtrent twee dae kom hulle in Betanië, Lasarus se tuisdorp, aan. Dit is omtrent drie kilometer van Jerusalem af.—Johannes 11:7-18.

Weet jy hoekom Jesus bly is dat hy nie vroeër daar aangekom het nie?— Wel, Jesus het voorheen ander mense opgewek, maar daardie mense was net ’n paar uur dood toe Jesus hulle weer lewend gemaak het (Lukas 7:11-17, 22; 8:49-56). Maar Lasarus se liggaam was al dae lank in die graf. Niemand kan twyfel dat hy regtig dood is nie!

Toe Lasarus se suster Marta hoor dat Jesus naby Betanië is, hardloop sy uit om hom te gaan ontmoet. “Here, as u hier was, sou my broer nie gesterf het nie”, sê sy. “Jou broer sal opstaan”, verseker Jesus haar. Marta hardloop terug en sê stilletjies vir haar suster, Maria: “Die Leermeester is hier en hy roep jou.”

 Maria gaan dadelik na Jesus toe. Maar die skare dink dat sy na die graf toe gaan, en daarom volg hulle haar. Toe Jesus sien hoe Maria en die skare wat saam met haar was, huil, stort hy ook “trane”. Kort daarna kom hulle almal by die graf aan, wat met ’n groot klip verseël is. Jesus beveel: “Neem die klip weg.” Maar Marta maak beswaar en sê: “Here, hy moet nou al ruik, want dit is vier dae.”

Die mense luister na Jesus en neem die klip weg. Dan bid hy en dank hy God voor die tyd vir die krag wat hy weet God hom sal gee om Lasarus op te wek. “Met ’n harde stem” roep Jesus uit: “Lasarus, kom uit!” En Lasarus kom uitgeloop “met grafdoeke gebind”. Daarom beveel Jesus: “Maak hom los en laat hom gaan.”—Johannes 11:19-44.

Verstaan jy nou hoekom Jesus nie haastig was nie?— Hy het geweet dat hy ’n beter getuienis oor sy Vader, Jehovah, kan gee as hy wag. En omdat hy die beste tyd gekies het, het baie mense in God begin glo (Johannes 11:45). Kan jy sien wat ons uit Jesus se voorbeeld kan leer?—

Dalk kan jy ook ’n goeie tyd kies om ’n getuienis te gee oor die wonderlike dinge wat God gedoen het en nog sal doen. Jy kan miskien met die kinders by die skool of met jou onderwysers daaroor praat. Sommige jongmense het selfs in die klas die geleentheid gebruik om ander te vertel van die groot seëninge wat God se Koninkryk vir die mensdom sal meebring. Jy kan natuurlik nie die dooies opwek nie, maar jy kan ander help om die God te leer ken wat dit kan doen en wat ons geliefdes weer lewend sal maak.

^ par. 4 As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.