Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy ‘’n hart om Jehovah te ken’?

Het jy ‘’n hart om Jehovah te ken’?

“Ek sal hulle ’n hart gee om my te ken, dat ek Jehovah is; en hulle sal my volk word.”—JER. 24:7.

1, 2. Waarom stel party dalk in vye belang?

GENIET jy dit om vars of droë vye te eet? Baie mense hou daarvan, en daarom word eetbare vye in baie wêrelddele verbou. Eertydse Jode het die vrug van vyebome hoog op prys gestel (Nah. 3:12; Luk. 13:6-9). Vye bevat vesel, antioksidante en minerale; party sê dus dat dit goed is vir die hart.

2 Jehovah het vye al met harte vergelyk. God het nie van die voedingswaarde van vye gepraat nie. Hy het in figuurlike sin daarna verwys. Wat hy deur die profeet Jeremia gesê het, leer ons lesse oor die hart waarby jy en jou geliefdes kan baat vind. Terwyl ons kyk na wat hy gesê het, moet ons dink aan wat ons as Christene daaruit kan leer.

3. Waarna het die vye verwys wat in Jeremia hoofstuk 24 genoem word?

3 Kom ons kyk eers na iets wat God in Jeremia se dag oor vye gesê het. In 617 VHJ was die nasie Juda geestelik gesproke in ’n slegte toestand. God het Jeremia ’n visioen oor die toekoms gegee waarin Jeremia twee soorte vye gesien het—vye wat “baie goed” was en vye wat “baie sleg” was. (Lees Jeremia 24:1-3.) Die slegte vye het verwys na koning Sedekia en ander soos hy wat wreed behandel sou word deur koning Nebukadnesar en sy troepe. Maar wat van Esegiël, Daniël en sy drie metgeselle wat reeds in Babilon was en van die Jode wat kort daarna soontoe geneem sou word? Hulle was soos die goeie vye. ’n Oorblyfsel van hulle sou terugkeer om Jerusalem en sy tempel te herbou. Dit is wat ná verloop van tyd gebeur het.—Jer. 24:8-10; 25:11, 12; 29:10.

4. Watter aanmoediging kan ons put uit God se woorde oor die goeie vye?

4 Jehovah het van diegene wat deur die goeie vye voorgestel is, gesê: “Ek sal hulle ’n hart gee om my te ken, dat ek Jehovah is; en hulle sal my volk word” (Jer. 24:7). Dit is die temateks van hierdie artikel, en hoe aanmoedigend is dit tog! God is gewillig om mense ‘’n  hart te gee om hom te ken’. In hierdie geval hou die “hart” verband met ’n persoon se gesindheid. Jy wil tog sekerlik so ’n hart hê en deel van sy volk wees. Die volgende stappe sal jou help om dit te doen: Jy moet God se Woord bestudeer en toepas, berou toon en omdraai, jou lewe aan God toewy en in die naam van die Vader, die Seun en die heilige gees gedoop word (Matt. 28:19, 20; Hand. 3:19). Jy het moontlik reeds hierdie stappe gedoen, of dalk assosieer jy gereeld met Jehovah se Getuies en is jy besig om hierdie stappe te doen.

5. Oor wie se hart het Jeremia hoofsaaklik geskryf?

5 Hetsy ons party of al hierdie stappe gedoen het, ons moet nog steeds let op ons gesindheid en gedrag. Die rede hiervoor blyk duidelik uit wat Jeremia verder oor die hart geskryf het. Party hoofstukke van die boek Jeremia handel oor die nasies rondom Juda, maar die boek fokus veral op die nasie Juda gedurende die heerskappy van vyf van sy konings (Jer. 1:15, 16). Ja, Jeremia het hoofsaaklik geskryf oor mans, vroue en kinders wat in ’n toegewyde verhouding met Jehovah was. Hulle voorouers het vrywillig besluit om as ’n nasie in hierdie verhouding te wees (Eks. 19:3-8). En in Jeremia se dag het die volk hulle toewyding aan God bevestig. Hulle het gesê: “Ons het na u toe gekom, want u, o Jehovah, is ons God” (Jer. 3:22). Maar wat dink jy was die toestand van hulle hart?

HET JY ’N FIGUURLIKE HARTOPERASIE NODIG?

6. Waarom moet ons belangstel in wat God oor die hart gesê het?

6 Vandag kan dokters gevorderde tegnologie gebruik om te sien wat die toestand van ’n hart is en hoe dit funksioneer. Maar Jehovah kan baie meer as dit doen, soos hy in Jeremia se dag getoon het. God is uiters bekwaam, soos blyk uit sy woorde: “Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat. Wie kan dit ken? Ek, Jehovah, deursoek die hart, . . . om aan elkeen te gee volgens sy weë, volgens die vrug van sy handelinge” (Jer. 17:9, 10). ‘Om die hart te deursoek’, behels nie ’n mediese ondersoek van die letterlike hart, wat gedurende 70 of 80 jaar sowat drie miljard keer klop nie. Jehovah het eerder van die figuurlike hart gepraat. Hierdie “hart” verwys na die hele innerlike mens, wat sy begeertes, gedagtes, geaardheid, gesindhede en doelwitte insluit. Jy het so ’n hart. God kan dit ondersoek, en in ’n mate kan jy ook.

7. Hoe het Jeremia die hart van die meeste Jode van sy dag beskryf?

7 Ter voorbereiding van hierdie ondersoek, kan ons ons afvra: ‘Wat was die toestand van die meeste Jode se figuurlike hart in Jeremia se tyd?’ Om hierdie vraag te beantwoord, kan ons kyk na ’n ongewone uitdrukking wat Jeremia gebruik het: “Die hele huis van Israel is onbesnede van hart.” Hy het nie na die gewone besnydenis van Joodse mans verwys nie, want hy het gesê: “‘Kyk! Daar kom dae’, is die woord van Jehovah, ‘en ek sal rekenskap eis van elkeen wat besny maar nog in onbesnedenheid is.’” Selfs besnede Joodse mans was dus “onbesnede van hart” (Jer. 9:25, 26). Wat het dit beteken?

8, 9. Wat moes die meeste Jode doen wat hulle hart betref?

8 Die volgende vermaning wat God aan die Jode gegee het, gee ons ’n leidraad wat ons sal help om die uitdrukking “onbesnede van hart” te verstaan: “Verwyder die voorhuid van julle hart, o manne van Juda en inwoners van Jerusalem, sodat my woede weens die slegtheid van julle handelinge nie . . . uitgaan . . . nie.” Maar waaruit het hulle slegte handelinge voortgespruit? Uit hulle hart. (Lees Markus 7:20-23.) Ja, deur Jeremia het God die  oorsaak van die Jode se slegte handelinge akkuraat geïdentifiseer. Hulle hart was wederstrewig en opstandig. Hulle beweegredes en denke het hom mishaag. (Lees Jeremia 5:23, 24; 7:24-26.) God het vir hulle gesê: “Laat julle vir Jehovah besny, en verwyder die voorhuid van julle hart.”—Jer. 4:4; 18:11, 12.

9 Jode in Jeremia se dag het dus ’n figuurlike hartoperasie—‘besnydenis van die hart’—nodig gehad, net soos die Jode in Moses se tyd (Deut. 10:16; 30:6). Om ‘die voorhuid van hulle hart te verwyder’, het beteken dat hulle ontslae moes raak van die dinge wat hulle hart onontvanklik gemaak het—hulle denke, begeertes of beweegredes wat in stryd was met God s’n.—Hand. 7:51.

‘’N HART OM HOM TE KEN’ IN ONS DAG

10. Wat moet ons begeerte wees, soos Dawid se voorbeeld toon?

10 Hoe dankbaar kan ons tog wees dat God ons insig gee in die figuurlike hart! ‘Maar waarom’, wonder party dalk, ‘is dit vandag vir Jehovah se Getuies van belang?’ Dit is immers nie asof baie Christene in die gemeentes in slegtheid wandel of “slegte vye” word, soos die geval was met baie Jode van destyds nie. Inteendeel, God se hedendaagse knegte is ’n toegewyde, rein volk. Dink nogtans aan die versoek wat Dawid aan Jehovah gerig het: “Deurvors my, o God, en ken my hart. Ondersoek my, en ken my verontrustende gedagtes, en kyk of daar in my enigsins ’n pynlike weg is.”—Ps. 17:3; 139:23, 24.

11, 12. (a) Waarom moet elkeen van ons ons hart ondersoek? (b) Wat sal God nie doen nie?

11 Jehovah wil hê dat elkeen van ons ’n goedgekeurde posisie voor hom moet verkry en behou. Jeremia sê aangaande die regverdige: “U, o Jehovah van die leërs, ondersoek die regverdige; u sien die niere en die hart” (Jer. 20:12). As die Almagtige selfs die regverdige se hart ondersoek, moet ons dan nie ook ’n eerlike selfondersoek doen nie? (Lees Psalm 11:5.) Wanneer ons dit doen, onderskei ons dalk ’n gesindheid, ’n doelwit of ’n diepe emosie waaraan ons moet werk. Ons word miskien bewus van iets wat ons hart minder gevoelig maak, as ’t ware die een of ander ‘voorhuid van die hart’, wat ons besef verwyder moet word. Dít sal ’n figuurlike hartoperasie wees. Waarop moet jy let wanneer jy jou figuurlike hart ondersoek? En hoe kan jy die nodige veranderinge aanbring?—Jer. 4:4.

12 Een ding is seker: Ons moenie verwag dat Jehovah ons sal dwing om te verander nie. Hy het van “die goeie vye” gesê dat hy ‘hulle ’n hart sou gee om hom te ken’. Hy het nie gesê dat hy hulle sou dwing om hulle hartstoestand te verander nie. Hulle moes ’n begeerte hê na ’n gevoelige hart, wat sou toon dat hulle God ken. Moet ons nie dieselfde begeerte hê nie?

As ons ons hart ondersoek en ongepaste begeertes regstel, sal dit tot seëninge lei

13, 14. In watter sin kan ’n Christen se hart vir hom skadelik wees?

13 Jesus het gesê: “Uit die hart kom daar . . . goddelose redenasies, moorde, egbreuk, hoererye, diefstalle, valse getuienisse, lasteringe” (Matt. 15:19). As ’n broer se ongevoelige hart hom byvoorbeeld beweeg het om egbreuk of hoerery  te pleeg en hy onberouvol bly, kan hy God se guns vir altyd verloor. Maar selfs ’n persoon wat nie so ’n daad gepleeg het nie, kan toelaat dat ’n ongepaste begeerte in sy hart groei. (Lees Matteus 5:27, 28.) Daarom is dit nuttig om ’n persoonlike ondersoek van die hart te doen. Sal ’n noukeurige ondersoek van jou hart openbaar dat jy ongepaste gevoelens teenoor iemand van die teenoorgestelde geslag koester—geheime begeertes wat God nie sal goedkeur nie en wat verwyder moet word?

14 Of al het ’n broer nie letterlik “moorde” gepleeg nie, koester hy dalk ’n wrok in sy hart wat so erg raak dat hy sy mede-Christen begin haat (Lev. 19:17). Sal hy hom inspan om ontslae te raak van sulke gevoelens wat sy hart onontvanklik kan maak?—Matt. 5:21, 22.

15, 16. (a) Gee ’n voorbeeld van hoe ’n Christen dalk “onbesnede van hart” kan wees. (b) Waarom dink jy sal ’n ‘onbesnede hart’ God mishaag?

15 Gelukkig het die meeste Christene nie sulke ‘hartprobleme’ nie. Maar Jesus het ook van “goddelose redenasies” gepraat. Dit verwys na beskouings of gesindhede wat ’n negatiewe uitwerking op baie aspekte van die lewe kan hê. ’n Persoon kan byvoorbeeld ’n verwronge sin van lojaliteit teenoor sy familielede hê. Christene wil weliswaar “natuurlike geneentheid” vir familielede hê en nie soos baie in hierdie “laaste dae” wees wat nie sulke geneentheid het nie (2 Tim. 3:1, 3). Maar dit is moontlik om tot uiterstes oor te gaan wanneer dit kom by die betoning van hierdie geneentheid. Baie voel dat “bloed dikker is as water”. Daarom sal hulle dalk hulle familielede ten alle koste verdedig of hulle kant kies en dit persoonlik opneem as ’n familielid aanstoot gegee word. Dink aan wat Dina se broers beweeg is om te doen as gevolg van sterk gevoelens soos hierdie (Gen. 34:13, 25-30). En stel jou die gevoelens in Absalom se hart voor, wat daartoe gelei het dat hy sy halfbroer Amnon doodgemaak het (2 Sam. 13:1-30). Was “goddelose redenasies” nie die oorsaak van hierdie dade nie?

16 Ware Christene pleeg natuurlik nie moord nie. Maar koester hulle dalk kwade gevoelens teenoor ’n broer of ’n suster wat een van hulle familielede aanstoot gegee het of wat hulle dink dit gedoen het? Hulle weier miskien ’n uitnodiging van die medegelowige wat hulle meen een van hulle familielede sleg behandel het, of hulle sal dalk nooit gasvryheid aan hom of haar betoon nie (Heb. 13:1, 2). Sulke sterk negatiewe gevoelens en so ’n  gebrek aan gasvryheid openbaar ’n gebrek aan liefde en moenie as onbelangrik afgemaak word nie. Ja, die Ondersoeker van harte kan dit as ‘onbesnedenheid van die hart’ diagnoseer (Jer. 9:25, 26). Dink aan diegene wat deur Jehovah vermaan is: “Verwyder die voorhuid van julle hart.”—Jer. 4:4.

VERKRY EN BEHOU ‘’N HART OM GOD TE KEN’

17. Hoe kan vrees vir Jehovah ons help om ’n gevoeliger hart te hê?

17 Sê nou jy ondersoek jou figuurlike hart en vind dat dit nie so gevoelig vir Jehovah se raad is as wat dit kan wees nie en dat dit in sekere mate “onbesnede” is? Dalk vind jy mensevrees, ’n begeerte na aansien of luukshede of selfs ’n geneigdheid tot hardkoppigheid of onafhanklikheid. Jy sal nie die eerste persoon wees wat dit ondervind nie (Jer. 7:24; 11:8). Jeremia het geskryf dat ontroue Jode in sy dag “’n wederstrewige en opstandige hart” gehad het. Hy het bygevoeg: “Hulle het nie in hulle hart gesê nie: ‘Laat ons tog Jehovah ons God vrees, die Een wat die stortreën en die herfsreën . . . gee’” (Jer. 5:23, 24). Toon dit nie dat groter vrees en waardering vir Jehovah ons sal help om ‘die voorhuid van die hart’ te verwyder nie? So ’n gesonde vrees kan elkeen van ons help om ’n hart te hê wat meer gevoelig is vir wat God wil hê ons moet wees.

18. Watter belofte het Jehovah aan diegene in die nuwe verbond gemaak?

18 En ons kan saam met Jehovah werk terwyl hy ons “’n hart gee om [hom] te ken”. Trouens, dit is wat hy belowe het om te doen vir gesalfdes in die nuwe verbond: “Ek sal my wet in hulle binneste sit, en in hulle hart sal ek dit skryf. En ek sal hulle God word, en hulle sal my volk word.” Maar kan ons hom werklik leer ken? Hy het verder gesê: “Hulle sal nie meer elkeen sy metgesel en elkeen sy broer leer en sê: ‘Ken Jehovah!’ nie, want hulle almal sal my ken, van die geringste onder hulle tot selfs die grootste onder hulle . . . Want ek sal hulle oortreding vergewe, en aan hulle sonde sal ek nie meer dink nie.”—Jer. 31:31-34. *

19. Watter wonderlike vooruitsig het ware Christene?

19 Hetsy jy daarna uitsien om vir ewig in die hemel of op die aarde by daardie nuwe verbond baat te vind, jy moet die begeerte hê om Jehovah te ken en deel van sy volk te wees? Voordat jy sulke voordele kan ontvang, moet jy vergifnis vir jou sondes op grond van Christus se losprys verkry. Die blote feit dat jy vergewe kan word, moet jou beweeg om vergewensgesind teenoor ander te wees, selfs teenoor diegene vir wie jy dalk kwade gevoelens het. As jy bereid is om ontslae te raak van enige kwade gevoelens wat jy dalk koester, sal dit goed wees vir jou hart. Jy sal dus nie net toon dat jy Jehovah wil dien nie, maar ook dat jy hom beter leer ken. Jy sal soos diegene wees van wie Jehovah deur middel van Jeremia gesê het: “Julle sal my soek en vind, want julle sal my met julle hele hart soek. En ek sal my deur julle laat vind.”—Jer. 29:13, 14.

^ par. 18 Die nuwe verbond word bespreek in hoofstuk 14 van die boek God se woord vir ons deur Jeremia.