Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moet nooit hoop opgee nie!

Moet nooit hoop opgee nie!

Is jy al jare lank een van Jehovah se Getuies wat graag wil hê dat jou huweliksmaat Jehovah saam met jou moet aanbid?

Of het jy al mismoedig gevoel toe jou Bybelstudent, wat eers so belowend gelyk het, nie standpunt vir die waarheid ingeneem het nie?

’n Paar ondervindinge uit Brittanje sal jou help om te sien waarom jy nooit moet hoop opgee nie. Jy sal ook sien wat jy kan doen om as ’t ware ‘jou brood op die oppervlak van die waters uit te stuur’ sodat jy diegene kan help wat nog nie op die waarheid gereageer het nie.—Pred. 11:1.

VOLHARDING IS NOODSAAKLIK

Dit is noodsaaklik dat jy volharding aan die dag lê. Jy moet by die waarheid bly en Jehovah aankleef (Deut. 10:20). Dit is wat Georgina gedoen het. Toe sy die Bybel in 1970 met Jehovah se Getuies begin studeer het, was haar man, Kyriacos, woedend. Hy het haar studie probeer stopsit, die Getuies die huis verbied en alle publikasies van Jehovah se Getuies wat hy gevind het, weggeneem.

Toe Georgina gemeentelike vergaderinge begin bywoon het, het Kyriacos selfs woedender geword. Eendag het hy na die Koninkryksaal toe gegaan om rusie te maak. Toe ’n suster besef dat Kyriacos beter Grieks as Engels praat, het sy ’n Griekse broer in ’n ander gemeente gebel om te kom help. Kyriacos het goed gereageer op die broer se liefdevolle benadering, en hulle het selfs ’n paar maande lank die Bybel saam gestudeer. Maar toe hou Kyriacos op met sy studie.

Daarna het Georgina nog drie jaar lank teenstand verduur. Kyriacos het gesê dat hy haar sou verlaat as sy ooit gedoop word. Op haar doopdag het Georgina vurig tot Jehovah gebid dat Kyriacos haar nie moet verlaat nie. Toe die Getuies opgedaag het om haar na die byeenkoms te neem, het Kyriacos vir hulle gesê: “Gaan julle maar. Ons sal julle in ons motor volg.” Hy het die oggendsessie bygewoon en was daar toe sy vrou gedoop word!

Amper 40 jaar nadat Georgina die Getuies ontmoet het, het sy gesien hoe haar man gedoop word

Hierna het Kyriacos se teenstand verminder, en hy het geleidelik groot veranderinge aangebring. Amper 40 jaar nadat Georgina die Getuies ontmoet het, het sy gesien hoe haar man gedoop word! Wat het Kyriacos gehelp? Hy sê: “Ek was baie trots op Georgina omdat sy so vasberade was.” Georgina sê: “Al het my man my teëgestaan, was ek vasbeslote om aan te hou om my God te aanbid. Ek het die hele tyd tot Jehovah gebid, en ek het nooit hoop opgegee nie.”

DIE WAARDE VAN DIE NUWE PERSOONLIKHEID

Nog ’n manier waarop jy jou maat kan help, is deur die Christelike persoonlikheid aan te kweek. Die apostel Petrus het Christenvrouens vermaan: “Wees [onderdanig] aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word” (1 Pet. 3:1). Christine het volgens hierdie raad gelewe, al het dit baie jare geneem om haar man te wen. Toe sy, meer as 20 jaar gelede, ’n Getuie geword het, het haar man, John, nie gevoel dat hy God in sy lewe nodig het nie. John wou nie by godsdiens betrokke raak nie, maar hy kon sien hoeveel Christine se nuwe geloof vir haar beteken. “Ek kon sien dat dit haar gelukkig maak”, sê hy. “Sy het ware karaktervastheid ontwikkel, en ek kon meer op haar staat maak. Dít het my deur talle moeilike situasies gehelp.”

Christine het nooit haar godsdiens op haar man afgedwing nie. Hy erken: “Christine het uit die staanspoor besef dat dit die beste sou wees om my net uit te los, en sy het my geduldig toegelaat om teen my eie pas en op my eie manier te leer.” Wanneer Christine artikels in die Wagtoring en die Ontwaak! gesien het oor ’n onderwerp wat sy geweet het John interessant sou vind, soos byvoorbeeld oor die wetenskap en die natuur, het sy dit vir hom gewys en gesê: “Ek dink jy sal dit geniet om dit te lees.”

Ná verloop van tyd het John afgetree en ’n bietjie tuinwerk begin doen. Omdat hy meer tyd gehad het om oor die dieper vrae van die lewe na te dink, het hy begin wonder: ‘Is ons hier as gevolg van ’n reeks ongelukke of is ons met ’n doel geskep?’ Eendag het ’n broer met wie John gesels het, hom gevra: “Wil jy nie die Bybel studeer nie?” “Aangesien ek in God begin glo het,” sê John, “het ek sy aanbod aanvaar.”

Hoe belangrik was dit tog dat Christine nooit hoop opgegee het nie! Nadat sy 20 jaar lank gebid het dat John die waarheid moet aanvaar, is hy gedoop. Hulle dien Jehovah nou ywerig saam. John sê: “Twee dinge in die besonder het my oortuig—die goedhartigheid en die vriendelikheid van die Getuies. En wanneer jy met een van Jehovah se Getuies getroud is, het jy ’n lojale, betroubare en selfopofferende huweliksmaat.” Ja, Christine het die woorde in 1 Petrus 3:1 toegepas, en dit het gewerk!

SAAD DRA JARE LATER VRUG

Wat van Bybelstudente wat die belangstelling wat hulle eers getoon het om die een of ander rede verloor? “Saai jou saad in die oggend en laat jou hand tot die aand nie rus nie,” het koning Salomo geskryf, “want jy weet nie waar dit sukses sal behaal nie, hetsy hier of daar, en of hulle al twee ewe goed sal wees nie” (Pred. 11:6). Soms neem die saad van die waarheid etlike jare om te ontkiem. Nietemin kan ’n persoon uiteindelik besef hoe belangrik dit is om nader aan God te kom (Jak. 4:8). Ja, eendag sal jy dalk aangenaam verras word.

Neem byvoorbeeld die geval van Alice, wat van Indië na Engeland verhuis het. In 1974 het sy die Bybel begin studeer. Sy het Hindi gepraat, maar sy wou haar Engels verbeter. Alice het ’n paar jaar lank gestudeer, en sy het ’n paar vergaderinge in ’n Engelse gemeente bygewoon. Sy het geweet dat wat sy studeer, die waarheid is, maar het dit as ’n stokperdjie beskou. Wat meer is, geld was vir haar baie belangrik, en sy het daarvan gehou om na partytjies te gaan. Uiteindelik het Alice ophou studeer.

Amper 30 jaar later het Stella, wat met Alice gestudeer het, ’n brief van haar ontvang. Dit het gesê: “Ek is seker jy sal bly wees om te hoor dat jou Bybelstudent van 1974 by die onlangse streekbyeenkoms gedoop is. Jy het ’n baie belangrike rol in my lewe gespeel. Jy het die saad van die waarheid in my geplant, en hoewel ek nie destyds gereed was om my aan God toe te wy nie, het ek daardie saad van die waarheid in my verstand en hart gehou.”

Die brief wat Stella van Alice ontvang het, het gesê: “Ek is seker jy sal bly wees om te hoor dat jou Bybelstudent van 1974 by die onlangse streekbyeenkoms gedoop is”

Wat het die verandering teweeggebring? Alice verduidelik dat sy ná haar man se dood in 1997 baie terneergedruk geword het. Sy het tot God gebid. Binne tien minute het twee Pandjabi-sprekende Getuies haar huis besoek en die traktaat Watter hoop vir afgestorwe dierbares? by haar gelaat. Alice het gevoel dat haar gebed verhoor is en het besluit dat sy met Jehovah se Getuies moet assosieer. Maar waar sou sy hulle vind? Sy het die adres van die Pandjabi-gemeente, wat sy by Stella gekry het, in ’n ou dagboek gevind. Alice het die Koninkryksaal besoek en was hartlik verwelkom deur Pandjabi-sprekende broers en susters. “Daardie warm gevoel het my bygebly, en dit het my gehelp om verligting van my depressie te vind”, sê Alice.

Sy het die vergaderinge gereeld begin bywoon en haar Bybelstudie hervat, en sy het geleer om Pandjabi vlot te praat en te lees. In 2003 is sy gedoop. Sy het haar brief aan Stella so afgesluit: “Baie dankie dat jy 29 jaar gelede daardie saadjie geplant het en vir my ’n goeie voorbeeld gestel het.”

“Baie dankie dat jy 29 jaar gelede daardie saadjie geplant het en vir my ’n goeie voorbeeld gestel het.”—Alice

Wat kan jy uit hierdie ondervindinge leer? Dit neem dalk langer as wat jy verwag, maar as iemand geestelik honger, eerlik en nederig is, sal Jehovah die waarheid in sy of haar hart laat groei. Dink aan wat Jesus in sy illustrasie gesê het: “Die saad spruit uit en word groot—presies hoe weet [die saaier] nie. Vanself bring die grond geleidelik vrug voort, eers die grashalm, dan die aar, uiteindelik die volle korrel in die aar” (Mark. 4:27, 28). Sulke groei vind geleidelik plaas en gebeur “vanself”. In werklikheid weet ’n Koninkryksverkondiger nie hoe dit gebeur nie. Hou dus aan om oorvloedig te saai. Miskien sal jy nog oorvloedig maai.

En moenie vergeet hoe belangrik gebed is nie. Georgina en Christine het aangehou om tot Jehovah te bid. As jy ‘volhou met gebed’ en nooit hoop opgee nie, sal jy dalk “na verloop van baie dae” weer die “brood” vind wat jy op die oppervlak van die waters uitgestuur het.—Rom. 12:12; Pred. 11:1.