Wat weet jy van Safan en sy familie?

Wat weet jy van Safan en sy familie?

Wat weet jy van Safan en sy familie?

HET jy al ooit in jou Bybellees verwysings na Safan en lede van sy invloedryke familie gesien? Wie was hulle? Wat het hulle gedoen? Watter lesse kan ons by hulle leer?

Die Bybel maak die eerste keer melding van “Safan, die seun van Asalja, die seun van Mesullam,” in die verslag oor Josia se herstel van ware aanbidding in ongeveer 642 v.G.J. (2 Konings 22:3). In die 36 jaar wat daarop volg, tot Jerusalem se vernietiging in 607 v.G.J., hoor ons van sy vier seuns, Ahikam, Elasa, Gemarja en Jaäsanja, en sy twee kleinseuns, Migaja en Gedalja. (Sien tabel.) “Die familie van Safan het die burokrasie [in die koninkryk van Juda] oorheers en die posisie as sekretaris van die koning beklee, van Josia se dag af tot en met die Ballingskap”, verduidelik die Encyclopaedia Judaica. ’n Hersiening van wat die Bybel oor Safan en sy familie sê, sal ons help om te sien hoe hulle die profeet Jeremia en die ware aanbidding van Jehovah ondersteun het.

Safan ondersteun ware aanbidding

In 642 v.G.J., toe koning Josia omtrent 25 was, het Safan as die koning se sekretaris en kopiïs gedien (Jeremia 36:10). Wat het dit behels? Volgens die bogenoemde naslaanwerk was ’n koninklike kopiïs en sekretaris ’n vertroude raadgewer van die koning, in beheer van finansiële sake, bedrewe in die diplomasie en op hoogte van buitelandse sake, internasionale wette en handelsooreenkomste. As ’n koninklike sekretaris was Safan dus een van die invloedrykste manne in die koninkryk.

Tien jaar vroeër het die jong Josia “die God van sy voorvader Dawid begin soek”. Safan was blykbaar baie ouer as Josia, en daarom kon hy ’n goeie geestelike raadgewer vir hom wees en Josia ondersteun in sy eerste kampanje om ware aanbidding te herstel. a2 Kronieke 34:1-8.

Toe herstelwerk aan die tempel gedoen is, is “die wetboek” gevind, en Safan “het dit aan die koning begin voorlees”. Josia was geskok toe hy die woorde van die boek hoor en het ’n afvaardiging betroubare manne na Hulda die profetes gestuur om Jehovah oor die boek te raadpleeg. Die koning het sy vertroue in Safan en sy seun Ahikam getoon deur hulle in die afvaardiging in te sluit.—2 Konings 22:8-14; 2 Kronieke 34:14-22.

Dit is die enigste verwysing in die Skrif na wat Safan self gedoen het. In ander Bybelverse word daar net na hom verwys as ’n vader of ’n grootvader. Safan se nageslag het noue kontak met die profeet Jeremia gehad.

Ahikam en Gedalja

Soos ons reeds gesien het, word Safan se seun Ahikam die eerste keer genoem in verband met die afvaardiging wat na die profetes Hulda gestuur is. ’n Naslaanwerk sê: “Hoewel Ahikam se titel nie in die Hebreeuse Bybel gemeld word nie, is dit duidelik dat hy ’n hoë posisie beklee het.”

Sowat 15 jaar ná daardie gebeurtenis was Jeremia se lewe in gevaar. Toe hy die volk gewaarsku het oor Jehovah se voorneme om Jerusalem te vernietig, “het die priesters en die profete en die hele volk hom gegryp en gesê: ‘Jy sal sekerlik sterf.’” Wat het toe gebeur? Die verslag sê voorts: “Die hand van Ahikam, die seun van Safan, [was] met Jeremia, sodat hy nie in die hand van die volk gegee is om hom te laat doodmaak nie” (Jeremia 26:1-24). Wat toon dit? The Anchor Bible Dictionary sê: “Hierdie voorval getuig nie net van die invloed wat Ahikam gehad het nie, maar toon ook dat hy, soos ander lede van Safan se familie, Jeremia goedgesind was.”

Ongeveer 20 jaar later, nadat die Babiloniërs Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig het en die meeste van die volk in ballingskap weggevoer het, is Safan se kleinseun Gedalja, die seun van Ahikam, as goewerneur oor die oorblywende Jode aangestel. Het hy, soos Safan se ander familielede, na Jeremia omgesien? Die Bybelverslag sê: “En Jeremia het by Gedalja, die seun van Ahikam, in Mispa gekom en by hom gaan woon.” Binne ’n paar maande is Gedalja doodgemaak, en die oorblywende Jode het Jeremia saam met hulle na Egipte geneem.—Jeremia 40:5-7; 41:1, 2; 43:4-7.

Gemarja en Migaja

Safan se seun Gemarja en kleinseun Migaja het ’n vername rol gespeel in die gebeure wat in Jeremia hoofstuk 36 beskryf word. Dit was om en by 624 v.G.J., in die vyfde jaar van koning Jojakim. Barug, Jeremia se sekretaris, het die woorde van Jeremia uit die boek voorgelees in die huis van Jehovah, “in die eetkamer van Gemarja, die seun van die kopiïs Safan”. Gevolglik het “Migaja, die seun van Gemarja, die seun van Safan, . . . al die woorde van Jehovah uit die boek gehoor”.—Jeremia 36:9-11.

Migaja het sy vader en al die ander vorste van die boekrol vertel, en hulle almal wou hoor wat dit sê. Hoe het hulle gereageer? “Net toe hulle al die woorde hoor, het hulle mekaar beangs aangekyk; en hulle het vir Barug gesê: ‘Ons sal vir seker al hierdie woorde aan die koning meedeel.’” Maar voordat hulle met die koning gepraat het, het hulle Barug aangeraai: “Gaan, versteek jou, jy en Jeremia, sodat hoegenaamd niemand sal weet waar julle is nie.”—Jeremia 36:12-19.

Soos verwag is, het die koning die boodskap in die boekrol verwerp en dit stukkie vir stukkie verbrand. Van die vorste, onder andere Safan se seun Gemarja, “het by die koning gepleit om nie die rol te verbrand nie, maar hy het nie na hulle geluister nie” (Jeremia 36:21-25). Die boek Jeremiah—An Archaeological Companion kom tot dié gevolgtrekking: “Gemarja was ’n vurige ondersteuner van Jeremia aan die hof van koning Jojakim.”

Elasa en Jaäsanja

In 617 v.G.J. het Babilon beheer oor die koninkryk van Juda oorgeneem. Duisende Jode, “al die vorste en al die dapper, sterk manne . . . en ook elke vakman en bouer van verskansings”, is in ballingskap weggevoer, ook die profeet Esegiël. Mattanja, wie se naam die Babiloniërs verander het na Sedekia, het die nuwe onderhorige koning geword (2 Konings 24:12-17). Later het Sedekia ’n afvaardiging na Babilon gestuur, wat Safan se seun Elasa ingesluit het. Jeremia het ’n brief aan Elasa toevertrou wat ’n belangrike boodskap van Jehovah aan die Joodse ballinge bevat het.—Jeremia 29:1-3.

Die Bybelverslag toon dus dat Safan, drie van sy seuns en twee van sy kleinseuns hulle invloedryke posisies gebruik het om ware aanbidding en die getroue profeet Jeremia te ondersteun. Wat van Safan se seun Jaäsanja? Anders as die ander lede van Safan se familie het hy klaarblyklik afgodediens beoefen. In die sesde jaar van Esegiël se ballingskap in Babilon, of omstreeks 612 v.G.J., het die profeet ’n visioen gehad waarin 70 manne reukwerk aan afgode by die tempel in Jerusalem geoffer het. Onder hulle was Jaäsanja, die enigste een wat by name genoem is. Dit kan daarop dui dat hy ’n vername lid van hierdie groep was (Esegiël 8:1, 9-12). Jaäsanja se voorbeeld toon dat iemand wat in ’n godvresende familie grootgeword het, nie noodwendig ’n getroue aanbidder van Jehovah sal word nie. Elke individu is verantwoordelik vir sy eie dade.—2 Korintiërs 5:10.

Historiese egtheid

Teen die tyd dat Safan en sy familie ’n rol in die gebeure in Jerusalem gespeel het, was dit algemeen in Juda om seëls te gebruik. Seëls is gebruik om dokumente te onderteken en is van edelstene, metaal, ivoor of glas gemaak. Gewoonlik is die naam van die seël se eienaar, sy vader se naam en, soms, die eienaar se titel daarop gegraveer.

Daar is al honderde Hebreeuse seëlafdrukke op klei gevind. Professor Nahman Avigad, kenner van Hebreeuse epigrafie, die studie van antieke inskripsies, het gesê: “Die seëlinskripsies is die enigste Hebreeuse epigrafiese bron wat die name van Bybelkarakters noem.” Is enige seëlinskripsies van Safan of sy familielede al gevind? Ja, die name van Safan en sy seun Gemarja verskyn op die seël op bladsye 19 en 21.

Kenners sê ook dat daar moontlik na vier ander familielede op seëlafdrukke verwys word—Asalja, die vader van Safan; Ahikam, die seun van Safan; Gemarja, die seun van Safan; en Gedalja, wat volgens ’n seëlafdruk blykbaar “oor die Huis” was. Van hierdie seëls het die vierde moontlik aan Gedalja, ’n kleinseun van Safan, behoort, hoewel sy vader, Ahikam, nie genoem word nie. Sy titel op die seëlafdruk toon dat hy een van die hoogste amptenare in die land was.

Wat kan ons leer?

Wat ’n goeie voorbeeld het Safan en sy familie tog gestel in die manier waarop hulle hulle invloedryke posisies gebruik het om ware aanbidding en die getroue Jeremia te ondersteun! Ons kan ook ons middele en invloed gebruik om Jehovah se organisasie en ons medeaanbidders te ondersteun.

Dit is verrykend en geloofversterkend vir ons om die Bybel nie net gereeld te lees nie, maar ook daarin te delf en vertroud te raak met eertydse getuies van Jehovah soos Safan en lede van sy familie. Hulle behoort ook aan die groot “wolk van getuies” wie se voorbeeld ons kan navolg.—Hebreërs 12:1.

[Voetnoot]

a Safan moes baie ouer as Josia gewees het, want Safan se seun Ahikam was reeds ’n volwasse man toe Josia ongeveer 25 jaar oud was.—2 Konings 22:1-3, 11-14.

[Venster op bladsy 22]

Hulda—’n invloedryke profetes

Toe koning Josia die woorde hoor van “die wetboek” wat in die tempel gevind is, het hy Safan en vier ander hooggeplaaste amptenare beveel om ‘Jehovah te gaan raadpleeg’ oor die boek (2 Konings 22:8-20). Waar kon die afvaardiging die antwoord vind? Jeremia en moontlik ook Nahum en Sefanja, almal profete en Bybelskrywers, het destyds in Juda gewoon. Maar die afvaardiging het na Hulda die profetes gegaan.

Die boek Jerusalem—An Archaeological Biography sê: “Wat merkwaardig is omtrent hierdie voorval, is dat daar geen kommentaar in die verhaal gelewer word oor die manlike-vroulike-aspek daarvan nie. Niemand het dit enigsins as onvanpas beskou dat ’n komitee wat net uit mans bestaan het, die Boekrol van die Wet na ’n vrou geneem het om vas te stel of dit eg is nie. Toe sy verklaar dat dit die woord van die Here is, het niemand haar gesag om dit te doen, bevraagteken nie. Hierdie voorval word dikwels oor die hoof gesien deur kenners wat die rol van vroue in eertydse Israel probeer vasstel.” Die boodskap wat hulle ontvang het, was natuurlik van Jehovah.

[Diagram/Prent op bladsy 21]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Safan se stamboom

Mesullam

Asalja

Safan

↓ ↓ ↓ ↓

Ahikam Elasa Gemarja Jaäsanja

↓ ↓

Gedalja Migaja

[Prent op bladsy 20]

Gemarja en ander het by Jojakim gepleit om nie die boekrol van Jeremia te verbrand nie

[Prent op bladsy 22]

Daar is in ’n visioen gesien hoe Jaäsanja afgode aanbid, hoewel hy ’n lid van Safan se familie was

[Foto-erkenning op bladsy 19]

Courtesy Israel Antiquities Authority

[Foto-erkenning op bladsy 21]

Courtesy Israel Antiquities Authority