Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | WANNEER ’N GELIEFDE STERF

Vertroos dié wat treur

Vertroos dié wat treur

Het jy al ooit hulpeloos gevoel toe iemand na aan jou oor die dood van ’n geliefde getreur het? Soms weet ons nie wat om te sê of wat om te doen nie—en op die ou end sê en doen ons niks nie. Maar daar is praktiese, nuttige dinge wat ons kan doen.

Dikwels is jou teenwoordigheid en ’n paar eenvoudige woorde, soos “Ek is so jammer”, al wat nodig is. In baie kulture kan ’n mens toon dat jy omgee deur die persoon eenvoudig ’n drukkie te gee of deur saggies aan sy arm te vat. As die bedroefde persoon wil praat, moet jy simpatiek luister. Maar nog beter, doen iets vir die bedroefde gesin. Jy kan iets te ete maak, na die kinders omsien of iets anders doen waarby die bedroefde persoon nog nie uitgekom het nie. Jy kan ook aanbied om te help met die begrafnisreëlings. Sulke dade kan baie meer beteken as die mooiste woorde.

Later kan jy dalk oor die oorledene praat, miskien oor sy goeie eienskappe of aangename herinneringe aan hom. So ’n gesprek kan die bedroefde persoon selfs laat glimlag. Pam—wat haar man, Ian, ses jaar gelede verloor het—sê byvoorbeeld: “Soms vertel mense my van goeie dinge wat Ian gedoen het waarvan ek nooit geweet het nie, en dit laat my goed voel.”

Navorsers berig dat talle bedroefde persone aanvanklik baie hulp van hulle vriende ontvang, maar wanneer hulle vriende weer met hulle eie lewens besig raak, vergeet hulle gou van hulle bedroefde vriende se behoeftes. Wend dus ’n poging aan om gereeld met ’n bedroefde vriend te gesels ná sy verlies. * Talle bedroefdes waardeer hierdie geleentheid om uiting te gee aan opgekropte gevoelens van droefheid.

Neem byvoorbeeld Kaori, ’n jong Japannese vrou wat verpletter was oor die dood van haar ma asook oor die dood van haar ouer suster 15 maande later. Gelukkig het sy voortdurend ondersteuning van lojale vriende ontvang. Een van Kaori se vriendinne, Ritsoeko, is baie ouer as sy en het gesê dat sy vir haar ’n hegte vriendin wil wees. “Om eerlik te wees”, sê Kaori, “ek het nie baie van die idee gehou nie. Ek wou nie hê dat enigiemand my ma se plek moet inneem nie, en ek het nie gedink dat enigiemand dit kon doen nie. Maar weens die manier waarop mama Ritsoeko my behandel het, het ek baie geheg aan haar geraak. Ons het elke week saam aan die predikingswerk deelgeneem en Christelike vergaderinge saam bygewoon. Sy het my genooi om saam met haar tee te drink, het vir my etes gebring en dikwels vir my briewe en kaartjies geskryf. Mama Ritsoeko se positiewe gesindheid het ’n goeie uitwerking op my gehad.”

Twaalf jaar het al verloop sedert Kaori se ma gesterf het, en vandag is sy en haar man voltydse predikers. Kaori sê: “Mama Ritsoeko toon nog steeds dat sy oor my besorg is. Wanneer ek my tuisdorp besoek, gaan kuier ek altyd vir haar en geniet ek haar opbouende geselskap.”

Nog ’n voorbeeld van iemand wat baat gevind het by volgehoue ondersteuning, is Poli, een van Jehovah se Getuies in Siprus. Poli se liefdevolle man, Sozos, het ’n goeie voorbeeld gestel as ’n Christenherder deur weeskinders en weduwees dikwels na hulle huis te nooi vir assosiasie en ’n ete (Jakobus 1:27). Ongelukkig het Sozos op die ouderdom van 53 weens ’n breingewas gesterf. “Ek het my lojale man met wie ek 33 jaar lank getroud was, verloor”, sê Poli.

Dink aan praktiese maniere om bedroefdes te help

Ná die begrafnis het Poli en haar jongste seun, die 15-jarige Daniel, na Kanada getrek. Hulle het met ’n gemeente van Jehovah se Getuies daar begin assosieer. “Die broers en susters in my nuwe gemeente”, vertel Poli, “het niks geweet van ons verlede en ons moeilike omstandighede nie. Maar hulle het na ons toe gekom en ons met vriendelike woorde verwelkom en praktiese hulp aangebied. Ons het hulle hulp baie waardeer, veral gedurende hierdie tyd toe my seun sy pa baie nodig gehad het! Die broers wat die leiding in die gemeente neem, het groot persoonlike belangstelling in Daniel getoon. Een van hulle het seker gemaak dat hy Daniel uitnooi wanneer hulle met vriende kuier of gaan voetbal speel.” Dit gaan vandag goed met Poli sowel as Daniel.

Ja, daar is baie maniere waarop ons praktiese hulp en vertroosting kan bied aan diegene wat treur. Die Bybel vertroos ons ook, want dit gee ons ’n opwindende hoop vir die toekoms.

^ par. 6 As ’n herinnering om ’n vriend te vertroos wat ’n geliefde verloor het, merk party die sterfdatum van die geliefde op hulle kalender sodat hulle hulle vriend kan vertroos wanneer hy of sy dit dalk die nodigste het—op of naby die datum waarop die geliefde gesterf het.